Nuwe storm in NG Kerk oor homoseksualiteit

  • 0

’n Nuwe storm broei in die NG Kerk oor homoseksualiteit. Dit volg nadat die kerk se moderator, ds Nelis Janse van Rensburg, in die openbaar standpunt ingeneem het teen sy kerk se jongste sinodebesluit in 2016 dat homoseksuele verhoudings sonde is.

Janse van Rensburg, wat die kerk se omstrede besluit tot dusver sterk verdedig het, sê nou gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie. In ’n artikel in die NG Kerk se koerant Kerkbode, sê Janse van Rensburg hy is oortuig seksuele oriëntasie is ’n goeie gawe uit God se hand “wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester”.

Sy uitlating het wye reaksie in kerkkringe uitgelok. Dit is reëlreg in stryd met sy kerk se amptelike sinodebesluit waaroor daar tans ’n hangende hofuitspraak is. Die hofsaak het gevolg nadat die NG Kerk die vorige jaar se besluit dat gays mag trou op omstrede wyse omgekeer het.

Ds Nelis Janse van Rensburg tydens 'n gesprek by die US Woordfees 2018.
Foto: Naomi Bruwer

’n Voormalige Oos-Kaapse moderator, Chris van Wyk, beskuldig Janse van Rensburg daarvan dat sy standpunt afwyk van die Bybel en die kerk se belydenisskrifte. Hy sê Janse van Rensburg se standpunt bring die Skrif en die belydenisskrifte in gedrang. Van Wyk het die kerk se moderator uitgedaag en sê die onus rus op hom om die kerk uit die Skrif en die belydenisse anders te oortuig.

“Ek hoor nie dat jy dit begrond in die Skrif en die belydenisskrifte nie. Jy begrond dit in jou eie aanname oor God en wat sy wil vir seksualiteit is,” het Van Wyk op Kerkbode se Facebook-blad geskryf.

Volgens Van Wyk is seksuele oriëntasie, anders as wat Janse van Rensburg beweer, nie iets waarmee mens gebore word nie. Hy beweer dit is iets wat ontwikkel aan die hand van jou ervaring van aangetrokkenheid tot ander mense en is nie deel van God se openbaring aan die mens nie.

Van Wyk beroep hom op “wetenskaplike” artikels wat hy gelees het en trek ’n verband tussen homoseksualiteit en pedofilie. “Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as ’n seksuele oriëntasie beskryf deur sielkundiges. ’n Mens sou pedofilie dan ook as ’n goeie gawe van God moet beskryf. Iets wat moeilik in ’n geloofsgemeenskap gedoen kan word.”

Van Wyk se vergelyking tussen homoseksualiteit en pedofilie is met verontwaardiging deur sommiges op Facebook begroet. “Pedofilie is ’n psigopatologie met ’n slagoffer, en daarom ’n misdaad. Hoekom dit enigsins in die NGK-saak bygetrek word, is bloot sotlik,” het een van die deelnemers aan die gesprek van hom laat hoor.

Janse van Rensburg het die NG Kerk se jongste sinodebesluit twee weke gelede nog heftig verdedig in die media. In ’n onderhoud wat die joernalis Izak du Plessis op RSG met hom gevoer het, het Janse van Rensburg gesê: “Dit gaan nie hier oor mense se persoonlike reg nie. Dit gaan hier oor die kerk se standpunt oor seksuele verhoudings. En die kerk is huidig op die punt waar ons sê ons is nie op ’n plek waar ons selfdegeslagverbintenisse wil kondoneer of in die kerk wil bevestig nie.”

In die artikel wat die afgelope week in Kerkbode verskyn het, sê hy egter sy eie denke oor selfdegeslagverbintenisse lê in ’n ander stroom as wat uitdrukking gevind het in die NG Kerk se 2016-besluit.

Hy sê vir homoseksuele mense om te floreer, moet hulle seksualiteit syns insiens gelykwaardig aan heteroseksualiteit beskou word. “Dieselfde standaarde en waardes met betrekking tot leer en lewe moet vir alle persone geld, ongeag hulle seksuele oriëntasie.”

Lees ook

NG Kerk se “billike diskriminasie” lok wye reaksie

US Woordfees 2018: “NG Kerk het zero moraliteit”

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top