Die Amsterdamse hip-hop-groep Osdorp Posse staan in die jare ‘80 aan die voorpunt van die sogenaamde Nederhop.
In die jare ‘70 en ‘80 het Amerikaanse hip-hop en rapmusiek ook oorgewaai na Nederland en België en aanvanklik skryf Nederlandse (en Vlaamse) rappers hulle tekste in Engels – dikwels snaakse, toeganklike liedjies.
Def P van Osdorp Posse begin in die middeljare ’80 met Nederlandstalige raptekste nadat hy Engelse tekste letterlik begin vertaal na sy eie taal, en Nederhop word gebore. Rappers soos Extince en Brainpower is saam met Osdorp Posse van die eerste kunstenaars wat groot sukses behaal met hierdie Nederlandstalige hip-hop. Dié eerste generasie kunstenaars is nog oorwegend wit en met ’n geheel Nederlandse agtergrond.
Intussen kan ’n mens dit stel dat die Nederlandse hip-hop-toneel die moderne Nederlandse samelewing baie akkuraat weerspieël en beskou kan word as een van die belangrikste en mees populêre kulturele uitdrukkings. Rappers van gemengde afkoms beheers die scene, underground sowel as kommersieel, met Turkse, Marokkaanse, Surinaamse en Antilliaanse invloede. Uiteraard praat ons hier van rap en hip-hop, en dus gaan dit ook oor seks, geld, drank en dwelms, maar onderwerpe wat sosiaal krities is en politieke standpunte inneem is nie ’n seldsaamheid nie.
’n Belangrike en interessante figuur is Roy Reymound. Hy is gebore in 1986 in Eindhoven, ’n stad in die Nederlandse provinsie Brabant, en is van gemengde afkoms: sy pa is van Curaçao en sy ma is Nederlands. Reymound tree op onder die naam Fresku (wat “brutaal” beteken in Papiamentu). Op ’n baie jong leeftyd raak hy gefassineer deur hip-hop- en rapmusiek en begin hy raptekste skryf as hy van sy sewende tot sy veertiende jaar by sy pa op Curaçao woon.
Aanvanklik skryf Fresku sy tekste in Engels, maar al gou ontdek hy dat as jy iets besonders en uitsonderliks wil sê, jy jou baie beter kan uitdruk in jou moedertaal. Van sy debuut, Fresku, in 2010 ontvang hy die een na die ander prys en raak hy al hoe meer bekend, ook deur sy veelvuldige en verskeie optredes in die media.
Fresku werk, soos gebruiklik in hip-hop, veelvuldig saam met ander rappers. Kyk ’n mens spesifiek na sy solowerk, dan sien jy ’n kunstenaar wat betrokke is by die samelewing en ’n sterk en ingeligte mening het oor sake soos bevoorregting, kulturele toe-eiening en rassisme, en hy is nie bang om hom op baie direkte wyse hieroor uit te spreek nie. Dikwels rap hy oor sy persoonlike agtergrond en die spesifieke problematiek rondom Antilliaanse Nederlanders.
Interessant is dat hy behalwe as rapper en musikant nou ook bekendheid begin geniet as stand-up comedian met sy eerste teaterproduksie Welkom by die Fresku show in 2017.
In 2015 verskyn sy derde album, Nooit meer terug, met onder andere die liedjie “Zo doe je dat”.
Hiermee maak Fresku groot opslae: “Zo doe je dat” handel oor die Nederlandse musiekbedryf en veral die Nederlandse radiostasies wat volgens hom baie meer aandag gee aan wit kunstenaars as aan musikante en rappers wat nie wit is nie. En airplay is belangrik, want dit beteken inkomste. In die video is Fresku besig om sy gesig wit te verf – homself te whiteface. Soos die teks is die video ’n satiriese kyk op wat ’n swart of gekleurde rapper of musikant moet doen om op die wit Nederlandse musiekstasies gespeel te word. Jy moet wit en kommersieel interessant wees, en jy moet jou hip-hop ’n bietjie meng met dance- en rock-invloede.
Fresku sê onder andere:
Al bouncen blanke pubers met jou tracks mee
Hilversum wil blanke rappers per se
Geen blackface, nigga.
En ook:
Die lyrics klinken tight man
Maar helaas ben je niet een white man
[…]
Die yo-yo-hiphop is te saai man
[…]
Deze sound is ook veel te Jamaican
Geen trommels en ratelen, dat is negerherrie.
Vervolgens kom ’n wit radio-deejay aan die woord wat vir Fresku sê:
White privilege, ga lekker terug naar Paramaribo
Want het heeft niks te maken met huidskleur
We weten wat ons publiek het liefst luistert
Doe je rapjes met een melodietje
Gebruik geen slang, dat klinkt te negroïde
En we draaien best regelmatig rapjes hoor
Eminem, Iggy Azalea en Macklemore
Ja, toevallig zijn ze allemaal blank
Wat een gejank, het is nu eenmaal net een andere klank
Kanye West klinkt veel beter met Paul McCartney
We horen liever een gitaar bij een zwarte artiest.
Basies is die boodskap: “Gooi een beetje dance en wat rock voor een hit [‘treffer’ in Afrikaans] man/ Nigga bleek je huid, je moet lookoe als een witman.”
Die video is snaaks én skokkend; dit is tongue-in-cheek én terselfdertyd ernstig en opreg en dit handel oor ’n onderwerp waar die laaste jare al hoe meer oor gedebatteer word in Nederland (en in ander Wes-Europese lande): wie praat namens wie, wie word wel en nie ernstig opgeneem nie en hoekom, en hoe kan ons sorg dat mense met ’n diverse agtergrond as gelykwaardig gesien word? Fresku sê oor “Zo doe je dat”: “Natuurlijk bedoel ik niet letterlijk dat alleen blanke rappers aandacht krijgen op de radio. Maar op muzikaal gebied is het wel een rassending.”
Oor hoe om ’n goeie rapteks te skryf, sê Fresku in De Volkskrant:
Baas laten rijmen met kaas is saai. Door te rijmen met meerdere lettergrepen en klanken flowt een tekst beter, het wordt zo ook onvoorspelbaar welk rijmwoord er volgt. Als kind luisterde ik naar Big Pun, die had zinnen als: “Dead in the middle of Little Italy, little did we know that we riddled two middlemen who didn’t do diddily.” Die manier van rijmen ging ik nabootsen, inmiddels gaat dat heel natuurlijk.
Uiteindelijk gaat het om lading en gevoel, rijmschema’s alleen raken niemands hart. Ik probeer daarom niet de rapacrobaat uit te hangen, maar geef rijmschema's een functie. Stel, ik beschrijf dat mijn leven een chaos is, dan vind ik het sterk om snel achter elkaar te rijmen, omdat de tekst daardoor chaotischer aanvoelt.
Fresku wys dat rappers nie net sommer hulle gevoelens uitskree nie, maar dat ’n goeie rapteks ’n ware kunswerk is soos enige literêre produk – iets waar jy tyd aan moet spandeer voor jy iets goeds het waarmee jy vorendag kan kom.
Oor die invloed van rap en hip-hop sê die bekende radioaanbieder Frits Spits in Algemeen Dagblad:
De Nederlandse taal verandert onder invloed van rap en hiphop. Fresku draagt daaraan bij, maar ook Typhoon en Diggy Dex. Het is een boeiende ontwikkeling. Ik denk dat we door rap en hiphop over vijftig jaar een ander soort Nederlands zullen spreken.
Ek dink Fresku sal hiermee saamstem.
Verdere “leesstof”:
Buro: MvH