Soet-en-taai-hoendervlerkies (resep op bladsy 6)
Titel: JanBraai Junior
Skrywer: JanBraai
ISBN: 9781485900313 (Afrikaans)
ISBN: 9781485900016 (Engels)
Uitgewer: Penguin
Ek kan die boek JanBraai Junior aanbeveel vir oud en jonk. Oorsese besoekers aan Suid-Afrika moet dit veral oorweeg om een aan te skaf.
Hoekom?
Braai is so Suid-Afrikaans soos renosters en olifante en jy gaan beslis braaigeriewe raakloop waar jy ook al bly. Dié boek vernietig ook die mite dat dit moeilik is om heerlike geregte op die vuur te maak.
Daar is goeie redes waarom ook Suid-Afrikaners by die boek kan baat, maar voor ons oor die boek gesels, is dit nodig om oor die woord braai te gesels, en ook oor die kultuur agter daardie woord.
Boereworsrolle met Monkey Gland-sous (resep op bladsy 4)
Braai
Besoekers aan Suid-Afrika moet beslis ’n braai inpas. Daar is selfs in ons land se townships restaurante wat in braaikos spesialiseer. Menán van Heerden het een so ’n restaurant besoek en daaroor geskryf. Besoek hulle gerus, maar ek sou ook sê dat besoekers JanBraai Juior moet koop en self moet probeer braai. Die boek maak dit maklik.
Om te braai is veel meer as om kos te maak. Om te braai is ’n soort ritueel wat baie eg Suid-Afrikaans is.
Menán van Heerden het hier op Voertaal verduidelik dat braai na die Nederlandse braden teruggevoer kan word.
- Herkoms: “Uit gewestelike Nederlandsen Nederlandse spreektaal ‘braaien’, met ‘braden’ as standaardvorm.” Die Nederlandse betekenis van “braden” is “vlees garen in heet vet”.
In die Verenigde Koninkryk sal ’n mens waarskynlik ’n roast kry wat in ’n oond gaargemaak is. In die VSA sal jy heel waarskynlik ’n barbeque of ’n grill kan kry wat op gas gaargemaak is. En in Australië is daar ouens wat trots is op die Weense worsies wat hulle op vlamme gaarmaak; hulle verwys na ’n barbie.
In Suid-Afrikaanse Engels is ’n braai ook gewoon ’n braai, want ’n grill of ’n roast of ’n barbeque is nou eenmaal nie ’n braai nie. Boonop smaak vleis wat op ’n vuur gebraai word, anders as vleis wat met gas gaargemaak word. ’n Amerikaanse vriendin kon lank nie uitwerk hoekom gebraaide vleis in Suid-Afrika soveel beter smaak as in die VSA nie, tot ek haar daarop gewys het dat ons nie op gas braai nie. Die houtrook gee ’n totaal ander geur aan vleis.
Die wonder van braai en die reuk van ’n houtvuur is beslis nie beperk tot een groep in Suid-Afrika nie; dit is iets wat in alle kulture geniet word. Om ’n vuur te maak het ook die vermoë om ’n mens te laat ontspan. Dalk het dit iets met ons oervoorouers te doen wat vuur gebruik het om wilde diere weg te hou.
’n Braai in Suid-Afrika behels die hele ritueel van ’n vuur aansteek, dan wag vir die kole terwyl jy kuier, en dan kan jy braai.
Roosterkoek (resep op bladsy 42)
Kuier, die woord met baie betekenisse
In Afrikaans beteken kuier ’n samekoms; dit beteken gesels en stories uitruil.
In ’n inskrywing op Voertaal word daarop gewys dat kuier in Afrikaans en Nederlands ’n totaal verskillende betekenis het:
- Kuieren(Nederlands) = wandelen, flaneren
- Kuier(Afrikaans) = chillen met vrienden, op visite zitten.
So: “chillen met vrienden”? Korrek. Om te kuier is om rustig te raak, en ’n vuur help baie daarmee.
En dan “op visite zitten”?
Beslis. Sit en word rustig. Skakel jou foon af. Môre kan jy weer deur die stad gaan flaneer.
Sosaties (resep op bladsy 12)
’n Geheime orde wat hoofletters gebruik
Nou moet ’n besoeker aan Suid-Afrika ook gewaarsku word: Daar is braaiers, gewoon met ’n kleinletter, en dan is daar Braaiers, diegene wat hulself aankondig op ’n manier wat ’n hoofletter regverdig.
Persone wat Braaiers is, dink hulle weet alles van ’n vuur af en vertel gou vir braaiers, dié sonder ‘n hoofletter, wanneer hulle iets verkeerd doen.
Bly weg van die Braaiers met ’n hoofletter. Doen jou eie ding. As jy meer wil weet, kry JanBraai se lekker boek.
Ontmoet vir Jan
Daar is een ou wat moontlik ’n Braaier bo alle Braaiers sou kon wees, maar hy is nie. Hy verduidelik aan gewone mense hoe om op ’n maklike manier heerlike kos op die vuur te maak.
Hy gee graag raad, hy deel sy resepte, en hy moedig ander aan om sy idees uit te daag.
Die derde paragraaf van sy boek JanBraai Junior begin so:
Maak asseblief elke resep jou eie. Byvoorbeeld, ek vertel jou dalk presies hoe lank jy iets moet braai omdat dit vir my die beste resultaat lewer. Dalk verskil jou braaiplek, hout of smaak van myne. Pas dan die resep of tyd by jou volgende braai aan.
Sy regte naam is Jan Schannel, maar niemand noem hom meer so nie.
Hy het Jan Braai geword, en toe, as ’n mens sy uitgewers en sy bemarkers glo, het die spasie verdwyn en nou is hy sommer JanBraai, ’n handelsmerk.
So: Jan Braai vir vriende, waarvan hy baie het, en JanBraai vir die rekenmeesters.
Braai en ons nasionale erfenis
Braai is groot in Suid-Afrika, en soos reeds vermeld, is dit iets wat alle kulture doen. In Jan se eie woorde:
Suid-Afrika is ’n wonderlike land met ’n ryk en uiteenlopende erfenis. Ons het vriendelike mense, ons natuur is pragtig en ons vlag is net so mooi. Een ding wat ons almal in gemeen het, maak nie saak hoe oud ons is nie, is dat ons daarvan hou om vuur te maak en te braai.
Jy kan baie ryk wees en braai – daar is selfs huise in Suid-Afrika wat ’n braaikamer het Ja! Daar is regtig huise met ’n hele kamer wat gewy word aan die ritueel van die braai. Jy kan ook baie arm wees en steeds ’n mielie of twee oor die kole braai.
JanBraai het besef dat ’n vuur nét die plek is om Suid-Afrika se rasverskille te negeer. Hy wil mense saam laat braai; hy wil hê mense moet leer kuier om die vuur. Sy voorstel was toe, heel tong-in-die-kies, dat ons 24 September as ons Nasionale Braaidag vier. Eintlik staan daardie dag bekend as Nasionale Erfenisdag, en baie mense is vies vir Jan omdat so baie mense nou op daardie dag wil braai. Maar, dis mense van alle rasse en kulture wat daardie dag braai, so dalk was Jan nie so verkeerd nie?
In sy eie woorde: “Op 24 September elke jaar vier ons Nasionale Braaidag saam, en die res van die jaar wanneer jy braai, behoort jy daaraan te dink – ons almal hou van braai!”
Met hierdie boek kan almal braai
Die boek neem enige braaier stap vir stap deur die maak van tradisionele geregte soos:
- Boereworsrolle met Monkey Gland-sous
- Soet-en-taai-hoendervlerkies
- Lamstjops
- Rump steak-sosaties
- ’n Hoenderpotjie
- Soet-en-taai-varkribbetjies
- Tradisionele braaibroodjies
- Knoffelbrood
- Aartappelslaai
- Roosterkoek
- Mieliepap
Kortom: As jy hierdie resepte volg, sal jy enige plek in Suid-Afrika, of in die buiteland, jou gaste op die lekkerste Suid-Afrikaanse kos kan trakteer.
Jan wys selfs vir ons hoe om mielies te braai en aartappels in die kole gaar te maak.
Sy aanwysings is eenvoudig en maklik om te volg. Die boek is egter nie net vir kinders, of dan “juniors”, nie. Juis nie. In die inleiding skryf hy: “My mikpunt was dat elkeen in die gesin dié boek sal geniet.”
Jan verduidelik dat hy moeite gedoen het om vir hierdie boek sy eie braaiprosesse aan te pas en te vereenvoudig: “Hier en daar het ek selfs my eie reëls herskryf om jou ’n wonderlike maaltyd met selfs makliker stappe te gee. Ek dink hierna is ek nou selfs ’n beter braaier.”
Piesang-en-Nutella-wraps (resep op bladsy 54)
Meer as die tradisie
Jan verduidelik ook hoe om die tradisies op hul kop te draai, byvoorbeeld deur sampioenburgers vir jou vegetariese vriende te braai.
Daar is ook nuutskeppinge soos Jan Braai-pizzas, of Piesang-en-Nutella-wraps; of wat van Malvalekker-en-sjokolade-braaibroodjies?
Die lekker van hierdie boek is dat enige een, oud of jonk, Jan se tradisionele resepte maklik en sonder moeite kan volg, dan bou Jan voort op hierdie kennis en hy leer die leser hoe om te vernuwe.
Die foto’s in die boek is lieflik.
Dus?
As jy in Suid-Afrika op besoek kom, koop sommer die boek op die lughawe. Dan kan jy oral in ons mooi land braai. Wanneer jy dan by die huis kom, kan jy ’n oop stukkie veld gaan soek en weer al die heerlike geure van Suid-Afrika herbeleef.
As jy ’n Suid-Afrikaner is, sal jou mond water deur net na die foto’s te kyk. Die resepte en die manier waarop JanBraai die leser leer braai, sal maak dat jy self ook hierdie smulkos op die vuur sal kan maak.
- Alle foto’s verskaf.