Die koronavirus het die Suid-Afrikaanse wynbedryf sleg getref. Die bedryf is veral onkant gevang deur die streng regulasies rakende die staat van inperking wat Donderdag om middernag in werking getree het.
Mense in die bedryf sê hulle is uiters teleurgesteld met die regulasies wat die huidige ramptoestand reguleer. Die regulasies bepaal onder andere watter landbouprodukte tydens die ramptoestand as essensieel uitgesonder word. Volgens die bedryf weerspreek die regulasies wat in die finale dokument vervat word, egter die mondelinge ooreenkoms tussen hulle en die nasionale departemente oor die saak.
Die regulasies lys slegs voedselprodukte en nie-alkoholiese drank as essensiële produkte. Die effek van die regulasies is dat daar gedurende die drie weke waartydens die land in ’n staat van inperking sal wees, geen handel in of vervaardiging van enige alkoholiese produkte mag wees nie. Die regulasies spel dit ook uit dat daar gedurende die volgende drie weke geen alkoholverkope van enige aard in die Suid-Afrikaanse mark toegelaat sal word nie. Ook nie in supermarkte wat normaalweg wyn verkoop nie. Slegs die produksie van rou alkohol vir nywerheidsdoeleindes soos sanitasie word gedurende die tyd toegelaat.
Die inperking hou verreikende implikasies vir die wynbedryf in. Dit is nie slegs die verkope van wyn wat daardeur geraak word nie. Dit is volgens produsente in die wynbedryf “die slegste nuus moontlik” en raak die hele bedryf. Daarvolgens sal wynboere selfs nie hulle oes kan voltooi of wyn uitvoer nie.
Die uitvoerende hoof van Vinpro, Rico Basson, het Woensdagaand in ’n omsendbrief aan wynboere geskryf die bedoeling van die regulasies is skynbaar dat alle handel in en produksie van alkoholiese produkte tydens die inperking gestaak moet word. Dit sal beteken dat duisende tonne druiwe nie geoes kan word nie en dat die kelders wat nog nie klaar gepars het nie, nie met hulle werk sal kan voortgaan nie.
The South African #wine industry was caught off-guard by the #Covid19inSA #lockdown regulations that were announced this evening, but will continue to lobby with Govt on certain priorities.https://t.co/3MxIvZ7MwR
— Vinpro (@Vinpro_za) March 25, 2020
Sakkie du Toit het op Twitter gesê dit sal beteken dat sowat 20 000 ton druiwe in die Breedekloofvallei alleen sal moet vrot, wat ’n groot slag sal wees vir beide die wynboere en die plaaswerkers.
With about 20 000 tons of grapes in the Breedekloof wine valley alone, that will be left in the vineyards to rot away, this is bad news for farmers and farm workers and all our clients.
— Sakkie du Toit (@sakkiedutoit) March 25, 2020
Basson sê die organisasie, wat sowat 2 500 wynboere en kelders verteenwoordig, berei tans ’n dringende aansoek voor waarin hulle die regering versoek om uitsonderings te maak vir die wyn- en brandewynbedrywe.
Volgens die jongste onbevestigde berigte mag alle boerderye voortgaan mits daar die nodige sorg getref word vir die plaaswerkers, en dit geld glo ook vir wynboere.
Basson het volgens Landbou.com gesê hulle eerste prioriteit is om toestemming te kry sodat die oesaktiwiteite oor die volgende twee weke voltooi kan word en voorraad beveilig sal word.
Hy sê die tweede prioriteit is om die regulasies wat wynuitvoer verbied, teen te staan. Landbou.com berig die wynbedryf het sowat 300 000 mense (direk en indirek) in diens. Dit is een van die grootste uitvoerbedrywe in die Wes-Kaap en ’n belangrike verdiener van buitelandse valuta. Daar is verlede jaar sowat 320 miljoen liter wyn uitgevoer.
Die jongste regulasies soos wat dit in die Staatskoerant verskyn kan hier gelees word.
Tientalle wynplase moes reeds vroeër hulle deure vir die publiek sluit as gevolg van die koronavirus. Die Stellenbosse landgoed Delheim was die eerste wat sy deure gesluit het, nadat ’n toeris by wie COVID-19 gediagnoseer is, op die plaas was. Daarna het ’n rits ander wynplase ook hulle deure vir die publiek gesluit nog voordat die jongste regulasies afgekondig is.
Lees ook
Buro: MvHJan Tuisbly se karretjie is alle Suid-Afrikaners se voorland