Skyggen i mit øje
Op Netflix bekend as The bombardment
Deens, met Engelse onderskrifte
Regisseur en skrywer: Ole Bornedal
Lees meer op IMBD.
...
Skyggen i mit øje is meer as bloot ’n storie oor vegvliegtuie. Die fokus op die jong seun en sy vriende maak hiervan ’n diep-menslike verhaal.
...
Skyggen i mit øje is ’n Deense film wat ek baie graag wou sien, want ’n deel van die plot klink of dit uit my eie voorgeskiedenis kom.
Operasie Carthage, waaroor die film handel, was ’n briljante poging van ’n groepie uitgesoekte vegvlieëniers.
Op 21 Maart 1945 het 18 De Havilland-bomwerpers, bekend as Mosquitos, vanaf Fersfield-lughawe opgestyg en 560 km later teen 11:00 die oggend op dakhoogte oor die Deense stad Kopenhagen ingevlieg.
Lugstilte is aangekondig, geen radiokontak dus nie.
Die 18 vliegtuie het toe in drie groepe verdeel. Die eerste groep het met ongelooflike akkuraatheid hul bomme op die Nazi’s se geheimepolisie laat neerreën.
Toe loop alles skeef.
Iets oor my ma en ’n soortgelyke bombardement
Ek sal nou terugkeer na hierdie film.
My ma is in Nederland gebore gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Haar pa is kort ná haar geboorte dood. My ouma het toe in Amsterdam by haar pa, my oupagrootjie, gaan bly met die jong baba.
My grootjie se huis was langs ’n gebou wat deur die Nazi’s as hul plaaslike hoofkantoor gebruik is.
Tydens die Nazi-besetting was daar ’n aktiewe versetbeweging in Nederland wat die regse populisme van die Nazi’s teengestaan het. Ongelukkig was daar ook Nederlanders wat bereid was om hul eie mense uit te verkoop. Hulle het geredelik die name van versetstryders aan die Nazi’s verkoop.
So het ’n lys name van die Amsterdamse versetbeweging in die hande van Nazi-owerhede beland. Die lys is na daardie einste gebou, langs my grootjie se huis, geneem. Die versetbeweging het ’n SOS na Engeland gestuur en owerhede het besluit om die gebou te vernietig.
’n Vlaag bomwerpers het opgestyg, oor die Engelse kanaal gevlieg en die Nazi-hoofkwartier is in puin gelê.
Elke oorlog het ook onbedoelde slagoffers.
Een bom het my grootjie se huis getref. Dit is aan flarde geruk.
Die ware hartseer agter die film
Skyggen i mit øje het niks met my gesin te doen nie, maar hier is die ware gebeure waarop dié film gebaseer is.
Denemarke is ook deur die Nazi’s beset in die Tweede Wêreldoorlog.
Soos in Nederland was daar tydens die Nazi-besetting ’n aktiewe versetbeweging in Denemarke wat die regse populisme van die Nazi teengestaan het. En so, presies soos in Amsterdam, het ’n lys name van die Deense versetbeweging in die hande van die Nazi’s se geheimepolisie (Gestapo) beland.
Die Deense versetbeweging het ’n SOS gestuur...
Die vlieëniers vir hierdie missie is met die hand uitgekies.
Die 140ste vleuel van die Koninklike Britse Lugmag het bestaan uit loodse van die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland.
Hulle moes om 11:00 die oggend een gebou in Kopenhagen opblaas in ’n stad vol mense en nie enige ander geboue beskadig nie.
Die webruimte Second line defence verduidelik hierdie operasie soos volg:
Operation Carthage demanded a level of precision that a modern audience would typically associate with laser-guided weapons being delivered through windows that first embedded itself in popular consciousness during the 1991 Gulf War.
Onthou ons praat van 1945.
Die eerste sarsie bomme is met dodelike akkuraatheid gegooi.
Maar...
Voor ons verder gaan, moet ons eers onthou: Die 18 vliegtuie is in drie groepe verdeel. Alle radiokontak is gestaak.
Groep 1 se aanval was puik.
Groepe 2 en 3 sou verwag om hulle bomme op ’n brandende gebou neer te gooi.
Wat het dan skeefgeloop?
Een van die bomwerpers uit die eerste vlaag het in ’n paal vasgevlieg en het langs ’n skool neergestort. Die wrak, met al die brandstof in, het onmiddellik aan die brand geslaan. Die vliegtuie van groepe 2 en 3 het dus na ’n brandende teiken gevlieg. Sewe van die 12 vliegtuie het met dodelike akkuraatheid hul bomme op die skool afgegooi.
Die ander vyf het betyds besef die skool is nie hul teiken nie.
Die klein mens teen die groot geskiedenis
Die filmtitel Skyggen i mit øje beteken “die skaduwee in my oog”.
Ole Bornedal, wat die film se draaiboek geskep het en ook verantwoordelik was vir die regie, het ’n slim tegniek gebruik.
Hy plaas ’n jong seun in die film as die “objek” wat die kamera volg. Ek gebruik die aanhalingstekens bewustelik, want deur op ’n mens te fokus en nie bloot op die feite nie, kry die storie die kans om ’n begin, middel en einde te hê. Dit word nie ’n droë dokumentêr oor ’n bomaanval nie, hoewel die feite om die aanval skynbaar baie goed nagevors en uitgebeeld word.
Die arme knaap ry in die platteland op sy fiets toe hy sien hoe ’n aantal meisies, wat hy ken, wreed gedood word. Dit werk só. ’n Geallieerde vegvliegtuig identifiseer die motor vol vriendinne verkeerdelik as dié van die Gestapo. Die loods kom in, skiet die motor aan flarde en vertrek.
Die seun het dit als sien gebeur.
Hy hou op praat.
Hy vrees daarna oop ruimtes. Die blote feit dat ’n vliegtuig skielik sou kon verskyn, die suggestie selfs van ’n skaduwee in sy oog, maak die seun byna lam van vrees.
Die trauma is so erg dat hy van sy dorp in die platteland gestuur word na die stad om moontlike hulp te kry.
So beland hy op daardie dag op die plek waar die bomme verkeerdelik op ’n skool gegooi word.
Irma Joubert gebruik ook telkens hierdie tegniek in haar historiese werke. Neem ’n kind en vertel hulle storie binne die konteks van ware historiese gebeure. Haar suksesvolle historiese verhale vir LAPA en Tafelberg werk telkens op hierdie beginsel.
Die jong seun in die stad help op ’n ander manier om die verhaal lyf te gee. Hy ontwikkel maatjies. Daardie maatjies is in die skool wanneer die bomme val.
Die kyker “ken” dus die kinders op wie die bomme neerreën.
Ole Bornedal se film gee name en gesigte aan van die slagoffers. Hulle word vir ons mense.
Die skadu’s in ander se oë?
Die dood van die meisies lei ook na ’n, moontlik fiktiewe, selfondersoek van die Geallieerde loodse toe dié ingelig word dat hulle teikens in die motor onskuldige slagoffers was, nie Nazi’s nie.
Skyggen i mit øje vra die vraag of die skadu van daardie insident in die bomwerperloods se oog nie dalk ’n direkte oorsaak kon wees van die tweede hartseer nie.
Kyk maar self.
Die sukses en die tragedie
Operasie Carthage was uiters suksesvol. Die Gestapo-hoofkantoor is totaal vernietig. Talle Nazi’s is gedood.
Maar... ’n Totaal van 86 kinders en 18 volwassenes is ook dood toe die bomme op die skool neergereën het.
My ma was gelukkiger daar in Amsterdam.
My grootjie, my ouma en my ma het in die kelder geskuil. Hulle het die bom oorleef.
Ná die bombardement het die Rooi Kruis gekom en gehoor hoe my ouma en my grootjie vanuit die kelder skree. Hulle het begin grawe en die eerste wat na veiligheid gebring is, was die kleine Marianne. My ma, dus. Sy was toe ’n baba.
Heelwat later is my ouma en my grootjie ook gered. My ma was skoonveld.
Toe my ouma begin navraag doen, het ’n verpleegster gesê sy is bewus daarvan dat ’n baba gered is, maar dié is as ’n wesie afgevoer.
My ouma het glo vir ’n week van weeshuis na weeshuis gegaan voor sy my ma kon opspoor.
Tot so ver die storie van my gesin.
Die einde van Skyggen i mit øje het parallelle wat ek nie wil weggee nie.
Skyggen i mit øje is meer as bloot ’n storie oor vegvliegtuie. Die fokus op die jong seun en sy vriende maak hiervan ’n diep-menslike verhaal.
Die feite is bekend, kyk die film om die menslike element te beleef.