Monique Rabé het in 2021 ’n meestersgraad in linguistiek en literêre teorie by Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)) voltooi.
Haar studie fokus op kodewisseling in taalgebruik. Meer spesifiek: op die wisseling tussen Afrikaans en Nederlands in tweetalige, voorskoolse kinders se spraak.
Sy sit die bevindinge van haar studie kortliks uiteen.
Hoe wend voorskoolse Afrikaans-Nederlandse kinders kodewisseling aan?
Isurin ea (2009:ix) definieer kodewisseling as die wisseling tussen twee of meer tale of variëteite binne dieselfde gespreksbeurt of tussen verskillende gespreksbeurte deur ’n meertalige spreker, byvoorbeeld: “Ek kan nie uitfigure hoe dit werk nie, dis baie weird.” Kodewisseling is ’n verskynsel wat al verskeie navorsers se aandag oor die afgelope paar dekades getrek het, spesifiek omdat die bestudering daarvan die vermoë het om insigte oor verskeie aspekte van taal, sowel as verskeie kognitiewe prosesse wat taalproduksie onderlê, te verskaf (Gardner-Chloros 2009:4). Navorsing oor kodewisseling ondersoek nie slegs hierdie verskynsel onder meertalige, volwasse sprekers nie, maar kyk ook na die verskynsel gedurende die eerstetaalverwerwingsproses.
Die proses waartydens ’n kind meer as een taal tegelykertyd vanaf geboorte aanleer, staan in die literatuur as tweetalige eerstetaalverwerwing, afgekort as TETV, bekend (Genesee en Nicoladis, 2006:1). Die meerderheid van die navorsing oor kodewisseling gedurende hierdie proses fokus op onverwante tale (soos Engels en Spaans) eerder as op nouverwante tale (soos Afrikaans en Nederlands). Die huidige navorsing is dus onderneem om lig te werp op die aard van die kodewisseling van voorskoolse Afrikaans-Nederlandse kinders gedurende die TETV-proses.
Die kinders se kodewisseling word vanuit ’n gebruiksgebaseerde benadering bestudeer, wat beteken dat wêreldgetroue data baie belangrik in die beskrywing van die Afrikaans-Nederlandse kinders se kodewisseling is. Derhalwe is die taaldata van agt voorskoolse kinders tussen die ouderdom van 2;3 en 4;6 ingesamel. Dié kinders is almal in Suid-Afrika woonagtig, en hulle word volledig vanaf geboorte tweetalig in Afrikaans en Nederlands grootgemaak. Altesaam 123 gebruiksepisodes – wat hier na uitings wat kodewisseling bevat, verwys – is vir die studie geanaliseer.
Op ’n teoretiese vlak is Höder (2014) se diasistematiese konstruksiegrammatika (DiaKxG) ingespan om dié kodewisseling te analiseer en beskryf. Hierdie teorie is gekies omdat dit ’n raamwerk bied waarbinne meertalige konstruksies (’n konstruksie word gesien as enige vorm-betekenis-passing, soos ’n morfeem, woord, idioom, passiewe vorm, en so meer) geanaliseer kan word. Eenvoudig gestel, die hoofidee wat deur DiaKxG voortgesit word, is dat ’n meertalige spreker se grammatika (’n bestekopname van ’n persoon se kennis van en ervaring met taal) uit twee tipes konstruksies bestaan, te wete idiokonstruksies en diakonstruksies (Höder 2012, 2014, 2018). Hierdie konstruksies is, kortliks, konstruksies wat eie aan ’n spesifieke taal is (idiokonstruksies), en die konstruksies wat die gemeenskaplikhede of oorvleueling tussen die verskillende tale vaslê (diakonstruksies). ’n Diakonstruksie is dus ’n voorstelling van die invloed wat twee (of meer) tale op mekaar het.
Daar word algemeen aanvaar dat ongeveer 90 tot 95% van die Afrikaanse woordeskat van Nederlands afkomstig is (Van Huyssteen en Pilon 2009). Dit beteken dat daar natuurlik baie oorvleueling in die woordeskat (wat uitdrukkings insluit) van Afrikaans en Nederlands is. Dié woorde staan binne die konstruksiegrammatika as kognate bekend. Die verskillende tipes kognate wat vir die huidige navorsing onderskei is, is nie-identiese kognate (woorde wat ’n etimologiese verwantskap deel, maar in vorm verskil, bv eet en eten); nonkognate (woorde wat in vorm verskil, maar na dieselfde entiteit (persoon/saak/voorwerp) verwys, bv grondboontjiebotter en pindakaas); en valse vriende (woorde wat dieselfde, of ’n soortgelyke, vorm het, maar verskillende betekenisse in die twee tale het, bv vinnig).
In die meerderheid van die gebruiksepisodes van die betrokke kinders is nie-identiese kognate vervang. ’n Voorbeeld van ’n diakonstruksie uit die data wat nie-identiese kognate betrek, is schaak spelen, in die gebruiksepisode “Kunnen we vragen of [x] komt schaak spelen?” In hierdie geval is die kind nie bewus van die Nederlandse werkwoord schaken nie, maar hy het wel toegang tot die Afrikaanse naamwoordelike frase skaak speel, en hy is bewus van die gebruik van die infinitiefvorm (-en) by die Nederlandse werkwoord. Derhalwe het hy die twee idiokonstruksies in onderskeidelik Afrikaans en Nederlands met mekaar in verband gebring om die diakonstruksie schaak spelen te vorm.
Die gebruik van hierdie tipe konstruksie is nie ’n teken van verwarring nie, maar eerder ’n taalverskynsel wat vir baie spesifieke doeleindes aangewend word. ’n Diakonstruksie word as’t ware as ’n kommunikatiewe instrument gebruik om ’n bepaalde boodskap aan ander sprekers wat beide Afrikaans en Nederlands magtig is (dws sprekers van dieselfde meertalige spraakgemeenskap), oor te dra. Dit is met ander woorde ’n instrument wat deur tweetalige sprekers gebruik word om gespreksverloop te verseker, en nie ’n taalhindernis nie.
Buiten die feit dat nie-identiese kognate in die meerderheid van die gevalle vervang is, is die gebruiksepisodes ook meestal in Afrikaans gestruktureer. Dit beteken dit is meestal Nederlandse woorde wat Afrikaanse woorde in oorwegend Afrikaanse gebruiksepisodes vervang het. In ’n gebruiksepisode soos “Ek wil nie die aardappelen eet nie” is die Nederlandse nie-identiese kognaat aardappelen in plaas van die Afrikaanse aartappels gebruik. Hierdie verskynsel kan moontlik verband hou met die feit dat al die respondente in Suid-Afrika woonagtig is en waarskynlik daagliks meer blootstelling aan Afrikaans as aan Nederlands kry. Dit kan dus beteken dat hul dominante taal moontlik op hierdie stadium Afrikaans is en hulle dus gereeld Nederlandse woorde in Afrikaanse gebruiksepisodes gebruik om “gapings” in hul dominante taal (hier Afrikaans) se woordeskat te vul.
Soos in die voorbeeld hier bo geïllustreer is, is die meerderheid van die gevalle voorbeelde van enkelwoordomskakelings op die leksikale vlak (woordvlak). Inderwaarheid is 98% van die gebruiksepisodes in die datastel voorbeelde van kodewisseling op die leksikale vlak. Nog ’n voorbeeld is die gebruiksepisode “Ek wil baie graag ’n banaan hê”, waar die enkelwoord banaan in plaas van die Afrikaanse nonkognaat piesang gebruik is.
Verder is dit ook opvallend dat in 48% van die gevalle naamwoorde vervang is, gevolg deur werkwoorde in 23% van die gevalle. In beide die voorafbespreekte gebruiksepisodes is Afrikaanse naamwoorde met Nederlandse naamwoorde (onderskeidelik aardappelen en banaan) vervang. Een van die moontlike redes hoekom naamwoorde die meeste van al die woordsoortkategorieë vervang is, kan eenvoudig wees dat werkwoorde ’n belangriker rol as naamwoorde in die struktuur van ’n sin speel, wat beteken dat wanneer ’n persoon ’n werkwoord vervang, die hele sinstruktuur waarskynlik gaan moet verander (Vihman 2016:1980). Om dié rede mag ’n persoon dalk minder gemotiveerd wees om werkwoorde te wissel.
Hierdie navorsing is belangrik vir ouers van tweetalige, voorskoolse kinders; dit geld ook nie net noodwendig vir Afrikaans-Nederlandse kinders nie, maar vir tweetalige kinders in ’n meer algemene sin, veral in die veeltalige Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie navorsing behoort aan ouers en onderwysers van tweetalige kinders iets te openbaar oor dié kinders se vroeë taalgebruik, taalontwikkeling, kognitiewe organisering van hul verskillende taalsisteme, asook die interaksie tussen hierdie twee taalsisteme. Alle tweetalige kinders gaan onteenseglik deur ’n fase waar hulle tussen hul eerste tale wissel en diakonstruksies gebruik, en dit is belangrik dat ouers en onderwysers hiervan bewus is, sodat dit op die regte wyse bestuur kan word.
Benewens die waarde vir ouers en onderwysers van voorskoolse kinders kan die bevindinge van hierdie navorsing ook bydra tot die vakspesifieke kennis van Afrikaans en Nederlands, sowel as die vakkennis van kodewisseling, taalverwerwing, tweetalige eerstetaalverwerwing, konstruksiegrammatika, diasistematiese konstruksiegrammatika en meertaligheid in ’n meer algemene sin.
Bronnelys
Gardner-Chloros, P. 2009. Code-switching. New York: Cambridge University Press.
Genesee, F en E Nicoladis. 2006. Bilingual first language acquisition. In Hoff en Shatz (reds), Handbook of language development. Oxford, UK: Blackwell, ble 1–34.
Höder, S. 2012. Multilingual constructions: a diasystematic approach to common structures. In Braunmüller en Gabriel (reds), Multilingual individuals and multilingual societies. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins, ble 241–58.
—. 2014. Constructing diasystems: Grammatical organisation in bilingual groups. In Åfarli en Mæhlum (reds), The sociolinguistics of grammar. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins, ble 137–52.
—. 2018. Grammar is community-specific: Background and basic concepts of diasystematic construction grammar. In Boas en Höder (reds), Constructional perspectives on contact phenomena in Germanic languages. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins, ble 37–70.
Isurin, L, D Winford en K de Bot. 2009. Studies in bilingualism: Multidisciplinary approaches to code switching. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.
Van Huyssteen, GB en S Pilon. 2009. Rule-based conversion of closely-related languages: a Dutch-to-Afrikaans convertor. Referaat gelewer by die 20ste Jaarlikse Simposium van die Pattern Recognition Association of South Africa, Stellenbosch. http://www.prasa.org/proceedings/2009/prasa09-05.pdf (5 Julie 2021 geraadpleeg).
Vihman, MM. 2016. Code-switching in emergent grammars: verb marking in bilingual children’s speech. Philologia Estonia Tallinnensis, 1(1):175–98. https://doi.org/10.22601/PET.2016.01.10.
Lees ook:
Buro: MvHEerste studie van sy soort: kodewisseling onder Afrikaans-Nederlandse voorskoolse kinders