Waar kom die woord "braai" vandaan?

  • 0

Afrikaanse woorde wat daagliks gebruik word, het benewens Nederlands, verskeie ander invloede, soos Maleis, Portugees, Xhosa, Nama, ens.

Hier is 8 woorde en hul komvandaan-stories.

.............

 Braai

Betekenis: “Iets in ’n pot / oond / oor kole gaar rooster of bak.”

Herkoms: “Uit gewestelike Nederlands en Nederlandse spreektaal ‘braaien’, met ‘braden’ as standaardvorm.” Die Nederlandse betekenis van “braden” is “vlees garen in heet vet”.

Piering

Betekenis: ’n Piering is ’n “vlak, ronde houer waarin ’n koppie geplaas word”.

Herkoms: Uit koloniale Nederlands (“piering”). “Piering” is ’n ontlening aan Maleis “pi(e)ring”, wat “bord, houer” beteken.

“In vroeë Afrikaans het ‘piering’ nie uit of onder invloed van die slawetaal nie, maar direk uit die 17de-eeuse Indies-Nederlandse handelstaal gekom.”

Abba

Betekenis: “1. ’n Kind op die rug dra. 2. Iemand, bv ’n beseerde of gewonde persoon, op die rug dra.”

Herkoms: Uit Korana (“aba, ’aba”) of Nama (“awá”).

Tronk

Betekenis: Die woord “tronk” beteken gevangenis.

Herkoms: Uit koloniale Nederlands. “Tronk” is ontleen aan Portugees “tronco” (“blok waarin voete van misdadigers gesluit word”, asook “gevangenis”).

“Deur die aanwesigeheid van Oosterse slawe aan die Kaap kon sowel die wóórd ‘tronk’ as die betekenis ‘gevangenis’ gevestig geraak het.”

Tjaila

Betekenis: “Tjaila” beteken “ophou met werk, veral aan die einde van die dag”.

Herkoms: “Uit Xhosatshayile’ of Zoeloe ‘–shayile’, albei perfektiewe vorme van onderskeidelik ‘tshaya’ en ‘shaya’, albei met die betekenis ‘slaan’ (op ’n voorwerp sodat ’n geluid gehoor word). Wanneer daar hard op ’n voorwerp, bv ’n ploegskaar, geslaan word, of wanneer ’n klok slaan, word bogenoemde werkwoord gebesig om aan te dui dat die werkdag begin, of ook dat dit ophou. In Xhosa en Zoeloe beteken die woorde dus nie net ‘ophou met werk’ nie, maar ook ‘begin werk’.”

Bredie

Betekenis: “Gereg van vleis wat gewoonlik met uie gesmoor en met groente gestowe word.”

Herkoms: Moontlik uit Portugees (“bredo”). “Bredo” verwys na “enigeen van verskeie plante van die geslag ‘Amaranthus’, soms as groente gekook”.

“Hierdie groente was aanvanklik waarskynlik die groente wat in ’n bredie gebruik is.”

“’n Vroeëre betekenis van ‘bredie’, waar dit gebruik is om te verwys na ’n gereg wat slegs uit groente bestaan, is reeds in 1831 opgeteken.”

In 1880 is “bredie” opgeteken as “groen moes van verskillende plante berei”. Die hedendaagse betekenis is eerste in Afrikaans in 1884 opgeteken as “bredi”.

Piesang

Betekenis: ’n Piesang is ’n “smaaklike tropiese vrug”.

Herkoms: Uit koloniale Nederlands (“pisang”).

“‘Pisang’ is in die Ooste aan Maleis ontleen en kom onder andere in reisjoernale, ook by Van Riebeeck (1651-1662), voor.”

“In Nederlands is ‘pisang’ minder gebruiklik as ‘banaan’.”

Kamma

Betekenis: “Nie werklik nie, kwansuis, skynbaar.”

Herkoms: Uit Khoi – “khama” – wat “soos” beteken.

Bronne:

  • Cloete, AE & Van Wyk, GJ. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch, Suid-Afrika: Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

 

Lees ook

Waar kom die woord "dagga" vandaan?

Lekker Afrikaanse idiome I

Lekker Afrikaanse idiome, uitdrukkings en woordeskat II

Lekker Afrikaanse idiome III

Toor met jou taal (Afrikaanse idiome)

Afrikaanse uitdrukkings wat lekker op die tong val

Sê jou sê – met hierdie Afrikaanse gesegdes

Skreeusnaakse Nederlandse woordeskat en valse vriende

Skreeusnaakse Nederlandse woorde en uitdrukkings II

Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top