Manuel en Mboweni kry raas van ANC-base

  • 0

Twee senior lede van die ANC – ’n voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, en die huidige minister van finansies, Tito Mboweni – is Maandag albei deur hul party gerepudieer oor uitlatings wat hulle in die openbaar gemaak het.

Mboweni is deur die ANC-leier, Cyril Ramaphosa self in die bek geruk oor ’n twiet van hom. Manuel is in ’n verklaring deur sy party geroskam oor uitlatings wat hy Maandag tydens ’n webinaar gemaak het.

Tito Mboweni (Foto: World Economic Forum from Cologny, Switzerland [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons) en Trevor Manuel (Foto: International Monetary Fund, via Wikimedia Commons)

Ramaphosa het Mboweni oor die vingers getik oor ’n uitlating op sosiale media waarin hy gesê het dat die Zambiese president, Edgar Lungu, nie die goewerneur van die sentrale bank moes afgedank het nie.

Mboweni, wat al bekend geword het vir sy omstrede twiets, het in sy twiet gedreig om steun te mobiliseer indien Lungu nie enige redes verskaf oor waarom Kenny Kalyalya in die pad gesteek is nie.

Ramaphosa se woordvoerder, Tyrone Seale, sê Mboweni se uitlatings is jammerlik en weerspieël nie die wil van Suid-Afrika en sy burgers nie. Hy sê dat die nodige stappe gedoen sal word. Seale sê Suid-Afrika en Zambië het sterk historiese bande wat terugdateer tot apartheid en dat die land daartoe verbind is om dié betrekkinge te verstewig.

Ramaphosa het verskoning gevra en sê die “ongelukkige” uitlating van Mboweni weerspieël nie die regering se standpunt nie. Ramaphosa se volledige verklaring kan hier gelees word.

Mboweni het intussen sy aanvanklike twiet verwyder en het Ramaphosa se verklaring op sy Twitter-profiel geplaas.

Trevor Manuel is op sy beurt deur die ANC voor stok gekry oor ’n uitlating dat daar byna 30 jaar vermors is onder ANC-bewind. Hy het die uitlating tydens ’n webinaar gemaak wat deur die Catholic Parliamentary Liaison Office en die Hans Seidel-stigting aangebied is.

TimesLive berig Manuel het ook gesê die regering moet verdere plundery van die staatskas stop. Hy het gesê dit is tragies dat die land die spoor byster geraak het.

Die ANC sê in hul verklaring Manuel se opmerking skep die indruk dat armoede en werkloosheid in die land eers in 1994 begin het en dit is nie waar nie. Die party sê as die land se langsdienende minister van finansies sedert 1994 behoort hy dit beter as enigiemand anders te verstaan.

Die ANC-woordvoerder, Pule Mabe, het gesê die ANC het die armoede en werkloosheid waarna Manuel verwys, van die apartheidsregering geërf. Mabe sê die ANC respekteer Manuel se reg op ’n opinie, maar daar is geen basis om so ’n donker prentjie van die land aan die media en die buitewêreld te skets nie. Hy sê die ANC is pynlik bewus van die voortdurende aanvalle wat op sosiale media teen die ANC geloods word en Manuel moenie in dieselfde strik trap nie.

Die reaksie op sosialemediaplatforms soos Twitter was egter oorwegend ten gunste van Manuel. Die hutsmerk #voetsekANC het van voor af begin gons en talle mense het gesê Manuel is heeltemal reg.

Steven Titus het getwiet Manuel is 100 persent korrek en sê die ANC het die toekoms van minstens twee geslagte Suid-Afrikaners gesteel. “Sommige van julle verdien niks beter as ’n boendoehof nie. #VoetsekANC,” het hy getwiet.

Charlie Langa was ook van mening Manuel is heeltemal reg en dat hy die land eintlik reggehelp het deur daarop te wys dat daar nie net nege verlore jare is soos wat Ramaphosa by geleentheid gesê het nie, maar dat daar eintlik 30 verlore jare is. “Sy kamerade sluk nie maklik aan hierdie waarheid nie,” het hy getwiet.

 
Lees ook

Keelvol Suid-Afrikaners sê ANC moet voertsek

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top