Die voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Jonathan Jansen, se vloermoer oor Afrikaans in ’n Stellenbosse boekwinkel het meer vrae as antwoorde.
Hy weier om te sê waarom hy so gal gebraak het op sosiale media omdat hy in Afrikaans bedien is toe hy skryfbehoeftes in Engels wou koop. Sy weergawe van die voorval strook nie met dié van die winkelassistent wat hom bedien het nie. Daar was glo ook ander mense in die boekwinkel wat nie Jansen se ontevredenheid verstaan nie.
Jansen het verlede week die tonge los gehad toe hy op Twitter en Facebook gespog het hoe hy die winkelassistent van Protea Boekwinkel in Stellenbosch afgejak het omdat sy met hom Afrikaans gepraat het toe hy in Engels bedien wou word.
Hy het in Engels vir haar gesê hy benodig skryfbehoeftes waarop sy in Afrikaans by hom wou weet of hy die prof van die Vrystaat is.
Jansen het geantwoord: “No, I’m DJ Black Coffee.” Hy het op Twitter en Facebook gesê nou weet mense hoekom swartmense soms “flip” as gevolg van taal-onverdraagsaamheid.
This morning in a bookshop in Stellenbosch:
Me: Good morning
She: Waarmee kan ek help?
Me: I need stationery
She: Is jy die Prof van die Vrystaat?
Me: No, I'm DJ Black Coffee
(now you know why black people sometimes flip because of language intolerance)— Jonathan Jansen (@JJ_Stellies) November 26, 2019
Dit het ’n storm op sosiale media ontketen en Jansen is uit verskeie oorde skerp gekritiseer. Jansen (61), ’n A-gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingstigting, is ten volle tweetalig en werk deesdae in Stellenbosch nadat hy in 2017 die pos van uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US aanvaar het. Hy doen navorsing oor skoolbeheer, bestuur, leierskap en beleid en tree ook op as mentor vir nagraadse studente
Op ’n vraag van een van sy ondersteuners op Facebook hoe die gesprek verder verloop het, antwoord Jansen “she continued as if I do not exist.” “Un-f-believable!” reageer sy dan waarop Jansen in Engels antwoord: “Die dwepers (bigots) in hierdie vallei is op steroids”.
Aan LitNet het Jansen egter gesê die winkelassistent het hom hoflik en met respek behandel. Hy wou nie uitbrei oor die rede waarom hy hom so vervies het in die boekwinkel nie. “Ek gaan beslis nie met enige media in gesprek tree oor die onderwerp nie behalwe vir ’n lang essay daaroor waaraan ek nog besig is om te werk.”
Jansen hou steeds vol sy weergawe van die gebeure in die boekwinkel is 100 persent korrek. “Sy is inderdaad ’n wonderlike persoon. Maar lank voordat sy geroep is om te help weens ’n probleem by die kasregister, was daar ’n ander voorval met haar kollegas. My weergawe is honderd persent korrek.”
Jansen wou nie sê wat was die ander voorval met haar kollegas waarna hy verwys nie.
Die eienaar van Protea Boekwinkel, Nicol Stassen, het die voorval met Jansen in die Stellenbosch-tak van Protea Boekhuis bevestig. “Dis net jammer dat ’n onskuldige personeellid die slagoffer van rassistiese en seksistiese gedrag en vermeende intellektuele meerderwaardigheid moes wees,” het Stassen gesê.
Nicol Stassen (Foto: Johan Kotzé) en Jonathan Jansen
Die werknemer, Louise Swanepoel, werk al 20 jaar vir Stassen en hy sê sy is allerweë by die kliënte bekend vir haar vriendelikheid. Hy sê sy het die grootste bewondering vir Jansen en het nie eers besef daar was ’n “voorval” nie. Hy het vir sy skryfbehoeftes betaal en was op die oog af glo heel gelukkig toe hy die winkel verlaat.
Stassen sê dis nogal ironies in die hele Jonathan Jansen-debakel in Stellenbosch dat sy nuutste boek Decolonisation in universities prominent in die Protea Boekwinkel, heel voor by die kasregister, uitgestal was weens die bewondering wat die personeel vir hom gehad het.
Die digter en taalpraktisyn Louis Esterhuizen wat die boekwinkel vroeër bestuur het, het op Facebook gesê om in Afrikaans gegroet te word in enige besigheid in Stellenbosch is nie vreemd nie.
“Veral nie as jy ’n openbare figuur is en vantevore in dieselfde winkel Afrikaans met gemak gebruik het nie. Maar toegegee, toe het dit tydens die bekendstelling van jou boek oor die verkope van jou eie publikasie gegaan. By die gewraakte geleentheid waarna ons gewaardeerde professor verwys, wou hy bloot ‘plakkers’ koop. In Engels.”
Volgens Esterhuizen is die betrokke winkelassistent ’n ervare en uiters bedrewe boekverkoper. “In my jare as bestuurder van hierdie bepaalde boekwinkel (2002–2016) was sy ’n staatmaker en ek glo dat sy dit steeds is. By uitstek iemand wat haar kliënte én boeke ken. Dat sy in hierdie hele debakel betrek word by wyse van eensydige, boelieagtige optrede vind ek onaanvaarbaar.”
“Om nou hierdie onbenullige insident voor te hou as tiperend van taal-chauvinisme op Stellenbosch is belaglik. Veral omrede dit nié die volle gesprek weerspieël nie.”
Hy sê statistiek dui daarop dat meer as 70% Stellenbossers Afrikaanssprekend is. En dit sluit sowel winkelassistente as hul kliënte in. “Is dit daarom onaanvaarbaar dat winkelassistente hul kliënte by voorkeur in Afrikaans sal aanspreek? Veral indien jy vantevore in die betrokke winkel was en tóé gemaklik Afrikaans gepraat het omrede dit tot jou eie (finansiële) voordeel was?”
Hy sê hy het ’n vermoede dat Jansen tans besig is met navorsing oor die sogenaamde “taal-chauvinisme” op Stellenbosch vir ’n latere publikasie. “Indien daardie navorsing egter op halwe waarhede soos hierdie gebaseer gaan wees, voorsien ek droewe tye. Sy optrede is niks minder as intellektuele boeliegedrag en populistiese opportunisme nie. Nietemin, toe ek hom by sy plasing daarop wys, is ek summier ontvriend en geblok.”
Esterhuysen sê hy beskou Jonathan Jansen nogtans as ’n belangrike kommentator tot die uiters delikate taaldebat wat tans op die dorp plaasvind en hierdie plasing deur hom wat uit en uit op ’n halwe waarheid gebaseer is, skreeu ten hemele.
Lees ook
Buro: MvHJonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer