...........
“Ek is nog altyd passievol oor die bevordering en bewaring van Afrikaans en om gevolglik te help bou aan ’n nuwe generasie ambassadeurs.”
...........
Monique Rabé is sedert 2019 besig met ’n Meestersgraad in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Haar navorsing fokus op die wisseling tussen Afrikaans en Nederlands in tweetalige, voorskoolse kinders se spraak. Sy gesels met Cliffordene Norton.
Wat het jou navorsingsonderwerp geïnspireer?
Ek studeer al Afrikaans en Nederlands sedert 2015 en is sedertdien nog altyd gefassineer deur die noue verwantskap tussen hierdie tale. Ek was ook laasjaar, as deel van die Zomercursus, in België en Nederland waar hierdie verwantskap my verder opgeval en geïnteresseer het. Die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) word jaarliks in Gent aangebied deur die Nederlandse Taalunie in samewerking met die Universiteit Gent.
Dit tesame met die feit dat daar tans relatief min taalverwerwingsnavorsing in Suid-Afrika bestaan, het my die idee gegee om hierdie opwindende navorsingsgeleentheid aan te gryp. Hierdie studie sal die eerste van sy soort wees om die kodewisseling onder Afrikaans-Nederlandse, voorskoolse kinders in Suid-Afrika te ondersoek en te beskryf.
Wat hoop jy om te bereik met hierdie navorsing?
Deur hierdie navorsing uit te voer, poog ek om die leemte met betrekking tot taalverwerwingsnavorsing oor Afrikaans-Nederlands as nouverwante taalkombinasie in Suid-Afrika te vul. Ek poog ook om die samewerkingsband tussen Afrikaans en Nederlands verder te versterk. Laastens kan hierdie navorsing ook belangrik wees vir ouers van tweetalige, voorskoolse kinders. Nie net noodwendig Afrikaans-Nederlandse kinders nie, maar tweetalige kinders in ’n meer algemene sin. Veral in die meertalige Suid-Afrikaanse konteks.
Hierdie navorsing sal hopelik aan ouers iets openbaar oor hul kinders se vroeë taalgebruik. Alle tweetalige kinders gaan onteenseglik deur ’n fase waar hulle tussen hulle tale verwissel, en dit is belangrik dat ouers bewus is hiervan. Hierdie wisseling is nie noodwendig ’n teken van verwarring of ’n gebrek aan woordeskat nie, maar meeste kinders gebruik hierdie wisseling op ’n baie gevorderde wyse om verskeie redes.
Hoekom fokus jy op die ouderdomsgroep tussen drie en ses jaar?
Kinders begin gewoonlik eers op die ouderdom van ongeveer twee jaar herkenbare of verstaanbare frases te uiter. Hulle sal egter eers gewoonlik van ongeveer twee en ’n half tot drie jaar voller sinne begin uiter wat nie meer net ontluikende kindertaalkonstruksies is nie.
...........
“Bowenal is daar ook baie oorvleueling met betrekking tot woordeskat en uitspraak. Sogenaamde valse vriende is wel iets om voor versigtig te wees vir sprekers van Afrikaans en Nederlands.”
...........
Derhalwe sal die kinders se taalgebruik gedurende hierdie ouderdomsperiode optimaal geskik of bruikbaar wees vir die huidige navorsing. Die afsny-ouderdom is gestel as ses jaar (eintlik ses jaar en elf maande), aangesien hierdie studie juis wil fokus op die taalgebruik van voorskoolse kinders tot in hul laaste jaar van kleuterskool.
Die rede hiervoor is dat daar heelwat meer veranderlikes of omgewingsfaktore is om mee rekening te hou wanneer dit by die taalgebruik van skoolgaande kinders kom. Hierdie studie wil ook bydra tot die debat rondom tweetalige eerstetaalverwerwing (bilingual first language acquisition of BFLA in Engels). Hierdie proses verwys na kinders se simultane verwerwing van twee of meer tale vanaf geboorte en eindig gewoonlik op die ouderdom van ongeveer vyf tot ses jaar.
Vanwaar jou liefde vir Afrikaans en Nederlands?
My liefde vir Afrikaans het al op skool begin. Vandat ek kan onthou, was Afrikaans nog altyd my gunstelingvak. My ouers tesame met goeie Afrikaanse onderwysers het hierdie liefde by my geïnspireer. Ek is ook nog altyd passievol oor die bevordering en bewaring van Afrikaans en om gevolglik te help bou aan ’n nuwe generasie ambassadeurs. My liefde vir Nederlands het eers later in my studiejare bygekom toe ek bewus geword het van die interessante verskille en ooreenkomste tussen Nederlands en Afrikaans.
Watter verskille en/of ooreenkomste kom tussen Afrikaans en Nederlands voor?
Bepaalde tale deel genetiese verhoudings of verwantskappe of maak deel uit van ’n taalfamilie gebaseer op kulturele oordrag van dieselfde brontaal. Tale kan dus as nou- of onverwant aan mekaar geklassifiseer word afhangend van hoe direk hul afkomstig is van ’n voorvadertaal (soos Proto-Indo-Europees) en hoeveel tyd al sedertdien verloop het.
...........
“Hierdie studie sal die eerste van sy soort wees om die kodewisseling onder Afrikaans-Nederlandse, voorskoolse kinders in Suid-Afrika te ondersoek en te beskryf.”
...........
Tans bestaan vertakkings, soos Germaanse tale en Romaanse tale. Afrikaans en Nederlands is nouverwante tale wat albei deel uitmaak van die Germaanse taalfamilie. Vandag deel Afrikaans en Nederlands fonologiese, morfologiese, sintaktiese en semantiese strukture of kenmerke. Bowenal is daar ook baie oorvleueling met betrekking tot woordeskat en uitspraak. Sogenaamde valse vriende is wel iets om voor versigtig te wees vir sprekers van beide Afrikaans en Nederlands.
Dit verwys na woorde met dieselfde spelling en uitspraak wat in beide Afrikaans en Nederlands voorkom, maar heeltemal verskillende betekenisse het. ’n Voorbeeld hiervan is die woord “vaak” wat in Nederlands “frequent” of “herhaaldelijk” beteken, maar in Afrikaans na “lomerigheid” verwys.
Hoe belangrik dink jy is enige Afrikaanse studie vir Afrikaans [ten opsigte van die huidige taaldebat]?
Ek dink dit is uiters belangrik. In die lig van die huidige taaldebat is enige akademiese studies in en/of oor Afrikaans uiters belangrik om Afrikaans as ’n wetenskapstaal uit te bou. Veral in lig van die feit dat Afrikaans nog net as universiteitstaal by een universiteit in Suid-Afrika staande bly.
Deur Afrikaans as vaktaal uit te bou, sal dit bydra tot die versekering van Afrikaans se toekoms as vaktaal en andersins. Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op ’n internasionale vlak. Afrikaans is nog ’n relatiewe jong taal (ongeveer 100 jaar oud) en het myns insiens nog baie om te bied as akademiese taal.
Na afloop van die studie, hoe sal jy jou bevindinge prakties wil toepas?
Ek sou graag, soos ek vroeër genoem het, wil hê dat ouers van tweetalige kleuters bewus moet wees van die wisselingstadium waardeur alle kinders klaarblyklik gaan, asook die redes hiervoor. Verder sal die toepassing van hierdie navorsing afhang van die soort bevindinge wat die studie gaan oplewer, maar ek is nietemin grensloos opgewonde oor die moontlikhede.
Lees ook
Oproep: Afrikaans-Nederlandse kinders in Suid-Afrika gesoek vir deelname aan Meestersstudie
Buro: MvH