Jongerenprojek 2025: ’n verslag

  • 0

************

Die Jongerenprojek (JP) vind sedert 1976 jaarliks plaas. Die program roteer om die beurt – een jaar lê deelnemers uit Nederland en Vlaandere besoek af aan Suid-Afrika en Namibië, waarna ’n ander groep Suid-Afrikaners en Namibiërs die daaropvolgende jaar in die Lae Lande ontvang word. Die JP is’n uitruilprogram waardeur daar gepoog word om deelnemers ’n begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande en Suider-Afrika bestaan – soos in die besonder vergestalt word in die taalbande tussen Nederlands en Afrikaans. Die hoop is om ’n wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suider-Afrikaanse kulture te ontwikkel, omdat deelnemers deur hulle sustertale relatief maklik kan kommunikeer en sodoende mekaar se wêrelde – en die gedeelde geskiedenis daarvan – kan ontdek.

************

Hiermee Elizna Henderson se verslag van die Jongerenprojek 2025:

Om die Jongerenprojek-netwerk in net een opsomming te moet hervat, is byna ’n onmoontlike taak. Want hoe beskryf ’n mens dan nou iets só spesiaals?

Dis vir enige jong student ’n uitdagende taak om vir drie weke saam met 16 wildvreemde mense ’n toer aan te pak. Die JP ’25 was ’n smeltkroes van studente uit elke hoek van die land, wat eintlik só ongelooflik verskillend van mekaar is en eerlikwaar maar net twee dinge gemeen gehad het: ’n liefde vir Afrikaans en ’n inherente nuuskierigheid oor Nederlands. (En tog, die verlange na braaivleis of ’n Engen garage pie in die land van die NIE-vleisvreters.)

Die JP 2025 op Schiphol

Dit vat ’n spesiale tipe mens om ’n program aanmekaar te slaan wat 16 verskillende studente se aandag terselfdertyd prikkel, maar die Belgiese en Nederlandse begeleiders het dit wel met ongelooflike sukses reggekry. Vir 19 dae was daar elke dag iets wat die algemene (maar ook individuele) belangstellings geprikkel het, en dit is beslis iets wat moeilik is om onder só ’n wye verskeidenheid mense reg te kry. Die kulturele ontwaking wat hierdie toer bied, is iets wat jy nêrens anders sal kry al gaan soek jy daarvoor nie. 

België

In België aangeland, hoewel met moeë lywe en ure se reis agter die rug, het elkeen van ons ’n vol hart gehad met die belofte op ’n fantastiese drie weke wat voorlê. Ons het die toer afgeskop met die een plek wat onomwonde die meeste van ons se gunsteling sou word – Gent. Dis op die Graslei reg buite ons kamervenster waar ons mekaar op die gracht sou leer ken – waar ons ure om sou sit en gesels en lewenslange bande sou vorm. 

Die tweede aand op die Graslei in België.

Die Graslei in Gent

Buiten die Belgiese studentekultuur, het ons ook te doen gehad met die Universiteit Gent self, en het ons lesings gehad wat vir elkeen van ons iets interessants kon bied. Lars Bernaerts, Timothy Coleman en (tot elk van ons se bewondering) Yves T’Sjoen het lesings by die Universiteit Gent aangebied wat jou onmiddellik oorreed het dat jy binne die volgende paar jaar ’n student aan die universiteit wil word.

Ons het onder meer Brugge, Brussels, Oostende, Antwerpen, Ieper en Diksmuide besoek. Elke dag in België het ’n spesifieke onderwerp gehad, en Ieper en Diksmuide was ’n dag lange toer waar ons alles van die Eerste Wêreldoorlog geleer het. Die wandeling deur die loopgrawe van die Belgiërs en die Duitsers in Diksmuide en die besoek aan Flanders Fields het die Suid-Afrikaners laat besef wat ons nog net in geskiedenisboeke en koerantartikels kon lees. Oostende was ’n vars asempie lug buite die warboel van die stede – waar ons in blikkenkarren op die dyk resies gejaag het en later saam met van ons gasouers in die Noordsee kon baljaar het.

Ons vertrek na Nederland was nie ’n maklike taak nie. Ons moes die begeleiders wat vriende geword het en gasouers wat diep in van ons harte gekruip het, groet en die reis van Antwerpen na Den Haag met al ons bagasie aanpak. 

Die onmoontlike taak van bagasie in die Lae Lande. Foto: Marlie Greeff

Vir Suid-Afrikaners is die publieke vervoer ’n nuutjie, en moes ons as ’n span saam stoei aan die tasse. Die treinritte was vir elk van ons ’n oomblik om ’n uiltjie te knip en jouself weer te vind voor jy weer die volgende dag aanpak. Met die vol treine het ’n vinnige slapie langs jou tas op die vloer wonders gedoen! 

Nederland

Nederland was vir elk van ons ’n opwindende week en ’n half. Vir diegene wat hulself oor die kunste ontferm, het die museums vir baie genot gesorg. Die Mauritshuis was die eerste museum aan die beurt en al wou elk van ons net ’n oog op Vermeer se Girl with a pearl earring slaan, het ons begeleider Mats gesorg dat ons aandag op elke stukkie kuns gevestig is. Die Rijksmuseum het verwagtinge oorskry en het ons almal met die smagting na net ’n bietjie meer tyd in die museum gelaat.

Ons besoeke aan Leiden en Delft was ook van so ’n aard dat ons buiten die program, ook self kon gaan verken. ’n Gunsteling was Delft, waar ons deur die winkels kon wandel en onsself tussen die markte kon verloor. Die meeste studente het die kans gevat om met die Nederlandse kossoorte kennis te maak – met lekkerbekjes, stroopwafels en frietjes (haring was beslis NIE ’n gunsteling onder dié braaf genoeg om dit te probeer nie).

Natuurlik was Amsterdam ook die plek waarvoor elkeen hul asems opgehou het. Met ons eerste aand in Amsterdam, het die Zuid-Afrikahuis ’n ken-mekaar-braai gehou waar ons, ons nuwe gasouers ontmoet het. Dié braai was vir ons een van die grootste bederfies wat ons op die toer gehad het. Jy kan immers die Suid-Afrikaner uit Suid-Afrika haal, maar jy kan nie Suid-Afrika uit die Suid-Afrikaner haal nie ... 

Tydens ons besoek aan Amsterdam het ons die Rijksmuseum besoek en tot ons almal se genot gaan piekniek in die Vondelpark. Dit was vir elke oudmatriek ’n volsirkel-oomblik, en die enigste jongen op die toer het die vrouens met ’n voorlesing van “Twee kleuters in die Vondelpark” vermaak. 

Amsterdam 

Met ons laaste besoek in Arnhem het ons die toer beëindig soos ons hom begin het – met die laaste drie aande in ’n jeugherberg waar ons die aande om kon sit en gesels. Ons het een aand bierproe gehad, ’n ander aand het ons tradisionele Nederlandse speletjies in die park gaan speel ... Die bande wat ons deur die loop van die toer gesmee het, het in hierdie laaste paar aande na vore gekom. Die Hooge Veluwe in Arnhem was ’n hoogtepunt. Ons het deur die park fietsgery, die Kröller-Müller Museum besoek en ’n toer deur die park gekry. Die natuurskoon aan die grens van Duitsland het vir ’n rustige, sorgelose laaste dag in die buitelug gesorg. 

Maar hoewel die besienswaardighede en aktiwiteite vir jou die wêreld se insig en opwinding bied, roer die mense en die herinneringe wat jy buite die daaglikse program gemaak het, jou hartsnare op ’n manier wat jy nie kan beskryf nie. Ons was (natuurlik) altyd die hardste stemme en die uitbundigste gelag op die andersins stil, publieke vervoer, en om na die ontsyfering van jou taal te hoor dat “ek nog nooit so baie gelukkige mense op een plek gesien het nie”, maak jou van voor af weer trots op wie jy is en waar jy vandaan kom. 

Die Nederlanders was veral opgewonde om ons taal te hoor en het aan jou lippe gehang as jy sou sê jy is van Suid-Afrika af en jy praat Afrikaans. Ons het op publieke vervoer met wildvreemde mense kon gesels, of jy nou die Nederlands wat jou professors so lank aan jou probeer leer het, wou uitoefen en of jy nou rou Afrikaans gepraat het ... Die verstaan en wedersydse nuuskierigheid wat tussen ons en die mense van Nederland en België ontstaan het, was een van die mooiste dinge van die toer. 

Die gasouers wat hul huise en harte vir ’n handjievol moeë Suid-Afrikaanse jeug oopgemaak het, het ook nie op dowe ore geval nie. Hulle het jou koffiebestelling elke môre vroeg voor jou vertrek al reg gehad. Hulle het elke aand na laat uitstappies met warm borde kos gewag en hulle het ook met die grootste liefde ’n hele paar dae se wasgoed gewas (na jy deur elke liewe seisoen denkbaar in net een dag met daardie klere moes leef).

Aandete by gasouers in Amsterdam

Maar só ’n toer is net so goed soos die mense om jou dit maak. Die program het plek gemaak vir jou persoonlikheid en eie-self om deur te syfer, en dit het vriendskappe gevorm wat vir ewig ’n deel van elkeen van ons sal wees. 

Ons groet ons begeleiders in Arnhem, Nederland voor ons vertrek na SA.

Die Jongerenprojek is eerlikwaar ’n belewenis wat ek nooit – met al die tale se woorde tot my beskikking – sal kan beskryf nie. Dit is iets wat nooit regtig uit daardie gaping van jou hart kan kruip nie, want die ervarings en die mense klou aan jou siel.

Daarmee is bedankinge in orde vir Arne Rossel, Daan van Riet in België en Francine Maessen, Jarno Korstanje, Jurijn de Vos, Bernard Slaa en Pip Jurgens in Nederland. Hulle het vir ons vriende geword en ons hele toergroep is hulle ewig dankbaar vir hul bydrae tot die toer. Ons sal nooit weer ’n Liefmans kan drink of ’n stroopwafel kan eet sonder om aan hulle te dink nie. 

En laaste maar beslis nie die minste nie, is ons twee begeleiders Emma Wiehmann en Shawna-Leze Meiring. Vir twee beter steunpilare kon ons as studente nie vra nie, en niks was ooit te veel vir hulle nie (selfs nie die oorbloeiende gelag op die OV nie). 

Lees ook:

Persverklaring: Reis na Nederland en België in 2025

Die Jongerenprojek-reis 2024

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top