Leer lees en leer leef

  • 0

.........

Volgens die navorsingsgroep Resep, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, is daar sowat 4,4 miljoen Suid-Afrikaners wat nie kan lees nie, 58% het geen toegang tot leesmateriaal nie en 50% van ouers het nog nooit ’n storie aan hul kinders voorgelees nie.

.........

’n Afvaardiging van die Vriende van Afrikaans (VVA) en Doen en Leer het onlangs ’n besoek aan die Lae Lande gebring en die afgelope week ’n praatjie by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gehou om die uitdagings van ongeletterdheid in Suid-Afrika te belig en meer te vertel oor die projekte om leer- en leesprobleme aan te pak.

Eerste aan die woord was Chareldine van der Merwe van die Vriende van Afrikaans – ’n onderafdeling van die ATKV. Sy het begin met ’n kort video-insetsel oor die werk wat die ATKV en die VVA doen om lees te bevorder. Chareldine sê tydens haar praatjie die syfers van ongeletterdheid in Suid-Afrika is skokkend. Volgens die navorsingsgroep Resep, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, is daar sowat 4,4 miljoen Suid-Afrikaners wat nie kan lees nie, 58% het geen toegang tot leesmateriaal nie en 50% van ouers het nog nooit ’n storie aan hul kinders voorgelees nie. Volgens die groep het meer as ’n derde van leerders wat met graad R begin, nie die nodige taal-, syfer- en motoriese vaardighede om hulle skoolgereed te maak nie. Chareldine sê die syfers illustreer die dringende behoefte aan die verbetering van geletterdheid en bevordering van lees in Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

Die Boektrommelprojek

Een van die projekte van die Vriende van Afrikaans om lees te bevorder is die Boektrommelprojek. “Boeke is nie ’n luukse nie. Dit is ’n noodsaaklikheid vir ons kinders se toekoms,” sê Chareldine. “Ongelukkig kan baie skole en mense nie altyd boeke bekostig nie. Daarom bied die VVA deur middel van ons Boektrommelprojek die geleentheid dat kinders so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootgestel word.” Die projek fokus op kinders van nul tot ses jaar om seker te maak dat hulle skoolgereed is teen die tyd dat hulle moet skool toe gaan.

Sowat 60 boektrommels word aan verdienstelike skole en kleuterskole gestuur waar leerders geleer word hoe om met boeke om te gaan. Hulle kry ook die geleentheid om na voorlesings van stories te luister sodat hulle die waarde van boeke kan besef en ’n liefde vir lees kan ontwikkel. Die Boektrommelprojek bied ook voorleeswerksessies vir ouers, opvoeders en ander belangstellendes aan.

Chareldine sê daar is baie redes waarom kinders nie lees nie, maar hoe meer geld daar beskikbaar word, hoe meer kinders kan met die projek gehelp word. In die stadium word ’n gedeelte van die projek deur die ATKV gefinansier. Dié organisasie gebruik geld wat uit die wins van sy oorde gegenereer word, om aan projekte te bestee ter bevordering van Afrikaans.

Doen en Leer

Volgende aan die beurt was Dokka Swart van Doen en Leer. Die Doen en Leer-intervensieprogram is ontwikkel deur wyle Rose Botha. Opvolgprogramme soos die begrips-, spoedlees- en leesgereedheidsprogramme is onderskeidelik deur Dokka Swart en Nicolette van den Heever – ook van Doen en Leer – ontwikkel. Die stories van die begripsleesprogram is geskryf deur Magdel Vorster. Die program is hoofsaaklik gemik op 10- tot 18-jariges en bestaan al 23 jaar.  Dit het reeds 250 000 leerders bereik en word deur die Departement van Onderwys onderskryf, wat dit ook aanbeveel as ’n doeltreffende intervensieprogram vir jong mense. Die betrokke fasiliteerders ontvang formele opleiding en monitering om optimale ondersteuning aan leerders te bied. Dokka sê wanneer ’n kind sukkel om te lees, moet boeke ingespan word en nie tegnologie nie.

Die Doen en Leer-projek fokus op ondersteuning van vroeë kinderontwikkeling, skoolgereedheid, algemene ontwikkelingsvaardighede, geletterdheid en wiskundevaardighede. Dit is in drie tale beskikbaar – Afrikaans, Engels en Xhosa – en leer kinders op ’n praktiese, aktiewe manier lees deur hul lywe in te span deur middel van sensoriese spel.

Doen en Leer het dit ten doel om soveel moontlik skole in Suid-Afrika te bereik en sodoende veral minderbevoorregte kinders op plattelandse gebiede ná skool te help. Skole moet egter self leerpakkette en boeke aankoop, maar beskik nie altyd oor die nodige geld hiervoor nie. Dokka sê voor die Covid-19-pandemie het hulle heelwat belangrike borge gehad, maar weens die insinking in die ekonomie is dit hoofsaaklik die ATKV, meer spesifiek die VVA, wat op die oomblik die projek befonds.

’n Suksesverhaal in Prins Albert

Thana de Clerk, projekbestuurder van die Prins Albert-gemeenskapstrust, PACT, was volgende aan die beurt om te vertel hoe die Doen en Leer-projek in dié Karoodorp vrugte afwerp. PACT het dit ten doel  om ’n gesonder en veiliger omgewing te skep deur die gemeenskappe van Prins Albert, Klaarstroom en Leeu-Gamka te ontwikkel en te bemagtig. Hulle doen dit onder andere aan die hand van die Doen en Leer-program en word deur die VVA met leeskonferensies, werksessies vir opvoeders en finansies ondersteun.

Thana sê dat die 2021-PIRLS SA-syfer, sowat 80% van 10-jarige kinders kan nie met begrip lees nie, is ook op Prins Albert van toepassing. Sy sê voorts dat daar ’n groot verlies aan leerders tussen graad 1 en graad 12 plaasvind. Een van die grootste redes hiervoor volgens opvoeders is die onvermoë van leerders om suksesvol aan die lees- en leervereistes van die kurrikulum te voldoen. Om die probleem op ’n volhoubare manier aan te pak, fokus PACT op projekte wat op vroeë kinderontwikkeling gemik is, kinders ná skool besig hou met kognitiewe en fisieke stimulasie en belangstelling in sport, kuns en kultuur prikkel.

Daar is op die oomblik twee projekte in Prins Albert om leerders te leer lees. Die eerste projek is op die grondslagfase in laerskole gemik en word in drie skole op die dorp aangebied. Sowat 140 leerders tussen die ouderdomme van ses en 10 is al deur hierdie program betrek. Leerders wat sukkel, word in groepe van drie tot vyf uit ’n klas binne skooltyd onttrek om aan Doen en Leer-leesintervensies deel te neem. Opvoeders en assistente in die grondslagfase is opgelei om die Doen en Leer-program aan te bied.

Die tweede projek is gemik op fietsry, lees en leer. Nagenoeg 18 leerders tussen die ouderdomme van 12 en 18 neem aan die projek deel in die vorm van die Prins Albert-fietsry-en-leesspan. Op Donderdae en Saterdae kry hulle die geleentheid om saam met die afrigters Arno Botha en Charles Ewerts te oefen. Op Dinsdae en Woensdae vind daar ’n leesintervensie vir ’n uur lank ná skool plaas. Ouer kinders word studiemetodes geleer en neem aan werksessies in die biblioteek deel.

Die Doen en Leer-fasiliteerders is jeugdiges van die omgewing wat deur Dokka Swart opgelei is en bied hulle die geleentheid om te werk en ’n inkomste te verdien en op die koop toe die gemeenskap op te hef.

Van links: Marijke Coornaert, Dokka Swart, Suzanne van Aswegen, Chareldine van der Merwe, Deon Raath (joernalis in residensie by Zuid-Afrikahuis), Milton Webber, Thana de Clerk en Angelie Sens (direkteur van Zuid-Afrikahuis) (Foto: Annemarie Balkema)

Ondersteuning

Die Doen en Leer-projek op Prins Albert word moontlik gemaak deur Doen en Leer-leeskonferensies wat ondersteun word deur die ATKV, die Vriende van Afrikaans, Doen en Leer, asook die Afrikaanse Onderwysnetwerk.

Uitdagings en Lesse

Ondanks die sukses van die Doen en Leer-projek is daar nog heelwat uitdagings wat oorkom moet word. Thana sê die Covid-19-pandemie het ’n groot invloed op kinders se leervermoëns gehad en veroorsaak dat leerders ’n agterstand van soveel as twee jaar opgedoen het. In die volgende fase van die projek word spesifieke intervensies beplan om die agterstand in die ontwikkelingsmylpale by leerders aan te pak, geletterdheid en betrokkenheid onder ouers te fasiliteer en meer leerders by die naskoolse fietsry-en-leesprojek te betrek. Sodoende word die druk op opvoeders met groot klasse en uitdagende vereistes van die kurrikulum verlig.

Geletterdheid en die bevordering van lees, speel ’n noodsaaklike rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika. Die inisiatiewe van die VVA en Doen en Leer het reeds ’n positiewe uitwerking op die lewens van baie kinders en gemeenskappe gehad. Dit is egter noodsaaklik om volhoubare geld en ondersteuning te verseker om ’n groter verskil te maak en die geletterdheidskrisis in Suid-Afrika aan te pak. Deur middel van gesamentlike pogings en deur voort te bou op suksesvolle programme soos hierbo genoem, kan ons ’n beter toekoms skep vir al ons kinders en gemeenskappe.

Lees ook:

Suid-Afrikaanse kinders se leesbegrip van die swakste ter wêreld

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top