Vir gelukkiges wat die eise van die wêreld kan ontglip en hulself verloor in die wonderwêreld van boeke, is daar in die middestad van Maastricht ’n unieke uitvlug. Dit is die Boekhandel Dominicanen, vroeër ’n Gotiese katedraal, maar nou ’n moderne boek- en CD-winkel met ’n gesellige koffiehoek waar die koor en altaar vir eeue was. Niemand jaag jou aan nie, al word Coffee Lovers druk besoek, veral oor naweke. Hier het ek onlangs saam met my cappuccino en croissant een en ’n halwe boek deur die loop van ’n paar besoeke verslind.
Die Dominicanen-boekwinkel is ingerig in een van ’n hele paar katedrale in die Limburgse hoofstad wat nie meer hulle oorspronklike funksie vervul nie. ’n Ander voormalige katedraal is nou die vyfster boetiekhotel Kruisheren, ook in die historiese kern van die stad.
Die Dominikaanse kerk en klooster, toegewy aan die Heilige Dominicus, is teen die einde van die dertiende eeu voltooi nadat die Orde sedert 1231 in Maastricht toegelaat is. Dit is die eerste kerk op Nederlandse grondgebied wat in sy geheel in die Gotiese styl gebou is, in die relatief eenvoudige variant van die boustyl wat bekend staan as Maasgotiek. Dit was in die tyd toe godsdienstige ywer Europa so beetgepak het dat dit tot kruistogte na die Heilige Land gelei het.
Winand, die enigste heilige van die Dominikaanse Orde uit Maastricht self, is in ongeveer 1235 in die middel van die kerk begrawe, wat rondom sy graf vorm aangeneem het. Dit was in die tyd voor spykers uitgevind is, wat getuig van die vernuf van die vroeë kerkbouers.
Belangrike gemeentelede is in die kerk begrawe en hulle grafstene is steeds daar. Hoewel daar tydens die restourasie sowat 200 grafte ondergronds gevind is, was net 11 van hulle onbeskadig. Winand se grafsteen het egter op ’n misterieuse wyse verdwyn.
Verborge skatte
Vir die besoeker wat tyd het om die skatte in die gebou te ontdek, is daar heelwat verrassings: sommer nog voor die intrapslag gee die indrukwekkende staaldeur en ingangsportaal wat ses ton weeg, ’n aanduiding dat hier iets ongewoons aan die gang is. Die woord “boeke” is in 25 tale in reliëf op die deure aangebring.
Wanneer jy na binne tree, is die skoon lyne van die binnekant met sy hoë plafonne en vensters wat meer lig as ander katedrale inlaat, steeds onbederf deur afskortings soos wat ’n winkelruimte gewoonlik benodig.
………..
“Afrikaanssprekendes vind hier voldoende leesstof, want behalwe boeke in Nederlands, Engels en ’n paar ander Europese tale, is daar ’n wye verskeidenheid tydskrifte en koerante uit verskillende wêrelddele. Of jy nou ’n fietsroete in Nederland, ’n resep uit Frankryk of ’n tydsdokument van Xi Jinping se China soek, hier kan jy na hartelus snuffel … Daar is selfs ’n klein uitstalling in ’n glaskas van besittings van die Nederlandse skilder Vincent van Gogh.”
………..
’n Staalkonstruksie van twee verdiepings met trappe, ’n hysbak en twee werkspasies is in die linker- en regtervleuels opgerig met die middeldeel oop na die nou dowwe plafonskilderwerke en kenmerkende Gotiese sluitstene.
Groot skilderye van tonele uit die lewe van heiliges soos Thomas van Aquino, Maria en die tienduisend Armeense martelare is nog steeds te sien. Sommige is 800 jaar oud wat dit van die eerste muurskilderye in Nederland maak. Tydens die beeldebestorming van 1578 is die kerk beskadig, maar is rondom die begin van die sewentiende eeu herstel. Tydens die toevoeging van ’n barokportaal aan die wesgewel ’n eeu later, is die binnemure van die kerk met skilderstukke en al onder ’n kalklaag toegeverf.
Ná die afskaffing van die kloosters in 1796 is die kloosterkompleks as skool gebruik, maar in 1968 is dit gesloop; net die kerk het bly staan en die aanslae van mens en natuur goed weerstaan. Dit is een van die min Middeleeuse kerke wat nooit in ’n brand vernietig is nie.
Sedert 1805, toe waardevolle items uit die kerkinventaris soos die orrel, preekstoele en kunswerke na die St. Servaas-katedraal daar naby verskuif is, word die gebou nie meer as kerk gebruik nie. Daarna is die gebou as militêre magasyn, drukkery, orkestuiste, uitstalruimte, boksarena, argief, poskantoor, motorvertoonsaal en selfs karnavalvenue gebruik. In die twintigerjare van die vorige eeu het daar selfs ’n guillotine in die kerk gestaan, darem net vir vertoondoeleindes, hoop ’n mens.
Al die verskillende oogmerke waaraan die gebou in die vorige twee eeue moes voldoen, beteken dat daar gedurig gegrawe en verander is aan die binnekant en die vloer. So het baie van die antieke skatte verlore gegaan. Die kerk het ook deurgeloop onder die Franse besetting van die stad in die 18de eeu.
Verskeie restourasie-inisiatiewe het uiteindelik in 2004 uitgeloop op die besluit om ’n boekwinkel van hierdie geskiedkundige monument te maak. Die vloer is tot drie meter diep uitgegrawe om te verseker die oorblywende geskiedkundige artefakte word nie beskadig nie. ’n Ou skoen en ’n boek uit die Middeleeue is van die kleiner voorwerpe wat gevind is.
Meer as ’n boekwinkel
Afrikaanssprekendes vind hier voldoende leesstof, want behalwe boeke in Nederlands, Engels en ’n paar ander Europese tale, is daar ’n wye verskeidenheid tydskrifte en koerante uit verskillende wêrelddele. Of jy nou ’n fietsroete in Nederland, ’n resep uit Frankryk of ’n tydsdokument van Xi Jinping se China soek, hier kan jy na hartelus snuffel. Snuisterye en geskenke wat in boekliefhebbers se smaak val, notaboeke te mooi om in te skryf, kalenders en skryfbehoeftes beslaan ook ’n hele afdeling. Daar is selfs ’n klein uitstalling in ’n glaskas van besittings van die Nederlandse skilder Vincent van Gogh.
Die eienaar, Ton Harmes, sê boeke pas by die steeds gewyde atmosfeer van die ruimte en baie mense het al vir hom gesê hulle gaan graag daarheen, nie noodwendig om boeke te koop nie, maar net omdat hulle dit geniet om daar te wees. Hy meen die digitale tyd waarin ons leef, vereis dat ’n moderne boekwinkel moet aanpas deur meer te bied as net boeke. Hierin het die Dominicanen ’n geweldige voorsprong bo ander boekwinkels, wat ligging, atmosfeer en omvang betref.
Hy beklemtoon dat die gedrukte boek ’n kanniedood is wat doemprofete se voorspellings meer as verkeerd bewys en noem die winkel “een tempel van kennis waar de culturele diversiteit hoogtij viert.”
Sedert 2006 help die publiek en Vriende van Boekhandel Dominicanen om gereelde boekpraatjies, musiekuitvoerings en kulturele aktiwiteite moontlik te maak, soos tydens die jaarlikse museumnag wanneer Maastricht se museums vir een prys oop is tot middernag met spesiale vierings.
Verlede jaar tydens hierdie kulturele hoogtepunt het boekliefhebbers die hele nag in elke oop spasie in die winkel op vloerkussings gelê en lees en kuier met wyn en koffie totdat hulle deur slaap oorval is en reggeskuif het vir die nag tussen boeke.
Hierdie jaar het ek ’n boekpraatjie bygewoon oor bejaardes se herinneringe aan die oorlog as kinders tydens die viering van die bevryding van die stad 75 jaar gelede deur Geallieerde troepe ná die Tweede Wêreldoorlog.
Nuusreuse soos CNN, die BBC en die Britse koerant The Guardian, noem Boekhandel Dominicanen die mooiste boekwinkel in die wêreld en daar sal moeilik ’n besoeker te vinde wees wat nie hiermee saamstem nie.
- Foto’s: verskaf
Lees ook
Buro: MvH