Oud-NP-minister sê die ANC is gedoem tot skeuring

  • 0

“Die ANC sal in die na-COVID-19 era uitmekaar spat. Die ou struggle-verlede sal hulle nie bymekaar kan hou nie. Toekomsverwagtinge by jongmense sal swaarder weeg as die romantisering oor die verlede. Wie dan die botoon gaan voer – die radikale elemente in ons samelewing of die groep wat oor die ou (en nuwe) politieke verdelings heen hande vat – is ’n ope vraag.”

Só sê die oud-NP-minister Leon Wessels en destydse ondervoorsitter van die grondwetskrywende vergadering wat die land se nuwe Grondwet geskryf het. Hy was ook ’n kommissaris van die Menseregtekommissie. Wessels het in ’n onderhoud oor sy boek Encountering apartheid’s ghosts – from Krugersdorp to Constitution Hill aan LitNet gesê die ANC is tot skeuring gedoem.

“Mense soos Tito Mboweni het reeds vertel hoe bevrydend dit is om onafhanklik te dink en nie onder die juk van Stalinistiese dissipline te staan nie.”

Wessels se jongste boek word beskryf as die kroniek van ’n apartheidspolitikus wat sy konserwatiewe agtergrond ontgroei het en ’n revolusionêre woordvoerder vir verandering geword het wat die ongeregtighede van die verlede vierkantig in die oë kyk.

Hy sê Suid-Afrikaners moet hul meerderwaardigheid oor Afrika eenkant toe vee. “Daar is genoeg rede om realisties-optimisties te wees. COVID-19 bring groot stremming, maar bied ook geleentheid om nuut te dink en te doen. Dit vra waagmoedige leierskap.”

In sy onderhoud met LitNet vertel Wessels waarom hy en ander verligtes soos hy vir so lank in die Nasionale Party se apartheidsbanke gesit het en nie vroeër wou erken apartheid is ’n misdaad teen die mensdom nie. Hy praat ook oor die tweeslagtige rol wat die NG Kerk soms tydens apartheid gespeel het en bespiegel oor die toekoms van die ANC.

Hy sê die ANC se aanhoudingskampe en halssnoermoorde hang steeds in die lug. “Dit is almal wat oor die besonderhede beskik se taak om dit aan die kaak te stel. Die ANC sal ook hand in eie boesem moet steek. Kort-kort vlam die debat op, maar word weer gesmoor. Dit sal bly opvlam.”

Leon Wessels (Foto: YouTube)

Op ’n vraag waarom verligte NP-politici soos hy so lank in die apartheidsbanke gesit het en hulle nie eerder verset het teen wat almal vandag weet ’n misdaad teen die mensdom was nie, sê hy die middeltagtigs was verspeelde geleenthede. “Ek dink nie ek het in daardie era slim genoeg geboks nie. Om teen PW Botha te boks moes jou voetwerk vinnig wees, anders kon jy maklik harpuis ruik.”

Hy erken dat sy eie ontwaking teen ’n slakkepas geskied het. “Ek het lank geneem om eers die onwerkbaarheid, daarna die brutaliteit en uiteindelik die immoraliteit te verstaan van dit waarmee die Nasionale Party (ons) besig was. Ek moes worstel met die idee om saam met ‘terroriste’ rondom ’n tafel te sit en gesels oor ’n gedeelde toekoms. Ek moes ook die vrees oorkom om deur Afrikaners geëkskommunikeer te word.”

Wessels verwys in die onderhoud ook na die NG Kerk se rol tydens apartheid. Hy sê die NG Kerk loop dieselfde pad as die Nasionale Party van ouds. “Eenheid is belangriker as om prinsipiële sake op die spits te dryf. Die NP en die NG Kerk is belangrike hoofstukke in geskiedenisboeke, maar slegs voetnotas in kontemporêre geskiedenis.”

Volgens Wessels het hy in 1984 kennis gemaak met die NG Kerk se hovaardigheid en dubbelslagtigheid toe ’n parlementêre gekose komitee moes oorweeg of die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike verbeter kan word deur die kwetsende aspekte uit die kwetswette te verwyder sonder om afstand te doen van die grondliggende oogmerke van die wette.

“Die amptelike NG Kerk-afvaardiging het gevra vir die behoud van die wette (hulle het nie tydens hul voorlegging gedebatteer nie, maar probeer om te intimideer); die nie-amptelike NG Kerk-standpunt was dat die wette geskrap moet word. Die nie-amptelike standpunt het in NP-geledere gewen. Die tweeslagtigheid woed steeds voort wanneer gepraat word oor kerkhereniging en selfdegeslagverbintenisse.”

Wessels, wat ook ’n lidmaat van die NG Kerk is, was deel van ’n hofstryd teen die kerk om gayhuwelike in die kerk te erken. “Om in ’n hofstryd, saam met ander, die NG Kerk oor selfdegeslagverbintenisse tot orde te roep het my geen plesier verskaf nie. Dit was egter die enigste manier om die hardnekkige houdings van kerkleiers te stuit.”

  • Die volledige onderhoud met Wessels kan HIER gelees word.

Lees ook

Politieke ontleders stamp kop oor Ramaphosa se posisie in ANC

Buro: MvH
  • 0
Top