Korona: Die wêreld steier, Suid-Afrika ly

  • 0

Suid-Afrika se aankondiging verlede week dat ’n nuwe variant van die koronavirus in dié streek ontdek is, het skokgolwe deur veral Europa gestuur. Europa gaan op die oomblik gebuk onder ’n nuwe vlaag van infeksies en hospitale kan byna die toestroming van COVID-19-pasiënte nie meer hanteer nie.

Kort ná die aankondiging was Brittanje die eerste land om alle vlugte na en van Suid-Afrika te stop. Nederland en ander lande het kort op sy hakke gevolg. Ten tye van die afkondiging van die verbod was daar egter al twee vlugte van Suid-Afrika na Nederland onderweg en die passasiers het geen benul gehad van die gebeure terwyl hulle in die lug was nie. Maar met hul landing op Schiphol het dit gou duidelik geword dat daar iets groot fout is. Passasiers was ure lank ná ’n lang vlug in die vliegtuig gehok totdat die grenspolisie en doeane kon besluit hoe om die situasie te hanteer. Uiteindelik moes al 600 passasiers hulle opnuut met ’n PCR-toets laat toets en nog ure lank op die uitslag wag. Dié wat positief getoets het, moes in ’n hotel op die lughawe in kwarantyn bly. Ander is vrygelaat om in selfisolasie tuis in kwarantyn te gaan. Nagenoeg 10% van die getoetste passasiers het positief vir COVID-19 getoets en minstens 13 het positief vir die nuwe Omikron-variant getoets.

Die NOS berig dat dit nie nodig was dat ingeënte passasiers hulle in Suid-Afrika laat toets nie. Reisigers wat sedert verlede week Maandag uit Suider-Afrika in Nederland aangekom het, is ook gevra om hulle te laat toets. “We zijn nu bezig al deze mensen te informeren,” sê ’n woordvoerder van die gesondheidsowerheid, Harm Groustra.

Intussen berig NU.nl dat die grenspolisie Sondag ’n egpaar aangehou het wat uit ’n kwarantynhotel gevlug het. Die twee – ’n Spanjaard en ’n Portugees – is in ’n vliegtuig aangekeer wat op die punt gestaan het om te vertrek en is aan die gesondheidsdiens oorhandig. Hulle is nou in verpligte isolasie in ’n Nederlandse hospitaal.

Die demissionêre minister van volksgesondheid, Hugo de Jonge, het intussen ’n ondersoek na verpligte toetsing vir reisigers uit Suider-Afrika aangevra. Op die oomblik moet reisigers voor vertrek uit Suider-Afrika ’n sneltoets en ’n PCR-toets doen, berig NOS, en by aankoms in Nederland is ’n toets vrywillig. Verpligte kwarantyn van 10 dae wat streng gekontroleer word, is egter wel van krag. Mense wat hulle nie hieraan hou nie, kan ’n boete van €339 (R6 194,30) te wagte wees.

Op dieselfde dag waarop die vliegverbod ingestel is, het die virusvariant ook in België opgeduik, aldus die Belgiese viroloog Marc van Ranst. Die besmette persoon was ongeveer 30 jaar oud en nie ingeënt nie. Hy het van ’n vakansie uit Egipte na België teruggereis, berig VRT NWS.

Die Nederlandse lugdiens KLM het intussen bekend gemaak dat alle vlugpersoneel voor vertrek en by aankoms uit Suid-Afrika vir COVID-19 getoets sal word, ongeag of hulle ingeënt is.

Strenger maatreëls in Nederland en België

Demissionêre premier Mark Rutte van Nederland het Vrydagaand strenger maatreëls aangekondig om die verspreiding van COVID-19 te beperk en druk op hospitale te verlig. Vanaf Sondag geld daar in Nederland saans ’n streng inperking vanaf 17:00. Alle restaurante, nienoodsaaklike winkels, teaters en bioskope, asook museums en amateursportklubs moet hul deure dus vanaf 17:00 saans tot 05:00 sluit. Supermarkte, drogisterye en apteke mag wel tot 20:00 oop bly.

In dié stadium blyk dit dat die virus veral onder skoolkinders versprei. Volgens syfers van die RIVM het minstens 3 200 kinders tussen vyf en 14 jaar oud die afgelope week met COVID-19 besmet geraak. Die uitbraakbestuurskomitee, die OMT, wou egter nie strenger maatreëls op skole invoer nie.

Intussen is strenger maatreëls ook in België ingestel. Alle privaat partytjies word verbied, behalwe troues en sportwedstryde, wat mag voortgaan, maar sonder publiek. Binnenshuise byeenkomste mag vanaf afgelope Maandag gehou word slegs as elke gas ’n sitplek het. Restaurante moet om 23:00 sluit – aansienlik later as in Nederland – en daar mag nie meer as ses mense aan een tafel sit nie. Diskoteke en dansplekke bly gesluit.

Styging in hospitaalopnames wek kommer

Die getal pasiënte wat vir COVID-19 in die hospitaal opgeneem word, het Maandag met 130 toegeneem en bring die totale besetting op 2 772 te staan. Dit is die grootste styging in een dag sedert 4 Januarie vanjaar, berig die Nasionale Koördinasiesentrum van Pasiënteverspreiding, die LCPS. Die organisasie sê daar lê tans sowat 1 000 meer COVID-19-pasiënte in hospitale as ’n jaar gelede en daar is nog geen tekens van afvlakking nie. Daar word verwag dat die aantal COVID-19-pasiënte tot verby die piek van 2 800 mense in die vorige winter sal styg.

Die demissionêre minister van gesondheid, Hugo de Jonge, het intussen bekend gemaak dat pasiëntesorg in hospitale nou fase 2D binnegaan – die laaste vlak voor krisisfase 3. Die nuwe fase beteken dat hospitale oor die kort termyn beplande versorging soos operasies moet kanselleer om plek te maak vir COVID-19-pasiënte.

Ligpuntjie in België?

VRT NWS berig dat die styging in COVID-19-besmettings besig is om te verlangsaam, hoewel dit steeds baie hoog is. Sowat 17 796 besmettings word weekliks in België vasgestel; 3 698 pasiënte word tans in hospitale behandel, van wie 757 in die waakeenheid. Die afgelope week is sowat 39 mense per dag aan die gevolge van COVID-19 dood. Die kans om van die virus te sterf is egter agt keer kleiner onder mense wat ingeënt is vergeleke met dié wat nie ingeënt is nie, volgens syfers van die Belgiese navorsingsentrum vir volksgesondheid Sciensano.

Skerp toename in doodgebore babas onder oningeënte moeders

Die ginekoloog Sam Schoenmakers van die Erasmus Medisch Centrum in Rotterdam het Maandag in die Volkskrant gewaarsku oor doodgeboortes wat veroorsaak word deur ’n plasenta wat deur die koronavirus beskadig word. Minstens 13 doodgeboortes die afgelope paar maande is volgens hom daaraan te wyte. Schoenmakers sê meer navorsing moet nog gedoen word, maar dit blyk dat die virus die moederskant van die plasenta binnedring en die selle daar vernietig. Dit veroorsaak ’n soort neerslag wat voorkom dat voedingstowwe van die moeder na die kind oorgedra kan word, wat op sy beurt die ongebore kind se lewe in gevaar stel. Sommige van die moeders hier ter sprake het slegs ligte simptome gehad en was nie eens daarvan bewus dat hulle die virus onder lede het nie. Daar bestaan ’n moontlikheid dat spesifiek die Deltavariant, wat tans verantwoordelik is vir die jongste golf besmettings in Nederland, die infeksie in die plasenta veroorsaak.

Schoenmakers het weer benadruk dat swanger vroue hulle moet laat inent, aangesien die kans dat ’n mens COVID-19 kry as jy ingeënt is, aansienlik kleiner is.

Geen van die 13 vroue wie se kinders doodgebore is, was ingeënt nie en van die swanger vroue wat in hospitale opgeneem is, is 95% nie ingeënt nie. “We zien nu hoe verschrikkelijk ziek een zwangere vrouw kan worden van corona. Het vaccineren helpt je om te vorokomen dat je in het ziekenhuis komt, en zorgt er dus voor dat je je zwangerschap beter doorloopt,” sê Schoenmakers.

Skraagdosis vir prinses Beatrix

Prinses Beatrix van Nederland het tydens ’n besoek aan die munisipale gesondheidsdiens (GGD) op die eiland Curaçao ’n skraagdosis (’n opvolginspuiting) gekry. Sy is op ’n werksbesoek van drie weke op die eiland.

Mense ouer as 80 is verlede week uitgenooi om ’n skraagdosis te kry. Prinses Beatrix, die voormalige koningin, is 83 jaar oud.

Lees ook:

Gestrand op Schiphol: ’n Suid-Afrikaner vertel

Nuwe variant is verwoestend vir Suid-Afrika se toerisme

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top