Poolse tydskrif Werkwinkel plaas in sy 1ste dekade kwart van bydraes in Afrikaans

  • 0

Werkwinkel word sedert sy eerste uitgawe in 2006 deur die Adam Mickiewicz-universiteit (UAM) in Pole uitgereik. Dit bevat bydraes in Nederlands, Engels en Afrikaans en in die onlangse verlede is daarin uitgebreid aandag geskenk aan skrywers aan die orde van Breyten Breytenbach, Olga Kirsch en JM Coetzee. Jerzy Koch, stigter-redakteur van Werkwinkel, het Willem de Vries se vrae beantwoord.

Jerzy Koch het in die negentigerjare deur middel van die Neerlandistiek met Afrikaans kennis gemaak en in dié tyd Suid-Afrika die eerste keer besoek. Sedertdien het hy in Pole reeds verskeie werke aan die literatuurgeskiedenis van Afrikaans gewy en het werke van verskeie skrywers van Suid-Afrika én die Lae Lande vertaal.

Hy is die eerste buitelandse lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ’n navorsingsgenoot van Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein en besoek die land gereeld. Kort ná sy onlangse deelname aan die Tuin van Digters op Wellington in die Wes-Kaap, het hy vandeesmaand op die sesde Kollokwium oor Afrikaans in Gent die woord gevoer, waarna hy met Voertaal gesels het.

In 1997 het jy die Departement Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies in die Fakulteit Engels van die Adam Mickiewicz-universiteit (UAM) in Poznań tot stand gebring. Benewens departementshoof, akademiese skrywer en vertaler van tientalle literêre werke, is jy die stigter-redakteur van Werkwinkel, ’n akademiese joernaal oor die Lae Lande en Suid-Afrikaanse Studies.

Europese studies van Afrikaans en Nederlands sien vandag anders daaruit as toe Werkwinkel in 2006 die eerste keer verskyn het. Wat is van die groot veranderings en nuwe tendense in die studieveld sedertdien? Watter onderwerpe kry vandag aandag in Werkwinkel?

Die onderwerpe wat ons tans in Werkwinkel behandel, dek ’n wyer tematiese spektrum. Soos die ondertitel van die tydskrif en die naam van my departement dit al te kenne gee, probeer ons om verskillende onderwerpe te omvat wat binne Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies neerslag vind. Of ons dit altyd regkry, is ’n ander saak. ’n Mens ervaar nog steeds dat baie van die dissiplines van mekaar afgesonder is, en dat baie van die wetenskaplikes in hokkies dink; iets wat ’n mens vandag vreemd opval. Ek het oorgegaan van die Germanistiek na Neerlandistiek en verder na Suid-Afrikaanse Studies.

Ek hou ook baie van die literatuur in en uit die (post-)koloniale gebiede omdat ’n inklusiewe benadering daarin juis die vereiste is. Die meer gespesialiseerde vaktydskrifte wat nie oor die grense van dissiplines heen wil gaan nie, is net tot ’n mate wenners in hierdie situasie: letterkunde apart, taalkunde apart, geskiedenis apart, politieke of kulturele wetenskappe apart, en so meer. Werkwinkel is daarenteen geposisioneer téén die 19de-eeuse denke wat ongelukkig nog steeds dominant is – dié denke wat volgens die ou nasionaal-georiënteerde filologie die draer moes wees van die nasionale ontwikkeling.

Jy vra na die veranderings in die studieveld. Ja-nee, daar is vir seker nuwe benaderings, teorieë en modes. Ons verteenwoordig geeneen van hulle nie, maar verwelkom nietemin elke bydrae wat op oortuigende wyse sy ondersoekprobleem stel en op ’n verantwoorde manier hierdie probleem analiseer. Kwaliteit geld altyd, ongeag die modes. Werkwinkel het al omvangryke bydraes van meer as 30 bladsye gepubliseer in gevalle waar die verwerking van die onderwerp dit geregverdig het.

Werkwinkel is ’n wetenskaplike tydskrif oor die tale, letterkundes en kulture van die Nederlande en Suid-Afrika en verskyn twee keer jaarliks as tema- of standaarduitgawes. Hoe sien die redaksionele beleid tans daaruit? In watter tale kan mense voorleggings doen?

Die beleid is tweërlei: Aan die een kant wag ons op voorleggings deur die outeurs self. Dit verskaf ’n kleurryke verskeidenheid en hou partykeer lekker verrassings in, soos byvoorbeeld dié van Poolse Angliste wat hulle met Suid-Afrikaanse onderwerpe besig hou en gereeld vir ons hul bydraes stuur. Aan die ander kant probeer ons tematiese nommers saamstel of werk met twee tot drie bydraes oor een afgebakende gebied of onderwerp in een uitgawe.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die baie geslaagde uitgawe oor Olga Kirsch (2014, vol. 9, uitgawe 2) en die festschrift-uitgawe van 2015 (vol. 10, uitgawe 2) wat opgedra is aan Andrzej Borowski, wat baie verdienstelik is op die gebied van die ondersoek van die bande tussen die Lae Lande en Pole, veral in die 17de eeu. Ek probeer ook om ná sekere akademiese byeenkomste, soos dié van Cross-Over in Poznań in 2015 (2016, vol. 11, uitgawe 1 en 2) en Aruba in 2017 (2018, vol. 13, uitgawe 1 en 2), referate wat tot artikels omgewerk is in Werkwinkel te plaas. Ons probeer ook om met gasredakteurs te werk: Rick Honings het byvoorbeeld ’n baie interessante uitgawe voorberei oor die terugkoms van die outeur (2017, vol. 12, uitgawe 2).

Omdat ons ewekniebeoordeling toepas, is daar byvoorbeeld minder voorleggings uit die Middel-Europese streek. Party van ons Neerlandici-kollegas publiseer liewer op ander plekke waar die reëls glo minder streng is. Dit is jammer, want ons het ook baie goeie ervarings met artikels deur byvoorbeeld jong navorsers wat as gevolg van keurders se opmerkings en voorstelle hul tekste aansienlik verbeter het en later met dank geskryf het dat hulle nou insien hoe belangrik dit was, alhoewel hul eerste reaksie was dat hulle nie gelukkig was met die kritiek nie.

’n Mens kan in drie tale in Werkwinkel publiseer: Nederlands, Engels en Afrikaans. Ná tien jaar se bestaan, het ons bereken dat die helfte van die bydraes in Engels was, ’n kwart in Nederlands en ’n kwart in Afrikaans. Dit was nie die gevolg van ’n baie presiese taalbeleid nie, maar eerder ’n resultaat van die onderwerpe wat aangesny is en die voorleggings. Desnietemin gee dit ’n mooi beeld.

Hoe vergelyk die dekking van letterkunde in Poolse koerante en tydskrifte met Suid-Afrika? Plaas Werkwinkel gereeld resensies van onlangse fiksie en heruitreikings benewens dié van wetenskaplike werk?

Jy vra dit vir my net nadat Olga Tokarczuk die Nobelprys vir Letterkunde gewen het. Ja-nee, die dekking is baie goed!

Maar as ons die vraag ernstig beskou en losmaak van gebeurtenisse soos dié, moet ek sê daar is talle gespesialiseerde vaktydskrifte byvoorbeeld oor die literatuur wat oor die algemeen vir dalende belangstelling in die hoofstroommedia vergoed. Desnietemin wy die grootste koerante soos Gazeta Wyborcza of Rzeczpospolita nogal baie plek aan die literatuur, kultuur en kunste. Hulle het ook spesiale bylaes. Dit is nie soos die Afrikaanse media wat ingekrimp het en slegs een boekeredakteur vir die ganse land het met plek vir verskillende resensies in afsonderlike koerante nie.

Maar goed, ’n mens mag die bloginskrywings nie vergeet nie. Daar is ook voorste kritici en letterkundiges wat gereeld hul resensies op die internet plaas. Ek dink byvoorbeeld aan Paulina Małochleb in Pole of Joan Hambidge in Suid-Afrika. Ook talle amateurs doen dit, wat ’n aanduiding is van die desentralisering van die ou kulturele en establishment-sentrum.

Werkwinkel as akademiese tydskrif plaas geen resensies van fiksie nie. As daar boekbesprekings gepubliseer word, is dit omdat ons iets belangriks vind, omdat ons die boek ontvang en een van ons outeurs uit eie beweging ’n voorstel in hierdie verband maak. Oor die algemeen is dit nie maklik om goeie resensente te kry wat ’n goeie begrip het van sake, ’n breë kennis het en naas hul ander verpligtings ook nog besprekings wil skryf nie.

Bevat die digitale weergawe van Werkwinkel meer of minder ruimte as die papieruitgawe? Het die digitale uitgawe ’n uitwerking op die papieruitgawe van die tydskrif, byvoorbeeld wat betref die oplaag? Wat sal jy graag vorentoe met Werkwinkel wil sien gebeur?

Die primêre weergawe is die aanlyn weergawe van Werkwinkel. Maar ons druk nog steeds 100 eksemplare op papier. Daar is geen verskil tussen hulle nie en ook geen verskil tussen die vroeëre tyd toe ons net die papier gehad het en nou met die digitale uitgawe nie. Ons dink dat papier nog steeds ’n sekere waarde en prestige daaraan het. Ons het ’n groep getroue intekenaars en vir biblioteke – en veral die outeurs – is dit belangrik en ook gewoon lekker om die uitgawe in hulle hande te kan hê. Ek bestee ook baie aandag aan die estetiese kant van die publikasie en sorg vir ’n mooi omslag. Werkwinkel staan bekend om sy mooi en verrassende omslae. Dit is ongelukkig nie moontlik om dit alles in die digitale uitgawe weer te gee nie.

Oor ons planne vir die toekoms wil ek nog nie in besonderhede uitwei nie. Daar is sekere moontlikhede om anders as tot dusver vorentoe te beweeg, want jy moet jou tydskrif voortdurend na die een of die ander kant stuur, jy moet jou aanpas en tegelyk probeer om ’n sekere beleid uit te voer. Ons moet daarmee rekening hou dat daar eintlik te veel publikasiemoontlikhede is en dat ’n soort inflasie ontstaan. Die maniere om jou navorsing bekend te stel verander voortdurend. ’n Mens moet dus mooi nadink oor die toekoms. Ek glo dat samewerking en meegaande aktiwiteite in die komende jare belangrik gaan wees.

Werkwinkel is sedert 2014 deur De Gruyter aanlyn beskikbaar en voor 2014 was dit ook al aanlyn. Watter funksie en waarde het open access ten opsigte van Werkwinkel vandag? Word vakgebiede interdissiplinêr onderling sterker as gevolg daarvan? Is daar klemverskuiwings in studies en onderwerpe wat daaraan toegeskryf kan word en wat ’n uitwerking op Werkwinkel het?

Ek was van die begin af daarvan bewus dat Werkwinkel aanlyn of óók aanlyn beskikbaar sal moet wees. Aan die begin was dit gewoonlik ná ’n embargo van een jaar dat ons die artikels op ons webwerf geplaas het; later het die repositorium van die UAM bygekom as platform waar die Werkwinkel-bydraes verskyn het. Maar toe reël die universiteit en die fakulteit die inhaalbeweging om die vaktydskrifte te digitaliseer en betaal vir die aanwesigheid op De Gruyter Open, deesdae Sciendo. Ek het net gesorg dat ons die toestemming kry om die beperkte oplae van Werkwinkel steeds op papier te kan druk.

Open access maak jou tydskrif en afsonderlike bydraes beter sigbaar. Hieroor bestaan geen twyfel nie – indien die webwerf goed geposisioneer word. En ek dink dat dit vir die outeurs van groot belang is. Ongelukkig gaan daarmee saam ’n ander proses gepaard wat vir die redaksie minder aangenaam is – dat die uitgawe vir die lesers uiteenval in die afsonderlike artikels waardeur die samestelling en die werk wat jy daarin gesteek het nie altyd goed te sien is nie. Om ’n vergelyking te maak: dis soos met ’n digbundel wat as ’n koherente entiteit geskryf en gepubliseer is, maar dan deur die leser lukraak gelees word, elke gedig apart.

Die Departement Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies van die Fakulteit Engels aan die UAM gee Werkwinkel uit. Verskeie tematiese nommers is ook aan verskeie skrywers gewy. In onlangse jare het die Suid-Afrikaanse letterkunde in Pole prominensie gekry deur onder andere JM Coetzee wat ’n eredoktorsgraad van die UAM ontvang het en Breyten Breytenbach aan wie die Herbert-prys toegeken is. Wat maak hul werk, sowel as dié van ander Suid-Afrikaanse skrywers, van belang vir Poolse lesers?

Sonder meer het ons gevoel dat ná die saamstel van die Coetzee-uitgawe, ook Poolse Angliste ons raakgesien het. Daar het nuwe voorleggings van ondersoekers gekom wat hul met hom of met Suid-Afrika besig hou. Maar daar is natuurlik ’n kloof tussen die algemene belangstelling en die nuus oor skrywers en boeke aan die een kant en aan die ander kant die navorsing daaroor wat meer tyd verg.

Daar is beperkings aan ons groei om byvoorbeeld kollegas uit Suid-Afrika te betrek, omdat ons geen akkreditasie in Suid-Afrika het nie (die tydskrif moet óf in die land uitgegee word óf deur die Amerikaanse JCR aanvaar word). En tog was daar al ’n klomp kollegas wat by ons gepubliseer het omdat hulle dit belangrik geag het.

Ons moet deesdae besluite neem oor die frekwensie van die publikasie, want binne die Poolse sisteem van akkreditasie word ons by wyse van spreke gestraf omdat ons twee nommers per jaar publiseer. Dit is daarvolgens beter om óf as jaarboek te verskyn, óf as kwartaalblad, iets wat vir my geen sin maak nie. Gesien die werksdruk aan die universiteit en die manne- en vrouekragte wat ons tot ons beskikking het, is die hoër frekwensie binne die huidige opset nie haalbaar nie. ’n Mens mag ook nie vergeet dat die produktiwiteit van ’n sekere vak, gebied en spesialiteit ook sy grense het nie. Ek noem hierdie probleme waarmee ons te make het en wat ons moet oplos.

Maar as ek jou vraag goed verstaan, bedoel jy ook die wyer publiek en nie noodwendig die akademiese lesers van Werkwinkel nie. In die geval van Coetzee word die publiek sekerlik aangetrek deur sy kenmerkende styl, met dikwels kort frases en ’n verteltrant wat deels beskrywend en deels aforisties is. Hy sny ook relevante morele vraagstukke aan en op ’n manier wat vir die leser geen kitsoplossings gee nie en ons ná die lektuur met ’n ongemaklike gevoel laat.

En wat Breytenbach betref – ek sou sê dit is sy skeppingsvermoë, die beelde wat hy oproep en dalk ook die oorheersende tematiek, altans in die bundel wat ek vir Poolse lesers saamgestel en vertaal het: oud word, vriende verloor, terugkyk na die jare van wording, en so meer. Afrikaanse literatuur is begenadig dat daar die jonge rebelse en subversiewe Breyten was, maar ook nie minder nie dat daar die ouerwordende, wyse en refleksiewe Breyten is – ’n digter wat al in die loop van tientalle jare sy stempel op die taal en letterkunde afgedruk het. Pools het dieselfde ervaring met ons ander bekende digters soos Czesław Miłosz en Wisława Szymborska gehad, ons ander Nobelpryswenners, onderskeidelik in 1980 en 1996.

Jy het Afrikaans deur middel van Nederlands ontdek. Hoe beskou jy die bande tussen Afrikaans en Nederlands op universitêre vlak vandag? Is daar byvoorbeeld binne die Europese akademiese wêreld uiteenlopende menings oor die plek en benadering van Afrikaans in hierdie verband?

Dis waar, dit was vir ’n Neerlandistiekkongres in Suid-Afrika in 1992 wat ek SA die eerste keer besoek het en toe verlief geword het op die land, sy mense en Afrikaans. Ek is pas terug uit Gent waar die sesde Kollokwium oor Afrikaans plaasgevind het. Dit is een van dié Europese geleenthede vir en oor Afrikaans. Voor dié kollokwium was daar ander en kleiner kongresse in Afrikaans, soos in Leipzig, maar ook in Gent, en taalkursusse in Hasselt. Na my gevoel is die Vlaminge nie minder aktief op hierdie gebied as die Nederlanders nie, sekerlik in die afgelope jare. Daar is groei in verskillende akademiese aktiwiteite, maar ’n mens mag nie vergeet dat die basis daarvan altyd studente of belangstellendes is nie.

Wanneer daar in Suid-Afrika nie genoeg belangstelling vir Nederlands is nie, gaan die aktiwiteite kwyn, want die basis is tot ’n mate wisselwerking. Maar ek beskou die situasie eerder op ’n afstand omdat ek geen Nederlander, Vlaming of Suid-Afrikaner is nie. Om hierdie eenvoudige rede kom ek nie in aanmerking vir beurse en uitruiling nie. Selfs as ’n mens jou dan met die kontakte tussen die Lae Lande en Suid-Afrika besig hou, is die nasionaliteit of staatsburgerskap dikwels die hindernis by byvoorbeeld aansoeke. Dit is jammer, maar ook hierdie uitruiling laat my ’n bietjie dink aan die verhouding binne die Neerlandistiek in Vlaandere en Nederland teenoor die buitemuurse Neerlandistiek; die tweede is die kleinboetie van die eerste.

Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde in Suid-Afrika word telkens bestudeer in die kader van kultuurstudies, vir die taal en letterkunde se bande met Nederlands, asook vir die potensiaal wat dit binne ’n multikulturele omgewing het. Watter voorbeeld stel Afrikaans aan Pools en wat kan Afrikaanse mense vandag by die Poolse voorbeeld leer, al is die kontekste verskillend?

Dit is ’n baie komplekse vraag. Die politieke situasie in Pole, ook ná die onlangse verkiesings, is ingewikkeld. Die huidige regering se beleid is sosialisties, maar hul reaksie op ideologiese vlak is nasionalisties. Vir my is hulle geen sosialiste en geen nasionaliste nie, want dit alles word slegs onderneem om aan bewind te kom en daar te bly. Desnietemin word hierdie beleid sistematies vertaal ook na die verwagtinge ten opsigte van die universiteite (’n nuwe wet oor tersiêre onderwys en navorsing waaroor ons nie gelukkig is nie, word tans geïmplementeer) en ook na die projekte wat deur die owerheid befonds word. Ek wil my onafhanklikheid as navorser behou. Baie van my kollegas ook.

Ons dink dat die uitdagings van die toekoms in die voortsetting of verlenging lê van ondersoekrigtings soos genderstudies, postkoloniale studies of ander nuwer benaderings wat nog kom. Ons kan daardeur beter insig en begrip verkry oor die samelewing soos wat dit vandag bestaan wat betref verskillende mense, agtergronde, opinies, tale, kulture, en so meer.

Vir my persoonlik vorm die Suid-Afrikaanse studies en dan meer spesifiek Afrikaans as ondersoek-onderwerp die gebied by uitstek om in ’n neutedop die tendense in die wêreld te analiseer en vir my studente te wys. Dit is alles met die oog daarop om hulle op te lei, op te voed en voor te berei om in die komplekse realiteit beter te funksioneer. Kom ons sê ek pas op Suid-Afrika toe wat die sogenaamde kreoliste (soos Jean Bernabé, Patrick Chamoiseau of Raphael Confiant) vir die Karibiese gebied gedoen het deur die konsep te gebruik van “diversalité” (’n neologisme afgelei van die Franse “universalité” en “le divers”).

In hul siening ontpop die gemarginaliseerde Antilliane as voorlopers van die kulturele proses waarin die kreolisasie, dit wil sê kontak, beïnvloeding en versmelting van kulture, sentraal staan en dat dit tipies word, nie slegs vir die kreolofone gemeenskappe wat die Kreoolse tale praat nie, maar ook vir die wye wêreld waarin daar geen ontkoming is nie aan die al hoe meer veelrassige en multikultureel wordende wêreld. Hulle sê in die Karibe vind al honderde jare die prosesse plaas wat pas in die 20ste eeuu as karakteristiek beskou word van metropole soos New York of Parys.

Wat ek wil sê is dat ’n mensbehoort ook nederig te wees oor wat jy sien en leer, want die werklikheid is altyd meer ineengestrengel as wat jy dink. Jy moet waaksaam wees om jou standpunte te verplaas, jou wêreldbeeld aan te vul en te verander. Maklik is dit nie. Partykeer pynlik. Maar om by die vaste sekerhede te bly of na die ou waarhede terug te keer is sekerlik geen oplossing nie.

My literatuurgeskiedenisse is pogings om die belangrike prosesse en relevante verskynsels te skets. Ek volg hier die voorbeeld van die taalkundiges wat die Afrikaanse taal, en veral teorieë oor die ontstaan daarvan, as ’n laboratorium beskou het om nuwe denke oor die taal as sodanig te toets. Vir my as literatuurhistorikus is die Afrikaanse letterkunde hierdie laboratorium waar ek verskillende soorte denke oor en partykeer seer uiteenlopende benaderings van die literatuur kan toets. Dit is ’n uitdaging. Dit skep moontlikhede. Dit dwing jou tot nadenke.

Jy het verskeie boeke oor Afrikaans in onder meer Pools geskryf en sommige is reeds in vertaling beskikbaar is. Hieronder tel: Between the Netherlands and Indonesia van 2000, Outsider onder de zijnen: vormen van xenofanie in de Afrikaanse roman (2002), waaroor ons ’n vorige keer gesels het, A history of South African literature – Afrikaans literature 17th–19th centuries (2015) en Hottentot Venus and other essays on South African literature (2008).

En dan is daar talle skrywers wie se werk jy in Pools vertaal het; mees onlangs bloemlesings uit Breyten Breytenbach (2018) en Antjie Krog (2017) se werk, vroeër ook skryfwerk van onder andere Etienne Leroux en Ingrid Jonker. In die apartheidsjare is net André P Brink in Pools vertaal. Watter Afrikaanse skrywers word teenswoordig vertaal? En is daar ’n Afrikaanse skrywer(s) wat enigsins ’n deurbraak tot die Poolse leser gemaak het?

Die boeke wat jy in Engels noem, het deels in Pools verskyn, maar Outsider onder de zijnen was in Nederlands en die literatuurgeskiedenis in Engels.

Met sekere voorstelle vir vertalings kan ek nie tot die uitgewers deurdring nie. Hulle sê gewoonlik: “Ja-nee, dis ’n goeie boek, maar dit pas nie in ons planne vir die komende jare nie.” Ek is bevrees dat Suid-Afrika as onderwerp en verwysingspunt sy spreekwoordelike 15 minute van roem gehad het. Ook by die studente sien ons oor die algemeen dalende belangstelling en dit betref ook ander spesialiteite, soos Keltiese studies en so meer. Daar verskyn partykeer werke, soos byvoorbeeld van Laurens van der Post in 2015 of Wilbur Smith in 2013, en ook Deon Meyer (2009, 2010 en 2017) word uit Engels vertaal.

Ek het wel met Krog en Breytenbach ’n verskil gemaak – ek wil nie sê nie dat dit tot my eie verbasing was nie, maar tot ’n mate was dit ook so. Die reaksies op my vertalings van Krog se gedigte was buite die verwagting. Ek is baie bly dat daar deur die wyer spektrum, deur die soeke na die nuwe, soos die organisering van ’n digtersfees soos die Czesław Miłosz-fees in Kraków dit toon, en die moontlikheid begin ontstaan om bloemlesings van skrywers wat by ons onbekend of minder bekend is te publiseer.

Dit (Miłosz-fees) is dié gebeurtenis wat nie op geld ingesteld is nie en wat boeiende poëtiese verskynsels in kaart wil bring; die sogenaamde kleiner tale en “eksotiese” kontreie kom hier vanselfsprekend ook aan die beurt: my vrou het byvoorbeeld hierdie jaar die Bosniese digter Ferida Duraković vir hierdie fees vertaal. Hoe beter die reaksies van die publiek en die resensente, hoe groter die kans dat daar in die toekoms aandagtiger na jou voorstelle geluister word. Die gewone uitgewers rig hulle grotendeels op groter tale en bekende literature, terwyl die soort organisasies soos die Miłosz-fees hul begroting vir vertaal- en digterlike aktiwiteite gebruik en vry is in hul artistieke keuses.

Jy is die ontvanger van die Martinus Nijhoff-vertaalprys vir jou vertalings uit Nederlands, sowel as die Visser Neerlandia-prys vir Neerlandistiek. Vertel asseblief van vertalings van jou eie werk wat onlangs verskyn het of wat binnekort op die rak gaan wees. Beoog jy enige verdere vertalings van Afrikaanse skryfwerk? Indien wel, vertel asseblief daarvan.

Ek het vir ’n klomp jare nie vertaal nie. Ná ’n baie intensiewe periode, veral in die tweede helfte van die 1980’s en 1990’s, het ek stadigaan minder begin vertaal omdat akademiese verpligtings gegroei het, die redigering van Werkwinkel bygekom het en my departement, waaronder tans 16 medewerkers en doktorale studente tel, ook groter begin word het. Maar een maal ’n vertaler, altyd ’n vertaler! Dis ’n soort siening wat jy as vertaler as’t ware in jou oë het: Jy lees iets in die ander taal en sien onmiddellik sekere frases in jou moedertaal. In 2016 het ek – saam met ’n oudstudent van my, Sławomir Paszkiet – Stefan Hertmans se gedigte vertaal. Die vertaling en die bundel was in opdrag van die Miłosz-fees.

Die fees het in dieselfde jaar ’n bundel van Breytenbach gepubliseer waaraan ek ook meegewerk en die nawoord geskryf het (die ander vertalers het uit Engelse weergawes hul vertalings gedoen). Een jaar later was Antjie Krog aan die beurt en ek is gevra om haar bundel voor te berei – soos altyd in my loopbaan as vertaler, het ek die boek van ’n nawoord voorsien. En toe Breytenbach die Herbert-prys ontvang het, het ek in opdrag van die Herbert-stigting ’n nuwe, groter bloemlesing van sy gedigte gemaak, waarvoor Die singende hand die basis gevorm het.

Jy is aan die hoof van die Departement Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies in die Fakulteit Engels aan die UAM en doseer Nederlandse letterkunde ná 1830, koloniale letterkunde en Afrikaanse skryfwerk. As navorser stel jy belang in vertalings, literêre oordrag en Afrikaanse letterkunde. Watter ondersoeke is jy tans mee besig? Watter aspekte van die bande tussen Afrikaans en Nederlands is in 2019 vir jou interessant en verdien meer aandag?

Ek was die mederedakteur en outeur van die meeste hoofstukke van ’n geskiedenis van Nederlandse literatuur in Pools wat vanjaar in twee dik boekdele verskyn het. Elkeen beslaan 650 bladsye. Hierdie projek het jare geduur en ek wil nou die kans aangryp om terug te keer na die skryf van die derde en laaste deel van my geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (die eerste deel oor die literatuur tot 1900 het in 2015 in Engels by Van Schaik as A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th centuries verskyn en die Engelse publikasie van deel twee oor die begin van die 20ste eeu is nou in voorbereiding en gaan dalk in 2020 of 2021 in Suid-Afrika verskyn).

Dít is die hooftaak vir die komende tyd. Maar daar is talle ander projekte wat my besig hou, soos die vertalings waaroor ek reeds gepraat het en die planne in verband met die publikasie van die histories-kritiese uitgawe van Benigna van Groenekloof of Mamre (1873) wat nog steeds nie gerealiseer het nie. En op my rekenaar wag nog enkele onafgewerkte artikels oor talle onderwerpe waaroor ek die afgelope jare referate gelewer het. Ek hoop dat my jonger kollegas binnekort die stuur van die departement gaan oorneem en dat ek volledig op hierdie werk kan konsentreer.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top