Die oggend ná die verkiesing – 30 jaar, een maand en drie dae sedert die aanbreek van die demokrasie in Suid-Afrika – het die weer verander. Stemdag was ’n aangename dag, wel koud vroegmôre toe ek my stem uitgebring het, eerste in die ry by die Vlei View-saaltjie; koel teen ontbyttyd, maar warm tot baie warm soos wat die horlosie deur die dag getik en die stemtoue gegroei het.
Nou was dit die volgende môre en dit was reënerig hier waar ek woon, waar ek opgegroei het en skool voltooi het (en waar ek in 1994 as ’n verkiesingsbeampte opgetree het), maar nie só reënerig dat dit jou gemoed noodwendig nadelig sou beïnvloed nie. Die opgewondenheid van jou deelname die vorige dag aan wat ongetwyfeld van groot historiese waarde sou wees, sou jou vir nog ’n dag, week of maand kon dra (selfs al was dit net omdat dit drie dekades was vandat die eerste nierassige en demokratiese verkiesings in die land gehou is, ’n geleentheid waar die meerderheid vir die eerste keer kon stem en ook ’n geleentheid wat behoorlik deur die meerderheid uitgeleef is).
In die lug bo die buurt waar ek destyds, en ook hierdie keer, my kruisie getrek het, het die natuur nou – hoe mooi! – ’n dubbele reënboog teen ’n grys agtergrond geverf. Dit was simbolies kragtig: Die konsep van Suid-Afrika as ’n reënboognasie is met goeie bedoelings geskep deur die ontslape aartsbiskop Desmond Tutu, wat die reënboog as simbolies beskou het van die samevoeging van die land se verskeidenheid bevolkings- of kultuurgroepe, ’n verskeidenheid wat in die aanhef van die Grondwet besing word as grondslag vir nasiebou en versoening.
Die verskyning nou van twee reënboë moes ook van metaforiese waarde wees. Wat dit was, was my nie beskore om met presiesheid te kon bedink nie. Dit sou, spekulatief of by nadenke, kon beteken dat ’n dubbele seëning oor die land rus – of op die land wag. Wat sou dit kon wees? Moontlik, as ’n vertrekpunt, dat die verkiesing ook hierdie keer, soos in 1994 en elke ander keer daarna, op ’n vrye en vreedsame wyse plaasgevind het. Dit is nogal iets wat raar is op die vasteland van Afrika.
Maar toe die uitslae op die Verkiesingskommissie se groot elektroniese skerm in die nasionale uitslaesentrum begin verskyn – spesifiek teen Vrydag, toe die prentjie oor ’n finale uitkoms duideliker vorm sou aanneem – sou die beeld van die twee reënboë ook ’n ander soort seëning kon aandui, naamlik die vooruitsig van die einde van eenpartyregering in die land.
Die ANC het vanaf 1994 die kitaar geslaan, al was die regering aanvanklik een van nasionale eenheid, en selfs al is lede van ander, kleiner partye (IVP, Good, VF Plus) ook van tyd tot tyd in die kabinet opgeneem. Nou dui die nuutste verkiesing se uitslae dat die partytjie vir dié party verby kan wees: ’n Behoorlike insinking in die ANC se verkiesingsteun (tot by 40%) is grotendeels meegebring deur die onlangse en verrassende opkoms van die MK-party, afgelei van die naam van die einste ANC se ontbinde militêre vleuel, uMkhonto we Sizwe.
Die naam alleen sou egter nie soveel aftrek getrek het as wat dit tans geniet nie as dit nie was vir die leidende persoonlikheid in die party nie. Hofsake en klagtes by die Verkiesingskommissie het wel baie tyd in beslag geneem gedurende die verkiesingsveldtog, wat uiteindelik alles in die guns gewerk het van die man om wie die spil gedraai het: Jacob Zuma, wie se presidensiële termyn kortgeknip is weens sy verbintenis met die korrupte aktiwiteite van wat staatskaping genoem word. Zuma het ook tronkstraf uitgedien nadat die Konstitusionele Hof hom aan minagting van die hof skuldig bevind het omdat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te verskyn. Die MK-ontploffing – in die besonder in die Zoeloe-tuisprovinsie KwaZulu-Natal – sou die grootste verrassing wees – met die skryf van hierdie artikel het dit op 45% gestaan teenoor die ANC se nagenoeg 17% en die IVP se nagenoeg 16%.
’n Ander verrassing was die prestasie van die Patriotic Alliance (PA), gelei deur die oudgevangene Gayton McKenzie, wat ná sy tronklewe ’n skatryk sakeman geword het in die mynbedryf en deels te danke aan die ANC se swartbemagtigingsbeleid. Maar as politieke leier spits McKenzie hom hoofsaaklik toe op die bruin, arm werkersklas en om dié kiesers te laat glo dat hulle meer verdien as wat hulle tot nou moes verduur: “Onse mense gaan parlement toe! Onse mense gaan wetgewers toe!” basuin hy dit Vrydag op sosiale media uit.
“Onse mense” is die meerderheid kiesers in die Wes-Kaap, maar maak ook beduidende getalle uit in gebiede soos Eldoradopark in Johannesburg en die noordelike voorstede van die Baai (Port Elizabeth, of nou Gqeberha). “Onse mense,” het McKenzie hulle oorreed in die soort verkiesingstaal wat maak dat ontleders sy politiek as “etnies gedrewe” bestempel, “hoef nie meer bakhand voor die witman te staan nie.”
Hierin is daar ’n aansluitingspunt met MK se veldtog – ook dié party word daarvan beskuldig dat hulle ’n “stamverbonde” politiek bedryf. Nie heeltemal die rasgelaaide taal van McKenzie nie, maar nader aan wat in Engels tribalism genoem word. Trots op jou groep (kultureel, etnies), maar nie gemik teen ander nie. Dit is wat die aanname oor MK eweneens ’n ingeligte een maak, hoofsaaklik geskoei op Zuma se onapologetiese uitsprake oor sy trotse Zoeloe-identiteit en wat die afgelope verkiesing betref, spesifiek ook oor die prominensie wat MK aan tradisionele leierskap wil gee. Dit hou bepaalde uitdagings vir ’n moderne demokrasie in wanneer ’n party met hierdie soort ingesteldheid, ideologie of beleid loshande die meeste stemme in een provinsie en ook nasionaal beduidende steun kry.
Wat nou op Suid-Afrika wag, enkele dae nadat die telling van stemme voltrek is, is ’n ongekende nuwe politieke landskap. Ongekend én onseker. En ook, terselfdertyd, opwindend – net soos in 1994, toe die hitte van die sonskyn van ’n nuwe tydvak deur die koue bewolktheid van die neerdrukkende verlede geskyn het. Dit was goed om deel van stemdag te kon wees, hierdie keer ook as ’n verkiesingswaarnemer – en die hoop is groot dat die hoop ook hierdie keer nie sal beskaam nie.
Lees ook:
Nasionale dialoog and aksieplan nodig om verval van ons demokrasie te stuit!