Nederland kry ’n nuwe politieke party

  • 0

Die politieke landskap is in sowel Nederland as Suid-Afrika besig om te verander. Nuwe politieke partye maak in beide lande hul verskyning in die aanloop tot die twee lande se onderskeie komende algemene verkiesings.

Nederlanders gaan op 22 November na die stembus en Suid-Afrikaners volgende jaar.

In Nederland is die nuweling in die politieke skrum, die konserwatiewe politikus Pieter Omtzigt se Nuwe Maatskaplike Kontrak, beslis ’n party om dop te hou.

Omtzigt is een van die gewildste konserwatiewe politici in Nederland. Hy het sy besluit om ’n nuwe party te stig in ’n onderhoud met die Twentse koerant Tubantia aangekondig. “Ons het ’n rukkie voorberei,” het hy aan die koerant gesê. Hy het die party Saterdag gestig.

Reuters berig ’n meningspeiling wat die navorsingsmaatskappy I&O voor Omtzigt se aankondiging gedoen het, het voorspel dat hy tot soveel as 46 van die 150 setels in die land se parlement sou kon wen as hy ’n nuwe party sou stig en dit in die verkiesing sou lei. Dit is meer as enige van die gevestigde partye.

Die fokusareas van die nuwe party sal volgens Omzicht se webwerf berus op goeie bestuur en bestaansekerheid. Vir beide temas het die nuwe party reeds voorstelle gereed. Hy sê in die verkiesingsprogram sal daar ook konkrete oplossingsrigtings en voorstelle vir ander beleidsvelde genoem word. “Ons verwag dat die verkiesingsprogram begin September openbaar gemaak sal word,” sê hy op sy webwerf.

Hy gee toe daar is kwessies waaroor sy party nog geen standpunt het nie en sê dit is  ’n party in die proses van vestiging, daarom is daar nog heelwat onderwerpe waarvoor hulle nog nie ’n deeglike standpunt geformuleer het nie.

“Ons gaan ook nie haastig wees om dit vinnig te doen nie. Ons is ’n party wat weloorwoë standpunte inneem op grond van voldoende inligting. Ons vra dat u vertroue in ons het dat ons saam tot weloorwoë standpunte op daardie terreine sal kom.”

Omtzigt was ’n lid van die opposisie-Christen-Demokrate totdat hy die sentrum-regse party ná die 2021-verkiesing verlaat het. Dit het geblyk dat sy naam genoem was vir ’n “posisie elders” – vermoedelik by ’n Europese of internasionale instelling, en nie as deel van enige nuwe Nederlandse regering in Den Haag nie.

Omtzigt se besluit om nou ’n nuwe party in die veld te stoot, verander volgens NL#Times die huidige verkiesingsveldtog.

Hy sê egter die onlangse peiling dat hy byna 50 setels sou kon kry, is waarskynlik oordrewe. Hy het dit in die koerant “onrealisties en onverantwoordelik” genoem, hoewel hy streef na ’n “sterk nuwe party”. Dit behoort einde September duidelik te word hoe groot sy kandidatelys gaan wees.

“Om die grootste te word is nie die doelwit nie. Ons wil ons ideale verwesenlik, nie krag vir mag nie. Ek het gedetailleerde planne. Ek sal verheug wees as ander partye by ons planne kan aansluit sodat ons kan saamwerk,” het hy in Tubantia gesê. Hy voorsien nie koalisiesamewerking met die verregse PVV en FvD nie, het hy in die onderhoud gesê.

Omtzigt was lank ’n CDA-parlementslid, maar hy het die party twee jaar gelede ná ’n hewige konflik verlaat. Sedertdien is hy ’n eenmanfaksie in die Tweede Kamer. Die CDA het onlangs tevergeefs probeer om die bande te herstel, maar Omtzigt het gesê dat “die boek met die CDA gesluit is”.

Die 49-jarige Omtzigt het ’n reputasie as ’n hardnekkige parlementslid opgebou. Tydens die krisis binne die CDA was hy vir etlike maande met uitbranding tuis.

Kritiek op Omtzigt sluit die verwyt in dat hy altyd alles wil ondersoek en nie besluite neem nie.

Lees ook:

Drama in Nederlandse politiek en besoedelde grond

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top