Kaapstad palm wêreldrekord in met melkskommels

  • 0

Kaapstad spog met nóg ’n wêreldrekord naas die stad wat pas die prestasie behaal het dat dit die grootste skare ter wêreld kon lok om na ’n tenniswedstryd te kyk.

Die tennisrekord het gespat toe die internasionale tennisheld Roger Federer en die ewe gewilde tennisster Rafael Nadal  ’n rekordskare van 51 954 toeskouers kon lok toe hulle ten bate van die Roger Federer-stigting teen mekaar tennis gespeel het.

Nou het een van die Moederstad se restaurante ook ’n wêreldrekord ingepalm as die restaurant met die grootste verskeidenheid melkskommels ter wêreld op sy spyskaart.

Gibson’s Gourmet Burgers and Ribs het die Guinness World Records-titel gewen met die yslike verskeidenheid melkskommels op hulle spyskaart.

Foto: Pixabay.com

By dié restaurant sal dit ’n soettand ongeveer vier jaar neem om al die verskillende melkskommels te proe as mens elke week een van die geure op die proef stel. Daar is nie minder nie as 207 verskillende melkskommels om te kies.

Volgens Guinness World Records is dit die grootste verskeidenheid melkskommels wat kommersiëel in een restaurant aangebied word.

Die geure wissel van die gewone vanielje en sjokolade tot veel meer kreatiewe  kombinasies soos jellie en vla, koffie en donut, brandewyntert, rocky road, kit kat, rooswater en malvalekkers, nutella, en lemoenbloeisels om maar net ’n paar te noem.

Dit lyk ook nie of daar gou ’n restaurant in die wêreld sal wees wat die rekord sal kan troef nie. Die eienaar, Ian Halfon, sê hy is nie bang dat sy restaurant gou sy titel hoef af te staan nie. “As iemand my rekord wil verbeter deur 208 melkskommels op hulle spyskaart te sit dan voeg ek eenvoudig net nóg een op my spyskaart by”.

Halfon se melkskommelkoninkryk is geleë in die besige Victoria & Alfred Waterfront en die eksotiese reeks melkskommels wat beskikbaar is, is genoeg om enige mens se asem weg te slaan en bied ’n smaak vir enige denkbare palaat.

Vir die gesondheidsbewustes is daar ook vetvrye melkskommels terwyl ernstige vegetariërs kan vra vir honderd persent vegetariese melkskommels sonder enige suiwelproduk of egte melk. En vir diegene ouer as 18 jaar wat graag ’n melkskommel met ’n skop wil hê, is daar volwasse melkskommels met ’n alkoholbasis.

Halfon sê toe hulle die restaurant geopen het, het hulle begin met ’n beskeie 40 soorte melkskommels. “Omdat dit so gewild was, het dit gou gegroei tot 100, 200 en uiteindelik 207 oor ’n periode van vyf jaar.”

Hy sê sy restaurant het nog altyd baie melkskommels verkoop en kon nog elke keer daarin slaag om met nuwe smake vorendag te kom.

Die melkskommels word hoofsaaklik in 330 mm glase bedien, soortgelyk aan die Amerikaanse melkskommels in die 1930’s. Die gewilde “double-thick” kom met ’n verskeidenheid bolae na gelang van die bestelling.

Elkeen van die 207 melkskommels moes deur die beoordelaars geproe en afgeteken word nadat die resepte nagegaan is en sekergemaak is dit verskyn wel op die spyskaart.

Guinness World Records se kantoor in Londen het die hele beoordelingsproses ook opgevolg om vas te stel daar is geen ander restaurant in die wêreld wat so ’n groot verskeidenheid melkskommels aanbied nie.

Die nuus van die prestasie het selfs in Egipte die nuus gehaal.

Lees ook

Vertoon-tennis in SA gryp internasionale verbeelding aan

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top