Jong kunstenaar ontvang talle aanbiedinge na "sataniese" kuns

  • 0

Die matriekleerling wie se kunswerk die hele land aan die gons gehad het toe ’n pastoor dit as demonies uitgekryt het, word nou oorval deur aanbiedinge van individue en organisasies wat hom wil help om sy kunsloopbaan te bevorder.

Die 18-jarige Gary Louw het aan die Sunday Times gesê hy is vas van plan om sy kunstalent verder te ontwikkel.

Grafika: Pixabay.com

Die duiwel was verlede week behoorlik los soos Suid-Afrikaners mekaar in die hare gevlieg het oor Louw se omstrede kunsuitstalling by die Curro-skool Grantleigh in Richardsbaai.

Die video van sy werk wat sonder toestemming deur ’n emosionele pastoor, Andrew Anderson, op die internet geplaas is, het nou ’n ongekende hupstoot aan sy kunsloopbaan besorg.

Volgens die Sunday Times is mense bereid om duisende rand vir die jong kunstenaar se omstrede kunswerke te betaal. Sommige het ook aangebied om vir sy studies te betaal as hy volgende jaar verder in die kunste wil studeer ondanks die feit dat hy reeds as student in astrofisika aanvaar is by die Universiteit van Kaapstad.

Louw, wat sy skool se Dux-toekenning ontvang het enkele ure nadat sy kunswerk deur die pastoor as satanies en demonies bestempel is, het in ’n onderhoud aan die Sunday Times gesê hy gaan definitief sy kunsloopbaan ook verder voer.

Hy het aan die koerant gesê hy was bewus van die feit dat daar negatiewe reaksie op sy werk sal wees maar op die ou end gaan dit vir hom nie net daaroor hoeveel mense van sy werk hou nie, maar oor beide die positiewe en negatiewe reaksies wat dit uitlok.

Hy sê met die uitstalling van sy werk het hy aanvanklik gedink dat hy alles oor geloof gesê het wat nodig is. Die hewige reaksie op sy werk het hom egter geïnspireer om verder daarmee te eksperimenteer omdat dit met sy eie persoonlikheid en skynbaar ook met baie ander mense s’n resoneer.

Louw sê hy is baie geïnteresseerd hoe mense dink en geloof en wetenskap is twee onderwerpe wat hom boei.

............

“Hy het aan die koerant gesê hy was bewus van die feit dat daar negatiewe reaksie op sy werk sal wees maar op die ou end gaan dit vir hom nie net daaroor hoeveel mense van sy werk hou nie, maar oor beide die positiewe en negatiewe reaksies wat dit uitlok.”

............

Rapport berig dat die herrie wat losgebars het as gevolg van die pastoor se tirade die leerling ook erg getraumatiseer het toe hy sien hoe mense hom dood wens en die skool wou afbrand.    

Selfs die skool se sekretaresse is volgens die koerant tot trane gedryf deur mense wat aanhoudend gebel het en haar en die skool geskel en beledig het.

Van die kommentare op sosiale media het gewissel van “die kunstenaar en sy ouers moet ophou lewe”, “brand die skool af met al daai gemors daarin” tot “verbrand al die goed voor die kinders en onderwysers. Maak ’n kring om dit en bid.”

Die seun het vroeër in ’n verklaring verduidelik dat sy kunswerk nie met God die spot wou dryf nie maar dat sy werk deur middel van bekende godsdienstige beelde juis wil uitwys hoe hedendaagse georganiseerde godsdiens oppervlakkig raak.

Sy ma het aan die koerant gesê haar seun se werk word deur oningeligte mense uit verband geruk. Sy sê as ouers ondersteun hulle hul seun ten volle en die gevolge van die pastoor se video was niks anders as kuberteistering nie.

Die joernalis Willemien Brümmer het in ’n meningsartikel in Rapport geskryf die beeld wat die pastoor van Jesus skep, verskil lynreg van die Jesus waarvan sy by haar ma geleer het. “Haar Jesus was beslis nie ’n woedende Pinkster-pastoor wat swetsend sou gesê het: My God is geen nar nie.”

Brümmer sê as Jesus in Shakespeare se tyd geleef het, sou Jesus geweet het narre of “dwase” is simbolies van dié subversiewe waarhede wat die stommiteite van die heersers en die samelewing moet uitdaag.

Sy sê dit is jammer die pastoor het nie die matriek-kunstenaar se geskrewe rasionaal vir sy finale eksamenopdrag gelees nie.

Lees ook 

Die duiwel is los oor "sataniese" kuns

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top