Nederland se koning verwelkom betoging in Suid-Afrika oor slawerny

  • 0

Die Nederlandse koningspaar koning Willem-Alexander en koningin Máxima is verlede Vrydag op die laaste dag van hulle driedaagse amptelike staatsbesoek aan Suid-Afrika deur ’n groepie luidrugtige betogers ingewag wat protesteer het teen Nederland se aandeel aan die slawehandel aan die Kaap.

Die koninklike egpaar is in Kaapstad deur die provinsie se premier, Alan Winde, en die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, verwelkom.

Hill-Lewis het gesê dit was ’n eer om die premier te vergesel in sy ontmoeting met die koningspaar. “Nederland is ’n belangrike vennoot van Suid-Afrika, en ek is dankbaar vir die geleentheid om ons bande te versterk,” het Hill-Lewis gesê.

By die slawelosie in Adderleystraat het ’n groepie van sowat 100 afstammelinge van die inheemse Khoi- en San-bevolking ’n protesaksie gehou om hulle emosies te betoon oor die gebeure aan die Kaap tydens slawerny.

Die betoging het reg voor die slawelosie plaasgevind waar die slawe aan die Kaap aangehou is voordat hulle as slawe verkoop is. Die besoek aan die historiese slawelosie was deel van die koningspaar se besoek aan die Moederstad.

Tydens die besoek het hulle stilgestaan by die gedeelde verlede en na die uitstalling gekyk wat die geskiedenis van slawerny aan die Kaap treffend uitbeeld deur middel van poësie, musiek en danse.

Koning Willem-Alexander, wat reeds by vorige geleenthede verskoning gevra het vir die land se aandeel aan slawerny, was nie ontsteld oor die betoging nie en het dit eerder verwelkom.

“Dit is goed dat dit gebeur het,” het die koning aan die einde van hul staatsbesoek aan Suid-Afrika tydens ’n perskonferensie gesê. “Dit het ons wel verwag. Hierdie emosies is baie verstaanbaar.”

Hoewel die betoging ietwat van ’n opskudding veroorsaak het, het dit nie die koningspaar van stryk gebring terwyl hulle na hul motor onderweg was nie.

Die betogers het met plakkate soos “Respekteer ons” en “Ons eis vergoeding” voor die slawelosie betoog.

Die koning het groot begrip getoon vir hulle frustrasies. Hy het daarop gewys dat die Khoi en die San in hulle eie land deur Nederlanders verdryf is en sê dit is goed dat hierdie emosies na vore kom. Volgens hom kan dit help om verder te bou aan “genesing en versoening”.

Koningin Máxima het haar man se sentiment onderskryf. Sy sê sy het nie die indruk gekry dat die betoging spesifiek op die koningspaar gemik was nie. “Hulle wou hul emosies wys,” het sy gesê. “Nie net aan ons nie, maar aan die hele wêreld. Sonder om die verlede te vergeet, is ons hier ook om nuwe geleenthede in ons samewerking met u te verwelkom. Ons is baie bly om ’n staatsbesoek aan u pragtige land te bring. Baie dankie, Baie dankie, Ri a livhuwa, Siyabonga kakhulu,” het die koningspaar namens die koningshuis gesê

Die koninklike egpaar het ook besoek gebring aan die Apartheidsmuseum in Johannesburg

Aan die begin van hul staatsbesoek het president Cyril Ramaphosa in Pretoria in ’n verklaring erkenning gegee aan die verskoning wat koning Willem-Alexander gemaak het vir Nederland se rol in die slawehandel, insluitend in Suid-Afrika. Hy het gesê dit is ’n belangrike stap in die rigting van die bevordering van versoening, herstel en genesing van ou wonde.

Die koning het spesiale waardering uitgespreek vir die feit dat Ramaphosa erkenning gegee het aan die Nederlandse slawernyverskonings wat vroeër vanjaar gemaak is. Die koning het gesê dat dit hom ontroer het en dat hy “baie dankbaar” daarvoor is.

Nederland se minister van buitelande sake, Hanke Bruins Slot,  en die land se minister van verdediging, Kajsa Ollongren, wat die koninklike egpaar vergesel het, moes egter  hulle besoek kortknip weens die oorlog tussen Israel en Hamas. “As gevolg van die huidige situasie is daar besluit om die besoek in te kort,” het ’n woordvoerder van Bruins Slot aan De Telegraaf gesê.

Lees ook:

Nederlandse koning biedt excuses aan voor rol Oranjes in slavernijverleden

Nederlandse koning laat eigen slavernijverleden onderzoeken


Nog skakels:
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top