Nuwe weergawe van Amanda Strydom se lied "A child in a faraway land" vier Madiba se nalatenskap

  • 0

Amanda Strydom en Nelson Mandela (Foto: Johann van Tonder)

’n Spesiale weergawe van Amanda Strydom se ikoniese lied “A child in a faraway land” is onlangs bekendgestel, met verskeie ander kunstenaars wat in dié weergawe te sien is. Amanda vertel dat sy die lied in 1994 geskryf het, die jaar toe Nelson Mandela as president ingesweer is, en met hierdie nuwe weergawe wil die kunstenaars opnuut die nalatenskap van Madiba vier.

Thandeka Dladla en Lumanyano “Unity” Mzi van The Unity Band en Frazer Barry sing saam met Strydom in die liedjie.

Dié video bied ’n voorsmakie van waarna uitgesien kan word wanneer die kunstenaars in die video, sowel as ander kunstenaars, volgende jaar deel sal wees van ’n produksie by die Suidoosterfees in Kaapstad. Die produksie word deur die CTMA (Cape Town Music Academy) vervaardig.

Amanda Strydom vertel meer.

Vertel asseblief meer oor die lied? Die agtergrond daarvan, en die betekenis daarvan vir jou?

Ek het die lied in 1994 geskryf vir my musiekteaterproduksie The incredible journey of Tinkerbell van Tonder. Dit was ’n verhaal van ’n bruin kind wat wees grootword in ’n kinderhuis, haar aanneming deur Mama Souf , ’n sjebeenqueen, en haar grootwordjare in ’n kleurvolle township waar drag queens haar onder hul vlerk neem en lief maak vir musiek.

Wanneer die stootskrapers kom om alles plat te slaan, vlug sy na Nederland, waar sy vir jare in asiel woon met oom Bheki, ’n neef van Mamma Souf. “A child in a faraway land” pas hier in die verhaal. Wanneer Nelson Mandela vrygelaat word, keer sy terug na Suid-Afrika en word sy herenig met Mamma Souf en al die mense wat sy liefhet.

Die storie van die verlange na jou vaderland, die eensaamheid van ballingskap en die vreugde van tuiskoms herinner my ook aan die ongelooflike reis van ons grootste leier, Nelson Mandela.

Amanda Strydom en Nelson Mandela in 2001 (Foto: Johann van Tonder)

Vertel asseblief meer oor die video en die idee van die projek – wat behels dit?

Vicky Davis en Schalk Joubert van CTMA (Cape Town Music Academy) het my gevra of ons my lied vir die Mandeladagvieringe kan gebruik. In samewerking met Die Burger, die Jakes Gerwel-stigting en Kunstekaap wou hulle ’n video maak van my lied met my en ander kunstenaars wat verskeie musiekstyle insluit. Ek was baie opgewonde en het onmiddellik ingestem.

Amanda Strydom (Foto: verskaf)

Van waar die inspirasie?

Die lied is ’n gebed wat smeek vir vrede en vreugde in ’n onseker tyd. Dit is vandag dieselfde universele hulpkreet wat dit was toe Madiba vrygelaat is en mense (veral die blanke bevolking) gevrees het dat dit ’n gewelddadige oorgang sou wees. Madiba het, met sy boodskap van versoening en vergifnis, al die vrese besweer.

In die huidige situasie, terwyl die planeet deur ’n verskriklike pandemie geteister word, is die lied weer eens ’n gebed vir vrede, vir beskerming en rustigheid in die chaos wat tans vrees en onsekerheid bring.

Frazer Barry (Foto: verskaf)

Watter kunstenaars is almal betrokke?

Frazer Barry het ’n gedig geskryf wat hy rap tydens die lied; Thandeka Dladla en Lumanyano “Unity” Mzi sing saam met my. Hulle is absoluut briljant.

Lumanyano “Unity” Mzi (Foto: Sithembele JNR)

Die lied vorm deel van ’n produksie wat volgende jaar by die Suidoosterfees gaan wys?

Die lied sal deel wees van ’n produksie van Schalk Joubert en sy vrou, Vicky Davis, in samewerking met die Jakes Gerwel-stigting en Kunstekaap vir volgende jaar se Suidoosterfees. Dis in die pyplyn, so kom ons hoop teaters en feeste leef dan weer.

Wat beteken Nelson Mandela se nalatenskap vir jou? Wat het jy by hom geleer?

Dat elke mens tel. Dat teerheid, vergifnis en respek sterker is as geweld.

Thandeka Dladla (Foto: verskaf)

Wat maak jou trots Suid-Afrikaans?

Ons wil om te oorleef en te bly hoop in ’n land geteister deur korrupsie, armoede en blinde haat. Dat daar wél mense bestaan wat omgee vir hul naaste en doen wat hulle kan om liefde en lig uit te straal.

Wat is jou hoop vir Suid-Afrika?

’n Ferm, sterk, regverdige leier en ’n regering wat menseregte hoër ag as mag en rykdom.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top