Nederland steeds in skok, Belgiese prinses toon staal

  • 0

Op die misdaadtoeneel (Foto: Milton Webber)

Nederland steeds in skok

Nederland is steeds geskok ná die gewelddadige aanval op die ondersoekende misdaadjoernalis Pieter R de Vries. De Vries is verlede Dinsdag kort ná sy verskyning op ’n joernaalprogram, RTL Boulevard, op straat naby die bekende Leidseplein verskeie keer geskiet, onder meer in sy kop. ’n 35-jarige Pool, Kamil E, en ’n 21-jarige Rotterdammer, Delano G, is kort ná die aanval aangekeer. Hulle bly nog minstens twee weke in aanhouding. Demissionêre minister-president Mark Rutte het die aanval as ’n aanslag op vryheid van die pers beskryf en die kabinet het sy medelye aan die familie betuig. Ook die koningshuis het geskok gereageer: “Hij en allen die hem dierbaar zijn, zijn in onze gedachten. Journalisten moeten onbedreigd en vrij hun belangrijke werk kunnen doen. Wij voelen ons verbonden met iedereen die zich inzet voor de vrije pers in onze rechtsstaat,” het die koningshuis aangekondig.

Van die plakkate verwys na De Vries se leuse: "Liever rechtop sterven dan op je knieën leven." (Foto: Milton Webber)

Rose op die Dam

Foto: Milton Webber

Op die Dam in Amsterdam het ’n groep burgers die afgelope Vrydag 4 000 rose neergelê ter ondersteuning van De Vries. Op ’n bord by die rose, soos in die foto gesien kan word, staan geskryf: Aanval op persvrijheid? Nee het is een aanval op zijn rol als vertrouwenspersoon in het Marengo-proces! Die Marengo-saak is ’n hofsaak teen 17 verdagtes, onder wie Ridouan Taghi, wat vermoedelik lede is van ’n sogenaamde mocro-maffia en verantwoordelik is vir ’n reeks moorde en pogings tot moord. Daar word in die media bespiegel dat De Vries se dieptekennis van die saak, en dat hy die vertroueling is van ’n kroongetuie in die saak, Nabil B, tot die aanslag op sy lewe gelei het.

Foto: Milton Webber

’n Spesiale kerkdiens en middagkonsert is Vrydag in die Westerkerk in Amsterdam gehou ter ondersteuning van De Vries en sy familie. Die misdaadtoneel waar De Vries geskiet is, was Vrydag nog vol blomme en persoonlike boodskappe. [sien foto]

Intussen is die program RTL Boulevard Saterdag en Sondag gekanselleer nadat die polisie boodskappe van misdadigers onderskep het. Volgens die dagblad NRC hou die dreigement verband met ’n aanslag deur ’n missiellanseerder of outomatiese vuurwapens. NOS berig dat kriminele ontevrede is oor spekulasie in die media oor die aanval op De Vries en die verband met hom en die kroongetuie in die Morengo-saak.

RTL Boulevard het intussen Maandag weer begin uitsaai, maar dié keer op ’n onbekende plek in Hilversum, naby Utrecht.

Volgens die jongste berigte lê De Vries steeds swaar gewond in die hospitaal en sy toestand is onveranderd.

Lees ook Izak de Vries se oorsig oor die aanval.

COVID-19-besmettings skiet die hoogte in

Die aantal besmettings met die koronavirus het die afgelope week die hoogte ingeskiet. Saterdag is altesaam 10 345 nuwe infeksies aangemeld – die meeste sedert 25 Desember verlede jaar. Die syfer kom ook van ’n laagtepunt op 27 Junie, toe slegs 502 besmettings aangemeld is. Die reusestyging volg kort nadat die kabinet die inperkingsmaatreëls op een slag kwaai versoepel het en die demissionêre minister van volksgesondheid, Hugo de Jonge, jongmense aangemoedig het om hulle met die Janssen-entstof te laat inent en die woorde “dansen met Janssen” gebruik het. Wat egter nie gesê is nie, is dat selfs met die Janssen-entstof, waarvan ’n mens slegs een toediening nodig het, ’n mens twee weke moet wag voordat die entstof optimaal werk. Talle jongmense het hulle egter laat inent en dieselfde dag nog kuierplekke besoek en so besmet geraak; van daar die ongekende skerp styging in infeksies. Die gebeure het Mark Rutte en Hugo de Jonge genoop om die afgelope Vrydag ’n verskerping in die bestrydingsmaatreëls aan te kondig. Ingevolge die verskerpte maatreëls moet alle kuierplekke om middernag sluit en nagklubs en dansplekke moet vir eers gesluit bly. Uitgaangeleenthede wat nie meer as 24 uur duur nie en waar anderhalwe meter afstand gehandhaaf kan word, mag nog voortgaan.

Die kabinet se hantering van die versoepeling en herinstelling van beperkende maatreëls het egter hewige kritiek ontlok en gemaak dat Rutte en De Jonge Maandag uiteindelik om verskoning vir hul hantering van die gebeure gevra het.

Intussen het die Belgiese minister van volksgesondheid, Frank Vandenbroucke, gesê sy land is nie van plan om die voorbeeld van Nederland te volg met die versoepeling en verskerping van inperkingsmaatreëls nie. “Ik heb absoluut geen zin om in het Nederlandse jojobeleid terecht te komen,” het hy in ’n onderhoud met VRT gesê. Die infeksiesyfer is ook besig om in België te styg, daarom sê Vandenbroucke hy is nie van plan om maatreëls te vinnig te versoepel nie.

Prinses Elisabeth verruil tydelik die koningshof vir die leër

Terwyl sommige van haar vriendinne al hul vakansie begin geniet het, moet die 19-jarige kroonprinses Elisabeth tot die einde van die maand ’n somerkamp van die Koninklike Militêre Skool bywoon. Die pers is Vrydag toegelaat om te sien hoe sy met ’n hindernisbaan klaarspeel.

“Ik heb me veel moeten aanpassen hier, maar ik heb er enorm veel van genoten,” sê die oudste dogter van koning Filip en koningin Mathilde van België. Prinses Elisabeth het verlede jaar met haar jaar lange militêre opleiding begin wat ’n jaar sal duur. “Ik heb fantastische mensen ontmoet, veel nieuwe ervaringen opgedaan,” sê sy.

Die prinses sal weer op 21 Julie voor joernaliste verskyn tydens België se nasionale feesdag, die res van koningsgesin sal ook daar wees. Vanjaar sal prinses Elisabeth natuurlik nie saam met haar familie op die verhoog van die Koninklike Paleis in Brussel kan sit soos altyd anders nie, want sy sal in die parade marsjeer.

Die prinses het verlede jaar in Mei haar opleiding aan die Atlantic-kollege in Wallis voltooi, waar die Nederlandse prinses Alexia ook binnekort gaan studeer. Prinses Elisabeth het besluit op ’n militêre afronding ter voltooiing van haar internasionale studie.  So volg sy in die voetspore van haar pa, koning Filip, asook van koning Albert en Boudewijn, wat almal die Koninklike Militêre Skool in Brussel bygewoon het.

Die kennis wat prinses Elisabeth in die leër opdoen, sal veral nuttig wees wanneer sy haar pa as staatshoof van België opvolg en outomaties opperbevelvoerder van die gewapende magte sal word.

Belgiese polisie ry nou met Volkswagen ID 3’s

Die webblad TopGear berig die polisiemag van België het €420 000 gekry om ’n nuwe vloot voertuie aan te skaf. Ander lande sou dalk op ’n ander voertuig besluit het. So sien ’n mens gereeld ’n Ford F-150-bakkie in die VSA, en in Dubai sal jy dalk ’n nuwe Ferrari in jou truspieëltjie sien as jy met die gereg te make kry. Maar in België het die polisie van Hasselt en Lummen besluit om nege volledig elektriese Volkswagen ID 3’s te koop.

In Suid-Afrika sal dit seker soos ’n grap lyk as polisie met elektriese motors rondry om misdadigers te probeer vastrek. Die motors is egter bedoel vir distrikspolisielede wat nie nodig het om ver of vinnig te ry nie. Die polisie sê die reikwydte van 420 km is perfek vir die doel waarvoor die motors aangewend word.

Maar waarom ’n elektriese Volkswagen ID 3? Die burgemeester en voorsitter van die polisiekollege, Steven Vandeput, sê die polisie het ’n plig om ’n voorbeeld te stel. “De aankoop van deze elektrische wagens is de eerste stap in de vergroening van het wagenpark van onze politiezone.” Batterylaaipunte sal by die betrokke polisiestasies opgerig word.

Lees ook:

Peter R de Vries geskiet: ’n Aanval op joernalistiek, ’n hoeksteen van die regstaat

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top