Geraamtes van die verlede tuimel byna dawerend uit

  • 0

In die delikate rasseverhoudings in Suid-Afrika het twee onlangse scenario’s ’n nuwe dimensie gebring na die emosionele, kulturele skuldvlakke tussen wit en swart. Die verlede word byna te erg om te hanteer.

Aan die een kant is skokkende bewerings oor die korrupsie van oudpresident Jacob Zuma in swart gemeenskappe met skaamte en byna ongeloof begroet.

Aan die ander kant wroeg wit gemeenskappe, veral Afrikaners, geskok oor aanklagte van pedofilie in die heel hoogste gesag in die apartheidsverlede.

’n Huidige ondersoek na die omvang van korrupsie en sg staatskaping laat blyk dat die nege jaar van Zuma se bewind eintlik oorheers is deur die mag van ’n Indiese familie, die Guptas. Inligting oor beweerde omkopery, geldwassery en tenderbedrog van miljarde rand (en dollar) kom daagliks aan die lig.

Getuienis word gelewer dat Zuma (op 78 ’n haas ongeletterde man) sy bewind onder die instruksies van drie Gupta-broers uitgevoer het. Die Guptas het hulle met die demokratisering van die land in die negentigerjare in Suid-Afrika kom vestig. Gou het hulle die achilleshiel van Zuma besef: sy eie armoede, liefde vir weelde, en Zoeloe-stamgerigtheid (hy het baie kinders van verskeie vroue, maar is op die oomblik met net vier getroud en sal binnekort met die vyfde trou).

Oor die beweerde Zuma-korrupsie heers in veral die ANC-regeringsparty verleentheid oor die lang en dikwels ernstige vermoede oor die wanbestuur van Jacob Zuma. Immers het baie politici reeds lank vermoed dat die Zuma-regime gedienstig is aan die Guptas. Dit blyk nou dat uit ministeriële geledere opdragte gekeer is dat enige ondersoeke ooit oor klagtes gedoen is.

Ernstige vrae word ook geopper oor hoe die huidige president, Cyril Ramaphosa, in sy onderpresidentskap onder Zuma nooit laat blyk het dat hy enigsins bewus sou wees van hierdie, eintlik ooglopende, korrupsie nie.

Hy het egter pas nadat hy tot president verkies is, die huidige en opspraakwekkende ondersoekkommissie aangestel.

Dit was bekend dat Zuma elke Donderdag by die sg Saxonwold Compound – die huise van die uitgebreide Guptafamilie in die duur Johannesburgse voorstad Saxonwold – geeët het. Sy seun Duduzane, ’n selferkende miljardêr, werk steeds vir die Guptas.

Die drie broers is al geruime tyd landuit en daar wag hofbevele teen hulle, maar hulle het baie eiendom in Dubai en in Indië en dit is nog net Duduzane Zuma, wat ook in Dubai woon, wat teruggekeer het om in Suid-Afrika in die hof te verskyn op klagte van korrupsie en een van roekelose bestuur wat die dood van ’n jong meisie veroorsaak het.

Die sg fluitjieblasers oor die Gupta-knyptang is onder meer ’n voormalige minister wat blykbaar R600 miljoen aangebied is om die pos van minister van die tesourie te aanvaar en dan vir die Guptas op te tree. Hierdie minister is volgens sy getuienis deur die Guptas ingelig dat hulle beheer het oor die regering, en ook oor die ”ou man”, bedoelende Jacob Zuma. Hy getuig verder dat hulle ook die polisie se korrupsie-ondersoekafdeling opdrag gegee het dat geen vervolging of ondersoeke oor hulle mag geskied nie. Hulle het die onderminister ook met die dood gedreig as hy sou uitpraat oor hul voorstel.

Beskaming is nie ’n eienskap van die tot nog toe arrogante ANC nie (hulle het tans ’n tweederdemeerderheid in die parlement), maar nou word die beendere van die verlede te erg. “Skoonmaak” in die party is nou die sleutelwoord. Reeds het mense blitssnel hul werk verloor as gevolg van inligting in die ondersoek.

Inmiddels is Jacob Zuma volgens gerugte aan die konkel vir ’n nuwe party waar sy volgelinge weer kans sal kan kry om vir hom te stem in die komende verkiesing in 2019. Die ANC, wat deur faksievorming getreiter word, is duidelik bedag op die teenstand wat dit in die verkiesing kan kry. Trouens, die politieke gesprekke in die land dui daarop dat koalisievorming onder die verskillende partye die volgende regering sal kenmerk.

Die Afrikanergemeenskap moet ook nou die verlede (weer) beleef nadat Die seuns van Bird Island gepubliseer is waarin van weersinwekkende voorvalle van pedofilie deur die destydse hooggeagte hoof van die weermag, generaal Magnus Malan, en verskeie hooggeplaaste vriende vertel word: hulle sou naamlik jong bruin straatseuns na die guano-eiland Birdeiland vervoer het om daar met hulle seksorgies in 1987 te hou. Hierna het daar vreemde selfmoorde plaasvind, en daar is ook ’n gruverhaal van ’n jong seun wat so ernstig in sy anus beseer is dat militêre vervoer hom onder hoë geheimhouding na ’n sg wit hospitaal geneem het.

Afrikaners, met hulle calvinistiese wêreldbeskouing, worstel met sulke bewerings. Jonger mense se woede oor die onderdrukking en vergrype in die apartheidsjare word ook sterk gehoor. Veral omdat Magnus Malan ook die nou verguisde grensoorlog van Suid-Afrikaanse magte in Angola aangevoer het.

Die verlede laat hom net nie toesmeer nie.

Lees ook

Staatskapers moet verduidelik

Buro: NB
  • 0
Top