Piet Westra
Piet Westra se lewenswerk is nou vervleg met dié van boeke en die geskiedenis: in die Kaap vir bykans 20 jaar as direkteur van die Suid-Afrikaanse Biblioteek (deesdae die Nasionale Biblioteek) en vir die afgelope sowat twee dekades onder andere as uitgewer van veral werke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Westra is al vir jare ’n aktiewe bevorderaar van die bande tussen Afrikaans en Nederlands, onder andere deur nou betrokke te wees by die Van Ewijck Stigting en die uitgebreide Nederlandse Bibliotheek wat in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Vlaandere en Nederland (Sasnev) gehuisves word. Hy het Willem de Vries se vrae beantwoord.
Africana Uitgewers is reeds goed gevestig as ’n uitgewer wat bekend is vir keurige publikasies van werke wat die geskiedenis en bande met onder meer die Nederlande betref. Boeke uit die pen van onder andere Hermann Giliomee, Dan Sleigh en Wium van Zyl het al by die uitgewery verskyn. Jy was jare lank die hoof van die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad. Waar en hoe het jou liefde vir boeke oorgeslaan in die rol van uitgewer? Wat was die aanloop daartoe?
Ons het terwyl ek vanaf 1958 by die Staatsbiblioteek en die Suid-Afrikaanse Biblioteek gewerk het, gereeld boeke uitgegee. Ek was by byna elke publikasie nou betrokke. Ná my aftrede was dit nie moeilik om, met ’n eie klein uitgewery, daarmee voort te gaan nie.
Die Afrikaanse letterkunde het veel te danke aan onafhanklike Nederlandse uitgewers. Onder hulle tel mense soos Aat Kaptein, AA Balkema en Gerry de Melker. Dis ’n literêr-historiese en belangrike tradisie. Vertel asseblief meer van die Nederlandse uitgewers se bydrae tot die Afrikaanse boek.
Ek het destyds veral met Hans en Jan van Schaik, Gerrit Bakker, Gerrit Struik en AA Balkema te doen gekry gekry. In Kaapstad het Balkema tientalle mooi boeke uitgegee, ook in Afrikaans. Die Suid-Afrikaanse Biblioteek het op sy 75ste verjaardag die boekie Liber Amicorum Balkema die lig laat sien, met verskillende bydraes oor sy belangrike rol in die destydse uitgewersbedryf.
Watter plek beklee jou uitgewery in die huidige uitgewerslandskap? Is daar byvoorbeeld uitgewerye in die Lae Lande waarmee dit vergelyk?
Ek is ’n klein uitgewer, wat jaarliks hoogstens ’n paar boeke publiseer.
Pas het die Engelse vertalings van Hermann Giliomee se Nog altyd hier gewees as Always been here: The story of a Stellenbosch community en ’n keur uit die rubrieke van John Scott, And what's your excuse today, sir?, verskyn. Vertel asseblief daarvan.
Prof Giliomee het my gevra om ’n Engelse vertaling van sy boek Nog altyd hier gewees (Tafelberg 2007) te publiseer. Ek het dit graag gedoen. Dis ’n uitstekende en soms skokkende boek oor die geskiedenis van die bruin inwoners van Stellenbosch en die skandalige manier waarop hulle onder apartheid in die laat 1960’s behandel en na Cloetesville verskuif is.
John Scott se rubrieke in Die Burger se bylae By, wat die afgelope vyf jaar in Engels verskyn het, is baie knap, met ’n fyn ironie en humor geskryf en baie gewild by die lesers. Ek het daarom aan John aangebied om ’n keuse uit hierdie rubrieke in boekvorm uit te gee.
Watter publikasies stel jy in die vooruitsig?
Ek hoop om binnekort ’n boek van Dan Sleigh oor die plaas Bokkerivier aan die Weskus uit te gee. Ek werk self aan ’n vertaling en redigering van ’n dagboek waarin die avonture van ’n Duitse apoteker in diens van die VOC beskryf word. Hopelik sal dit nog vanjaar verskyn.
Die geskiedenis bly steeds en opnuut in gesprek tree met die hede – al was die verlede dan “’n ander land waar mense dinge anders gedoen het”. Wat is jou ervaring van Suid-Afrikaanse publikasies oor die geskiedenis (ook dié waarin bande met Nederland verken en nagegaan word), die uitgewers en ander rolspelers vandag? Wat sou jy graag wou hê moet in hierdie verband gebeur?
Dit is helaas te veel van ’n mondvol om kortliks hierop te antwoord. Daar is onder andere heelwat gepubliseer oor die plaaslike rol van die VOC. In 2017 het die boek Die VOC aan die Kaap, 1652–1795 verskyn. Hierin gee 17 deskundiges ’n omvattende en nuwe siening van die VOC se dikwels omstrede bydrae tot die ontstaan en ontwikkeling van Suid-Afrika soos ons dit vandag ken. Ek het self ’n paar boeke in verband met die slawerny aan die Kaap die lig laat sien. Daar is geweldig baie gepubliseer oor die rol van Nederlanders in die Anglo-Boereoorlog. Elke jaar verskyn daar ook talle Afrikaanse vertalings van Nederlandse romans, en omgekeerd. Die kulturele uitwisseling tussen Nederland en Suid-Afrika, en die verbintenis van Afrikaans met Nederlands, is vandag seker sterker as ooit. Hierin speel die Van Ewijck Stigting, Sasnev, die Nederlandse Biblioteek in Pinelands, asook die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam ’n sleutelrol.
Is dit makliker of moeiliker om vandag ’n klein uitgewer van gehaltewerk te wees? Wat ervaar jy as voordele en as uitdagings? Die onbetroubaarheid van die posdiens en hoe om die publikasies onder die publiek se aandag te bring tel sekerlik hieronder?
Die grootste probleem van klein uitgewers was nog altyd die bemarking van publikasies. Die poskantoor se diens is inderdaad heeltemal onbetroubaar. Dit beteken dat boeke aan individuele klante per koerier versend moet word, wat aansienlik hoër koste meebring. Die mark vir die soort boeke wat ek uitgee, is uiteraard ook maar beperk.
Maak Africana Uitgewers gebruik van medewerkers? Indien wel, wie is diegene?
Ek doen die voorbereiding van manuskripte vir publikasie tot by die drukproses hoofsaaklik self. Ek maak wel gebruik van ’n medewerker by die ontwerp van omslae.
Biblioteke is nie los te maak van die mense wat dit besoek nie. Jy is baie nou betrokke by die Nederlandse Bibliotheek in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Pinelands. Waarmee kan die nuuskierige leser, jonk of oud, daar kennis maak?
Die Nederlandse Bibliotheek het ’n versameling van oor die 30 000 Nederlandstalige publikasies (veral boeke, maar ook veel tydskrifte en video's). Dit is verreweg die grootste versameling in sy soort in die Suidelike Halfrond. Dit word gereeld verder deur aankope en skenkings aangevul. Deur lid te word, teen ’n geringe jaarlikse subskripsie, kan jy kennis maak met, en op hoogte bly van, die ryk Nederlandse literatuur en kultuur. Afrikaanssprekendes moet egter hul natuurlike geremdheid om Nederlands te lees probeer oorkom. Nederlands is regtig nie ’n probleem as jy Afrikaans goed magtig is nie.
As jy terugkyk op dekades se betrokkenheid by die boek, wat beteken dit vandag vir jou? En as dit verskil van vroeër, hoe het jou siening verander?
Ek kan met voldoening en plesier terugkyk op my werk as bibliotekaris en my betrokkenheid by die bevordering van boeke en lees oor byna ses dekades. Organisasies soos die Van Ewijck Stigting, die Nederlandse Bibliotheek en die Suid-Afrikaanse Sentrum vir die Boek by die Nasionale Biblioteek (Kaapstad), wat tot stand gekom terwyl ek daar hoof was, lê steeds na aan my hart.
As mense meer te wete wil kom oor jou uitgewery en publikasies, waar kan hulle meer uitvind? En waar kan die boeke gekoop of bestel word?
Kontak my by africanapublishers@mwebbiz.co.za.
Buro: MvH