Na wie gaan Vrye Weekblad vry?

  • 0

Max du Preez (Foto: Izak de Vries)

Gaan die Virtual Reality-weergawe van Vrye Weekblad werk? Die nuus dat die ikoniese koerant van die laat 1980’s, ‘90’s uit die dode gewek gaan word, is met skeptiese laggies en elmboë in die ribbes deur veterane van die sukkelende drukmedia begroet.

Jeremy Gordin, voormalige redakteur van Playboy in Suid-Afrika, en voormalige uitgewer by Media24, het die koor gelei met die argument dat die afgelope 25 jaar te veel veranderinge meegebring het vir die pro-ANC-span aan die stuur van Vrye Weekblad 2.0 om te slaag. Veral onder Afrikaners bestaan daar nie meer ’n mark vir ’n blad wat “progressiewes” soos Max du Preez se sieninge versprei nie, aldus Gordin.

Du Preez het in die mediamaatskappy Tiso Blackstar se aankondiging die gewraakte woord gebruik om die nuwe digitale weekblad se teikenmark te identifiseer. Wat hy bedoel met die woord, en met ’n ander een, “Afrikaans”, gaan bepaal hoe invloedryk die nuwe poging gaan wees.

“Progressief” is ’n outydse woord, een wat na 25 jaar onder regses, maar ook onder linkses, met argwaan bejeën word. Die konsep van “vooruitgang” is lank nie meer ’n ideaal vir die post-postmoderne geslag, wat glo dat dit deel is van die neoliberale meesternarratief uit die Weste nie. Erg koloniaal dus. En in die Antroposeen-era, deel van die praktyke wat die aarde dalk nog onbewoonbaar vir mense gaan maak.

Vir wittes is Vrye Weekblad se boegbeelde helde, vir die #RhodesMustFall-geslag geld ’n ander prentjie: dié blad en Mail & Guardian tel onder die konkas wat die rookskerm van die ontoereikende Waarheid-en-versoeningskommissie help aanvuur het. Vanuit hierdie perspektief is die half-waar, half-mitiese “derde mag” geskep en van Dirk Coetzee en Eugene de Kock sondebokke gemaak sodat wittes hulself kon vergewe vir hul eie, daaglikse aandadigheid aan apartheid.

Aan die regterkant, nou ja. “Progressief” staan vir liberale waardes, geoordeel aan die lysie wat Du Preez in Jean Oosthuizen se berig op Voertaal gegee het. Dwarsdeur die wêreld is “libtards” op die agtervoet. Oral is die media besig met diepe selfondersoek, want ’n algemene persepsie is dat die media beheer word deur liberales wat nie meer kontak met gewone mense soos boere, ambagslui, werkers en werkloses het nie.

Uit Du Preez se Media24-rubrieke blyk dit dat hy dalk nie tred gehou het met hoe snel die verval op grondvlak onder die ANC was en die effek wat dit het onder lojale Nuwe Suid-Afrikaners wat voel dit is ’n gevolg van hul marginalisering en die miskenning van hul talente en vaardighede in die toepassing van die ANC se katastrofiese regstellingsbeleid nie. Onlangs nog het Du Preez stelling ingeneem teen kritici van die beleid.

Hierdie gemarginaliseerdes is dikwels Afrikaans, en skaar hulself onder ’n nuwe identiteit: die verontregte Afrikaanssprekende. En wat ’n mens moet verstaan, is dat hierdie kategorie hoogs gefragmenteerd is en mense van alle rasse insluit wat soms niks met mekaar te doen wil hê nie. Aan die een uiterste is die AfriForum polities-godsdienstige sekte met sy vasklou aan die Gelofte van 1836, en aan die ander die “progressiewes” van ouds (en ek sluit my maar hierby in), waaronder lede van byvoorbeeld die Gelyke Kanse groep.

Op voetsoolvlak is haas geen Afrikaanssprekende nie geraak deur regstellende aksie nie. Vir diegene wat wel goed doen, beteken “vooruitgang” dat hulle nou nie meer by die voordeur uitgaan nie, maar die agterdeur, die systraat in, vanuit die kelderverdieping, in die sin dat hulle nie meer in die kollig staan nie, maar die kollig vashou. Onder hierdie magteloses heers ’n gans ander etos as Vrye Weekblad I se teikenmark.

Na die debakel met beurtkrag het leidende ANC-figure ruiterlik erken dat Eskom weens die uittog van voorheen bevoordeelde groepe nie die vaardighede het om dit te hanteer nie.

Dieselfde geld vir water, munisipaliteite, opvoeding, noem maar op. Regstellende aksie is nou nie meer ’n regse kwessie nie, maar een van lewe en dood, van botter en brood vir alle Suid-Afrikaners. Dit moet beveg of ten minste heeltemal hervorm word wanneer dit swart rassisme in die hand werk, maar al drie die grootste partye ondersteun dit. Is Du Preez-hulle ideologies toegerus om hierdie gaping te vat?

Een kwessie wat Afrikaanse verontregtes gemeen het, is die agteruitgang van Afrikaans.

Omdat die taal so erg bevoordeel is deur die Nasionale Party-strukture, kan niemand verwag dat Afrikaans die status wat dit voor 1994 gehad het, kan behou nie. Maar die uitdunning van Afrikaans tot net ’n enkele universiteit, en stemme wat al meer opgaan onder radikale swart mense dat die taal heeltemal uitgeroei moet word, is nie net om hierdie regstelling te ver te voer nie, maar ’n oortreding van algemeen-aanvaarde internasionale norme vir tale wat neergelê is deur etlike “progressiewe” organisasies soos dié van die Verenigde Nasies.

Waar gaan Vrye Weekblad hieroor staan? Die tekens is nie goed nie, Du Preez het lankal verklaar die Universiteit Stellenbosch moet verengels. Ek is seker hy sien dit in terme van regstelling vir apartheid by wyse van maksimum inklusiwiteit, maar wat op sandaalvlak gebeur, is dat bewoners van die “Last Outpost of the British Empire”, soos KZN en Johannesburg se noordelike voorstede, Stellenbosch ingeneem het.

Die ironie is dat eentaligheid, soos dié van Donald Trump en die Brexiteers, vinnig besig is om die bête noire vir die “linkerkant” en “progressiewes” oral ter wêreld te word. Die Katalaanse, Baskiese en Koerdiese taalstryde word vanuit die linkerkant gevoer. Gaan Vrye Weekblad hom of haar by hulle skaar?

Die publikasie gaan op Tiso Blackstar se platform gebeur. Vrye Weekblad se nuwe hoofkwartier word The Empire genoem. Dis moontlik dat dit net ’n tegniese verhouding gaan wees, maar hier is die etos nou weer so konserwatief Engels as wat kan kom.

Wat bedoel Du Preez met “Afrikaans”? Op die oog af lyk dit erg wit. Veral bruin Afrikaanssprekendes op die platteland, dié sonder ’n universiteit in die Kaap, tel deesdae onder die mees gemarginaliseerde mense in Suid-Afrika. Bruin mense oor die algemeen wil verengels en heelparty wil niks van geskrewe Afrikaans weet nie, weens die trauma van apartheid, terwyl die vele armes onder hulle nie altyd toegang tot digitale media het nie, en beslis nie vir enige publikasie gaan betaal nie.

Vrye Weekblad loop dus gevaar om na die eerste ses weke van gratis toegang net nog ’n Afrikaanse instelling te word wat eksklusiwiteit in die hand werk. Nie so ver van Maroela Media af nie.

Du Preez sê hulle gaan etniese mobilisering beveg, wat in ons hoogs veranderde media-opset met sy histeriese sosiale media maar net beteken hulle gaan dit bevorder. Zoeloe-mobilisering beveg met Afrikaans? Gaan Vrye Weekblad aanvoer AfriForum en Solidariteit moet ophou bestaan? Van agter ’n “paywall”?

Dis natuurlik nog vroeg in die dag; die eerste uitgawe het nog nie verskyn nie. Omdat dat daar net vier mense aan die stuur sal wees, sal Vrye Weekblad II noodgedwonge van buitewerkers gebruik moet maak, en báie van hulle. Dit is dalk misleidend om te veel gewag van Du Preez se eie standpunte te maak.

As ’n laaste tersyde: ’n Mens kan kla dat Vrye Weekblad net nog ’n instrument in die kapitalistiese verskraling van die media tot stukwerkery sal wees, iets waarmee Tiso Blackstar al baie ervare is, maar nou ja, dis hoe dinge deesdae werk. (En terloops, aan wie behoort Vrye Weekblad?)

Enige nuwe publikasie in Afrikaans moet verwelkom word. Wat seker is, is dat die viertal in beheer van Vrye Weekblad hierdie uitdagings met geesdrif en vaardigheid sal aanpak.

Lees ook

Vrye Weekblad herrys uit die dood

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top