Die bewaarders van die woestyn se siel: Kingman, Arizona

  • 0

Die toerismekantoor

Ons is amper aan die einde van ons 1 900 kilometer reis op die legendariese Roete 66, toe ons deur die kurkdroë Mojave-woestyn van Arizona ry. Ons wegneemkoffie van ’n klein gehuggie by Peach Springs, wat eerder in ’n Quentin Tarantino-fliek as op toeristekaarte hoort, vertroostend in die snerpende koue.

Kingman

Ons bestemming is Kingman, die hart van die historiese Route 66, en dis bykans ’n voldag se ontdekking. Vir ’n haastige reisiger lyk Kingman met die eerste oogopslag dalk na net nog ’n gerieflike stilhouplek met blink neonligte, vulstasies en kitskosplekke. Maar presies hoe belangrik die dorp se rol was, sou deur die loop van die dag aan ons bekend gemaak word.

Die blink liggies van Los Angeles kan vir nog een nag wag. As ons hier vashaak en onderweg moet oorslaap, is dit ook goed.

Kingman is in 1882 met die koms van die Atlantiese en Stille Oseaan-spoorweg gestig, en het sy naam te danke aan Lewis Kingman, ’n spoorwegingenieur. Wat begin het as ’n beskeie spoorwegnedersetting, het vinnig in ’n belangrike spilpunt vir die plaaslike mynbou- en veebedryf verander.

Vandag staan Kingman wel bekend as die hart van die historiese roete, maar sy storie loop baie dieper as bloot die asfalt van die Mother Road.

Ed Rowley, inligtingspesialis by die Kingman Besoekersentrum, vertel my dae tevore via e-pos dat een kaartjie jou toegang tot drie indrukwekkende museums gee wat mekaar soos die legkaartstukke van ’n groter prentjie aanvul: Die Mohave Museum of History and Arts gee ’n oorsig oor die streek se geologie, inheemse kultuur en plaaslike legendes; die Powerhouse wys hoe Kingman deel geword het van die groter Amerikaanse mite van vryheid; en Bonelli House wat alles terugbring na ’n intieme, menslike skaal – die storie van een gesin, hul drome en hul deursettingsvermoë: “Hulle is as’t ware die drie bewaarders van die dorp se siel.”

Mohave Museum of History and Arts

Die Mohave Museum

Ons ontdekkingsreis begin by die Mohave Museum. Dit bied nie net ’n chronologiese oorsig van die streek nie; dit gee ’n intieme kykie na die mense wat hierdie harde, ongenaakbare landskap getem het – en dié wat lank voor die aankoms van die wit man hier gewoon het.

Die museum se versameling skets die vroeë geskiedenis van die streek aan die hand van kuns, ingewikkelde mandjiewerk en historiese gereedskap van die inheemse Mohave- en Hualapai-stamme. Hierdie uitstallings beklemtoon die stamme se oorlewingskuns en respek vir die natuur lank voor die amptelike vestiging in 1882.

Daarnaas word die goud- en silwermynbou-era in die omliggende Cerbat- en Hualapai-berge uitgebeeld. Die museum skep ’n blik op hierdie tydperk van fortuinsoekers deur middel van replikas van mynskagte, historiese foto’s en oorspronklike mynbougereedskap.

As jy van rolprente hou, soek vir die sjarmante uitstalling oor die akteur Andy Devine. Dié bulderende Hollywood-ster met sy kenmerkende rasperstem het in Kingman grootgeword. Die indrukwekkende versameling van sy persoonlike besittings en fliekmemorabilia is nostalgie op sy beste.

Powerhouse Route 66 Museum

Die Powerhouse

Net ’n kort entjie se stap daarvandaan, wag die pragtig gerestoureerde Powerhouse, tussen 1907 en 1909 gebou uit beton en vulkaniese rots. Dit het oorspronklik as ’n kragstasie vir die omliggende myne, soos die goudmyne van Oatman, gedien. Nadat dit jare lank leeg gestaan het, is die gebou ’n paar jaar gelede in die amptelike Arizona Route 66 Museum omskep.

Dis motorwêreld hierdie

Dit beeld die evolusie van reis chronologies uit deur middel van lewensgroot diorama-styl uitstallings van die vroeë jare (dit dek inheemse roetes, weermagekspedisies met kamele en die koms van watreine); die 1930’s (die Dust Bowl-migrasie, waar verarmde gesinne in Ford Model T’s weswaarts na Kalifornië getrek het); en die 1950’s en 60’s (die era van vakansiekultuur en Amerikaanse vryheid met blink ou motors, historiese padtekens en neonelemente).

En nog motors

Hierdie uitstallings laat jou presies verstaan waarom Kingman destyds só ’n deurslaggewende rol gespeel het as die poort na die Weste én vandag help om daardie erfenis te bewaar.

Ons mae grom. En soos Ed belowe het: “Die lekkerte van Kingman is dat die geskiedenis nie by die museumdeure stop nie; dit loop deur na die tafels en die glase van die dorp.”

Mr D’z Route 66 Diner, reg oorkant die Powerhouse, is net die plek om nog verder in nostalgie te verval. Die oomblik as jy instap, voel dit asof jy in ’n lewendige tydkapsule beland het: ’n ontploffing van pienk en turkoois, met die klank van ou rock-’n-roll wat uit die jukebox rammel.

Hier eet mens natuurlik niks anders as ’n sappige Amerikaanse burger en ’n reuseglas van hulle beroemde, tuisgemaakte root beer float nie. Die koue, romerige vanieljeroomys wat in die borrelende, kruie-agtige koeldrank insink, is net die regte medisyne voor jy verder gaan verken.

Bonelli House

Bonelli House

Bonelli House in Springstraat is ons laaste stop. Ek is bly ons kon stap hierheen, want my oë wou na ete begin toetrek.

Barbara Merritt

Ons toergids is ’n redelike bejaarde Barbara Merritt, een van die entoesiastiese vrywilligers, en ek kan sien ons gaan lekker kuier.

Die oorspronklike huis is in 1894 deur George A Bonelli vir sy bruid Effie Ellen Tarr gebou vir hul troue, maar het in 1915 afgebrand. Niemand is beseer nie, maar die gesin het met baie min besittings ontsnap.

George, ’n welgestelde plaaslike sakeman en beesboer van Switserse afkoms, het hul nuwe huis onmiddellik met die unieke plaaslike tufsteen – ’n vulkaniese rots wat nie kan brand nie – gebou. Die huis moes koel in die somer en warm in die winter wees.

“Die huis is soos ’n kasteel gebou. Daar is geen hout in die buitekonstruksie nie. Hy het pas ervaar hoe ’n brand sy huis verswelg het en gaan nie kanse waag met sy jong kinders nie,” vertel sy.

Susan Savage

Ons begin in die voorkamer en sy wys na ’n portret. “Susan Savage was Effie se ouma en hierdie kunswerk is in die sfumato-styl – soos die Mona Lisa – geverf. Waar jy ook al in dié vertrek staan, haar oë volg jou ...”

Die kombuis

Binne-in die huis kry ’n mens ’n blik op vroeëre luuksheid. Terwyl die res van die gemeenskap nog van buitetoilette en handpompe afhanklik was, het die Bonelli’s reeds warm en koue lopende water geniet. In die kombuis staan die oorspronklike steenkoolstoof en sy 20 gallon watertenk nog ongeskonde, gereed asof die geure van Effie Bonelli se legendariese gemmerbrood en vars vrugtepasteie binnekort deur die huis gaan dryf.

Barbara vertel: “Lank voor die era van moderne lugreëling, het hierdie huis sy eie vindingryke vyfpuntstelsel gehad om die strawwe Arizona-hitte te fnuik.

“Plante het teen die veranda opgerank om die klipmure koel te hou, terwyl ’n opvallende koepeltjie (cupola) op die dak as ’n natuurlike skoorsteen gedien het om warm lug uit te suig. Dié einste koepeltjie was die Bonelli-seuns se eksklusiewe uitkyktoring; meisies was streng verbode!”

Die huis is in sy oorspronklike glorie bewaar en is gemeubileer met die Bonelli-familie se eie besittings uit die vroeë 1900’s. Van die pragtige klavier in die sitkamer en die swaar houtmeubels tot die fyn porselein in die kombuis en die antieke klere wat in die kaste hang, vertel die storie van ’n gerespekteerde, hardwerkende pioniersfamilie.

Een van die kamers

Die besoek is ’n intieme, amper gewyde ervaring. Hierdie historiese huis staan as ’n monument vir die daaglikse lewe van soveel mense wat Kingman hul tuiste gemaak het in ’n era waarvan ons niks ervaring het nie, in ’n baie ongenaakbare omgewing.

Soos Barbara sê: “Die goeie nuus is dat hulle water gehad het. Die slegte nuus is dat hulle op die woestyn was. En as jy al ooit aan tuinmaak, bou, kweek, boerdery of veeteelt gedink het nie, let op daardie woestyn, want dit is onvriendelik. En dit verwelkom nie mense met oop arms nie.”

Wat hierdie museum vir my so besonders gemaak het, was die kontras. Buite die dik klipmure brand die woestynson in die somer ongenaakbaar en die winterwind huil koud om die hoeke, maar binne was dit knus en rustig. Dit was vir die Bonelli’s vir dekades ’n welkome tuiste.

Dit het my die merkwaardige vindingrykheid gewys van die vroeë inwoners wat, ten spyte van die afsondering van die Weste, ’n lewe van kultuur, gerief en styl vir hulself geskep het.

Kingman is ’n dorp wat die polsslag van die Amerikaanse Weste soos min ander bewaar. Toe ons laatmiddag weer die pad vat en ons oë oor die horison laat gly, het die lug bo die rante van die Cerbat-berge intussen bo die kranse verander in ’n skouspel van diep pers, sagter ligpienk en vloeibare goud. Dit was asof die woestyn self kom fluister het dat jy hier moes vertoef het; dit moes ervaar.

Ons sal maar onderweg weer oorslaap om hierdie ervaring vir nog een dag langer uit te rek, merk my geliefde kamma-kwaad op.

Hoe langer, hoe beter!

Kitsfeite:

Foto’s: Clifford Roberts/Canon R6

Lees ook:

Nostalgiereis op Route 66

Onverwagte pelgrimstog in Nieu-Meksiko

Georgia O’Keeffe: 40 jaar ná haar dood blom haar nalatenskap steeds

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top