
Van Gent se gragte tot die stilte van Ieper, van Belgiese wafels en fietsen tot wêreldliteratuur en lewenslange vriendskappe, van gasouers wat soos familie geword het, tot spontane verjaarsdagserenades – hierdie verslag vertel die verhaal van ’n reis wat meer was as net ’n program. Dit was ’n herinnering daaraan dat identiteit nie net iets is wat jy dra nie, maar iets wat jy sáám bou.
Elke reis begin met ’n vertrekpunt, maar sommige begin lank voor die vliegtuig ooit opstyg: in agter-die-skerms-beplanning, visumbriewe, inpaklysies en WhatsApp-groepe wat gons van opgewondenheid en miskien selfs vrees en onsekerheid ... Nooit sou ons kon raai dat hierdie reis op die ou end meer as net ’n toer sou wees nie – dit was ’n avontuur van taal, kultuur, geskiedenis én nuwe bande. As deel van die Jongerenprojek 2025 het ’n diverse groep Suid-Afrikaanse studente koers na België en Nederland gekies – nie net om nuwe wêrelde te ontdek nie, maar ook om ons plek daarin te vind.
Wat wag wanneer 15 vreemdelinge saam op reis gaan? Dis die vraag waarmee ons dié reis aangepak het. En hoewel ons ons land, families en gemaksones agtergelaat het, het ons iets anders saamgebring: ’n gedeelde liefde vir Afrikaans (en ja, ook Nederland[s]), vir stories, drome, potensiaal en mekaar. Ons het gou besef: Dit gaan nie net oor wat jy sien nie, maar die mense saam met wie jy die avontuur deel.
Deel 1 – België (Marlé-Zanne)
Na ’n bitter lang reistog van byna 24 uur was ons álmal verlig om uiteindelik ons tasse op die beddens van hostel Uppelink in Gent neer te sit. Ek dink nie ek het al ooit Suid-Afrikaners só bly gesien om ’n stort te sien nie.
Na ’n lekker warm stort en ’n vinnige nesskop, het ons, doodmoeg, om 03:00 die oggend ons koppe op die kussings neergelê. Maar ek, en ek dink ’n paar ander ook, het nog lank wakker gelê en rondgetol. Nie noodwendig oor jetlag of ongemak in ’n vreemde plek nie, maar eerder oor die opgewondenheid oor wat môre vir ons inhou ...
En dit wás die moeite werd! Aan die etenstafel op Dinsdag 24 Junie het ek gevoel asof ek êrens in Harry Potter verdwaal het. Die byna surrealistiese skoonheid van die Gentse argitektuur het my dadelik betower – ek was reg om die stad aan te pak, moeg of te not!
’n Vinnige verkenningstog deur die strate het effens langer geneem as beplan, bloot omdat ons nie genoeg van die stad kon kry nie: Oral moes ons stop om ’n foto te neem of die familie vanuit Suid-Afrika oor video in te skakel. Ons het uiteindelik by die Universiteit van Gent aangekom waar Lars Bernaerts ons ingewag het om ’n blik op “Experimentele literatuur in de Lage Landen” te gee. En moenie dink ons het skaam gesit nie! Ons het só aan sy lippe gehang dat hy skaars sy lesing kon klaarmaak.
Na ’n vinnige broodjeslunch het ons ’n stadswandeling met die tema “Rebellie in de Gentse letteren” aangepak. Ek wil nie namens die hele groep praat nie, maar ek is redelik seker die blokfluit wat hy vir ons gespeel het, was een van die hoogtepunte van dié uitstappie: geskiedenis én blokfluit? Waarvoor kan ’n mens meer vra! Al het Bernaerts en Kornee van der Haven die standaard hoog gestel, was die ware hoogtepunt van die dag vir my die besoek aan Sint-Baafskatedraal – veral Het Lam Gods, wat mens eenvoudig nie in woorde kan vasvang nie.
Die aand is afgesluit by ’n fraai plaaslike terassje met iets om te eet – en natuurlik met ’n Belgiese bier in die hand.
Vroeg die volgende oggend was ons gereed om vir die dag Brussel toe te reis. Ek het wel met ’n klip in my hart wakker geword: Dit was my verjaarsdag en my huis en my mense was ver. Duisende kilometers ver. Ek het gewonder: Weet enigiemand hier eers dat dit my verjaarsdag is? Maar voor ek verder kon dink, staan 14 Suid-Afrikaners op ’n sypaadjie in Gent en sing vir my, luidkeels, soos net Suid-Afrikaners kan! En net daar het ek weer tuis gevoel. Hierdie mense is nie vreemdelinge nie. Daar is iets magies aan die band tussen Suid-Afrikaners in die vreemde.
Die dag het op ’n hoë noot met ’n besoek aan die Justisiepaleis begin, waar Frank Judo ons hartlik ontvang het. Daarna het ons die Atomium besoek, en ek het gedink: Die dag kan nie beter word nie. Ek kry ’n Belgiese wafel met aarbeie en room as verjaarsdagkoek, en na ’n stadswandeling kry ons ’n bietjie vrye tyd. Ek stap van sjokoladeplek tot sjokoladeplek, proe seker 10 verskillende soorte voordat ek besluit watter ek vir my familie wil saambring huis toe. Ek voel dat ons na ons besoek aan Brussel stadig maar seker nie net ’n band met ons Belgiese begeleiders begin vorm het nie, maar ook met mekaar. En ons het begin tuis voel.
Ons tyd in Gent was gevul met besoeke aan die Poëziecentrum, die imposante Gravensteen, laataande langs die grag, die Boekentoring en natuurlik, heelwat stap! Dis asof die stad ons teen elke hoek en draai wou wys waarom mense so verlief op hierdie plek raak.
Maar toe is dit tyd om Gent te groet ... En ek verloor my hart in Brugge: op die blombakke, in die strate, en ja, op die bier ook.
Volgende pak ons die geskiedenis van die Eerste Wêreldoorlog aan in Diksmuide en Ieper en ons bly vir die eerste keer by gasouers. Ek dink ons was almal ’n bietjie bang. Ek was bang. Gaan hulle vriendelik wees? Gaan hulle Engels kan praat? Maar die kort weergawe van die storie is eenvoudig: Toe ek my gasouers, Isabelle en Stijn, moes groet, het ek dit met ’n swaar hart en meer as een traan gedoen. Ek het aan hulle geskryf: Sien julle weer! – en dit uit my hart bedoel.
En moenie dink ons het die WOI-aktiwiteite vervelig gevind nie. Inteendeel, ons was in vervoering. Maar daar was ook ’n gevoel van respek, stilte en erns. Ons het voor die grafstene van duisende soldate gestaan en ’n oomblik van stilte gehou – vir hulle, vir hul families. Ons het ook geleer van die duisende Suid-Afrikaners wat aan hierdie gruwelgeskiedenis deelgeneem het en voel weer nader aan die huis.
Ons dae in België raak min, iets wat ons glad nie wou gehad het nie.
In Oostende eet ons roomys, ry trapkar in die son en leer van die Kongo en België se koloniale verlede. Ons sluit ons Belgiese deel van die toer af met ’n besoek aan Antwerpen. Ek moet eerlik wees: Ek was bekommerd dat die beste deel van die toer al agter ons lê. Hoe op aarde kan mens België top? En hoe kan die Nederlandse begeleiders ooit kompeteer met die band wat ons met Arne en Daan gebou het? Maar as ek maar net geweet het wat voorlê ...
Deel 2 – Nederland (Elizna)
Toe die 15 van ons in Nederland aankom, was die verwagtinge en opgewondenheid onder ons groep hoog. Na ’n snikhete dag in Antwerpen het ons onsself voorberei op ’n belowende reis deur Nederland.
Met ons eerste bestemming in Den Haag is ons op eerste intrapslag met groot opgewondenheid deur ons begeleiders en gasouers verwelkom. Gasouers het met warm drukkies en borde aandete in die hand gewag – so ampertjies asof jy terug is in die gemak van jou ouerhuis!
Die eerste dag in Den Haag was ’n proesel vir die opwinding wat op pad was. Vir die kunsliefhebbers was Nederland ’n droom; die program was volgepak met museums en kunsstukke waaroor ons nog net in boeke gelees het. Ons het met die deur in die huis geval deur op ons eerste dag die Mauritshuis in Den Haag te besoek, waar ons onsself met Vermeer en Rembrandt en ander asemrowende stukke kon vermaak. ’n Besoek aan die Haagse Gemeenteraad het ’n kykie op die Nederlandse politiek gebied – eerlikwaar ’n veelsydige dag vol opwinding wat iets van elke bietjie Den Haag op die spyskaart gehad het!
Selfs ’n tong-tippie-toets van die Nederlandse Nieuwe Haring was op die tafel vir dié braaf genoeg om dit aan te durf (en dit was beslis nie ’n gunsteling nie!).
Die dagtoer na Rotterdam en Delft was vir die meeste ’n hoogtepunt uit die Nederlandse deel van die toer. ’n Wandeling deur die Delftse mark en die bekende Hollandse wit-en-blou het ontaard in ’n wye verskeidenheid aktiwiteite wat ons onder groepies aangepak het. Sommige van ons het die winkeltjies besoek vir egte Delftse geskenkies vir ons geliefdes oor die waters, terwyl ander die kans aangegryp het om egte Hollandse stroopwafels en lekkerbek uit te toets.
Op ons besoek in Leiden het ons ook die egte Nederlandse studentelewe leer ken. Ons het twee studenteverenigings van die Universiteit Leiden, Minerva en Prometheus, gaan besoek. Daar kon ons as Suid-Afrikaanse studente sien hoe die studentelewe van ons eie verskil en (verbasend) ooreenstem. Ek kan vir dié wat nuuskierig genoeg is, waarborg: ’n Student bly maar oor landgrense heen ’n student in sy hart! Hier het jy sommer dadelik gevoel asof jy weer by jou koshuis terug op kampus is!
Maar natuurlik was Amsterdam die grootste bron van opwinding onder die 15 studente. Met ons tasse het ons die stappie na Het Zuid-Afrikahuis aangedurf waar ons ons nuwe gasouers ontmoet het en bederf is met die een ding waarna ’n klomp reisende Suid-Afrikaanse studente die heel meeste verlang het: braaivleis! ’n Vol bord Suid-Afrikaanse braaivleis en aartappelslaai was beslis die pad na hierdie groepie Suid-Afrikaners se harte, na die lus vir ’n garage pie en ma se kookkos al lánk aan ons lippe gehang het.
Die Rijksmuseum was ook iets waarna ons al voor die toer uitgesien het. Die smagting na die historiese Vermeer en Rembrandt is nie deur die Mauritshuis versadig nie. Na ’n dag vol asemrowende kunsstukke was ’n wandeling na die Vondelpark op die agenda. Jy kan amper sê ons het gehuppel van opwinding! ’n Piekniek met ’n egte Surinaamse aandete in die Vondelpark het elke Afrikaanse huistaalstudent se hart vuurwarm laat klop, en ’n voorlesing van “Twee kleuters in die Vondelpark” deur die enigste jongen van die JP 2025 het die groep nóg meer laat verlang na die skoolbanke waarin ons vir die eerste keer net oor ’n wandeling in die Vondelpark kon droom.
Ons afsluiting in Arnhem was bittersoet. Die prag van die dorpie op die Duitse grens het die rumoer van die stad uitgeskakel. Daar het ons ons laaste paar dae tussen golwende heuwels en woude deurgebring. Maar dit was onvermydelik dat ons binnekort moes afskeid neem, nie net van Nederland en België en die begeleiders wat vriende geword het nie, maar ook van die groep waarmee jy vir drie weke saam deur twee vreemde lande getoer het en op jou eie manier ’n hegte band mee gesmee het. Die laaste paar aande het ons in ’n jeugherberg deurgebring, waar ons kon terugkyk op die toer en tyd saam met dié wat lewenslange vriende geword het, kon deurbring. ’n Dag se fietsen deur die Hoge Veluwe en ’n besoek aan die Kröller-Möller-museum het gesorg vir ’n rustige dag in die buitelug, en die Openluchtmuseum en sy alombekende poffertjes het ons laaste dag en die toer met ’n hoogtepunt afgesluit.
***
Die program is met ’n tipe noukeurigheid beplan wat ’n spesiale tipe mens verg. Die organiseerders het ’n manier gevind om daagliks elk van ons studente se persoonlike belangstellings te voed. Vir dié van ons met nis-belangstellings, soos joernalistiek, politiek, digkuns of selfs kerkorrels, is daar altyd voorsiening gemaak. Dié toer was werklik iets wat tot elkeen van ons 15 verskillende persoonlikhede gespreek het.
Soos net Suid-Afrikaners kan, was ons luidkeels en ons stemme het oor die pleine en publieke vervoer gedra. Die absolute verwondering waarin die oom langs my op die trein was toe ek vir hom gesê het ons kom van Suid-Afrika af, en sy woorde aan my, is iets wat ek in elke hervertelling van die toer oorvertel: “Ik heb nog nooit zoveel gelukkige mensen bij elkaar gezien.” En dit spreek nie net boekdele oor ons Suid-Afrikanerkultuur nie, maar dit beskryf die groep van die 2025-Jongerenprojek in ’n neutedop.
Die Jongerenprojek is iets spesiaals wat jy nie regtig ooit in woorde sal kan omskryf nie. Buiten die akademiese aspek en die kulturele ervarings wat jy opgaar, kan niks die bande wat jy met 14 ander vreemdelinge vorm, beskryf nie. ’n Gestoei met tasse, weertoestande en ellelange staptoere waarop geen Suid-Afrikaner hulself voorberei het nie, is iets wat selfs die mees teenoorgestelde van mense nader aan mekaar gebring het, en iets wat vir ewig jou hart sal laat gloei as jy daaraan terugdink. Die Jongerenprojek is enig in sy soort en ’n ervaring wat enige student behoort te hê.
Spesiale bedankinge is in orde vir ons Nederlandse en Belgiese begeleiders, Arne Rossel, Francine Maessen, Daan van Riet, Bernard Slaa, Pip Jurgens, Jurijn de Vos en Jarno Korstanje, wat alles in hulle vermoë gedoen het om die toer vir 15 studente opwindend te maak – ’n moeilike taak wat hulle met vlieënde vaandels geslaag het!
En vir ons Suid-Afrikaanse begeleiders en tydelike moederhenne, Emma Wiehman en Shawna-Leze Meiring – ons kon nie vir beter vra nie! Julle opofferings om ons te steun en die toer vir ons so gemaklik en lekker moontlik te maak gaan nie ongesiens nie. Mag julle altyd so ’n integrale deel van die projek vorm!
Dit is vreemd om weer terug te wees. Terug by die werk, terug aan die swot. Die dae jaag verby: e-posse, take, klasse. Ek wonder dikwels tussen die gejaag wat my mede-reisigers doen. Of hulle ook soms stil raak. Of hulle ook, soos ek, só verlang. Na die strate van Gent, die gelag op die treine, die vreemde wat vir ’n rukkie ’n tuiste geraak het, en die mense wat familie geraak het.
In die woorde van Hendrik Marsman dink ons terug aan België en Holland, soms met ’n lag, soms met ’n traan, maar altyd met heimwee oor die mooi van die Jongerenprojek 2025.
Herinnering aan Holland
– Hendrik Marsman
Denkend aan Holland
zie ik breede rivieren
traag door oneindig
laagland gaan,
rijen ondenkbaar
ijle populieren
als hooge pluimen
aan den einder staan;
en in de geweldige
ruimte verzonken
de boerderijen
verspreid door het land,
boomgroepen, dorpen,
geknotte torens,
kerken en olmen
in een grootsch verband.




