Oor Suid-Afrika se ondersoek na “staatskaping” en sakelui wat met politici se koppe smokkel

  • 0

Regter Raymond Zondo
Foto: YouTube

Die verskynsel van sakelui wat regstreeks of onregstreeks beheer oor politici uitoefen, is nie vreemd in die wêreld nie.

Dit kom in verskeie gedaantes voor, hetsy die sogenaamde Joodse invloed in ’n land soos Amerika, of stemmingmakery deur internasionale oliebaronne van Arabiese of Russiese afkoms, of sakelui uit voormalige koloniale heerskappy wat in voormalige kolonies met wapens of minerale en die koppe van plaaslike politieke leiers smokkel.

In die algemeen word dit saamgegroepeer onder die versamelnaam “korrupsie”. Ook in Suid-Afrika is korrupsie ’n euwel wat ver in die land se geskiedenis terugstrek; dalk het dit begin met die eerste kontak in 1652 tussen amptenare van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en Khoi- en San-leiers aan die Kaap.

Ongetwyfeld was dit egter ’n werklikheid gedurende die apartheidsjare, net soos wat dit in die ná-apartheidsjare die geval is. Nelson Mandela, die land se eerste demokraties-verkose president, het dit daarom by geleentheid betreur dat voormalige vryheidsvegters “net so korrup geraak het soos die apartheidsregeerders”.

Wat egter in Suid-Afrika oor die afgelope dekade onder Jacob Gedleyihlekisa Zuma se bewind plaasgevind het – slegs maar die derde staatshoof in die land se demokratiese era as jy nie Kgalema Motlanthe se sewe maande lange presidentskap tussen Thabo Mbeki en Zuma in ag neem nie – was ’n spel van ’n ander aard.

Dit het nie net invloed op die bekende wyse (geen bedoeling hier om dit goed te praat of te regverdig nie) tussen sakelui en politici beteken nie.

Uit bewerings wat deur kabinetslede, senior staatsamptenare en ander gemaak word, het die Gupta-broers, boorlinge van Indië, hul finansiële tentakels só diep in Zuma se besluitingnemingsprosesse gehad dat hulle kon bepaal wie in  direksies van staatsondernemings dien, as uitvoerende hoofde aangestel word en – erger nog – kabinetsposte kry.

Die woord staatskaping is sodoende tot Suid-Afrikaners se samelewingswoordeskat bygevoeg; met ander woorde: die stáát is gekaap, willens en wetens, terwyl die voormalige staatshoof gewoon giggel (die opposisie en sy kritici koggel) wanneer hy hieroor gekonfronteer word.

Ook wou hy heeltyd kamstig self hê dat die staatskapingaantygings getoets moet word – teen onder andere homself, sy seun Duduzane, vroue wat na bewering sy minnaresse is, die Gupta-broers en sogenaamde “tenderpreneurs” – nóg ’n Suid-Afrikaanse eiesoortigheid van gemaakte entrepreneurs wat hul inkomste uit staatstenders verdien in ruil vir vergoeding aan die politici en amptenare wat dit vir hulle moontlik maak.

Maar ná ’n voeteslepery tot in ewigheid het dit hofaansoeke gekos deur die land se opposisiepartye en burgerlike organisasies en (toegegee) druk vanuit die ANC self, nou onder die leierskap van Cyril Ramaphosa, om Zuma so ver te kry om ’n geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping in te stel. Dít, bygesê, nadat Zuma ook weer eers vasgeskop het teen die hof se bevel dat dit nie hy nie, maar hoofregter Mogoeng Mogoeng moes wees wat die voorsitter van die kommissie aanstel.

Mogoeng se keuse was sy adjunk, regter Raymond Zondo, wat goed ontvang is deur die opposisie, politieke waarnemers, ekonome en ander rolspelers. Nou moes daar egter eers aandag gegee word aan aanstellings en administratiewe en logistieke kwessies voordat die kommissie einde ten laaste verlede week sy werksaamhede kon begin.

Die eerste getuies het ingesluit die voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, wat beweer het dat die Guptas hom die pos van minister van finansies aangebied het – en ’n allemintige R600 miljoen! In sy getuienis, hierdie bykomende onthulling: hy is gedreig dat as hy sou uitpraat oor die vergadering, dit glo die einde van sy lewe kon beteken.

Ná Jonas was dit die beurt van die fluitjieblaser Vytjie Mentor, ’n voormalige ANC-parlementslid en oudvoorsitter van die parlementêre komitee oor openbare ondernemings. Hierdie komitee het oorsig oor onder meer die staatsbeheerde elektrisiteitsverskaffer Eskom en vervoeronderneming Transnet, wat betaal het vir Mentor se reis na China, waar haar pad met die Guptas gekruis het.

Dit was op hierdie (twyfelagtige) reis waar ’n Gupta-broer haar glo sou gesê het dat Zuma haar wou spreek; sy het geweier omdat sy, so het sy getuig, vir haar lewe gevrees het en ook omdat sy bewus was van Zuma se reputasie met vroue. Haar eie ervaring van die (toe nog) President was dat toe sy hom op ’n keer in sy parlementêre kantoor by Tuynhuis in Kaapstad gaan ontmoet het, hy glo, só skryf sy in haar boek, No holy cows, sy hand tussen haar bene wou indruk.

En dan was daar ’n keer toe sy ook genooi is om die president te ontmoet en tot haar verbasing oplet die motorbestuurder neem haar na ’n onbekende bestemming wat, weet sy nou, die Gupta-woning was. Hier is sy glo die pos van minister van openbare ondernemings aangebied; die één voorwaarde was dat sy die Suid-Afrikaanse Lugdiens se Indië-roete moes kanselleer sodat die roete op dié wyse op die Gupta-sakeryk se aanloopbaan kon beland.

Maar sy het nie hieraan gebyt nie, vertel Vytjie Mentor aan die kommissie van ondersoek.

In die geval van die volgende getuie, Themba Maseko, is Zuma regstreeks betrek: Die President sou Maseko, wat hoof van die regering se kommunikasiediens (GCIS) was, glo sélf gebel en aangepor het om die Guptas “te help”. Wat dié hulp sou beteken, het Maseko uitgevind toe hy met die Guptas vergader, was dat hy die regering se advertensiebesteding net so na hulle koerant (The New Age) en TV-nuuskanaal (ANN7) moes kanaliseer.

(Sowel die koerant as TV-kanaal is sowat ’n jaar gelede aan ’n Zuma- en Gupta-lojalis, Mzwanele Manyi, verkoop; en ná Zuma gemaak is om as staatshoof te bedank, het dié mediaplatforms – “weens ’n tekort aan advertensie-inkomste” – in duie gestort.)

Of dit toevallig was of doelbewus so beplan was, sal seker net Zuma kan sê, maar nadat Jonas glo die pos van finansiesminister aangebied is, is die destydse minister (Nhlanhla Nene) wél vervang, net soos wat Barbara Hogan vervang is nadat háár pos glo aan Mentor aangebied is. Ook Maseka is in die pad gesteek kort nadat hy nie bereid was om aan Zuma se versoek (of opdrag?) oor hulp aan die Guptas gehoor te gee nie.

Zuma en sy regspan het vroeg reeds aangedui dat hulle die getuienis wat aan die kommissie voorgehou word, sal wil toets, deur kruisondervraging. Hierin is ’n dilemma vir die Zuma-kamp opgesluit: enigeen wat ’n getuie wil kruisondervra, het die kommissie aangedui, sal ook self bereid moet wees om te getuig.

Ta-da!

Die groot vraag is dan of die man wat glo sy mag as staatshoof, en as’t ware die land én regering, aan drie broers van ’n ander land vir die Bybelse dertig silwerstukke sou verkoop het, bereid sou wees om te getuig. Gegee dat hy nog elke keer met sy hofverskynings vir bedrogklagte rede gesoek het om dit te vertraag en uitgestel (of van die rol geskrap) te kry, twyfel ek of hy wel voor die kommissie sal verskyn. Dit sou in elk geval net van simboliese waarde wees.

Die groter belangrikheid van die kommissie se werk – en die vernaamste versugting van die Suid-Afrikaanse samelewing – is dat behoorlike ondersoek deur die wetstoepassingsagentskappe ingestel sal word na die bewerings wat voor die kommissie gemaak word.

Oortreders moet dan behoorlik gestraf word.

En sodoende sal dié ongelooflik donker hoofstuk in die land se geskiedenis, ’n onding wat “staatskaping” gedoop is, hopelik afgesluit word – en nooit herhaal word nie.

Lees ook

Staatskapers moet verduidelik

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top