Korrupsie ondersoek in Keizersvrouwen op Netflix

  • 0

Keizersvrouwen
10 episodes op Netflix

In Suid-Afrika gelys as Women of the night
Skeppers: Ian Ginn en Maarten Almekinders

Regisseurs: Ben Sombogaart en Dries Vos
Taal: Nederlands, beskikbaar met Engelse onderskrifte

...
Xandra besef egter dat sy nie bloot toegelaat gaan word om sonder sorge die sekswerkers te bestuur nie – daar is donker magte aan die werk om haar te dwing om geld deur die boeke van die bordeel te was.
...

Die Engelse titel van hierdie Nederlandse reeks is Women of the night, wat oënskynlik ’n goeie aanduiding behoort te gee van waaroor die reeks handel, maar eintlik glad nie. Dít is heeltemal te vlak.

Ja, Keizersvrouwen se spilpunt is ’n bordeel, maar die reeks gaan oor korrupsie. Meer nog, dit vra hoe korrupsie uitgeroei moet word.

In Suid-Afrika hoef ons maar net die koerant oop te maak, dan duik daar iewers weer iets vreemds op; ons weet ook dat dit vrek moeilik is om van korrupte amptenare ontslae te raak. Keizersvrouwen spreek presies hierdie probleem aan.

Dié reeks gaan dus nie oor seks nie. Ja, daar is ’n paar mooi lywe, en ontblote borste is algemeen, maar die verhaal handel eintlik oor diegene wat wettiglik vir hulself geld wil maak deur seks, maar dan weens korrupsie misbruik en gefnuik word.

Keizersvrouwen se eerste seisoen is uitstekend. Daar is ’n tweede seisoen op pad en ’n mens sou hoop hulle hou die leisels steeds stewig vas.

Keizersvrouwen se storielyn – sonder om iets te verklap

Die reeks begin waar die stadsraad van Amsterdam ’n nuwe skakelbeampte aanstel.

Michiel Pressman (gespeel deur Matteo van der Grijn) moet aan die Amsterdamse publiek beloof dat hy alles sal doen om korrupsie uit te roei.

Pressman se hoof, Cees de Wolf (gespeel deur Roeland Fernhou), herken dadelik Pressman se vrou, Xandra Keizer (Karina Smulders).

Xandra Keizer het ’n donker verlede. Sy was in die tronk en was ’n prostituut voor Pressman haar gered het.

Wolf besluit om dit uit te buit, in so ’n mate dat ’n mens wonder of Pressman se aanstelling nie dalk gebeur het juis om ’n houvas op hom te kry via sy vrou nie.

Kort voor lank bevind Xandra haar weer terug in haar ou werk, maar hierdie keer as die madam, die een wat afsprake reël en meisies se dagboeke vul.

Xandra besef egter dat sy nie bloot toegelaat gaan word om sonder sorge die sekswerkers te bestuur nie – daar is donker magte aan die werk om haar te dwing om geld deur die boeke van die bordeel te was.

Intussen probeer haar man, Michiel, alles in sy vermoë doen om die korrupsie stop te sit, maar hy besef uiteindelik dat sy base in die munisipale bestuur deel is van die gemors. Húlle sal alles doen om te keer dat die korrupsie uitgeroei word.

Gebaseer op ware probleme in Amsterdam

Keizersvrouwen is fiksie. Punt.

Tog is die onderliggende idee, dat die stadsowerhede ernstig teen ’n groter doek na die seksbedryf kyk, belangrik. Voertaal het al hieroor berig.

Amsterdam wil nie die seksbedryf verwyder of onwettig verklaar nie. Hulle wil bloot seker maak dat dit sonder negatiewe gevolge vir die samelewing kan voortgaan.

Keizersvrouwen vra die vraag: Sê nou maar egter hierdie mooi idees is eintlik gemik op eie gewin?

Amsterdam is bekend daarvoor dat die seksindustrie wettig is, en ’n groot trekpleister. Sekswerkers word gereeld getoets vir hul gesondheid en geniet wetlike beskerming. Die probleem is egter dat nie alle kliënte hul altyd ewe goed gedra nie.

Meer nog: Aangesien die seksbedryf selfs in Amsterdam nog ’n sweem van donkerte dra, stel die skrywers van hierdie fiksiereeks die geldige punt dat geldwassery tog te maklik sou kon voorkom wanneer bordele in kontant betaal word – of kwansuis in kontant betaal sou word.

Die Keizer-familie

Uiteindelik handel Keizersvrouwen ook oor drie geslagte vroue – en die manier waarop hulle met mekaar saamleef.

Sylvia Keizer (meesterlik gespeel deur Hilde Van Mieghem) is die matriarg. Ek het lanklaas so ’n geslepe feeks in enige fiksie teëgekom.

Xandra is haar dogter en die ma van Lulu Keizer (gespeel deur Susan Radder en soms Ava Collins).

Lulu is jonk en eiewys en vreeslik beïndruk met haar flambojante ouma.

Xandra probeer die kind, en haarself ook, teen haar ma beskerm. Terselfdertyd het sy egter meer as genoeg van haar eie probleme.

En dit bring ’n nuwe dimensie aan hierdie reeks: Al is die sekswerkers mooi, leer ons hulle ook ken vir hul drome, nie bloot vir hul lywe nie.

Al is die Keizer-vroue (die gesin, dus) almal besig met hul eie magspeletjies, is hulle uiters menslik.

Selfs die breker, Beertje (gespeel deur verkleurmannetjie Thijs Römer), en die mafia se meesterbrein, Ralph Konijn (gespeel deur Dragan Bakema), het sagte, menslike kante aan hulle. Beertje is nie verniet in die Engelse onderskrifte bekend as Pooh Bear nie. ’n Mens kan nie verhelp om van hulle te hou nie, al is hulle aaklig.

’n Interessante interteks

In 1938 het Michael Curtiz ’n besonder interessante film vir Warner Brothers gemaak. Angels with dirty faces handel oor korrupsie in ’n groot Amerikaanse stad, maar die film konsentreer op die klein geskiedenisse, die straatkinders, en kyk deur hulle oë na die korrupsie.

Rocky Sullivan (James Cagney) en Jerry Connolly (Pat O’Brien) word op straat groot. Ná ’n onsuksesvolle poging tot roof word Sullivan gevang en na ’n verbeteringskool gestuur.

Ons weet in Suid-Afrika dat tronke eintlik die plek is waar mense leer om meer effektiewe kriminele te word, en dis presies wat met Sullivan gebeur.

Een misdaad volg op ’n ander; Sullivan se dade word erger. Uiteindelik bevind hy hom weer in die tronk, maar dié keer het hy opgetree namens ’n korrupte prokureur (gespeel deur Humphrey Bogart).

Die prokureur beloof hom groot geld as Sullivan drie jaar sou sit en nie uitpraat nie.

Ná drie jaar stap Sullivan uit, en besef dan die prokureur en die polisie is kop in een mus met die politici.

Jerry Connolly, sy eertydse vriend, het intussen ’n priester geword en het besluit om die korrupsie stop te sit.

Angels with dirty faces is ’n donker film met ’n hartseer einde.

En Keizersvrouwen? Wel. Kyk maar self. Dis ’n vreemde verhaal, ook baie donker en baie sinies.

’n Naelbyter tot die einde

Keizersvrouwen is uiteindelik hope pret.

Moenie vashaak by die Engelse titel nie. Anders as Dirty lines is die primêre fokus nie seks nie – hoewel hier heelwat meer naaktheid in voorkom as in Dirty lines.

Keizersvrouwen handel oor korrupsie en mag, en ook dan die mooi, kaal vroue oor wie sy lywe soms gestry word soos twee honde oor ’n been.

Lees ook:

Tronke bedreig ons dogters: ’n resensie van Anthony Molyneaux se Last blue ride

Dirty lines: ’n besondere blik op die tagtigs

Welkom in Amsterdam, maar kyk waar jy piepie!

Moderne verhoudings in Anne+

Do not hesitate is ’n angswekkende oorlogsprent

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top