Mosambiekse president ingehuldig te midde van voortslepende geweld

  • 0

Mosambiek se president, Daniel Chapo, is Woensdag ingehuldig te midde van toenemende spanning in die land vanweë sy Frelimo-party se omstrede oorwinning tydens die verkiesing op 9 Oktober verlede jaar.

Chapo het die ampseed onder streng bewaking voor ’n gehoor van hooggeplaastes in die hoofstad, Maputo, afgelê, ná weke van gewelddadige betogings oor die hewig betwiste verkiesingsuitslag.

Onder die hooggeplaastes wat sy inhuldiging bygewoon het, was president Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika.

Ramaphosa se kantoor het in ’n verklaring gesê die “die inhuldiging van die verkose president Chapo” bied ’n geleentheid vir al die mense van Mosambiek om saam te werk aan vrede, demokrasie en ontwikkeling. 

Ramaphosa sê hy sien daarna uit om nou saam te werk met Chapo om die bestaande sterk broederlike verhoudings tussen die twee lande verder te versterk, en hoop ook dat Mosambiekers sal saamstaan in ’n gees van eenheid en samewerking terwyl hulle ’n beter toekoms bou.

Ramaphosa was vergesel deur die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, en die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni.

Chapo het tydens die inhuldiging belowe om al sy energie te wy aan die verdediging, bevordering en konsolidering van nasionale eenheid, menseregte, demokrasie en die welstand van die Mosambiekse mense.

Die opposisieleier, Venancio Mondlane, hou egter vol dat die verkiesing van 9 Oktober ten gunste van die Frelimo-party, wat Mosambiek sedert onafhanklikwording van Portugal in 1975, regeer, gemanipuleer is.

Mondlane, wat gewild is onder die jeug, het belowe om die land te “verlam” met nuwe protes teen die hewig betwiste verkiesingsuitslag. Hy het reeds in die dae voor die inhuldiging ’n nasionale staking gevra en Dinsdag gedreig om die nuwe regering met daaglikse betogings lam te lê.

“Hierdie regime wil nie vrede hê nie,” het Mondlane Dinsdag in ’n toespraak op Facebook gesê. Hy het ook beweer sy kommunikasiespan is vandeesweek met koeëls op straat begroet. “Ons sal elke dag betoog. As dit beteken om die land vir die hele termyn te verlam, sal ons dit vir die hele termyn lamlê.”

Chapo het Maandag op die vooraand van sy inhuldiging as president vir stabiliteit gevra en aan joernaliste by die nasionale vergadering gesê: “Ons kan aanhou werk om saam en verenig ons land te ontwikkel.”

Die nuutverkose Mosambiekse president is Woensdag op pad na sy inhuldiging deur honderde jeugdiges wat in die strate van Maputo saamgedrom het, uitgejou terwyl hulle die naam van sy belangrikste mededinger, Venancio Mondlane, uitgeroep het.

Internasionale waarnemers het gesê die verkiesing is deur ongerymdhede ontsier, terwyl die EU-sending die “ongeregverdigde wysiging van verkiesingsuitslae” veroordeel het.

Chapo sal na verwagting vandeesweek sy nuwe regering aankondig.

Suid-Afrika het verlede maand ’n beroep op alle partye in Mosambiek gedoen om hulle te verbind tot ’n dringende dialoog wat die land sal genees om dit op ’n nuwe politieke en ontwikkelingstrajek te plaas.

Die Departement van Internasionale Betrekkinge het in ’n verklaring gesê Suid-Afrika is gereed om Mosambiek op enige wyse by te staan ​​om hierdie dialoog te fasiliteer.

“Die Suid-Afrikaanse regering sal voortgaan om saam met die SAOG en ander multilaterale agentskappe te werk om ’n blywende oplossing vir die huidige dooie punt te soek. Suid-Afrika doen ’n beroep op alle partye om selfbeheersing en kalmte aan die dag te lê.”

Die menseregteaktivis Adriano Nuvunga het op X gesê Chapo se inhuldiging as president van Mosambiek word deur bloedvergieting gekenmerk.

Hy sê hierdie geskiedkundige oomblik, wat ’n dag van nasionale trots moes wees, is oorskadu deur skokkende polisiegeweld.

Hierdie vlaag geweld, waartydens verskeie jongmense deur die polisie gedood of beseer is, is volgens hom deel van ’n doelbewuste strategie, met geheime beamptes wat groepe jongmense teiken onder die voorwendsel dat hulle op potensiële protesorganiseerders toeslaan.

Sedert die aanvang van die betogings het 517 individue hul lewens weens polisiebrutaliteit regoor Mosambiek verloor. Nuvunga sê Woensdag se gebeure is ’n somber herinnering aan die staatsgesanksioneerde geweld wat in Mosambiek plaasvind om die jeug stil te maak. Dit “vlek” die nasie se gewete, aldus Nuvunga.

Lees ook:

Reguit met Robinson – Mosambiek: onrus in ons buurland

Suider-Afrika hou asem op oor geweld in Mosambiek

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top