Nostalgiereis op Route 66

  • 0

Vanjaar is ’n groot jaar in vele opsigte vir die Amerikaners, maar ek verkies om op die positiewe te fokus: Route 66, daardie legendariese snelweg wat deur die ooste en die weste van die Noord-Amerikaanse state sny, feesvier ekstra groot – sy 100ste verjaardag.

Die mense wat in die klein Amerikaanse dorpies weerskante van die ou snelweg woon, praat van die “Moederpad”. Vir baie mense het dit vir die eerste maal betroubare padverbinding na werk en heenkome tydens die Dust Bowl-era in Kalifornië beteken; vir ander het dit ’n simbool van die Amerikaanse droom van vryheid en rykdom geword, wat in films en musiek geromantiseer is.

Met menige mense wat op pad is na die 2026-Fifa Wêreldbeker – die 23ste Fifa Wêreldbeker wat sal plaasvind van 11 Junie tot 19 Julie 2026 – is dit ’n lekker geleentheid om hierdie roete te gaan nary. Dié sportgeleentheid sal gesamentlik aangebied word deur 16 stede – 11 in die Verenigde State, drie in Mexiko en twee in Kanada. Die toernooi is die eerste Fifa Wêreldbeker wat deur drie nasies – die Verenigde State, Meksiko en Kanada – aangebied word en 11 wedstryde word in die VSA gespeel: Atlanta, Boston, Dallas, Houston, Kansas City, Los Angeles, Miami, New York / New Jersey, Philadelphia, San Francisco Bay Area en Seattle. Baie van hierdie stede is binne maklike bereik van ’n gedeelte van die roete.

Die eerste maal dat ek van hierdie historiese roete en die tersaaklikheid daarvan in die Dust Bowl-era bewus geword het, was toe John Steinbeck se 1939-roman, The grapes of wrath, verpligte leesstof in my eerstejaar as joernalistiekstudent geword het.

Die Joad-familie, boere van Oklahoma wat deur die Dust Bowl en Groot Depressie van hul grond verdryf is, het my gefolter. Hulle trek na Kalifornië op soek na ’n beter lewe, maar word daar uitgebuit en leef in armoede, wat sosiale ongeregtigheid tydens ’n moeilike tyd in Amerikaanse geskiedenis uitlig.

Die Dust Bowl was ’n omgewings- en ekonomiese ramp in die Groot Vlakte in die 1930’s. Droogtes en onvolhoubare boerdery het die grond ontbloot en vrugbare areas in woestyne verander. Massiewe stofstorms, bekend as swart storms, het die landbou verwoes, honderdduisende families – bekend as Okies – gedwing om na Kalifornië te trek en die gevolge van die Groot Depressie vererger.

Die romantiese weergawe van Route 66 is natuurlik oorbekend, uit films soos Go West, Easy rider, Starman, Rain man, Thelma and Louise, Two-lane blacktop, Little Miss Sunshine en Planes, trains and automobiles

Ek maak toe gouer met die ware Jakob kennis as wat ek gedink het.

Ons vaar stadig uit die gewoel van Los Angeles-hawe aan boord Norwegian Bliss, toe ’n jong Amerikaner langs ons kom sit en uitvra oor ons “Ierse” aksent en wat ons drink. Die Suid-Afrikaanse aksent word verduidelik en ons laat hom die wyn proe: Die Glenelly Estate Reserve 2016 is pure Stellenbosch.

Hy vra oor ons reisplanne ná die week se skeepsvaart na Meksiko en ons vertel opgewonde dat ons Route 66 wil platry om te sien of dit wat ons op die grootskerm en in boeke ervaar het, regtig bestaan.

Hy sleepdra ons amper uit die wynkroeg na die oop dek. “Julle weet die baken vir die einde van Route 66 staan by die Santa Monica-kaai wat ons nou in die verte van dié skip kan sien? Julle is al amper besig met Route 66 en julle weet dit nie eers nie!”

En so is dit toe.

Hy vertel dat ons seer sekerlik weet die kaai en baken was in Forrest GumpThe sting, Iron Man, Pacific rim: uprising en Dark ride

Dis twee weke later dat ons reis toe eintlik begin op die pad wat van Santa Monica, Kalifornië tot Chicago, Illinois oor meer as 3 940 km (2 448 myl) strek. Dit deurkruis agt state en drie tydsones en neem reisigers deur klassieke – en amper oorbekende – Amerikaanse landskappe.

Ons begin in Sante Fe, Nieu-Meksiko – 1 390 km van daardie kaai in die weste. Grapes of wrath op die agterste sitplek van ons gehuurde voertuig. My man lees voor: “Tucumcari and Santa Rosa and into the New Mexican mountains to Albuquerque, where the road comes down from Santa Fe. Then down the gorged Rio Grande to Los Lunas and west.”

Ons is skielik weer verliefde eerstejaars – die wêreld lê oop voor ons. Soos nou.

Die opwinding om ander plekke uit die boek en films te soek, skielik ’n realiteit.

Ons het Nat King Cole se weergawe van Bobby Troup se liedjie, “(Get your kicks on) Route 66”, afgelaai en luister dit soos ons deur die dorpe ry waaroor hy sing, soos Gallup en Flagstaff. Dié titel is ook die roete se amptelike slagspreuk en is oral waar jy kyk.

In Gallup gaan drink ons by die historiese Hotel El Rancho drankies en neem foto’s van John Wayne en ander Hollywood-sterre uit vervloë dae vir my 96-jarige pa, wat elkeen se naam uit sy jongdae ken. Sterre het hier oorgebly tydens verfilming aan van die bekendste cowboyfilms.

In Winslow gaan soek ons die bronsbeelde van Glenn Frey en Jackson Browne van die Eagles. Hulle 1972-liedjie, “Take it easy”, se bekende reël: “Well, I’m a-standin’ on a corner in Winslow, Arizona / Such a fine sight to see” het die dorpie in die kollig geplaas. Ons staan toe saam met hulle op dié hoek waar Jackson se motor onklaar geraak het en waar die liedjie se inspirasie vandaan gekom het.

In die Mojave-woestyndorp, Amboy, gaan staan ons voor Roy’s Motel en op die teerpad soos die supermodel, Cindy Crawford, gedoen het.

In Seligman en Peach Spring is dit glad nie moeilik om te sien waar die skeppers van Cars hul inspirasie vir die fiktiewe Radiator Springs gekry het nie en as jy vir ure deur die verlate Mojave-woestyn ry, kan jy jou indink hoe die aliens daar in die stof sal land soos in Mars attacks!

Ons verpoos vir ’n wyle langs die pad in Lupton waar die bekende tonele van die 1940-filmweergawe van Grapes of wrath verfilm is en ook by die Sacred Mountain-petrolstasie naby Flagstaff, waar Dennis Hopper in Easy rider geposeer het. Dis nie meer ’n petrolstasie nie; mense woon daar en ons neem nie foto’s nie.

Die Historic Route 66 Museum in Kingman in die kragsentrale bied ’n wonderlike oorsig oor Route 66 se eeulange geskiedenis, met foto’s, plakkate, ou memorabilia, voertuie en selfs die trokke waarmee daar uit die Dust Bowl gery is.

Hier kry die swaarkry van mense uit daardie era nuwe betekenis met ’n uitgebreide uitstalling.

Een van my oorlede mamma se gunstelingflieks was die stilrolprent, Go West, waarin Buster Keaton speel en wat hier in Kingman verfilm is en daar is ’n foto van hom in die museum.

Dis daar – ons tweede laaste stopplek voor Santa Monica – waar hierdie aanhaling my oog vang:

Route 66 has been a fixture in American cinema since the early days of Hollywood. Used for its embodiment of hope, personal transformation, and new horizons. The Mother Road has served as both subject and setting on both the Big and Small Screen.

Hoeveel nuwe horisonne het mense – en ons twee nou – nie hier gesien nie? Hoeveel hoop op beter tye in die weste?

Ek voel skoon melankolies oor die ontberinge van mense op hierdie einste roete net meer as 95 jaar gelede.

Alle hartseer ontglip ons toe ons uiteindelik in Newberry Springs by Bagdad Café uitklim. Die 1987-kultfilm is een van ons gunstelinge.

Die ou watertenk en verweerde hotel is weg, maar die kafee staan sterk en trots langs die pad.

Ons drink koffie (die berugte koffiemasjien wat kafee-eienaar, Brenda, grys hare gegee het, werk weer ...) en kram ’n dollarnoot hoog teen die muur vas. Ons het saam die film – ook as studente – in Pretoria gesien, en om 35 jaar later daar te staan en alles is net soos ons dit onthou, is ware sentimentaliteit.

Die huidige eienaar is ’n kluisenaar en kort-kort werk iemand anders agter die toonbank. Ons word gul genooi om te poseer vir ’n foto wat onmiddellik uitgespoeg word en drooggewaai word, soos die Polaroid Instant-kameras van destyds. Dit word ’n kosbare kleinood in ons reistas vol herinneringe.

Ek moet glimlag toe ek die plakker by die deur sien: “Watch more sunsets than Netflix.”

En so al met die Walk of Fame in Hollywood Boulevard – by Louis Armstrong se ster en John Wayne se cowboystewels-afdruk en handtekening verby – kom ons uiteindelik op ’n bewolkte Sondagoggend by die Route 66-eindpunt op die Santa Monica-kaai.

Ons het volgens ons odometer net 1 900 km gery, maar dit voel of ons 10 000 km se ervaringe gehad en herinneringe geskep het.

Die roete is waarlik een van hoop én nostalgie.

  • Foto’s: Clifford Roberts met die Canon R6
Lees ook:

Onverwagte pelgrimstog in Nieu-Meksiko

Brick Lane, bagels, Engelse beesvleis, Londen en ander stories

Kanada – wanneer jeug ons weer vind

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top