Willem Frederik Hermans is onder die Nederlandse publiek teen die eeuwending as die grootste Nederlandse skrywer van die 20ste eeu beskou. Die Afrikaanse vertaling van Nooit meer slapen het pas verskyn. Die vertaler Wium van Zyl het met Willem de Vries oor Hermans gesels.
................................................................................................................................
Jy is die vertaler van een van Willem Frederik Hermans se bekendste werke, Nooit meer slapen. Benewens vertaler en Neerlandikus is jy ’n kenner van Hermans. Vertel asseblief van die vertaling. En hoe het jy te werk gegaan om die vertaalregte vir Nooit meer slapen te bekom?
Heelwat Afrikaanse skrywers wie se werk in vertaling verskyn het, kan daarvan getuig dat so iets nie noodwendig inkomste beteken nie. Die Hermans-familie het hiermee ’n plan gemaak en vereis ’n bedrag vooraf. Ek vind dit begryplik en het persoonlik gesorg dat dit betaal word.
Die Nederlandse Vertalersfonds subsidieer wel die vertaler, maar stel streng eise en ’n proefvertaling van ’n aantal bladsye moet eers goedgekeur word. Dit het in my geval ook gegeld. Ek is trouens die beoordelaar baie dankbaar vir ’n aantal wenke. Ek is ook besonder dankbaar teenoor Naledi omdat my pogings om die vertaling te publiseer ’n lang en droewige geskiedenis uitmaak.
Hermans se werk het my al begin boei toe ek en my vrou in die jare sewentig in Utrecht studeer het. Sommige aanhalings uit sy werk het by ons huishoudelike status verwerf. Ons geniet beide die humor agter selfs sy ernstigste verhale — ek vermoed nou te meer so omdat ons op ’n afstand staan van die Nederlandse leefwêreld waarteenoor ons nogtans ’n groot lojaliteit voel.
Die verhaal gaan op die oog af oor ’n geologiestudent wat saam met medestudente op ’n studietog gaan na die verre Finnmark, ’n onherbergsame, afgeleë deel van die wêreld. Die verhaal sit op ’n manier in mekaar wat ’n mens met die kortverhaal in verband bring — Hermans het gepraat van die “klassieke roman” waar elke sin en handeling doelgerig is. Stel hierdie stip manier van skryf aan die vertaler bepaalde eise? Vir watter soort taalprobleme moes jy as vertaler antwoorde vind vir die Afrikaanse teks?
Ek en my vrou is seker vandag steeds van die min Suid-Afrikaners wat wel daardie deel van Noorweë besoek het. Agterna gesien was dit ’n gewaagde onderneming. Ons was egter jong studente. Net soos die hooffiguur, Alfred Issendorf, het ons lelik deurgeloop onder die muskiete. Gelukkig was ons tentjie water- en muskietdig. Die kennis van die landskap was vir my baie nuttig tydens die vertaling.
Hermans is inderdaad ’n skrywer wat niks in sy werk laat gebeur sonder dat dit ’n funksie ten opsigte van die groter geheel het nie. Daarom moet ’n mens versigtig weeg aan elke woord. Die roman bevat byvoorbeeld heelwat geologiese terme waarmee ek moes hulp kry van Afrikaanstalige deskundiges.
In die roman spreek die verteller hom selfs uit teen die uitgewerswese wat druk uitoefen dat terme en ervarings wat beskryf word, beperk moet bly tot lesers se alledaagse bestaan. Bowendien versteek Hermans soms doelbewus “foute” in sy werk, onder meer om die beperktheid van die mens te illustreer.
So ’n versteekte “fout” waarop ek gestuit het, is die naam vir die “meerforelle” wat deur van die Noorse studente vroeg in die roman gevang is en waarna verwys word as “Rooie buik”. Slaan ’n mens dit na, kom “Rooibuikforelle” nie in daardie deel van die wêreld voor nie. Die skrywer laat selfs die Nore in die geselskap dus blykbaar ’n fout maak. Dit is nie die vertaler se funksie om uitsluitsel te gee nie, en hy moet dus ligloop en die strik los soos dit is.
Ek het op die idee gekom om hierdie spesifieke Hermans-roman te vertaal na aanleiding van ’n gesprek met ’n beroemde Tsjeggiese vertaler van Nederlandse boeke, Olga Krijtowa. Hermans het in die tyd van die kommunistiese oorheersing van die destydse Oosblok geweier dat sy werk daar vertaal en uitgegee word. Ons gesprek het kort ná die val van die Muur plaasgevind. Sy wou by my weet watter van sy romans ek sou aanbeveel. Ek het Nooit meer slapen aangewys omdat dit nie gesitueer is in Nederland nie.
Self het ek destyds as dosent gevind dat Nederlandse omstandighede dikwels eers ’n hele uitleg vereis voordat studente die wêreld van ’n verhaal kan betree. Dit is immers altyd gemik op Nederlandse lesers van wie sulke voorkennis veronderstel word. In Nooit meer slapen word die nodige uitleg oor die Noorse omstandighede egter reeds vir die leser in die teks ingebou.
Ek het dit aanvanklik vertaal as ’n stilisties meesleurende avontuurverhaal. Om dit reg te kry, het ek ’n Afrikaanse leser wat nie juis Nederlands ken nie, gevra om alle Nederlandsklinkende woordkeuses en sinsnedes vir my te merk sodat ek dit ook kon wegskuur. So het ek die mooi Noorse kelnerinnetjies “kroontjies” laat dra en nie “diadeemtjes” nie. Ek is daaroor betig deur ’n puristiese keurder en dit het “diadeempies” geword.
Ek het naamlik besef dat ek nie te ver moet gaan met die ver-Afrikaansing van so ’n goeie stilis se werk nie,hoewel ek natuurlik die roman so toeganklik moontlik wou maak vir die gewone leser. Wat nou gepubliseer is, is dus ’n kompromis.
Opvallend aan die roman is die rol van die karakters se stip en getroue handelinge op moeilik begaanbare terrein, hul doelgerigtheid omgeef van ’n onkenbare werklikheid. Dit gee Hermans deur met onfeilbare geloofwaardigheid. Is hierdie soort eksistensiële spanning vir jou tekenend van sy naoorlogse skrywerskap? Vind jy weerklanke hiervan binne die huidige tydsgees?
Hermans se tema dat die werklikheid onkenbaar is, maar dat die mens telkens hom of haar juis hierin vergis, was in die beginjare van sy skrywerskap sekerlik nie nuut nie. Hy erken sy skatpligtigheid aan die Oostenrykse filosoof Ludwig Wittgenstein van wie hy ook ’n boek vertaal het.
Die uitbeelding daarvan in literêre werke en ook die gepaardgaande snydende kommentaar op die mens as sodanig was egter wel verrassend. Op grond van wat hy ’n “geologiese blik op die geskiedenis” noem, het hy by geleentheid gesê: “Voor mij staat vast dat de mens helemaal niets is”.
Vergelyk in die verband maar wanneer Alfred Issendorf in Nooit Meer Slaap Nie die top van die berg Vuorje bereik en opeens die beperkte area besef waar die mens kan bestaan. Teenswoordig is só ’n visie op die mens nie meer ongewoon nie. Ek dink maar aan die twyfelende dominee in Koos Kombuis se Raka, die roman.
’n Skrywer wars van heersende modes en werkende in die verwikkelde konteks van die naoorlogse Europa, is Hermans sowel geprys (verskeie pryse is aan hom toegeken waarvan hy sommige van die hand gewys het) as gekritiseer (soos vir sy destydse besoek aan Suid-Afrika en verskeie ander polemieke). Wat kan hedendaagse skrywers en lesers leer by die voorbeeld van Hermans?
Hermans het hom as skrywer probeer losmaak van die hegemonie van die samelewing vir wie hy geskryf het. Dit is in sy geval veral die na-oorlogse Marxisties georiënteerde intellektuele van nie slegs Nederland nie, maar van die hele Wes-Europa. Dit was mense wat hulself — so slim soos hulle ookal was — laat ore aansit het van Oos-Europese “denkers” wat eweneens gebou het aan ’n groot maatskaplike leuen.
Dikwels waarskynlik omdat hulle daarsonder ’n baie moeiliker lewe sou gehad het. Hermans het daarteenoor Marxisme uitgewys as ’n doktrine wat heeltemal teen die menslike aard ingaan en dus nie kan werk nie. Ook sy besoeke aan die nagenoeg “verbode” Spanje onder Franco en Suid-Afrika onder apartheid en selfs ’n ontmoeting met Arafat moet in hierdie lig gesien word — van ’n houding om self waar te neem. En waarna hy gekyk het, was dan opnuut mites wat deur mense opgebou is en nie sou standhou nie.
Hy huiwer egter ook nie om die hegemonie direk uit te daag nie. ’n Ware skrywer was vir hom iemand wat nie herhaal wat die publiek graag wil hoor nie, maar juis sê wat die publiek wel in die geheim weet, maar nie durf uit nie. Hiervoor gebruik hy soms byvoorbeeld antipatieke romankarakters, karakters wat die leser afstoot. Vir ’n Afrikaanse skrywer in ’n samelewing wat ten sterkste politieke korrektheid afdwing terwyl dit terselfdertyd die skyn van vryheid van meningsuiting voorhou, sal so ’n benadering uiters gevaarlik wees.
Die skrywer disoriënteer die leser op ’n wyse soortgelyk aan dit wat met die karakters in hul omstandighede gebeur. Dit verg egter ’n groot mate van narratiewe beheer vir so iets om te werk. Is dit by hom ’n bepaalde strategie en wat wou hy daarmee sê? Jou kommentaar.
Ek het sy strategieë in die verband probeer deurgrond in my letterkundige navorsing lank voor die vertaling. Kollegas aan wie ek skatpligtigheid moet erken, is Wilbert Smulders en eintlik ook Willem Glaudemans wat beide doktorsgrade oor sy werk voltooi het. Smulders se term is “literêre misleiding”.
Ek het self ook akademiese artikels daaroor gepubliseer. Dit is nie uniek aan Hermans nie, maar in sy geval staan dit anders as by die meeste ander “gebruikers” in diens van ’n filosofiese onderlaag. Hy laat sy karakters ly onder die onkenbaarheid van die werklikheid, maar bou verhale so op dat die leser self vergissings maak en die onkenbaarheid al lesende ervaar.
In hoe ’n mate het die vertaling aangesluit of voortgespruit uit jou doktorsgraadstudie van Hermans?
Dit was nuttig om te vertaal aan werk waarvan ek die tema en die meegaande tegniek goed ken. Ek kon my oog dus ook hou op wat literêr-tegnies en tematies aan die “gebeur” is in die teks.
Watter temas kenmerk die oeuvre van Hermans? Watter hiervan vind neerslag in Nooit Meer Slaap Nie?
’n Taamlik vereenvoudigde beskrywing van die steeds terugkerende tematiek in sy werk, is dat dit aantoon dat die werklikheid nie ordelik is nie, maar uit chaos bestaan. Die mens probeer dit egter in sy ervaring te omvorm tot orde en glo selfs dat dit so te begryp is. Dit is ’n patetiese denkfout waarvoor die lewe eintlik straf uitdeel in die vorm van kleiner en groter vergissings wat selfs fataal kan wees. Een van die basiese foute in hierdie verband is die mens se onwillekeurige aanname dat die werklikheid “geken” en dat lewensinisiatiewe daarvolgens ingerig kan word. Alfred Issendorf is van die begin af iemand wat probeer om alles korrek te doen met die veronderstelling dat dit die verwagte resultate gaan oplewer.
Soms duik daar sake op wat hom moed gee. Ander kere beweeg hy verby dinge wat moontlik die tese vir sy doktorsgraad sou kon onderskryf sonder om dit te besef. ’n Voorbeeld is wanneer sy uitstekende kompas hom in die steek laat en hy nie besef dat die nabyheid van ’n meteoriet so ’n uitwerking sou kon hê nie. Dit is trouens so nog iets wat nie in die roman uitgespel word nie. Die resultaat is ’n vreeslike desillusie.
Jy het die 1978-uitgawe van die roman in Afrikaans oorgesit, die laaste uitgawe waarin Hermans nog veranderinge aangebring het, tóé reeds die 15de hersiene uitgawe en, in sy eie woorde, kom daar in hierdie druk sowat 250 veranderinge voor. Was hierdie hersienings tekenend van Hermans se manier van doen in die algemeen? Wat is bekend oor sy skryfproses?
Hermans wou gereeld veranderinge aanbring by heruitgawes. Dit het uiteindelik gelei tot ’n opspraakwekkende breuk met die bekende uitgewer Van Oorschot. Veranderinge maak ’n heruitgawe immers duurder.
Ek vermoed ’n mens sou by nabetragting nogal kon verskil met sommige van sy wysiginge. Hy skryf self trouens teen die einde spottend oor kunstenaars wat beroemd geword het en hulle dan enigiets kan veroorloof. Desondanks wys dit op ’n skrywer wat nie maklik tevrede was met sy eie werk nie.
Jy skryf in ’n artikel Hermans het etlike plaaslike uitgawes van sy romans in Suid-Afrika laat publiseer. Wat was die uitwerking hiervan op die studie van die Nederlandse letterkunde in Suid-Afrika?
Tydens die sogenaamde kulturele boikot (wat tans in Nederland ontken word) het dit steeds moeiliker geraak om resente werk in die hande te kry vir kursusse op universiteit. Hermans was een van die weinig eietydse skrywers wat toestemming wou gee vir opname in Academica se Lae Lande-reeks. As hy dit nie gedoen het nie, sou kursusse Afrikaans en Nederlands verarm het. Ek het self op my proefskrifonderwerp besluit ná ’n gesprek met hom tydens sy omstrede besoek.
Nooit Meer Slaap Nie is, so ver bekend, die eerste vollengte-vertaling van ’n werk uit Hermans se pen in Afrikaans, iets meer as 50 jaar nadat dit verskyn het. En in Brittanje is eers onlangs van Gerard Reve De Avonden in vertaling uitgegee, bykans 70 jaar nadat die boek gepubliseer is. Waaraan is hierdie trae pas van die uitgee van vertalings van klassieke werke uit die Lae Lande te wyte? Is daar byvoorbeeld in jou ervaring voldoende infrastruktuur vir vertalers en boekproduksie van die Lae Lande vir Suid-Afrika?
Dit is ’n geval van remmende voorsprong. Afrikaanssprekendes wat bereid is om moeite te doen, kan Nederlandse prosa lees. Studente in Afrikaans en Nederlands was ook verplig om dit te doen. Terselfdertyd het die beskikbaarheid van Nederlandse boeke in die land agteruitgegaan. Die publiek het Nederlands as ’n totaal vreemde taal begin beskou.
Ek sal nog altyd mense aanmoedig om Nederlands te lees, onder meer omdat dit hulle meer bewus sal maak van allerlei aspekte van Afrikaans. Bowendien maak Nederlands vir Afrikaans ’n taal sonder grense met ’n enorme woordeskat. ’n Mens moet egter die huidige situasie erken. Afrikaanssprekendes is skrikkerig vir uitdagings as dit by lees kom. Daarom is dit goed dat ons deesdae soveel vertalings uit die magdom goeie boeke uit Nederland en Vlaandere kry. Met hierdie vertaling wil ek graag ’n boek en ’n denkwêreld wat ek besonders vind, deel met my taalgenote.
Internasionaal is multikulturaliteit wyd onder druk. Watter bydrae kan iets soos vertaling tot die samelewingsgesprek lewer?
Afrikaanssprekendes is na my gevoel langtand om vertalings te lees. Dit is vir my bitter jammer. Elke roman of verhaal wat ’n mens lees, neem jou na ’n alternatief vir jou eie lewenservaring. Eintlik kry ’n mens die geleentheid om ander af te loer en onwillekeurig bring dit vergelyking mee met jouself en jou omgewing. Hoe verder daardie lewensituasies is van joune, hoe uitdagender is die vergelyking en hoe meer kan dit jou as mens verruim.
Die lees van vertalings van byvoorbeeld romans uit ander samelewings en selfs ander historiese periodes, is daarom ’n belangrike manier om ’n kritiese samelewingsgesprek aan die gang te hou. Al is dit ’n halfeeu ná die eerste verskyning van Nooit meer slapen bevat dit gedagtes wat baie Afrikaanssprekendes se hare sal laat rys. Ek wens hulle dit van harte toe.
Buro: MvH