Hanru Niemand (Foto: verskaf)
Party mense praat baie en sê niks. Ander praat min en sê baie. Laasgenoemde is die tipe wat jy ’n kitaar in die hand wil stop, ’n mikrofoon voor die lippe wil inskuif en die record-knoppie in die studio wil druk.
Ontmoet vir Hanru Niemand. Bedags is hy kliniese sielkundige, en wanneer die son sak, skryf hy songs. Hy het reeds drie albums die lig laat sien: Tot stilte (2006), Roepwoorde (2010) en Kreeftegang (2016). Ek was bevoorreg om hom al talle kere op die verhoog te sien en om die gehoor dop te hou tydens sy optredes.
Party kyk diep in hul wynglase, ander sluit die oë, ander kyk na die dak en vou hul arms – onbewustelike pogings om die gehoorsintuig die geleentheid te gee om Hanru se woorde te vang en te bêre.
Ek het by een van hierdie optredes ’n kopie van Tot stilte geleen/gevat/gesteel. Die betekenis van sommige van die songs ontwyk my nou al vir jare en ek het besluit dat dit tyd is om beide my CD-sonde te bely en agter die kap van sy lirieke-byl te kom.
Jy het baie universiteitsgrade: BA, Honneurs, MA, PhD. Jou PhD is in iets semiverwyderd van jou meesters in kliniese sielkunde. Is die kombinasie van die twee ’n mededingende voordeel in jou beroep?
Nee, ek glo nie so nie. My PhD is in filosofie, omdat ek lief is vir die vakgebied en dit baie stimulerend vind. Ek het iets akademies gesoek om te doen omdat my werk, interessant soos dit is, nie daardie “itch scratch” nie. So toe pak ek die PhD aan.
Ek dink tog filosofie moet eintlik verpligtend vir sielkundiges wees. ’n Mens moet helder en fyn kan dink oor die aannames wat jy maak; jy moet die heeltyd slyp aan jou denkgereedskap. Sommige sielkundiges is maar ’n bietjie lui as dit daarby kom.
Ek is seker jy kry as sielkundige daagliks manna vir jou lirieke?
Ja, maar dan kan ek dit nie gebruik nie, as gevolg van vertroulikheid. Ai! Maar die mense se stories sypel wel deur na die onderbewussyn; dit kom jare later as ’n tipe konglomeraat van stories te voorskyn, asof dit ’n klomp mense se stories gelyk is. Byna soos ’n argetipe, seker.
Tot stilte (2006) en Roepwoorde (2010)
Jy is nou in die privaatpraktyk, maar jy was ook werksaam by Korrektiewe Dienste. Was dit ’n aanpassing om van een harde realiteit na ’n ander oor te beweeg? As jy terugkyk na jou musiek, is daar ’n definitiewe skeidslyn tussen hoe jy geskryf het tydens hierdie uiteenlopende werksomstandighede?
Nee, die skeidslyne is nie so duidelik nie, omdat die inspirasies vir jare kan prut, soos ’n ondergrondse potjie, eerder as ’n toaster. Die stories uit Korrektiewe Dienste was beslis meer traumaties, soms grusaam. Ek dink ek is eenvoudig anders na ek daar was.
Jou PhD het gehandel oor “exploring the assumptions underlying South Africa’s national discourse on multiculturalism”. In jou song “Ek het ’n Afrikaanse liedjie geskryf” vaar jy uit teen allerlei stereotipes van die Afrikaner mbt musiek en sportkwotas. Dink jy “ons” is moertoe of lag jy saam met jou mede wit Suid-Afrikaners aangaande ons verlede en gebrek aan ’n heenkome?
Die gebrek aan heenkome is vir my ’n hartseer ding. Ek sing byvoorbeeld in “Silwer sand”: “Kyk my herkoms lê in puin.” “Ons” is natuurlik ’n baie moeilike begrip om vas te vat. Vir sommige, veral Engelssprekende akademici, is die gebruik van “ons” byna asof jy van voor af apartheid pleeg. Ek dink nie dit hoef so te wees nie, en ek dink ons multikulturele samelewing is armer sonder die ons’e. Hoe daardie ons’e gedefinieer kan word, is basies die hooftema van my proefskrif.
Jy het die Mandela Rhodes-beurs gewen omdat jy die slimste ou in jou Honneursklas was. Ek onthou daar was ’n foto van jou langs Madiba in Die Burger jare gelede. Het jy vir hom ’n getekende CD gegee? Hoe het jy hom ervaar?
Ek het toe nog nie ’n album gehad nie, anders sou ek dalk! Madiba was op daardie stadium alreeds ’n baie ou man. Ek het hom ervaar as broos, sag en gaaf. Soos ’n gawe oupa.
Jy is beide ’n kunstenaar en ’n sielkundige. In een van jou songs, “Tot stilte”, ontgin jy die lot/bravade/pretence van kreatiwiteit (indien ek dit reg verstaan). Wat is jou opvatting van nuutskeppings itv musiek in Suid-Afrika en ook die tonne bagasie wat saam met kreatiwiteit loop?
O, martelaar. O, martelaar, gemartel in jou kuns
Jy is tog so edel, tog so stupid
Kyk, tien dae later het hulle jou reeds vergeet
En die storie van jou lewe is afwesig.
Ek dink dis ’n baie moeilik pad om te stap. As dit by musiek kom (ek weet te min van ander kuns af), is my gevoel dat daar regtig soms ’n gebrek is aan die lus om iets nuuts te hoor. Ek lê die skuld gedeeltelik voor die groot radiostasies se deur. Maar selfs al was dit nie so nie, is die dilemma steeds: Ek skryf nou hier vir julle iets uit die maag uit, en vir julle is dit bloot entertainment, dis ’n produk. Dis eintlik gek om jouself so bloot te stel.
Dit is ’n neiging van baie musikante om hul geestesongesteldheid in hul musiek aan te spreek. Wat is die ware verband tussen kreatiwiteit en bipolariteit? Enige kunstenaars wat hieraan gely het? Watse studies is al hieroor gedoen?
Daar is dalk ’n verband – ek is nie seker nie. Van Gogh was geestesongesond. Stephen Fry het bipolêr, en so is daar baie ander ook. Daar is ook baie onkreatiewe mense wat bipolêr het. As daar ’n verband is, kan dit dalk lê in ’n groter mate van sensitiwiteit. Veral wanneer mens manies is, is jou gedagtes vinniger en jou assosiasies losser. Dit kan mens dalk help om meer kreatiewe kombinasies te vind.
In “Kreeftegang” sing jy die volgende:
Maar ek onthou nog die dag toe jy gesê het
jy is in Worcester toe vir ewig en ewig
Of was dit ek wat geprewel het in ’n doemprofesie
Die verbytye-sterre wat blink in ’n koue wintersaand
Die windjie was skraal
Maar jou skouers was kaal
Die nag was ’n sterre-tarentaal.
Die doodskoot vir enige lirieke is vervelige vergelykings. Hoe is jou gedagtes gedril as kind om iets soos “Die nag was ’n sterre-tarentaal” kwyt te raak? Het jy op digbundels aan die slaap geraak? Kwatryne vir ontbyt?
Dis snaaks dat jy kwatryne noem. Ek het die heeltyd rympies in my kop; ek maak stil-stil in my kop speletjies wat absurd is. Toe die fliek van Marita van der Vyver se boek Dis koue kos, Skat uitgekom het, het ek my verbeel iemand skryf ’n boek genaamd Disco, ’n kosskat, oor die cuisine van die disco-jare. Soms skep mens so iets onsinnigs, soms kry jy iets meer waardevol beet.
Kreeftegang (2016)
Jy is ook betrokke by projekte soos Die Wasgoedlyn en Oopmond. Is jy ’n kampvegter vir die taal of like jy bloot ’n goeie glas wyn saam met jou mede-alternatives?
Ja, ek is seker iets soos ’n kampvegter, in die sin dat ek absoluut glo in die unieke uitdrukkingskrag van Afrikaans. So moet ons ook al ons tale koester en kultiveer. Ek sidder om te dink dat mense eendag nie meer NP Van Wyk Louw sal kan lees nie. Ek weet nie hoe die Wasgoedlyners en Oopmonders daaroor voel nie; ek dink ons is seker almal lief vir die taal. Ek dink egter ek is betrokke by die projekte omdat ek van die mense hou, omdat ons op `n manier voëls van eenderse vere is. So ja, eerder die wyndrinker as die kampvegter.
Daar is nog soveel ander songs waaroor ek jou kan uitvra. Wil jy nie asseblief my favourite, “Silwer sand”, ’n bietjie verduidelik nie? En ook “Sielkundige se gebed”.
“Silwer sand” is ’n love song aan my vrou, wat toe nog net my meisie was. Dit was geskryf toe ek op pad Bloemfontein toe was. Ek moes daar my meesters gaan doen, want ten spyte van my Mandela Rhodes-beurs en eerste-in-die-klas en al daai, was ek om een of ander rede nie gekeur by Stellenbosch nie. Nog steeds nie seker wat daar gebeur het nie. So ek was hartseer by die gedagte dat ek nou die langafstandverhouding-ding moet doen. Ek is ook baie lief vir die Boland, veral vir die Paarl, waar ek vandaan kom. Ek het somehow gedink ek sal die laaste ou wees wat oorbly, toe moet ek waai. Maar Bloemfontein was toe eintlik ’n wonderlike paar jaar.
“Sielkundige se gebed” is wat die titel sê: ’n gebed vir sielkundiges. Ek dink die groot gevaar, veral daai tyd in Korrektiewe Dienste, was afstomping. Jy verloor perspektief op dit wat mooi is. Die song maak, terloops, ook verwysing na Koos du Plessis se “Herbergier” – een van my gunstelinge.
Musiek en emosie is ’n groot studieveld. In kort: Hoekom het klankgolwe by tye ’n houvas op ons hartseer, blydskap en aggressie?
Glad nie seker hoekom nie. Daar is iets ordeliks aan musiek – dit lê vir my byna aan die hart van musiek: ’n mate van orde en reëlmaat. Miskien is musiek dan byna soos ’n vroedvrou wat die emosies kan laat uitkom. Miskien kan dit nie uit voor daar nie ’n mate van orde daarop afgedwing is nie.
By the way, ek dink ek het ’n hele paar jaar gelede ’n Tot stilte-CD by ’n show van jou gevat sonder om te betaal. Dit was nie aspris nie. Ek skuld jou ’n honderd rand. Is jy winsbejag met jou musiek of is dit bloot weerligafleiding van jou beroep?
Ek sou daarvan hou om ’n wins te maak – ek dink maar net dis nogal moeilik deesdae, veral met streaming, wat die een groot troef is wat mens gehad het – CD's by shows verkoop sonder dat Musica R80 vat (nou ook weggevat het). So ek sien dit as nog iets wat ek doen, iets wat nie noodwendig geld maak nie. En as ek dit nie doen nie, dan raak ek ongelukkig.
Thanx, Hanru. Jy het ’n nuwe album in die pyplyn. Jy het ’n paragraaf se gratis bemarking. And ... go!
Ja, so ek neem ’n hele paar songs by Riku Lätti van die Wasgoedlyn op. Ek kan nie sê wanneer dit uitkom nie, maar dit is nie ver van klaar nie. Ek het daar ’n mengsel van ou liedjies wat ek op ’n ander manier wou opneem (bv “Land van Kain” en “Worcester woorde”) asook ’n paar songs wat ek nog nooit opgeneem het nie. Van hulle is al 15 jaar oud; van hulle is splinternuut. So ek dink dit gaan ’n baie interessante album wees!
Lees ook
Buro: MvHRiku Lätti: Vier monoloë oor Suid-Afrikaanse musiek uit ’n dakkamer in Amsterdam