Die Vlaminge se gunsteling-Suid-Afrikaner, Stefan Dixon, reik vir die eerste keer in tien jaar ’n nuwe Afrikaanse enkelsnit “Vanaand gaan ons terug” uit.
Die Kaapse sanger Stefan Dixon, wie se liedjies in 2012 deur Universal Music South Africa uitgereik was, het in 2014 sy sielsgenoot oor die waters gevolg en woon al vir die afgelope 9 jaar in België.
Kort nadat hy in die buiteland gearriveer het, het hy ’n duetenkelsnit “Vir nou/Voor nu”, saam met die bekende Belgiese sanger Klaas Delrue, uitgereik.
Dixon vertel:
Ons was twee musikante van twee verskillende wêrelde, maar het uitgevind dat ons tot op daardie punt byna parallelle lewens gelei het en ons het selfde aand besluit om ’n liedjie saam te skryf. Klaas het my oortuig om verder in my moedertaal te skryf. Einde 2016 het ons die duet “Vir nou/Voor nu” uitgereik. Dit is ’n lied wat gesing word in ’n mengsel van Afrikaans en Vlaams, ons sing dit saam. Dit was ’n groot treffer wat die top-20 op die Belgiese Radio 1 bereik het. Dit was ook een van die top 100 liedjies van 2017 in die Benelux-gebied (België, Holland, Luxemburg).
Dixon het met “Vir nou/Voor nu” onmiddelike erkenning in die Europese musiekbedryf gekry en hy staan vandag bekend as die Vlaminge se “gunsteling-Suid-Afrikaner”. Die Hollandse musiekfees, “Festival voor het Afrikaans”, noem hom een van die belangrikste rolspelers onder Afrikaanse musikante tussen Suid-Afrika, België en Holland.
Dixon vertel:
België en die Vlaaminge het my met ope arms ontvang. Maar huis is tog mos maar waar die hart is. In Maart 2020 het ek my eerste groot teatertoer deur België gedoen en direk daarna sou ek vir die eerste keer in ses jaar terug Suid-Afrika toe gaan om vir my familie en vriende te gaan kuier. Almal weet hoe daardie maand toe uitgedraai het. As gevolg van die Covid-pandemie moes ek my reis met nog twee lang jare uitstel. Dit was ’n baie moeilike tyd, die verlange was groot!
Die nuwe liedjie “Vanaand gaan ons terug” is toe in hierdie tyd van heimwee gebore. “Vanaand gaan ons terug” is Stefan Dixon se eerste enkelsnit wat hy oor ’n tydperk van tien jaar in Suid-Afrika uitreik. Dixon sê dat hy baie opgewonde is oor die liedjie. “Ek gooi daarmee my hart met ’n wye boog terug na my geboorteland.”
Stroom “Vanaand gaan ons terug” hier https://ffm.to/vanaandgaanonsterug of hier https://linktr.ee/stefandixon.
Volg Stefan Dixon op sosiale media:
www.stefandixon.com
www.facebook.com/stefandixon
www.instagram.com/stefandixon
www.youtube.com/stefandixon