Kaapse sentrum ’n kulturele tuiste vir die Nederlandse taal en letterkunde in Suid-Afrika

  • 0

Eureka Barnard (Foto: Naomi Bruwer)

Eureka Barnard is die bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Pinelands, Kaapstad, wat die grootste Nederlandse biblioteek in die suidelike halfrond huisves. Sy het met Willem de Vries oor die sentrum en verskeie projekte gesels.

Die sentrum is ’n lewendige bymekaarkomplek waarby verskeie kultuurorganisasies inskakel. Vertel asseblief van Sasnev se ontstaan en huidige werksaamhede.

 Die oorsprong van Sasnev lê in die testament van die mynmagnaat Ebel Hero Ebels (1897–1976), ’n Nederlander wat bykans 60 jaar lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk het. Sasnev was vroeër bekend as die Huis der Nederlanden (HdN), en is in 1997 gestig om ’n tuiste te wees van kulturele gemeenskaplikheid tussen Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere. Die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad (onafhanklik bestuur deur die Vriende van die Nederlandse Biblioteek) is deel van die uitvoering van hierdie doel en dra grootliks by tot Sasnev se status as ’n kulturele tuiste vir die Nederlandse taal in Suid-Afrika. Dit is die enigste Nederlandse biblioteek in Suid-Afrika wat in privaatbesit is dog vir die gewone publiek toeganklik is. Die biblioteek bied ook ondersteuning aan Sasnev se projekte en aktiwiteite.

Sasnev fokus op verskeie groot projekte, waarvan die grootste vanjaar ’n Afrikaans-Nederlandse lespakket vir moedertaalsprekers van Afrikaans is. Dit heet Eenders & Anders. Die slagaar en pols van Sasnev se aktiwiteiteprogram is die Podium, wat regdeur die jaar deelnemers boei met interessante aktiwiteite en gesprekke. Of jy dit in Nederlands, Afrikaans, Kaaps of Engels wil doen of aanhoor, hier staan ’n podium by Sasnev waar jy die woord kan voer.

Elke jaar word ’n skrywer uit Nederland of Vlaandere genooi om deel te neem aan Sasnev se jaarlikse boektoer. En Sasnev het met die hulp van bekwame vennote in September 2016 vir die eerste keer gerymklets dat die woorde spat met optredes en werkswinkels. Dit is saam met vennote op die Open Book-fees in Kaapstad, Tuin van Digters op Wellington en in ’n Kaapse en Kimberleyse jeugsentrum aangebied. Die internasionaal bekende Nederlandse rappers Akwasi (Zwart Licht) en Adeiye (MC Complex) en ’n Vlaming, Martijn Nelen, het mense geïnspireer, ander horisonne gewys en opnuut hoop gegee.

Om ons staal (naas Nederlands) in Afrikaans te wys het die Nederlanders en Vlaminge opgetree en klas gegee saam met twee net so bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, Jitsvinger (Quintin Goliath) en HemelBesem (Simon Witbooi).

Deur die jaar daag talle besoekers gereeld by Sasnev op om deel te neem aan boekbekendstellings en boek- en kultuurgesprekke, aangebied deur bekende skrywers, akademici en wetenskaplikes uit Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere. As ’n aktiewe, dinamiese taal- en kultuursentrum het Sasnev oor die jare die natuurlike tuiste geword vir uitdagende en inspirerende sprekers, kunstenaars en uitstallers wat elke jaar vars idees aanbied en besprekings oor die letterkunde, kultuur, kuns en sosiopolitieke sake ontlok.

Van die vele skrywers en bekendes wat al op Sasnev se podium gestaan het, is Harry Brinkman, Ena Jansen, Adriaan van Dis, Antjie Krog, Arnon Grunberg, Ingrid van der Veken, Benny Lindelauf, Stefan Hertmans, Pamela Pattynama, Peter Aspe, Irma Joubert, Dan Sleigh, Dorothea van Zyl, Abraham Phillips, Tom Lanoye en Heinrich Wyngaard.

Die sentrum is ook ’n tuiste vir verskeie organisasies en verenigings wat weekliks, en soms een keer per maand, in Sasnev vergader. Daar is heeltemal te veel om op te noem, maar twee besonderse leeskringe kan uitgesonder word: die Pinelands-leeskring en die Oranjezicht-leeskring (na bewering is dit die oudste leeskring in Suid-Afrika). Dan is Sasnev ook die gekose vergaderplek van die ANV-afdeling Kaapstad, die Orde van den Prince afdeling Kaap de Goede Hoop, die Stichting VOC, die Stigting Simon van der Stel, die Van Riebeeck-vereniging, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (Wes-Kaapse tak) en die Van Ewijck-stigting. Die sentrum word ook benut vir byeenkomste van verskeie ander verenigings en gemeenskapsgroepe, en natuurlik ook vir spesiale geleenthede vir mense uit die gemeenskap van Pinelands.

Learn Dutch het ook ’n lang verbintenis met Sasnev en bied Nederlandse taalverwerwingskursusse baie suksesvol aan. Die tweeweeklikse Nederlandse minimark op Saterdae bestaan al meer as 30 jaar en het ’n instelling geword vir Nederlanders en ook Suid-Afrikaners wat van Nederlandse lekkernye hou.

Oor die jare het BiblionefSA, wat ook vanuit die sentrum werk, ’n groot vennoot van die sentrum geword. Saam met die biblioteek het BiblionefSA die langste verbintenis met Sasnev. Hierdie organisasie sonder winsbejag is deur ’n Nederlander gestig en stel nuwe boeke beskikbaar aan kinders dwarsoor Suidelike Afrika. BiblionefSA het onlangs ’n droom bewaarheid deur binne 10 jaar een miljoen boeke gratis aan duisende kinders uit te deel.

Jaarliks, wanneer die Woordfees op Stellenbosch plaasvind, tree besoekende skrywers en kunstenaars van die Lae Lande in Sasnev op. Wat is op die sentrum se program vir die komende fees?

Soos in 2017, vier Sasnev ook hierdie jaar op Stellenbosch fees as deel van die Woordfees (2–11 Maart) . Die skrywers se vol programme laat nie altyd toe dat daar bykomende gesprekke in Sasnev gehou kan word nie. Juis hierom konsentreer Sasnev sedert verlede jaar ook op ’n spesiale “borrel”. Tydens hierdie besonderse netwerkgeleentheid word die Nederlandse en Vlaamse hoogtepunte van die Woordfees gevier en word daar soms ook gespog met een of twee mylpale wat bereik is. Sasnev is hierdie jaar betrokke by die reëlings vir die besoek van Ray Kluun, ’n bekroonde Nederlandse skrywer, aan die Woordfees.

Watter bande het Sasnev tans met die Lae Lande en hoe raak dit die werksaamhede van die sentrum? Watter projekte lei Karen Botter-Vegt en Liza Voppen namens die sentrum in Nederland?

Sasnev het oor ’n hele aantal jare heen ’n baie goeie verhouding opgebou met Zuid-Afrikahuis in Amsterdam en die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland. Die twee “huise” hou mekaar gereeld op hoogte van sake, gee advies, neem deel aan uitruilaksies en deel belangrike projekdoelwitte.

Buiten individuele kontakte wat Sasnev met advies en soms met projekfinansiering bystaan, het Sasnev goeie bande in Vlaandere met veral die Provinsie Antwerpen, wat ook oor ’n hele aantal jare Sasnev met projekgeld al bygestaan het. Hierdie projekte het veral gefokus op ’n leesprogram wat kinders met die hulp van BiblionefSA leer lees het en daar is by sommige skole ook met ’n klein biblioteek begin. Een van die skole wat op hierdie manier ’n ruim boekeskenking ontvang het, is Vlakteplaas UCC Primêr in die De Rust-distrik.

Wat organisasies betref, skakel die sentrum veral met De Orde van den Prince en die Marnixring. Beide organisasies het ten doel om die Nederlandse taal- en kultuurgemeenskap te dien. De Orde van den Prince verdien meer aandag, omdat dit een van Sasnev se projekfinansiers is. Die orde is ’n genootskap wat fokus op die betekenis en die uitstraling van die Nederlandse taal en kultuur. Die woorde “amicitia” (vriendskap) en “tolerantia” (verdraagsaamheid) verteenwoordig kernbegrippe in die werksaamhede van die orde. Die sentrum ondersteun die Orde van den Prince veral omdat dit van sy lede verwag om as algemene lewenshouding verdraagsaam te wees en om ’n gees van openheid, respek vir mekaar se mening, ongeag sy of haar lewensbeskouing, politieke kleur, ras, geaardheid, afkoms of beroep te hê.

Karen Botter-Vegt en Liza Voppen lei namens die sentrum aktiwiteite rondom die Eenders & Anders-lespakkette en gee waardevolle bystand aan Sasnev se sosiale media. Botter-Vegt werk ook as vrywilliger en is betrokke by die reëlings van die Week van de Afrikaanse roman. Voppen help geweldig baie met reklame en om publisiteit in Nederland te gee aan die bekendstelling van die lespakkette.

Voordat jy betrokke geraak het by die sentrum, was jy reeds vir jare werksaam as kultuurpraktisyn in verskeie staats- en ander kultuur- en erfenisstrukture. Hoe het daardie rolle bygedra tot jou huidige werk by Sasnev?

Dit het vir my ’n uitstekende agtergrond gegee, omdat dit my geleer het om op my voete te dink en net nooit deur ’n begrotingstekort of “nee, dit gaan nie werk nie” afgeskrik te word nie. Ek het veral geleer wat die finansiële en ook geestelike waarde van kultuur is en wat dit vir die begrip, ontwikkeling en behoud van ’n gekompliseerde samelewing beteken. Omdat daar maar altyd van jou verwag word om, wanneer jy in die kultuurakker ploeg, met minder tevrede te wees, moes ek vinnig leer wat die “ekonomie van kultuur” is. Omdat ek blootgestel is aan hoe ingewikkeld die Suid-Afrikaanse samelewing is en beïnvloed is deur ’n breë oorsig oor al die aspekte van kultuur, vermoed ek is dit vir my effens makliker om verbande te trek en dinge bymekaar te sit wat iemand wat byvoorbeeld net op een aspek van kultuur sou fokus, dalk langer sou neem. Dit is ’n eienskap wat help wanneer daar om skaars fondse beding word. Meer nog, uit my vorige werklewe moes ons eerder saamstaan as met mekaar meeding en só het ons baie meer gedoen gekry. Ons het dus geleer hoe om te probeer beding sodat almal wen. Dit is natuurlik nie altyd so maklik soos dit nou klink nie. Maar dit is alles dinge wat kan help wanneer ’n mens gekonfronteer word met die dilemma om konstant nuwe idees en nuwe projekte uit te dink.

Ja, dit is so – om in die kultuurakker te ploeg is moeilik as dit min reën. Die min reën in die Kaap maak die Kaap egter nie meer of minder Hollands nie. Ek dink dalk is die belangrikste ding wat ek uit my vorige werkervarings geleer het, juis om uit die boksie te klim, daar buite te staan en die Hollanders te vra waar ons water gaan kry om die Kaap weer Hollands te maak. Die Vlaminge sal sorg vir uitmuntende etes terwyl ons oor en weer die probleem oplos.

Die sentrum is ’n gevestigde en belangrike ruimte vir die gebied tussen Afrikaans en Nederlands. Jy is al sedert 2009 daarby betrokke. Wat beskou jy in dié tyd as suksesse en wat ervaar jy as groeiende, ontwikkelende fasette?

Baie mense wat belangstel in die doen en late van die “Huis” in Pinelands is daarvan bewus dat die eiendom waaruit Sasnev bedryf word, deur ’n moontlike verkoop en ontwikkeling bedreig word. Om hierdie “bedreiging” al byna sewe jaar verby te kyk en steeds met vernuwende projekte voort te gaan, nuwes uit te dink en bestaandes verder te ontwikkel is vir my die sentrum en die bestuursraad se grootste mylpaal.

Ons mees ambisieuse projek word vanjaar bekendgestel. In samewerking met Protea Boekhuis is die Afrikaans-Nederlandse lespakkette vir skole ontwikkel. Eenders & Anders is gerig op leerders van graad 6 tot 11. Dit het ten doel om leerders wat Afrikaans as huistaal neem, aan die Nederlandse en Vlaamse taal, kultuur en letterkunde bekend te stel.

Bloot die feit dat ons steeds ná al die aanslae geanker staan en vas bly glo, is ’n veertjie in die hoed. Die bestuursraad het bly glo in die bydrae wat die sentrum kan lewer vir die bevordering van die bande wat Afrikaans het met die Nederlandse taal en kultuur en dít aan die suidpunt van Afrika, by die enigste private, gereelde kulturele bymekaarkomplek vir Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika in dié wêreld. Dít is seker die grootste sukses.

Jy reël en koördineer onder andere die besoeke van skrywers uit die Lae Lande. Wie bring Sasnev later vanjaar uit die Nederlande?

Die sentrum se skrywersbesoeke word gereël as onderdeel van Sasnev se jaarlikse boektoer. Sasnev reël dit jaarliks as viering van skrywers uit Nederland en Vlaandere se Nederlandstalige werke wat in Afrikaans vertaal is. Hierdie jaar sal die sentrum sy sewende nasionale boektoer aanbied. In samewerking met die betrokke uitgewer in Afrikaans, nooi die sentrum jaarliks ’n skrywer uit Nederland of Vlaandere om saam met een of meer gepaste Suid-Afrikaanse skrywers aan die Sasnev-boektoer deel te neem.

Die publisiteitswaarde van die Sasnev-boektoer is in 2017 met Stefan Hertmans en Abdelkader Benali se betrokkenheid by die Woordfees opnuut bevestig. Sasnev se status as fasiliteerder en ’n soort “kultuurmakelaar” is in 2017 die eerste keer op die spits gedryf.

Sasnev weet maar te goed dat die sentrum niks sonder sy vennote kan doen nie. Vir elke skrywer wat na Suid-Afrika genooi word, is daar verskeie belangrike rolspelers daarby betrokke wat soos ’n legkaart in mekaar pas. Vanjaar werk die sentrum nou saam met Protea Boekhuis, die Nederlandse Letterenfonds, ook die Woordfees op Stellenbosch en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn. Die sentrum het gehelp dat Ray Kluun vanjaar by die Woordfees optree en dat Frank Westerman na die KKNK gaan. Westerman sal op pad na Oudtshoorn eers op Sasnev se podium klim om ons lojale Kaapse netwerk die geleentheid te gee om heel eerste die skrywer en sy nuwe titel beter te leer ken. Dié onderhoud sal in Nederlands gevoer word. El negro en ek is in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo en handel oor ’n Nederlandse man se ondersoeksreis wat belangrike vrae oor rasopvattings en die Westerse beskawing na vore bring. Hugo sal ook op die KKNK met Westerman ’n onderhoud voer.

Later vanjaar is die fokus op Adriaan van Dis, wat vanjaar genooi is as die sentrum se amptelike skrywer vir 2018 se boektoer. Van Dis se jongste roman, Ik kom terug, word in Afrikaans vertaal deur Hugo en sal vanjaar in Suid-Afrika bekendgestel word.

Soos reeds genoem is, is Sasnev ’n onafhanklike, private organisasie wat in Suid-Afrika die Nederlandse taal en kultuur op ’n permanente, deurlopende grondslag vooropstel. Die sentrum se betrokkenheid by die Nederlandse taal en kultuur is nie maar net ’n Wes-Kaapse verskynsel nie – dit blyk uit onder meer die bekendstelling van die genoemde lespakket. Vertel asseblief meer hiervan en van enige ander verbandhoudende projekte waarby Sasnev betrokke is.

Ná die sowat 30 jaar waartydens Nederlands in Suid-Afrikaanse skole afwesig was, het die sentrum, in samewerking met Protea Boekhuis, in Januarie vanjaar die Afrikaans-Nederlandse lespakket vir skole bekendgestel. Dit was ’n baie lang en ingewikkelde projek wat oor byna sewe jaar, oor vastelande en taalpersepsies heen, opgestel moes word. Eenders & Anders het ten doel om leerders wat Afrikaans as huistaal neem, aan die Nederlandse en Vlaamse taal, kultuur en letterkunde bekend te stel. Enersyds word op ooreenkomste gelet – dinge wat in Suid-Afrika, Nederland en België dieselfde is. Andersyds word ondersoek hoe dié lande, kulture en tale van mekaar verskil.

Net soos Sasnev se netwerk ’n patroon teken, is die sentrum se projekte soos die patrone in ’n tapisserie inmekaar geweef. Die een kan nie eintlik sonder die ander een funksioneer en ’n geheel vorm nie. Ja, die projekte het elkeen ’n eie identiteit, maar hulle is tog afhanklik van mekaar.

Ter verduideliking: terwyl daar aan die inhoud van die lespakkette gewerk is, is met die bemarking van Eenders & Anders begin. Die skrywers wat by die lespakket betrokke sou wees, is met die hulp van die boektoerprojek na Suid-Afrika genooi. Werke van byvoorbeeld Arnon Grunberg en Benny Lindelauf word in die tekste gebruik. Tydens hierdie toetsproses is gewonder of die leerders Nederlands sou verstaan en of dit die moeite werd sou wees om ’n Nederlandse skrywer op reis deur die land te neem. Nederlands was immers meer as 30 jaar laas op skool gehoor, soos ek reeds gesê het.

Die skrywers is toe genooi en almal is aan mekaar se eendersheid en andersheid blootgestel. Uit hierdie kennismaking het die sentrum baie interessante lesse geleer. Dié waarnemings sou op hul eie ook ’n kultuurles kon word. Op ’n stadium is die volgende vraag gevra: “Watter Afrikaanssprekende sal die skrywer se Nederlands vinniger begryp? Is dit diegene wat Standaardafrikaans praat of is dit diegene wat ’n streeksvariant van Afrikaans soos Griekwa-Afrikaans of Kaaps praat?”

Die jeugverhaalskrywer Lindelauf se besoek in 2014 – hy het skole en hul leerders in Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein en Pretoria besoek – het ons op die woord “taalpersepsie” gebring. Die leerders wat nie net Standaardafrikaans gewoond is nie, het baie vinniger op die skrywer se Nederlands gereageer. Die interpretasie van die leeropdragte, wat alles in Nederlands oorgedra is, is baie vinniger en op ’n baie kreatiewer manier uitgevoer. Dit gee dus rede om te vermoed dat die lesse wat in Eenders & Anders opgesluit is, ’n groot deur gaan oopsluit vir Afrikaans.

Die sentrum dien onder meer as ’n ontmoetingsruimte vir Afrikaanse en Nederlandse mense wat meer van mekaar wil leer. Watter rol speel die Stigting VOC en die Orde van den Prince hierin? Watter ontwikkelinge in hierdie verband neem jy die laaste paar jaar waar?

Ek kan nie hard genoeg ’n lawaai maak oor hoe belangrik spesifiek hierdie twee organisasies se rol in die oordra van kennis en insigte oor gedeelde erfenis is nie. Dit is waarskynlik ook die rede hoekom sommige lede aan beide organisasies behoort, en as hulle nie lid is nie, word elke moontlike kans benut om mekaar se programme en praatjies te ondersteun. Beide is baie bekend vir die wonderlike lesings wat aangebied word deur kundiges van oral oor die wêreld. Die sentrum verwelkom namens hierdie belangrike twee groepe gereeld spesiale sprekers uit Nederland en Vlaandere.

Dit is regtig moeilik, en seker ook gevaarlik, om een van hierdie besoekers, of selfs ’n groep uit te sonder, want elkeen is belangrik en kundig, maar ons kan dalk ’n uitsondering met een van hierdie besoekers maak. Oscar Hefting, direkteur van De New Holland Foundation (NHF), wat ’n Nederlandse stigting vir gemeenskaplike erfgoed is, het einde verlede jaar die sentrum in samewerking met die Stichting VOC besoek. Die lesse wat hy ons tesame met Dan Sleigh by hierdie geleentheid oor die VOC se betrokkenheid in byvoorbeeld New York geleer het, sal nie maklik vergeet word nie. Sulke oomblikke word moontlik gemaak alleen deur organisasies wat jare lange verbintenisse het en die erkenning van wêreldwye netwerke geniet. Ons het oor die laaste jare gesien hoe hierdie lesinggeleenthede toeneem en die toehoorders meer word, en dat jonger mense daarby betrokke raak. Dit is organisasies soos die Stichting VOC en die Orde van den Prince wat met gereelde lesings skoliere, studente, jongmense en almal oor mekaar se voete moet laat val om deel te kan hê aan hierdie besonderse uitwisseling van kennis en insigte, wat hopelik die fakkel vir nog baie jare omhoog sal hou.

In onlangse jare, ná die einde van apartheid, is daar toenemend belangstelling in die (her)verkenning van Afrikaanse en Nederlandse bande, soos dit blyk uit die toenemende wedersydse skrywersoptredes uit Suid-Afrika en die Lae Lande, die werk wat departemente Afrikaans en Nederlands verrig en ’n formele byeenkoms van belanghebbendes soos met die destydse Roots-simposium by die Universiteit van Wes-Kaapland. Watter samewerking of programme bestaan daar tans tussen Sasnev en tersiêre instellings?

Die Roots-simposium wat by die Universiteit van Wes-Kaapland in 2009 gehou is, was ’n baie, baie belangrike geleentheid. Dit moes eintlik opgevolg gewees het. Dalk is daar iemand en ’n paar groepe met voldoende fondse wat ná byna 10 jaar weer die drade kan optel?

Om die vraag makliker te beantwoord moet ’n mens seker by die konteks begin. Die sentrum is ’n lid van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) wat in 1991 gestig is. Die SAVN ondersteun die beoefening, onderrig en bevordering van die Neerlandistiek (dit wil sê die Nederlandse taal, letterkunde en kultuur) in Suider-Afrika.

Dit is presies hoekom dit vir Sasnev belangrik is om deel van hierdie kennisnetwerk te wees. Sasnev is dus ’n lid, en ook omdat die hooffokus van die SAVN se aktiwiteite op universitêre Neerlandistiek gerig is. Toe die sentrum met die navorsing vir die Afrikaans-Nederlandse lespakket begin het, was die eerste gedagte dat die pakket vir eerstejaar-universiteitstudente opgestel moet word. Om hierdie rede, en steeds vandag, is tersiêre instellings ontsettend belangrik vir Sasnev. Om ’n waarlike tuiste te kan wees van kulturele gemeenskaplikheid tussen Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere kan die sentrum nie sonder Suid-Afrika se tersiêre instellings funksioneer nie. Omdat daar vóór 2018 in die Suid-Afrikaanse opvoedkundige stelsel by geen ander instelling as op universiteit met die Nederlandse taal en letterkunde formeel kennis gemaak word nie, is dit onmoontlik vir Sasnev om nie met soveel as moontlik van die universiteite saam te werk nie.

Met die ontwikkeling van Eenders & Anders vir skole het Sasnev byna al die universiteite se departemente Afrikaans en Nederlands geraadpleeg. Hierdie navorsing het ’n groot bydrae gelewer tot die sentrum se besef dat die lespakkette se doelgroep leerders is en nie studente nie. Met die nuwe insigte verskuif die fokus toe weg van die universiteit en lesinglokaal na die vlak van die skool en klaskamer met ’n spesifieke doel om aan te sluit by en te voldoen aan al die vereistes van die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (NKABV) vir Afrikaans Huistaal. Vir elke graad is daar ’n leerderboek en ’n onderwysersgids wat ’n pakket uitmaak. Elke pakket is so saamgestel dat dit een van die hoofstukke in die taalhandboeke kan vervang.

Wanneer Sasnev se jaarlikse boektoer gereël word waartydens ’n Nederlandse of Vlaamse skrywer deur die land aan Afrikaans gehore soos leeskringe, skoliere en ook studente bekendgestel word, word die betrokke universiteite by die opstel van die skrywer se reisprogram betrek. Dit is vir Sasnev belangrik om veral studente van die departemente Afrikaans en Nederlands by die onderskeie universiteite aan die Nederlandse taal en natuurlik ook die skrywers bekend te stel. Die skrywers wat deur Sasnev se bemiddeling genooi word, is almal bekroonde skrywers en in Afrikaans (dikwels ook in ander wêreldtale, soos Italiaans en selfs Japannees) vertaal.

Ook wanneer besoekende skrywers, digters musikante en ander gaste uit Nederland en Vlaandere die sentrum besoek, word daar dikwels met die sentrum se omliggende universiteite (Kaapstad, Wes-Kaapland en Stellenbosch) saamgewerk en ’n mooi program opgestel sodat die studente ook by die besoekers se besoeke baat kan vind.

Watter organisasies dra tans die meeste tot Sasnev by?

Die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland en die oprigter van Sasnev, die Willem de Zwijger-stichting. Oor die afgelope 20 jaar het die ondersteuning van beide stigtings, en in besonder die Willem de Zwijger-stigting, dus bygedra tot ’n groot uitstraling van die “Nederlandse” ruimte in en ver buite Pinelands. Die sentrum het in hierdie tyd ’n gemeenskapsfokuspunt geword met sy eie identiteit, gerespekteerde status en bedingingsmag. Met die vastigheid wat sy eie ruimte tot dusver bied, verwelkom Sasnev jaarliks bykans 25 000 besoekers uit alle sfere van die gemeenskap. Dit is vandag, ná meer as 20 jaar, ’n onmisbare spilpunt van Nederlandse en ook Afrikaanse kulturele aktiwiteite.

Jy is een van die stigterslede van die KKNK op Oudtshoorn. Watter rol speel kunstefeeste in Suid-Afrika in die werksaamhede van Sasnev?

Saam met die Suid-Afrikaanse universiteite, en veral die departemente Afrikaans en Nederlands, is die kunstefeeste in Suid-Afrika belangrike genote vir Sasnev en groot rolspelers in die bekendstelling van die Nederlandse taal, en veral die Nederlandse en Vlaamse kulture. Al ontwikkel en groei die bekende kultuurfeeste stadig, en ook die net so bekende boekefeeste, is dit die olie wat die ratte van die Nederlandse taal in Suid-Afrika geolie hou en aan Jan en San Alleman informele blootstelling aan die Nederlandse taal en kultuur gee. Dit is ook die enigste plek waar baie mense tegelyk by musiekvoorstellings, toneel en letterkundige gesprekke mekaar kan ontmoet. Hopelik sal hierdie interaksie lei tot groter uitwisseling oor lands- en kontinentale grense heen. Dalk kan ook muses so uitgeruil word. Wie weet watter nuwe idees van dié interaksie kan kom? Die wêreld is in ieder geval besig om baie, baie kleiner te word. Al is ons geografies wêrelde en groot afstande uitmekaar, stel die digitale wêreld ons binne oomblikke binne bereik van mekaar.

Eenders & Anders het ons geleer dat Afrikaans die moedertaal is van 7 miljoen Suid-Afrikaners. Nederlands is die taal van ongeveer 17 miljoen Nederlanders in Nederland en sowat 6 miljoen Vlaminge in België. Dus is ons altesaam 30 miljoen mense wat almal mekaar so min of meer verstaan. Dink net hoe lekker gaan dit raak as dié 30 miljoen mense besef watter kultuurskatte ons met mekaar kan uitruil, en dit oor al die kontinente van die wêreld heen.

Ontvang Sasnev enige regeringsteun?

In kort, nee. Ons is ’n private, nieregeringsorganisasie sonder ’n winsoogmerk. Ons sou graag wou, maar kan nie op regeringsteun staatmaak nie. Ons projekte word soms gedeeltelik op aanvraag ondersteun en dan natuurlik met ’n goedgemotiveerde projekaansoek.

Lees ook

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top