Die Greta Thunberg-biodokkie I am Greta, onder regie van Nathan Grossman, wys tans as deel van die Europese Filmfees.
Ek het gisteraand ’n eerstejaarstudent aan die UK genooi om dit saam met my te kyk. Haar kommentaar? “It was good. I especially like it that they did not turn it into a typical celebrity documentary.”
My kommentaar? Ek het nog meer respek gekry vir hierdie meisie wat so openlik praat oor haar stryd met Asperger se sindroom.
Asperger se sindroom val onder die sambreelterm van outisme. Enige ouer wat al daarmee te doen gehad het, sal weet hoe moeilik dit vir sulke kinders is om “normaal” deel te wees van die samelewing – wat “normaal” dan ook mag wees.
Greta erken ruiterlik dat sy vreemd is en dat kinders veral baie wreed was met haar weens haar outisme. Sy pes dit om met mense buite haar gesin te gesels en vertrou haar honde en haar perd baie meer as mense. En tog. Tog het sy besluit om die wetenskaplike kennis wat sy in haar ronddra te gebruik om op haar eie, vreemde, manier uit te reik na ander om die natuur ter wille te wees.
Haar protes het begin teen die Sweedse regering se weiering om die Parys-ooreenkoms te onderteken. Dié ooreenkoms is in 2016 opgestel deur die Verenigde Nasies om veral ryker lande te oortuig om deel te hê aan ’n konvensie wat kweekhuisgasemissies sal verlaag.
Greta, toe 15 jaar oud, het voor die Sweedse parlement gaan sit met ’n bord wat lees “Skoolstaking vir die klimaat”. Langs haar was ’n pak papiere wat die wetenskaplike verduideliking agter aardverwarming bevat.
Daar sit sy. Vyftien jaar oud. Klein. Weird.
Niemand stel belang nie, behalwe een ou tannie wat haar probeer oorreed om terug te keer skool toe.
Haar pa het haar met sy selfoon afgeneem.
Toe begin ’n paar jongmense verbyloop, stop en praatjies maak. Van hulle het langs Greta gaan sit. Toe daag meer op en die pers hoor daarvan. Kort daarna verskyn Greta Thunberg op nasionale televisie en vertel pront vir die ouer mense hulle moet die toekoms vir die kinders beskerm.
Die Verenigde Nasies hoor die onderhoud, en omdat dit deels oor die Parys-ooreenkoms gaan, nooi hulle haar om by die volgende beraad in Pole te kom praat ...
Die res, wel, kyk die film. Die amptelike voorprent is hier te sien.
As jy ooit getwyfel het of een persoon ’n verskil kan maak, hier is die bewys. Dit is een van die beste voorbeelde van die “butterfly effect” wat ek nog gesien het.
Outisme
Greta is outisties. Sy steek dit nie weg nie. Sy gebruik haar brein wat so anders dink as ander kinders s’n om haar boodskap oor te dra.
Tydens ’n privaat gesprek met die Franse president, Emmanuel Macron, waar Macron soos ’n verliefde skoolseun glimlag, sê sy vir hom: “Oh, I am a nerd.”
Toe ’n besonder onvleiende foto van haar saam met die Pous verskyn, lag sy op haar eie (vreemde) manier en sê dis dalk die beste foto vir haar Facebook-profiel.
Hierdie film doen meer as net goeie werk vir die klimaat, dit breek ook lansies vir mense wat op die outismespektrum is.
Teen die einde van die film erken sy ruiterlik dat al die optredes en die mense haar uitput. Sy wil stilte en roetine hê.
En tog ...
Daar is ook ’n aantal gesprekke tussen pa en dogter waar sy gewys word as ’n bedonnerde, eiewys tiener – wat nog erger optree weens haar outisme.
Ek het ’n neef, Petrus de Vries, wat ’n kenner van outisme is. Hy was lank in beheer van ’n navorsingsinstituut in Cambridge. Toe ’n mediese dokter hom ’n slag vra wat van outistiese kinders word wanneer hulle ouer word, het hy dadelik geantwoord: “They become professors at Cambridge.”
Volgens hom is daar talle navorsers by Cambridge wat nie hulle eie banksake kan hanteer nie, maar een briljante navorsingsartikel na die ander publiseer.
Die problematisering van die lens
Sou ’n mens kritiek soek op I am Greta, gaan jy dit kry.
Enkele van die tonele sou ’n mens oor kon wonder: Hoekom het die kamera op daardie oomblik gerol? Wie het die lens gerig?
Ek sou dink dat ’n effens meer selfrefleksiewe film meer sou kon doen om aspekte van die maak daarvan te verduidelik, wat dit beter sou maak.
Ek vermoed egter Greta en haar biograwe gaan van die standpunt uit dat die trolle haar reeds haat, tart en afmaak as ’n irritasie. Hierdie film praat veral met jongmense en diegene, soos ek, wat haar op die sosiale media volg.
Dat sy kontroversieel is, ontken sy nie. Dat sy bewustelik klankgrepe inoefen en gebruik om haar standpunte te maak, word ruiterlik erken. Op vyftien weet sy presies hoe om wêreldleiers ongemaklik te laat voel en sy verlustig haar daarin as Donald Trump die moeite doen om haar te tart. Sy gebruik dan Trump se eie woorde teen hom.
Sy ontmoet met groot plesier vir Arnold Schwarzenegger en talle wêreldleiers, maar sê ook reguit: Hulle misbruik my. Hulle nooi my om hulle agendas te laat mooi lyk. Wat doen hulle daarna?
Sy is brutaal eerlik.
Ek sou graag dat die film ook eerliker moes wees oor die skeppingsproses, maar dit het my jong kykgenoot nie gepla nie.
Gaan dit mense bekeer?
Die titel van die film is gewoon I am Greta. Dit gaan oor ’n vyftienjarige meisie wat in 2019 meer as sewe miljoen jongmense kon mobiliseer om deel te neem aan protesstakings vir die toekoms.
Ek ken heelwat jongmense, beide in Suid-Afrika en in Europa, wat nie meer nuwe klere wil koop nie, wat nie wil vlieg nie en opgehou het om vleis te eet as gevolg van hulle bewondering vir Greta Thunberg. Dit was voor die film gemaak is.
Daardie jongmense gaan in die toekoms stem. Hulle gaan in die toekoms in beheer wees van maatskappye ... Oor die jare mag die drif en die polariserende sekerhede afneem. Tog, hopelik, sal die soeke na ’n groener toekoms daardie nuwe generasie laat stem vir politici wat nie bombastiese en onnosel genoeg is om vyftienjarige skoolmeisies in die openbaar te probeer verneder nie.
Die wêreld gaan verander en dit gaan verbeter, die ou orde moet kennis neem. Gaan hulle? Ek dink nie so nie. Hulle gaan wel verkiesings begin verloor.
Greta se boodskap aan die ouer mense is: “Ouers, moenie in die water mors nie, die kinders wil dit drink.”
Vir jongmense wys sy beeldmateriaal van Trump wat haar probeer verkleineer en sê: “Doen iets kleins vir jouself. Staak elke Vrydag vir jou eie toekoms.”
Een baie klein skoolmeisie met outisme het reeds ’n enorme verskil gemaak. Miljoene ander volg reeds haar voorbeeld. Daardie miljoene gaan meer word soos wat hierdie film begin versprei, die ouer mense ten spyt.
Die Europese Filmfees
Al die films op die Europese Filmfees is gratis, behalwe hierdie een, wat R50 kos. Die rede? Fondse wat ingesamel word, gaan aan ’n stigting wat natuurbewaring onderskraag.
Dit is baie maklik om die film te huur.
Klik op hierdie skakel: https://films.eurofilmfest.co.za/
Registreer as ’n gebruiker, klik op “Rent”, tik jou kredietkaartbesonderhede in, en vir R50 kan jy een van die eerste mense in die wêreld wees wat dit sien. Die prosedure is dieselfde vir die ander, gratis, films. Jy hoef net nie ’n kredietkaart byderhand te hê nie.
Die Europese Filmfees duur voort tot 22 November 2020.
Lees ook:
’n Gratis Europese filmfees en ’n bonus vir Afrikaanse lesers