Omstrede Bird-eiland-boek maak steeds opslae

  • 0

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Die uitgewers van die omstrede boek Die seuns van Bird Island het ’n tweede keer verskoning gevra vir die emosionele skade wat die boek aangerig het aan die reputasie van drie oud-NP-ministers en hulle families.

Diegene wat daardeur geraak word, sê egter die uitgewer se jongste verskoning is betekenisloos en niksseggend.

NB Uitgewers, wat verantwoordelik was vir die boek se publikasie, het vroeër reeds onvoorwaardelik verskoning gevra aan oudminister Barend du Plessis omdat hy by implikasie in die boek betrek is by beweerde pedofilie en kindermolestering sonder dat daar enige bewyse vir die bewerings bestaan het.

Die onvoorwaardelike verskoning het slegs oor Du Plessis gegaan. Daar is geen verskoning aangebied teenoor die ander twee ministers wat by die naam betrek is nie, naamlik Magnus Malan en John Wiley. In daardie verskoning (op 3 Maart 2020) het die uitgewer dit duidelik gestel hulle volstaan by die inhoud van die boek en dat enigiemand wat die boek sou diskrediteer in die gepaste forum aangevat sal word.

Die prokureur wat Du Plessis sowel as die families van Malan en Wiley verteenwoordig, Johan Victor, het vroeër gesê die boek is die ergste vorm van karaktermoord in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf.

In ’n nuwe wending het die uitgewer nou in ’n kort verklaring op sy webwerf ook aan die families van die ander twee ministers gesê NB-Uitgewers “betreur en vra opreg verskoning vir die emosionele skade wat die publikasie van die boek vir die Malan- en Wiley-familie kon veroorsaak het”. NB-Uitgewers sê in hulle jongste verklaring nadat ’n aantal faktore opgeweeg is, het hulle besluit om The lost boys of Bird Island en die vertaalde weergawe daarvan, Die seuns van Bird Island, aan sirkulasie te onttrek. “Dit geld sowel die gedrukte as digitale formaat, en die boek sal ook nie herdruk word nie.”

Victor sê egter, en het dit ook aan Voertaal bevestig, dat sy kliënte geensins tevrede met die jongste verskoning is nie en op meer aandring. Onder andere word gevra wat die “ander faktore” is wat tot die ommeswaai gelei het.

Victor sê hy hoop steeds op ’n ander benadering waarin sowel die uitgewer as sy kliënte nie te veel aansien verloor nie, maar ongelukkig lyk dit asof die uitgewer gehoop het alles sal eenvoudig oorwaai. Victor sê sy kliënte is nie onredelik nie en het reeds oor ’n periode van maande verskeie voorstelle aan die uitgewer gemaak hoe om die saak te besleg. Tot dusver is daar volgens hom egter op geen van die voorstelle gereageer nie.

Victor het op 3 Maart 2020, na aanleiding van NB-Uitgewers se eerste verskoning, verskeie dokumente, e-posse en bewyse van ’n forensiese ondersoek rakende die boek aan die media beskikbaar gestel.

’n Skikkingsbedrag van R150 000 aan Du Plessis en ’n aanbod om R2,3 miljoen aan ’n liefdadigheidsorganisasie van Du Plessis se keuse te skenk is volgens Victor se kliënte onvoldoende. Hy sê die R150 000-skikking is ’n belediging en sy kliënt bevraagteken ook hoe daar by die R2,3 miljoen uitgekom is wat volgens die uitgewer se prokureursbrief die opbrengs van die boekverkope is. Daar word gemeen die 62 000 verkoopte kopieë van die boek kon nie ’n opbrengs van slegs R2,3 miljoen gelewer het nie. Victor het op 11 Maart 2020, in ’n omvattende ope brief aan die voorsitters van Naspers en Media24, ’n versoek vir ’n volledige ondersoek gerig.

Die filosoof Willie Esterhuyse en Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch, het intussen ook tot die debat toegetree. In ’n ope brief aan die direksie van Media24 (soos in Rapport van 13 April 2020 gepubliseer) rig hulle verskeie vrae aan die direksie en versoek ’n behoorlike en volledige ondersoek wat aan King IV- en ander maatskappyregtelike bestuursprosesse voldoen.

Hulle sê anders as Rapport se verskoning oor die koerant se aanvanklike beriggewing oor die boek, is die verskoning van NB-Uitgewers volgens hulle en vele ander se opinie ontoereikend.

Hulle wil ook by Media24 weet hoeveel kopieë van die boek in totaal verkoop is en wat die bruto en netto wins was wat uit die verkope gemaak is.

Jones en Esterhuyse sê in hulle brief hierdie boek verteenwoordig ’n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf. Hulle meen dit het die reputasie en integriteit van die uitgewer erg geskaad.

Lees die volledige persverklaring op LitNet

Persverklaring: The Lost Boys of Bird Island | Die seuns van Bird Island onttrek en sal nie herdruk word nie

Lees ook 

Boek oor Bird Island was "karaktermoord" en "web van leuens"

Talle vrae oor omstrede Birds Island

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top