Im Westen nichts Neues
Op Netflix onder die Engelse titel All quiet on the Western front
Duits, met Engelse onderskrifte
Regisseur: Edward Berger
Skrywers: Edward Berger, Lesley Paterson en Ian Stokell
Hoofakteurs: Felix Kammerer, Albrecht Schuch en Aaron Hilmer
Die Eerste Wêreldoorlog, ook bekend as die Groot Oorlog, het in 1914 begin ná die sluipmoord op aartshertog Franz Ferdinand van Oostenryk. Daardie oorlog het tot in 1918 geduur en 16 miljoen mense, soldate en burgerlikes is dood.
...
Im Westen nichts Neues is ’n Duitse film en kyk vir ’n verandering met simpatie na die Duitsers wat in die oorlog geveg het.
...
Dit was die oorlog van loopgrawe – soldate het in hulle duisende gesterf in pogings om ’n paar honderd meter te vorder, net om weer hulle gebiedsvoordeel te verloor as duisende van die ander kant gesterf het om dit terug te wen.
Enige oorlog bring vernuwing. Hierdie een het tenks en vlamwerpers na die front gebring. Selfs vliegtuie is gebruik. En wie moes dit ontgeld? Dit was die troepe wat hulself in die loopgrawe bevind het wat daardie vlamme en skrapnel moes verduur, en dikwels nie oorleef het nie.
Duitse blik
Im Westen nichts Neues is ’n Duitse film en kyk vir ’n verandering met simpatie na die Duitsers wat in die oorlog geveg het.
Aangesien Duitse leiers in beide Wêreldoorloë die aggressors was, is dit maklik om met ’n skewe oog na die Duitse vegters te kyk. Hulle was egter ook mense, vasgevang in ’n bestel waarvoor baie van hulle nie gevra het nie.
Die leiers het luuks geleef, terwyl hul troepe in hul duisende gesterf het. Juis daarom is hierdie film vandag weer so belangrik.
Dit volg gewone, jong mense na die front en ons sien hoe hulle een na die ander sterf. Sal enige een van die bekende gesigte oorbly aan die einde van die film? Kyk maar self.
Ons was ook maar dom, gebreinspoelde soldate
Hoeveel jong Suid-Afrikaanse seuns is nie deur PW en kie oorlog toe gestuur nie? Suid-Afrika was die aggressors, net soos die Duitsers.
Aanvanklik was ons besonder goed in die oorlog teen swak gewapende insurgente, maar toe eers die Russe en later die Kubane toegetree het, kon ons nie meer meeding nie. Die ander probleem vir Suid-Afrika was dat ons die VSA en die VK, ons twee groot bondgenote teen Rusland, al hoe meer vervreem het. Uiteindelik kon hulle nie meer PW se regering steun nie. Fidel Castro het sy uitstekende soldate en baie goeie wapens gebring en die einde was in sig.
’n Vyand keer na die onderhandelingstafel as hulle nie meer militêre opsies het nie. Dit was so in Suid-Afrika, dit was ook so met Duitsland in beide Wêreldoorloë.
...
Die voordeel van hierdie film is dat ons die jong klomp as ménse ken, nie bloot as vegters nie. Dit tref ons dus wanneer hulle een na die ander hulle lewens verloor.
...
Ons was ook eens dom, gebreinspoelde soldate, net soos die groepe Duitse tieners wat ons gedurende die loop van Im Westen nichts Neues leer ken en volg. Die voordeel van hierdie film is dat ons die jong klomp as ménse ken, nie bloot as vegters nie. Dit tref ons dus wanneer hulle een na die ander hulle lewens verloor.
Uiteindelik, teen die einde van 1918, was Duitsland met hul rûe teen die muur. Die generaals het vir die politici begin verduidelik dat daar gewoon nie meer lewens afgelê kan word tydens ’n oorlog wat nie meer gewen kan word nie. Ons sien die vredesonderhandelinge, ons sien die luukse waarin die leiers steeds leef teen die einde van die oorlog. Ons sien hoe die voetsoldate steeds sterf. Dan teken Duitsland en die Duitse soldate weet hulle is op pad huis toe; behalwe dat een ou grommige Duitse generaal vir ou laas homself op die vyand wou wreek.
Hier steek ek vas. Kyk liewer self wat dan gebeur.
’n Wenner
Im Westen nichts Neues het 81 internasionale nominasies gekry en het in 49 gevalle met die louere weggestap. Dit het onder andere vier Oscars gewen onder die Engelse titel All quiet on the Western front.
Die titels
Die Duitse titels wys daarop dat daar niks nuuts gebeur aan die Westerfront nie – iets wat natuurlik sinies is, want in ’n sekere sin is dit presies wat die oorlog wys: Niks nuuts gebeur nie, maar die troepe hou aan sterf.
Die Engelse titel word eers duidelik wanneer die einde van die film aanbreek. Ek gee niks weg nie as ek sê dat die einde van die oorlog ook die einde van die film is. Die probleem lê in die spergebied wat opgestel word deur die jong soldate wanneer hulle met groot bravade by die leer aansluit. Tot op daardie oomblik wanneer die horlosie 11:00 slaan op 11 November 1918 is die dood oral.
Meer nog: In daardie jare was daar nie selfone en internetverbindings nie, so nie almal het geweet van die vrede nie. Die Westerfront het inderdaad stil geword, maar dit was nie noodwendig die finale einde van die oorlog nie.
Skrikwekkende parallelle met vandag
Duitsland het in 1918 die vrede aanvaar, want hulle troepe was moeg en hulle mense in Duitsland was moeg en honger. Rebellie het gebroei. Kyk ons na die oorlog wat tans in Oekraïne aangaan, is die eerste tekens van ernstige muitery, deur die Wagner-groep, tydelik gestuit. Daar is egter tans nog duisende Russiese troepe wat ingegrawe is in die loopgrawe wat hulle gegrawe het om Oekraïne se teenoffensief af te weer. Hierdie oorlog kan maklik nog vier jaar duur.
Om offensief te werk, is baie anders as om defensief te veg, so die oorwinnings van Oekraïne sal aanhou op ’n klein skaal, totdat Rusland gewoon nie meer die oorlog kan bekostig nie. Dit klink soos ’n transaksie, maar elke klein oorwinning van Oekraïne oor die besetters gaan gepaard met dooie troepe, aan elke kant.
Hoe lank nog? En watter hel beleef daardie soldate in die loopgrawe? Die jong Russe, wat lankal weet hulle kan nie die oorlog wen nie, sit nou daar vasgevang. Muit hulle, is die dood hul voorland. Bly hulle sit, is die dood waarskynlik ook hul voorland.
Daarom is Im Westen nichts Neues so belangrik, en daarom is die Duitse titel so bitter relevant.
Daar is niks nuuts in oorlogvoering nie.
Dis mense wat sterf
Im Westen nichts Neues neem jou saam na die loopgrawe waar die arme, verskrikte soldate van die aggressor gedwing word om aan te hou veg vir ’n hopelose oorlog, presies soos wat nou in Oekraïne gebeur. Daar is mense, ouens met vrouens en meisies, soms selfs met kinders, wat daar in die Krim vasgevang is. Hulle sit in loopgrawe. Die winter is op pad.
Im Westen nichts Neues maak nie ’n fout om Duitsland se aggressie te verdedig nie. Glad nie. Maar dit wys ons dat elke nommer in die statistiekregister ’n lewende mens met hoop en drome was.
Die ander persoon wat die Duitsers as ménse kon uitbeeld, sonder om ideologies hulle kant te kies, is Irma Joubert. Haar drieluik Immer Wes, Mentje, kind van Pas-opkamp en Na ’n plaas in Afrika is merkwaardig. Diegene wat Joubert se werk geniet, sal moontlik dié film ook waardeer.
’n Mens kan net hoop dat die statistiekregister in Oekraïne binnekort toegemaak sal word.