Oud-LP sê boer het hom as kind gemolesteer

  • 0

’n Voormalige parlementslid beweer hy is jare gelede as kind deur ’n boer van Worcester gemolesteer. Verskeie ander slagoffers is na bewering deur dieselfde man gemolesteer.

Rapport het Sondag berig dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die beweerde molesteerder wil vervolg nie. Sy gesondheid laat dit glo nie toe om na die Oos-Kaap te reis waar die beweerde voorval plaasgevind het nie. Daar is glo ook nie genoeg getuienis nie, omdat daar nie ander klaers was wat verklarings afgelê het nie.

Die oudpolitikus Pierre-Jeanne Gerber sê intussen het ses ander slagoffers na vore gekom nadat Rapport daaroor berig het. Gerber sê hy is op soek na nog slagoffers om na vore te kom.

Foto: Pixabay.com

Gerber, wie se pa ’n NGK-predikant was toe die beweerde molestering in 1974 in die pastorie plaasgevind het, wil hê die betrokke man moet vervolg word. Hy het sy frustrasie uitgespreek omdat daar nie teen die beweerde molesteerder opgetree word nie. Die man se naam, adres en ID-nommer is die naweek deur Gerber op sy Facebook-blad bekend gemaak.

Dit herinner aan ’n soortgelyke geval verlede jaar toe Deon Wiggett ook die naam van sy beweerde molesteerder in die openbaar bekend gemaak het voordat hy aangekla is of in die hof verskyn het. Die man wat Wiggett en verskeie ander seuns na bewering gemolesteer het, Willem Breytenbach, is intussen aangekla en verskyn weer volgende Dinsdag in die hof.

Net soos wat Wiggett sy hele verhaal verlede jaar in potsendings beskryf het, het Gerber  sy verhaal op sy Facebook-blad gedeel.

Hy sê dit het in 1974 gebeur toe sy pa die NG Gemeente se predikant op Indwe in die Oos-Kaap was. Die man wat hy van seksuele molestering beskuldig, het glo saam met Gerber se tante en haar dogter in die pastorie oornag.

Omdat daar nie genoeg slaapplek was nie, moes Gerber, wat toe 12 jaar oud was, ’n bed met die boer deel.

“My vader, wat nooit kwaad in iemand gesien het nie, het die voorstel gemaak dat ek en hy sommer die enkelbed deel. Goddank my vader het nie gesê dat my boetie, Mandrich, toe 6 jaar oud, die bed met die man moes deel nie.”

Gerber sê dit was die langste nag in sy lewe. “Ek moes teen die muurkant van die bed slaap en hy aan die voorkant. Hy het dit seker doelbewus so beplan, soos ’n lam ter slagting, soos wat pedofiele maar doen. Die kerk oorkant die pastorie se kerkhorlosie het elke kwartier ten minste vier keer geslaan en boonop elke uur die tyd geghong. Ek kon nie vlug nie want dit sou die hele huishouding omdop en ek het gevries en als probeer uitblok.

“Ek het die volgende oggend vroeg, toe ek dink dit sou die minste aandag trek, uitgeseil aan die onderkant van die bed en desperaat lank gaan stort in die badkamer met die donkerbruinoranje teëls.”

Gerber sê sy lewe was nooit weer dieselfde nie. “Ek het dit so vêr weggesteek en dit eers jare daarna vir enkele mense begin vertel.”

Gerber het intussen ook ’n klag ingedien by die NG Gemeente in Worcester waarvan die boer ’n lidmaat is.

Die kerk se ondersoekliggaam het die man glo by sy huis gaan besoek. Na verneem word, verlang die man ’n versoeningsgesprek met Gerber. Gerber sê egter hy het geen begeerte om die persoon weer te sien of sy stem te hoor nie.

“Hy is welkom as hy ’n verklaring wil opstel en uitreik waarin hy vergifnis vra vir al die jong seuns (dalk dogters ook?) se lewens wat hy vermink het.”

Gerber sê nadat hy die vakansie die boek My naam is Prins … ek slaap met die lig aan van Christine Barkhuizen-Le Roux gelees het, hy finaal besef het as hy stilbly hieroor, doen hy al die ander slagoffers daar buite ’n groot onreg aan.

Barkhuizen-Le Roux sê wat Gerber doen, is baie belangrik. “Ek en my sussie is destyds deur my oupa gemolesteer – ek dink ek het dit verwerk, maar die skryf van Prins was my poging daartoe om ander wat in stilte moes ly, te probeer help. En dis my grootste wens vir die boek.”

Lees ook 

Oud-onderwyser skoonveld ná bewerings van kindermolestering

Buro: MvH
  • 0
Top