Cecil John Rhodes is vanjaar op 5 Julie 173 jaar gelede gebore. Die afgelope paar jaar “kruis” ons pad op onverwagse maniere met Rhodes wat op 26 Maart aanstaande jaar al 125 jaar gelede oorlede is. Hoewel Rhodes die beliggaming van Britse imperialisme was, was hy terselfdertyd totaal behep met die Kaaps-Hollandse boustyl.
Toe sy amptelike tuiste in Kaapstad, Groote Schuur, in 1896 afgebrand het, het hy die argitek Herbert Baker opdrag gegee om dit in ’n tradisionele Kaaps-Hollandse styl te herbou. Rhodes het Baker selfs Europa en die Lae Lande toe gestuur om argitektuur en antieke meubels te bestudeer.
Rhodes het historiese plase (soos in Franschhoek onder die vaandel van Rhodes Fruit Farms) opgekoop en bewaar. Sonder hierdie Britse imperialis sou baie van die Kaaps-Hollandse erfenis wat vandag oor is, moontlik verlore gewees het.
Ons kom die afgelope twee jaar letterlik vier maal voor herinneringe aan hom te staan: ’n teken in die nuutopgeknapte Paardevlei-sentrum in die Strand by ’n skrynwerker se werkswinkel om ’n plofstoffabriek hier aan te lê; die kothuis in Muizenberg waar hy in 1902 gesterf het; die brug oor die magtige Zambezi wat in sy opdrag gebou is; en ook sy graf in Matobo Nasionale Park in Zimbabwe.
Laasgenoemde “ontmoetings” is alles te danke aan ’n treinrit van Pretoria na Victoriavalle in Zimbabwe op die luukse Rovos Rail.
Mens kan nie anders as om die ironie te sien in sy nalatenskap nie: Dis sy droom wat die treinspoor waarop ons ry bewerkstellig het, maar ook sy drome wat soveel emosionele skade berokken het.
Rhodes se impak is só diep in die populêre kultuur ingebed, dat dit selfs sy verskyning in die kunste maak. Die bekende oorlede Hugh Masekela het op sy 1976-album Colonial man ’n lied getiteld “Cecil Rhodes” ingesluit.
Rhodes is ook ’n sentrale karakter in Wilbur Smith se bekende Ballantyne-romans, waarin fiksie en werklike historiese gebeure rondom Rhodes met mekaar verweef word.
Aan die een kant maak sy erflating universiteitsbeurse soos die wêreldberoemde Rhodes-beurs by Oxford moontlik – wat duisende studente wêreldwyd ondersteun het (insluitend die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton en die Australiese premier Tony Abbott). Aan die ander kant het sy uitbreidingsbeleid in die huidige Zimbabwe en Zambië militêre verowering en grootskaalse grondtoeëiening behels, en sy wette het die grondslag vir apartheid gelê.

Hierdie gesaghebbende biografie fokus op die verhouding tussen Rhodes se aktiwiteite in die sake- en politieke wêreld en die ontwikkeling van infrastruktuur, met die bekendste sy plan vir ’n Kaap-tot-Kaïro-spoorlyn. Rhodes het ’n streek in die vooruitsig gestel waar rassisme ingebed sou raak in die mynbou-, landbou-, kommunikasie- en vervoerbedrywe. Om die omvang van Rhodes se aktiwiteite te begryp, help ons om die uitdagings van die moderne Suid-Afrika en die Rhodes Must Fall-beweging te verstaan. As ’n kritiese analise van ’n omstrede figuur, bied The colonialist ’n oorspronklike portret van hierdie deurslaggewende figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
In sy inleiding, getiteld “Heroorweging van Cecil Rhodes”, slaan Storey die spyker op die kop deur te wys op die tweeledigheid van Rhodes se nalatenskap. Hy skryf dat Rhodes betrokke was by die bou van die streek se moderne paaie, spoorweë en telegrawe, maar dat hy dit gedoen het om ’n ouer, meer outoritêre sosiale orde te ondersteun. Een ding was duidelik: Elke tree vorentoe in infrastruktuur of industrie het wit mense bemagtig en swart mense ontmagtig. As ’n komplekse figuur, wat in sy eie tyd sowel bewonder as verfoei is, verdien Rhodes dit om op sy eie terme verstaan te word – vir dit wat hy bereik het, sowel as die blywende en dikwels vernietigende impak wat hy op Suider-Afrika gehad het.
Rhodes is in 1853 in Engeland gebore as die seun van ’n predikant en het as ’n sieklike 17-jarige seun in Suid-Afrika aangekom met die hoop dat die klimaat sy gesondheid sou verbeter. Hy het in 1871 by die diamanthandel in Kimberley betrokke geraak en met die finansiering van Rothschild & Kie stelselmatig diamantmyne begin opkoop en konsolideer. In 1888 stig hy De Beers Consolidated Mines, waarmee hy ’n byna algehele monopolie op die wêreld se diamantmark verkry het.
Op 27-jarige ouderdom het hy die Kaapse parlement betree en van 1890 tot 1896 as eerste minister van die Kaapkolonie gedien. Tydens sy ampstermyn het hy sy politieke mag gebruik om grond van swart Afrikane te onteien, deur middel van die Glen Grey-wet, terwyl hy ook die rykdomvereiste om te mag stem verdriedubbel het, wat swart mense effektief uit die verkiesingsproses uitgesluit het. Sy rassistiese oortuigings en imperialistiese dryfkrag was onmiskenbaar; sy bekende uitspraak som sy wêreldbeskouing perfek op: “Om Engels gebore te word, is om die eerste prys in die lotery van die lewe te wen.”
Sy rykdom het vir hom monumente gekoop, wat vandag nog die Kaapse landskap oorheers. Groote Schuur teen die hellings van Duiwelspiek was oorspronklik ’n skuur van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie.
Vandag staan dit as ’n simbool van koloniale weelde, maar ook as ’n herinnering aan die onregmatige grondvergrype en arbeidersuitbuiting wat sy rykdom gefinansier het. Sy politieke loopbaan het egter nooit herstel ná die rampspoedige Jameson-inval 130 jaar gelede in 1896 nie. Hierdie ongemagtigde aanval op Paul Kruger se Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) het hom gedwing om as eerste minister te bedank.
Dit is juis daardie infrastruktuur – die grootste spoorwegnetwerk wat deur Britse grondgebied van die Kaap tot in Kaïro moes strek – wat die reisiger vandag dieper in die binneland van Afrika inlei.
Wanneer jy dus op ’n epiese treinreis met Rovos Rail van Pretoria na die Victoriavalle onderweg is, reis jy letterlik op die spore van Rhodes se imperialistiese droom.
Toe ons uiteindelik na die brug oor die Zambezirivier net onder die Victoriavalle se tweede ravyn kyk, kom Storey se woorde weer in my gedagtes op. Die brug, wat Zimbabwe en Zambië met mekaar verbind, is meer akkuraat bekend as die Victoriavalle-brug.
Hierdie staalboogbrug is in opdrag van Rhodes gebou as ’n deurslaggewende skakel in sy groot spoorwegvisie – selfs al het hy nooit self die valle besoek nie en is hy oorlede voordat die bouwerk begin het.
Rhodes het die ingenieurs uitdruklik opdrag gegee: “Bou die brug oor die Zambezi, waar die treine, wanneer hulle verbyry, die sproei van die valle sal vang.”
Dit is ontwerp deur George Andrew Hobson, bygestaan deur die spanningsberekeninge van Ralph Freeman (wat later die hoofontwerper van die Sydney Harbour-brug sou word). Die hoofboog vorm ’n paraboliese kurwe. Op 12 September 1905 is die brug amptelik geopen deur George Darwin, die seun van Charles Darwin en destydse president van die British Association.
Vandag is hierdie historiese baken ’n onlosmaaklike deel van die toerismelandskap – ’n funksionele skakel vir pad-, spoor- en voetgangerverkeer oor die diep kloof onder die valle.
’n Jaar ná hierdie epiese treinreis na die noorde bly ons by die nuutopgeknapte St James Guest House, die Kaapse verblyf vir Rovos-reisigers, wat die treinrit van of na Kaapstad onderneem.
Die reuk van soutwater en die polsing van die see hang swaar in die lug wanneer ’n mens op die historiese myl van Muizenberg stap. Hier, reg langs die Valsbaai-kuslyn, staan die historiese wagpos Het Posthuys – die oudste staande gebou aan hierdie kus wat kort ná die aankoms van Jan van Riebeeck opgerig is om as uitkykpos vir vyandige skepe te dien.
Maar net ’n entjie se stap verder staan ’n heel ander soort historiese baken: ’n beskeie kothuisie met ’n komplekse geskiedenis – Rhodes Cottage Museum.
Rhodes het hierdie wegbreekplek in 1899 gekoop. Vir ’n man wat miljoene ponde beheer het, die diamantreus De Beers besit het en die droom gekoester het om die hele Afrika-kontinent onder die Britse vlag te verenig, is dit merkwaardig hoe eenvoudig sy laaste dae was.
Dit is hier dat hy op 49-jarige ouderdom aan ’n hartaanval gesterf het. Die kothuis is omskep in ’n museum wat sy lewe, prestasies en dood gedenk.
Dis nou gesluit, maar jy kan ’n virtuele toer onderneem.
Agter ons rammel die treine al om Valsbaai gereeld verby.
Rhodes se laaste spoorwegreis was sy eie begrafnis. Ná sy dood in Muizenberg het die regering ’n treinreis van die Kaap na die destydse Rhodesië gereël. Die lykswatrein het by elke stasie gestop, sodat roubeklaers hul laaste eer kon betoon. In Kimberley het feitlik die hele bevolking in ’n stadige optog verby die rytuig gestap.
Sy laaste rusplek, soos hy dit self in sy testament versoek het, was Malindidzimu – ’n granietkoppie sowat 35 kilometer suid van Bulawayo in wat toe Rhodesië was (die gebied wat sy maatskappy gestig het en wat in 1895 na hom vernoem is).
Vandag vorm hierdie terrein deel van die Matobo Nasionale Park in Zimbabwe. Rhodes het hierdie plek bewonder vir sy spirituele en natuurlike skoonheid.
Ons is saam met ’n gids daar as deel van een van die interessante uitstappies op die Rovos Rail-rit. Dis enkele dae na sy 5 Julie-geboortedag.
Ons hoor dat die keuse van hierdie spesifieke heuwel uiters omstrede was. Vir die plaaslike, tradisionele godsdiens was hierdie terrein van uiterste belang as die heiligdom van Mwari.
“Om die Britse imperialis hier te begrawe, is deur die inheemse Afrikane vertolk as ’n finale gebaar van koloniale triomf en verowering oor die plaaslike bevolking. Tot vandag toe is hierdie graf ’n brandpunt vir nasionale refleksie in Zimbabwe, en voorstelle om Rhodes op te grawe en sy oorblyfsels te verwyder, duik gereeld op as weerspieëling van die voortslepende spanning tussen geskiedenis, geheue en soewereiniteit.”
Plaaslike skoolkinders klouter oor die grafsteen – bloot ’n daguitstappie vir hulle. Die nalatenskap van die man wat hier gehuldig word, sal eers later aan hulle duidelik word.
In Februarie vanjaar verpoos ek en my bejaarde pa by die teken in die nuutopgeknapte Paardevlei-sentrum. My pa, self ’n skrynwerker van nering, vier sy 96ste verjaardag en staan in vervoering dat dié werkswinkel uit 1899 nou ’n restaurant is en ons daar gaan kuier. Hy lag en sê hy hoop hulle het al die plofstowwe verwyder! Wysheid in die grysheid, sou ek sê!
Maar hy wonder ook hardop of dit reg is om Rhodes se nalatenskap te eer.
Dis meer as 11 jaar sedert die Rhodes Must Fall-beweging in 2015 by die Universiteit van Kaapstad begin het. En die debatte oor sy nalatenskap is steeds aan die gang. Studente het destyds die verwydering van sy standbeeld geëis, wat wêreldwye gesprekke oor dekolonisasie en institusionele rassisme aangewakker het.
Cecil John Rhodes was ’n produk van sy tyd, maar ook ’n argitek van sistemiese ongelykhede waarvan mense vandag nog die letsels dra.
Sy groot huise, sy graf en die instellings wat hy befonds het, is almal oorblyfsels van ’n verlede wat steeds ’n skadu oor die hede gooi.
Hoe onthou ons iemand wie se bydraes gebou is op die lyding van so baie mense?
Maar terselfdertyd moet bakens bly staan sodat ons kan onthou. Anders gaan ons aanhou om dieselfde foute te maak.
Kitsfeite:
- Vir meer agtergrondinligting oor Cecil John Rhodes se lewe, lees die boek The colonialist – the vision of Cecil Rhodes deur William Kelleher Storey, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers (Julie 2025). Dit kos R425.
- Bespreek jou treinreis met Rovos Rail van Pretoria na Vic-valle by www.rovos.com.
- Vir meer inligting oor die Rhodes Cottage Museum in Muizenberg, besoek https://rhodescottage.co.za/museum. Die museum is tans gesluit, maar jy kan ’n virtuele toer onderneem deur op die skakel op die webwerf te kliek.
Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:
Griffith Observatory vier nege dekades én verskeie hemelruim-hoogtepunte







