Die NG Kerk se leiers het tou opgegooi in hulle stryd om te verhoed dat gays in die kerk mag trou en dat gay predikante selibaat moet wees. Daar is besluit om “te berus” by die hofuitspraak waartydens die NG Kerk slae gekry het oor sy rondomtalie-gaybesluite.
Dit volg nadat die NG Kerk deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof gedwing is om te herbesin oor selfdegeslagverhoudings. Tydens die hofsaak het die NG Kerk in sy hofstukke aangevoer dit staan diegene vry om ’n eie kerk te stig of by ’n ander kerk aan te sluit as hulle nie genoeë neem met die kerk se 2016-sinodebesluit dat dit sonde is as gays met mekaar trou nie.
Dit was in teenstelling met ’n besluit wat ’n jaar vantevore in 2015 geneem is dat gays wel in die kerk mag trou en dat gay predikante nie selibaat hoef te wees nie.
’n Groep van 12 lidmate het hulle tot die hof gewend omdat 2016 se besluit nie volgens die kerk se eie kerkorde geneem is nie. Hulle het ook suksesvol aangevoer dit is in stryd met die land se Grondwet om op grond van seksuele oriëntasie teen mense te diskrimineer.
Die hof het die lidmate gelyk gegee en die kerk het die hofsaak met koste verloor. Dit is nie bekend hoeveel die kerk nou sal moet opdok nie, maar ingeligte bronne voer aan dit kan miljoene rand beloop. Daar word ook beweer dat die kerk se algemene sinode nie oor genoeg geld beskik om die regsproses verder uit te rek nie.
Na ’n gewik en weeg het die algemene sinodale moderamen (ASM) uiteindelik met ’n meerderheid van stemme besluit om nie appèl aan te teken teen die hof se uitspraak dat gay lidmate volwaardige lidmate van die kerk mag wees nie.
Enkele dae voordat die spertyd om appèl teen die hof se beslissing aan te teken sou verstryk het, het kerkleiers nog nie finaal besluit of hul by die 57-bladsy-uitspraak sal berus nie. “Die kerk [sou] die uitspraak saam met [sy] regspan bestudeer en dan besluit of daar redes is waarom [hulle] aansoek sal doen om te appelleer,” het Gustav Claassen, algemene sekretaris van die kerk, verlede Saterdag luidens ’n persverklaring gesê.
Die NG Kerk se amptelike koerant, Kerkbode, berig dat 48 lede van die kerk se moderamen deelgeneem het aan die elektroniese stemming, “wat aan al die vereistes vir ’n wettige stemming voldoen het”.
“’n Beduidende meerderheid” was glo ten gunste van ’n voorstel om by die uitspraak te berus, het Claassen aan Kerkbode gesê. Hy het nie aangedui hoeveel mense teen die besluit gestem het nie.
Die besluit om by die hofuitspraak te berus sal ongetwyfeld nuwe spanning in die NG Kerk tot gevolg hê. Diegene wat teen 2015 se besluit gekant was, sal waarskynlik nie gaan lê nie. Die kerk hou later vanjaar weer ’n algemene sinode en die vraag op almal se lippe is of daar weer pogings gaan wees om die 2015-besluit ongedaan te probeer maak.
Die moderator van die kerk, Nelis Janse van Rensburg, het kort na die hofuitspraak toegegee dat die saak die potensiaal het om die kerk te ontwrig. “Daar is geen twyfel daaroor nie,” het hy volgens Kerkbode gesê.
Dit sal baie moeilik wees vir die NG Kerk om die gay-besluit weer om te keer. Indien dit sou gebeur, sal dit waarskynlik weer tot ’n hofsaak lei, wat die kerk kwalik kan bekostig. Howe is nie geneig om in te stem dat regte wat reeds toegeken is, later weer van iemand ontneem word nie. Dit kan die kerk in ’n nóg groter verleentheid dompel en duur te staan kom as hulle aan 2015 se besluit probeer torring om die regte wat nou aan gays toegeken word, weer nietig verklaar te probeer kry.
Lees ook
Buro: MvH