Nederland het die afgelope week te make gehad met twee gewelddadige voovalle in Amsterdam. Die NOS berig dat Gewapende rowers het verlede Woensdag ’n goederewa met waardevolle artikels in Noord-Amsterdam gekaap en met outomatiese vuurwapens op die polisie geskiet. Die rowers, met ’n Belgiese en Franse herkoms, het in verskeie voertuie van die toneel gevlug, maar die jaagtog het in die dorpie Broek in Waterland, noord van Amsterdam, tot ’n einde gekom toe die rowers al skietende op die polisie in die weilande gevlug het. Ses verdagtes is aangekeer en twee is in die skietery beseer. Volgens die polisie is al die gesteelde goedere ook teruggevind.
In dit filmpje gemaakt door een bewoner van #BroekinWaterland zie je dat de verdachten het weiland inlopen en dat de politie schiet #hvnl pic.twitter.com/C35VTiAXou
— Maike Senders (@MaikeHVNL) May 19, 2021
In die Amsterdamse woonbuurt De Pijp is vyf mense Vrydagaand omstreeks 23:00 op straat met ’n skerp voorwerp gesteek. Trouw berig dat ’n 64-jarige slagoffer op die toneel aan sy wonde beswyk het. Die beseerdes was almal tussen die ouderdomme van 21 en 28. Die 29-jarige dader van Amstelveen, suid van Amsterdam, is later deur die polisie aangekeer. Die Openbare Vervolgingsdiens, of Openbaar Ministerie, soos dit in Nederland bekend staan, sê dit blyk nie dat daar ’n motief vir terrorisme ter sprake was nie. Die NOS berig dat die dader volgens ’n getuie verward opgetree het en dat hy glo stemme in sy kop gehoor het. Inwoners van De Pijp sê die voorval laat hulle onrustig voel.
Veel politie op de been in De Pijp. Voor zover bekend 5 gewonden na steekincident. Toedracht onduidelijk. pic.twitter.com/UvRYO2sinA
— Mark Schrader (@markschrader) May 21, 2021
In België in die voortvlugtige soldaat Jürgen Conings ná ’n week steeds op vrye voet. Die Belgiese nuusdiens VRT berig dat die ver-regse Conings verlede Maandag verskeie vuurwapens en ammunisie uit ’n kaserne geneem het en is sedertdien spoorloos. Hy het briewe agtergelaat waarin hy politici, viroloë en die leër dreig. Hy word tans internasionaal gesoek vir vermeende beplanning om ’n terreurdaad te pleeg. Die Vervolgingsdiens of federaal parket soos dit in België bekend staan, ondersoek ’n saak van poging tot moord en die verbode besit van wapens in ’n terroristiese konteks. Hy is Maandagaand 17 Mei in die omgewing van die huis van die viroloog Marc van Ranst gesien, waarna die weermag ingeroep is om hom te soek. Op 18 Mei het die polisie sy verlate motor gevind waarin ploftoestelle vasgemaak is. Die omgewing van die Nationaal Park Hoge Kempen, waar sy motor gevind is, is afgesper vir verdere ondersoek maar het sedertdien niks opgelewer nie. Tot dusver het daar nog geen geweldpleging plaasgevind nie en niemand weet wat hy van plan is om te doen nie. Die viroloog Van Ranst en sy gesin is sedert verlede week op ’n plek van veilige bewaring.
Europa vier fees
Afgelope Saterdagaand was die hele Europa vasgenael voor die kassie vir die eindronde van die Eurovisie-liedjiesfees. Die fees moes verlede jaar weens die coronaviruspandemie uitgestel word. Nederland was vanjaar die gasheerland nadat Duncan Laurens in 2019 met die louere weggestap het met sy liedjie Arcade. Die skouspel is vanjaar in die Ahoy-uitstalsentrum in Rotterdam gehou. Die fees het voor publiek plaasgevind en 3 500 mense is toegelaat om by elke repetisie en vertoning aanwesig te wees. Almal moes ’n negatiewe covid-19-toets toon voordat hulle in die saal toegelaat is. Onder die jurie was onderskeidelik Switserland en Frankryk die gunstelinge, maar nadat die stemme van die publiek getel is, was dit uiteindelik die Italiaanse rockgroep Måneskin met hul nommer Zitti e buoni wat as algehele wenner bekroon is.
Ondanks die maatreëls om die verspreiding van die koronavirus te keer het die vorige wenner, Duncan Laurens, kort voor die finaal positief vir die virus getoets. Dit het beteken dat hy nie die laaste aand kon optree nie en ook nie die nuwe wenners kon aanwys nie.
Groot omstredenheid het uitgebreek nadat een van die lede van Måneskin, Damiano David, op kamera betrap is in wat lyk of hy kokaïen snuif. Hy het die bewerings ten sterkste ontken en gesê hy het afgekyk op ’n stukkende glas wat onder die tafel gelê het. Hy het gesê hy is bereid om hom vir dwelms te laat toets. Dit kon egter nie Saterdagaand gebeur nie.
Heeft hij nu net bijna lijntje gesnoven op CAMERA hahahaha #Eurovision pic.twitter.com/zS4WerZyvh
— Nieke Braet (@niekebraet) May 22, 2021
Een van die kommentators het in ’n stadium gesuggereer dat dit heel belangrik blyk te wees om in Engels op te tree. Interessant genoeg het nóg die publieke gunsteling, Italië, nóg die gunstelinge van die jurie, in Engels opgetree. Switserland en Frankryk het in Frans gesing en Italië se lied was in Italiaans.
Nederland se inskrywing vanjaar, Jeangu Macrooy, wat gedeeltelik ook in Sranantogo gesing het, het 23ste geëindig en België se Hooverphonic met hul lied The Wrong Place het 19de geëindig.
Lees ook:
Vuurpyllanseerders en vals poskodes oorheers die Covid-nuus in België