Magda de Vries en Liza Grobler | Dansdialoog om die marimba

  • 0

Magdalena de Vries speel die konsertmarimba op internasionale verhoë. Sy het al opgetree in Japan, Frankryk en die Verenigde Koninkryk. Magda kan spog met talle internasionale toekennings en word amptelik as ’n Marimba One-kunstenaar erken. In Suid-Afrika speel sy gereeld saam met ons land se simfonieorkeste. Soos baie ander kunstenaars het Magda gedurende inperking haar kuns ook aanlyn beoefen. Tussen 23 en 29 Oktober span sy en Liza Grobler saam om ’n musikale én visuele skouspel aan kykers te bied. Izak de Vries het haar oor die komende konsert uitgevra. 

Magda, jy gaan drie stukke première tydens die konsert wat vanaf 23 Oktober te sien sal wees. Ons praat van wêreldpremières en jy het hierdie stukke as opdragwerke aangevra – vertel meer?

Ek hou van buitengewone dinge – dit is veilig om te sê ek is ’n nonkonformis. As musikant voel ek dit is belangrik om Suid-Afrikaanse talent te erken en bevorder. Om hierdie rede het ek besluit om drie jong plaaslike komponiste opdrag te gee om werke vir marimba te komponeer. Die oorkoepelende inspirasie was dans. Enersyds omdat dans so ’n ongelooflike vorm van nieverbale kommunikasie is, en andersyds omdat menslke komponis het ek nog ’n ekstra stukkie “opdrag” gegee. Dawid Boverhoff se werk moes lewendig wees – iets wat goed sou kon werk aan die einde van ’n program. Vir die Nigeries-gebore Kayode Ibaiyo het ek my terracotta-potte opgeneem en gevra dat hy dit in sy werk moet inkorporeer. Ek het in 2018 saam met Lise Morrisson gewerk, en toe reeds het sy metaalklanke met die marimba kombineer. Aangesien my koeiklokke nie perfek op Westerse toonhoogtes is nie, het ek ook vir haar opnames gestuur en aangedui watter note op die marimba min of meer ooreenstem.

 So jy gaan op teracotta-potte speel? Dit klink soos goed waarin ons plante kan kweek.

Dit is presies wat dit is! Ek het jare gelede ’n uitvoering gesien waarin die persoon op iets soos terracotta-potte speel (dalk was dit presies ook dit). Ek het dus aan die begin van die inperkingstyd die “verskoning” gehad om die kwekery te besoek. Daar het ek gestaan ek kyk na watter potte mooi lyk, en – meer belangrik – mooi klink! Ek moet erken, ek was ingenome met een van die bestuurders wat ’n vae idee gehad het wat die vreemde stok-ding in my hand was. Hy het daarna verwys as ’n “drum stick”. Dit was nadat ek verskoning gemaak het vir my effense (non-conforming) gedrag!

Foto: Magda de Vries

En koeiklokke?

Alhoewel ek nie so lief is vir skerp klanke nie, is daar iets van koeiklokke wat my aantrek! In musikale terme praat ons van almglocken, en daar is presies-gestemde almglocken kommersieel beskikbaar. Maar wie wil dan nou konformeer? Tydens ’n kort besoek aan Oostenryk in 2002 het ek my gasvrou gesmeek om my na die kopersmid te neem – daardie man wat die klokke maak vir die koeie wat teen die berghange wei. Dit is waarskynlik ’n goeie ding dat ek met slegs handbagasie gereis het, want anders het ek waarskynlik 50 koeiklokke gekoop en nie net vyf nie! Daar het ek geleer dat die grootte van die klok direk eweredig is aan die senioriteit van die koei. My verskeidenheid verteenwoordig dus ’n paar generasies (miskien ’n bietjie soos ek en al my broers en suster – ons is vyf kinders!).

Foto: Magda de Vries

Verduidelik ’n oomblik hoe ’n marimbaspeler by blompotte en koeiklokke opdaag?

Klankkleure!

Dan speel jy ook die marimba met ’n viool se boog?

Ja! Koop ’n kaartjie en luister daarna. (Kaartjies by Quicket.)

Talle mense verstaan nie die konsertmarimba nie. Jy speel op ’n enorme ding met twee manuale. Is ek reg dat die ry note naaste aan jou die wit note op ’n klavier verteenwoordig en die ry verste van jou af die swart note op ’n klavier?

Dit is presies korrek. Die konsertmarimba, is chromaties net soos ’n klavier. My groot marimba beslaan die omvang van vyf oktawe. ’n Vleuelklavier het sewe. Gelukkig is die grootste omvang van die marimba vyf oktawe, want soos jy sê, dit is ’n enorme instrument. Die feit dat die uitleg van die klawerbord dieselfde as dié van ’n klavier is, help baie. Dit impliseer dat die bladmusiek wat ek lees, dieselfde lyk as klaviermusiek. Daar is weliswaar minder note wat ek gelyktydig kan bespeel, maar die basiese konsep is dieselfde.

En dan speel jy dikwels met vier stokkies gelyk ...

Ja, vir alle praktiese doeleindes is vier note die maksimum wat ek gelyktydig kan bespeel – met twee stokkies per hand. Daar is ’n tegniek waar ’n mens drie stokkies per hand kan gebruik, maar ironies genoeg is dit eintlik meer beperkend. Die hoofrede is dat dit baie makliker is om die twee stokkies per hand te manipuleer.

Min mense is bekend met die term Marimba One-kunstenaar, maar in die klavierwêreld sou dit gelyk wees aan ’n Steinway-kunstenaar – is ek reg?

Ja. Marimba One™ is ’n vervaardiger van topgehalte marimbas. Dit is ’n familiebesigheid en sekere aspekte van die vervaardigingsproses word steeds met die hand gedoen. Ek het my vyf-oktaaf-Marimba One in 2002 aangekoop met prysgeld van ’n internasionale kompetisie wat ek in Londen gewen het. Maar uit die aard van die saak moes ek eers kon bewys dat ek my sout werd is om as Marimba One-kunstenaar en ambassadeur erken te word.

Ek wil nou by Liza Grobler uitkom, maar eers net ’n vraag: Jy en talle ander musikante het hier in grendeltyd konserte gedoen saam met visuele kunstenaars. Die inisiatief is gekoördineer deur Magdalene Minnaar van Biblioteek Produksies, is ek reg?

Jong, hierdie COVID-19 het ons almal met ’n nat vis deur die gesig geslaan! En veral ons in die vermaaklikheidwêreld is diep geraak. Dit was, en is nog steeds, asof ons raison d’être van ons ontneem is. Maar dit gaan ook nie help om te gaan lê nie. So die konsep van aanlyn konserte het nogal vinnig gegroei. Ek het vroeg in April met Magdalene gesit en gesels en vir haar genoem dat die konsep van 2020 by my spook (ek is ’n bietjie van ’n numbers nerd). Dit was vir haar die laaste stukkie van die legkaart wat sy benodig het, en so het hierdie spesifieke reeks, 20/20 Entertainment in Containment, die lewe gesien. Aangesien Magdalene ’n teateragtergrond het, wou sy juis ’n platform skep waar simbiotiese samewerking tussen verskillende skeppende dissiplines kon plaasvind.

Liza Grobler. Wow. Ek was al in haar kunswerke. En ja, binne-in haar werke, want sy maak grootse webbe waardeur ’n mens moet loop. Hoe het jou musiek en haar unieke kunsvorm mekaar se paaie gekruis?

Ek ken al jare vir Liza. My “one-liner” is altyd: Ek ken hom/haar al vandat hulle korter as ek was. Ons het saam in die blaasorkes van Hugo Lambrechts-musieksentrum gespeel, en was saam op Hoërskool DF Malan. Vir ’n geruime tyd mik ons al om saam te werk. Maar drome en idees het ’n lewe van hul eie, en in hierdie vreemde jaar van 2020 het ons planete in lyn met mekaar gekom! 

Internasionaal en plaaslik kan mense kaartjies koop by Quicket – dit kos maar R80 per kaartjie. Tog is daar vir diegene in die Kaap die geleentheid om hierdie vertonings by te woon en daar te wees terwyl jy hierdie stukke opneem vir uitsaai, is ek reg?

Ja! Dit is superopwindend! Die vooruitsig om voor regte mense te kan optree, musiek en kuns te skep, is regtig net wonderlik. Ons het selfs voor die inperkingsvlakke verander het, reeds besluit dat ons hierdie projek in persoon te doen (eerder as dat ek my musiek opneem, Liza haarself opneem, en iemand ’n film daaruit probeer maak), want die nieverbale kommunikasie wat plaasvind wanneer twee kunstenaars in dieselfde spasie werk, kan eenvoudig vir niks verruil word nie. Die feit dat dit nou toelaatbaar is om klein byeenkomste te hou, is dus ’n absolute bonus.  

So mense kan jou via jou webruimte kontak as hulle dalk ’n fisiese vertoning – met ’n masker op – wil bywoon?

Die masker is beslis ’n voorvereiste! Belangstellendes kan sommer vir my ’n e-pos stuur na info@magdalenadevries.com.

Jy het al uitsendings gedoen op BBC3; jy was ’n solis op ABC Australia; verder het beide die SABC en kykNET jou al opgeneem. Hoe anders was daardie opnames as dit wat jy moes doen vir die aanlyn konserte tydens Covid?

Die aanlyn konserte (beide solo en as deel van orkes-/kamermusiek) was ’n ongelooflike uitdaging – want ek was stoksielalleen (en nie net op ’n Saterdagaand nie!).

Met produksies soos vir BBC en ander korporatiewe instansies is daar ’n hele span. Ek as kunstenaar hoef net te fokus op my note wat ek moet speel. Daar was kameramanne wat verfilm het, klankmanne wat die klank opgeneem het, en selfs ’n span grimeerkunstenaars wat na my ydelheid kon omsien!

Om 100% op jou eie aangewese te wees is vir seker nie ’n grap nie.

Jy is ook ’n musiek-onnie. Covid moes ’n enorme impak gehad het op jou studente? Wil jy dalk aan ander onnies vertel hoe jy jou studente aan die gang gehou het tydens inperking?

Dit was ook nogal ’n uitdaging. Elke instrument het vir seker sy eie uitdagings. In my geval het my leerlinge uit die aard van die saak nie hul eie marimba, timpani, snaartromme en dies meer in hulle motorhuise nie. Maar daar was ’n addisionele uitdaging – ’n groot aantal van my leerlinge het nie eens hulle eie tromstokkies gehad nie, want ek het in Februarie by die skool begin les gee, en in Maart het die wêreld verander. So aanvanklik het ons maar met hande op tafels gespeel. In vlak 4 kon ek toe darem opvoedkundige materiaal per pos stuur, en het so gesorg dat hulle stokkies en oefentromme kry. Dit het ’n uitdaging gebly, maar dit was ook ’n baie besondere manier om op psigologiese vlak met die leerlinge te kommunikeer. Ek is egter baie dankbaar dat ek nou op regte, driedimensionele timpani en ander slaginstrumente kan les gee!

Lees ook:

"Liefde love uthando" vier Suid-Afrika se diversiteit in Erfenismaand

Fotografie: Izak de Vries, tensy anders vermeld

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top