Motivering vir afgestigte Kaap dalk "die leuen van 2020"

  • 0

Die belangstelling (of is dit eerder omstredenheid?) wat The lie of 1652: A decolonised history of land, Patric Tariq Mellet se boek oor die vroeë koloniale geskiedenis van die Kaap, ontketen het, loop tesame met ’n ander, ewe opspraakwekkende verwikkeling.

Anders as 1652, wat veral rondom die Nederlandse besetting van Suid-Afrika sentreer, het laasgenoemde te doen met die vorming van die hedendaagse samelewing aan die Kaap. Dit is, naamlik, die beweging, gedryf deur organisasies soos CapeXit, Cape Independence Advocacy Group, Cape Coloured Congress en die politieke party, VF Plus, wat voorspraak maak daarvoor dat die Wes-Kaap van die res van Suid-Afrika moet afstig.

’n Onafhanklike staat, wat deur die mense van die provinsie geregeer word, amper soos in die dae van die Kaapkolonie voor Uniewording in 1910, is die groot droom. Jy durf dit egter nie aan die volkstaat-ideale van die mense van Orania in die Noord-Kaap gelyk stel nie, keer die voorstanders van die idee.

Maar eers oor (bruin) Mellet se boek en die pennestryd waartoe dit aanleiding gegee het nadat heelwat van sy beweerde aannames, interpretasies en “feite” deur die voorste (wit) geskiedkundige, Dan Sleigh, skérp gekritiseer is: “Onsin” en “uit die duim gesuig” is van die beskrywings wat deur Sleigh ingespan is om die “bewerings” oor die vroeë Kaapse geskiedenis in Mellet se boek af te maak.

Die skrywer het teruggeslaan met ’n verwoede (emosionele) aanval op die dagblad, Die Burger, omdat die koerant jou waarlikwaar dit durf toegelaat het dat Sleigh hom kasty sonder om sy repliek te versoek. Maar hy het terselfdertyd Sleigh se eie vryelike omgaan met bronne voorgehou as rede vir waarom dié nie in hierdie opsig die morele hoëgrond beklee nie.

Sleigh erken dan in Eilande dat hy ter wille van sy lesers verandering aan historiese feite aangebring het, argumenteer Mellet. “Dit is derhalwe nogal verregaande dat hierdie romantiese aanbieder van ’n fiktiewe weergawe van die eerste vyftig jaar van die Nederlandse koloniale teenwoordigheid in die Kaap in die kryt klim oor wat feitelik is en wat nie,” lui sy skrywe aan Die Burger, “of oor ’n gebrek aan bronne/verwysings.”

In werklikheid is sy grootste grief teen Sleigh dalk dat dié homself sou aanbied “as ’n stem vir gekleurde mense en inheemse Afrikane” en dat hy sodoende sou aanneem – hier slaan die woede behoorlik deur – “dat sy koloniale siening nie deur apartheid-rasheerssugtige kultuur verdraai is nie en dat dit regverdigbaar is vir hom om woorde in swart mense se monde te lê”.

Hierdie Nuusvinke-artikel wil nie die bekgeveg volledig herhaal nie; dit kan op bronne soos Netwerk24 nagespeur word. Dit is wel opvallend dat Mellet deur kritici en Sleigh-aanhangers aangeval word oor ’n basiese “leuen” wat hy primêr met sy boek probeer regstel – en wat reeds vroeër deur ander geskiedskrywers pertinent gestel is, soos in die eerste sin in Richard Elphick en VC Malherbe se openingshoofstuk in The shaping of South African society, 1652–1840: “Jan van Riebeeck did not found the Cape Colony in an empty land.”

Omtrent 370 jaar later, is daar nou glo reeds meer as ’n halfmiljoen Kapenaars wat hul steun vir afstigting demonstreer deur lidmaatskap van die CapeXit-beweging, dit wil sê wat nuwe gestalte wil gee aan die ou Kaapkolonie.

Die VF Plus-leier in die provinsie, Corné Mulder, het onlangs in ’n artikel in die Sondagblad, Rapport, hierdie syfer in konteks geplaas: die 594 524 lede maak van dié groepering “die tweede grootste gemobiliseerde politieke krag in die Wes-Kaap ná die DA”, terwyl die ANC hom in die derde plek op 589 055 bevind.

’n Mens wil jou graag so ’n nuwe kolonie verbeel wég van die deursnee narratief dat ’n onafhanklike Wes-Kaap ’n wegbreek van bedrog, korrupsie en algemene verval onder die ANC-bewind, wat in 1994 in aanvang geneem het.

Waaroor daar egter minder gepraat word, is oor watse beleide in so ’n staat gevolg sal word: iets nader aan die ANC s’n van regstellende aksie en swartbemagtiging of na die ander kant toe waar ras nie meer as maatstaf vir regstelling aangewend word nie? Sal daar nuwe monumente opgerig word vir Kaapse struggle-helde en historiese figure wat terugdateer na die era van Nederlandse bewind aan die Kaap? Sal die radikale EFF se veldtog gestuit word om Kaapstad Internasionale Lughawe na Winnie Madikizela-Mandela te vernoem gekeer word en voorkeur eerder aan die ander voorstel – Krotoa Internasionale Lughawe – gegee word?

En wie sal toegelaat word om hierheen te trek of migreer? Slegs binnelanders, soos wat reeds uit die Oos-Kaap die geval is? Of ook buitelanders – en wat sal die oorwegings wees wat geld oor toelating tot verblyf hier? Sal die afgestigde Wes-Kaap sy eie “nasionale” sportspanne in die veld stoot of sal plaaslike sportlui steeds kwalifiseer om vir die nasionale SA spanne diens te doen?

Die lys vrae kan oneindigend lank raak, en sommige is dalk gewoon onsinnig, maar soos wat almal weet sal die CapeXit-mense eers verby die nasionale regering moet kom om ’n referendum af te dwing – en dán, die eintlike groot struikelblok, is dat ’n tweederde meerderheid in die huidige ANC-gedomineerde Nasionale Vergadering verseker moet word.

Portret van Krotoa

Neem jy al hierdie vereistes in ag, wil dit voorkom asof die idee van ’n onafhanklike Wes-Kaap uiteindelik as ’n pypdroom in die Tafelbaai-hawe kan sterf, daar waar Van Riebeeck en sy geselskap in 1652 voet aan wal gesit het.

Laat ons egter nie vergeet nie dat alhoewel dié historiese merker met vernedering vir plaaslike inheemse mense gepaardgegaan het, was dit ook waar die diverse samestelling van die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing begin het. Dit word vandag in die nasionale ampswapen verwoord as !ke e: |xarra ||ke, oftewel “diverse mense verenig”.

Waarom afstig as dit nie ook uiteindelik maar ’n poging is om ’n sekere soort “suiwering” te bewerkstellig nie: eie wette en regulasies vir die “eie”; ander vir die andersoortiges, dalk?

Word nóg ’n leuen hier aan ons opgedis? Die leuen van 2020?

Lees ook op LitNet en Voertaal:

The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel

Een interview met Dan Sleigh over Eilande

Aspekte van postkoloniale verset in Eilande deur Dan Sleigh

Jan van Riebeeck en Krotoa se tyd: 10 verrassende feite

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top