Portugal, deel II: Avonture in en om Lissabon

  • 0

Hierdie reisverslag is die tweede in ’n reeks van twee oor Portugal en fokus uitsluitlik op Lissabon en die omliggende gebiede (lees Portugal, deel I vir stories en kiekies van pragtige Porto).

Die afgelope paar jaar ryg Portugal die een toerismetoekenning na die ander in. Lissabon begin naam maak as een van die moet-sien Europese bestemmings en is veral gewild as ’n naweekwegbreek- en “city trip”-bestemming.

Na drie dae in die pragtige kulturele hoofstad Porto haal ons die CP-trein na Lissabon, Portugal se ware hoofstad. Hier neem ons soeke na mooi sonsondergange ons op verskeie avonture: ons ry onder meer (en onwetend) na die broeiplek van ’n orkaan met ’n scooter!

Lissabon het ongelooflik baie om te bied en ons het dus gesukkel om te kies wat in die driedagbesoek ingepas kan word. Hier word dus nie aanspraak gemaak op volledigheid of objektiwiteit nie. Deel gerus ’n eie ervaring van Portugal in die kommentaarafdeling onderaan hierdie bladsy.

Fadomusiek en ginjinha (kersielikeur) is, naas die sewe heuwels waarteen die stad gebou is, kenmerkend aan Lissabon. Hier is die gevoel van saudade (rofweg vertaalbaar as heimwee) inherent deel van die strate van die Alfamadistrik, hier waar die vissersvroue al vir jare lank fado sing as die verlange na hul mans ter see te veel raak.

Insiggewende gratis staptoere kan in enige van die buurte gevolg word. Ons het die een in die Alfamadistrik gekies en beveel dit ten sterkste aan – nie net omdat daar verskeie ginjinha-verversingspunte is waar tantes hul tuisgemaakte likeur smous nie, maar omdat dit die oudste deel van die stad is. Gruverhale word gedeel van onder meer die Igreja de São Domingos (’n kerk met ’n hartseer geskiedenis en ’n gepaste pienk dak om dit te gedenk) en die verwoestende aardbewing van 1755.

Graffiti-kuns wat die verhaal van fadomusiek uitbeeld; en die Igreja de São Domingos se dak is pienk om al die verwoesting en lewensverlies wat hierdie gemeente al veroorsaak en meegemaak het, te gedenk.

In Lissabon het ons wel ’n daaglikse vervoerpas aangeskaf – ’n wyse besluit, aangesien van die heuwels so steil is dat daar selfs buitelughysbakke (elevadores) en funiculars is om voetgangers teen die skuinstes uit te help. Dit het ons toegelaat om nie net op hierdie vreemde kontrepsies te klim nie, maar ook onbeperk metro, bus en trem te ry na die uithoeke van die stad en dan van daar die omgewing te voet te verken.

Die toue by die gewilde Elevador de Santa Justa, ’n buitelughysbak, en Trem 28 is vroegoggend betreklik kort – soms wag mense ure lank om hierdie vorme van openbare vervoer te gebruik. Regs: Die strate van Lissabon vanuit die tremvenster gesien.

Só neem ons die bekende Trem 28 tot aan die einde van sy roete en beland in ’n Portugese begraafplaas. Alhoewel dit seker nie ’n tradisionele toeristebestemming is nie, verklap dit eintlik baie van die Portugese kultuur. Hier word geliefdes nie in enkelgrafte in die grond begrawe nie, maar eerder in losstaande katakombes saam met hul familielede “gehuisves”. Ek het maar kêrel se hand styf vasgehou toe ons in die vervalle deel van die begraafplaas beland – nie al die deurtjies van die katakombes is meer heel nie en plek-plek is kiste selfs sigbaar. As ek ooit ’n riller skryf, sal dit seker op hierdie ervaring gegrond wees.

In die begraafplaas Cemitério dos Prazeres.

Terug in die stad is die Castelo de São Jorge ons verkose piekniekplek vir die aand. Alhoewel ons niemand anders sien eet het nie, is ons rugsak nie deursoek by die ingang nie en neem ons aan ons dat die drink van port tonics ook hier wettig is. Die kasteel is geleë op die hoogste heuwel in Lissabon en is sedert die ontstaan van die stad van belang. Die Moorse veroweraars het Lissabon in 714 nC oorgeneem en ’n verdedigingsfort hier opgerig, wat later, ná Afonso I die stad in 1145 bevry het, in ’n kasteel omskep is.

Die eeue oue Castelo de São Jorge, gebou op die hoogste heuwel in Lissabon.

Die sonsondergang oor die oranje dakke, die Tagusrivier en die San Francisco-geïnspireerde Ponte de 25 Abril is prentjiemooi. Die kasteel bly tot 21h00 oop en ons kon selfs nog die laaste begeleide toer meemaak en daarna die stadsliggies vanaf die kasteelmure bewonder.

Die uitsig vanaf die Castelo de São Jorge se mure. Die kasteel verwelkom selfs saans besoekers.

Een deel van die stad wat eers lank na donker besig raak, is die partytjiedistrikte Bairro Alto, Santos en Pink Street. Vir dié wat nog jonk van gees is, is die naglewe in Lissabon iets om te beleef. Die kroeë is piepklein, nie veel meer as verkooppunt nie, dus kuier almal op straat. Die gewone, nou, keisteenstraatjies met die afgeleefde geboue, plante op die tweede vloer en wasgoed buite die derde, trek saans ’n ander baadjie aan – een met blinkers en ’n kraag wat opslaan. Vir die brawes is daar talle georganiseerde pub crawls wat om 23:00 begin – dit bied toegang tot kroeë en klubs en sekere drankies word ingesluit. Alhoewel Cais do Sodré, oftewel Pink Street, bekend is vir haar nagklubs, verkies ons die rustiger strate met kroeë waar ’n mens buite kan staan en met die Amerikaner in die groep oor politiek kan redekawel.

Pink Street in die partytjiedistrik van Bairro Alto om 16h00 en 04h00.

Belém

Die indrukwekkende Torré de Belém, ’n pragtige plek van waar die sonsondergang bewonder kan word.

Ons soeke na ’n mooi sonsondergang het ons ook op ’n middaguitstappie geneem na die distrik van Belém, waar die Tagusrivier in die Atlantiese Oseaan uitmond. Dit is vanuit Belém dat die ou seevaarders hul seile gespan en die wye wêreld ingevaar het. Die Mosteiro dos Jerónimos was byvoorbeeld Vasco da Gama se laaste slaapplek op Europese bodem voor hy om Afrika na die Ooste gevaar het, terwyl die Torré de Belém die eerste Portugese baken is wat die seelui ná hul lang reis begroet.

Die klooster van die Mosteiro dos Jerónimos het dikwels baie lang toue, maar toegang tot die kerk (regs van die klooster) is gratis en dit lok, snaaks genoeg, nie soveel besoekers nie. Dit is ook die finale rusplek van konings, digters en selfs Vasco da Gama. Saans word die fontein aangeskakel en die klooster mooi verlig.

Om hierdie geskiedenis te vier, is die seevaartmonument net duskant die toring opgerig. Dit is slegs ’n kort entjie se stap, en ook ’n besoek werd. Loop rustig met die promenade langs en geniet die vars seelug. Daar is verskeie museums, parke, interessante geboue en talle restaurante waar die dag verwyl of drankies ná sononder geniet kan word.

Padrão dos Descobrimentos, die seevaartmonument, van albei kante afgeneem terwyl die son oor die Tagus-riviermond en Atlantiese Oseaan sak. In die eerste foto is die keistene se branderpatroon sigbaar. Die Portugese lê graag die keistene in patrone met simboliese waarde – hier byvoorbeeld om die seë wat die eerste verkenners moes trotseer, uit te beeld.

Nog ’n belangrike punt in Belém is die wêreldbekende Fábrica de Pastéis de Belém – die bakkery wat na bewering die oorspronklike vlatertjie-resep by die Jerónimos-monnike oorgeneem het en sedert 1837 hierdie lekkernye verkoop. Wees egter gewaarsku: die naam het nie verniet die woord fábrica (“fabriek”) in nie. Hier word in grootmaat gebak – meer as 20 000 tertjies word daagliks met die hand gemaak! Die toue is glo van vroeg tot laat só lank dat dit dikwels om die hoek verdwyn. Ons beste raad aan dié wat vasbeslote is om die oorspronklike vlatertjie te proe, is om in die wegneem-tou te staan en die pasteitjies saam met ’n wegneemkoffie van die buurwinkel in ’n nabygeleë park of langs die promenade te geniet. Fynproewers reken dat hierdie tertjies veel anders (en lekkerder) proe as die pastéi de nata wat in die res van Portugal verkoop word. Toegegee, die kors is miskien ’n bietjie meer bros as die ander, maar vir ons smaak dit alles na variasies van tant Marie se melktert – heerlik!

Bestel ’n wegneem-Pastéi de Belém en geniet dit in ’n park of langs die promenade.

Sintra en Cabo da Roca

As ’n laaste uitstappie voor ons middernagtelike vlug terug na Kaapstad is ons na die sprokiesagtige Sintra. In hierdie bergdorpie pryk talle kastele tussen inheemse woude en versteekte bergpasse.

Ons het besluit om in Sintra ’n scooter te huur en eers die 20 km-roadtrip na Cabo da Roca, die mees westelike punt in Europa, aan te pak. Die plan was om daarna na een of twee kastele te gaan en vir oulaas te piekniek voor ons Portugal moet groet. Weens omstandighede buite ons beheer (lees Orkaan Leslie) kon ons egter nie die kastele besoek nie – dit staan dus oor na ’n volgende keer.

Alhoewel ’n gewone motorrybewys voldoende is om ’n motorfiets in Europa te huur, sal ek nie aanbeveel dat onervare bestuurders hierdie tog aanpak nie.

Die pad na die kus krul van die een bergpas na die ander. Weens die skerp draaie is die spoedbeperking 50 km/h, en alhoewel dit ongelooflike uitsigte bied, was dit ’n bietjie senutergend om hierdie smal paadjie met busse te deel.

Onderweg na Cabo da Roca.

Toe ons by Cabo da Roca aankom, het die wind al opgetel en dit was duidelik aan die reusebranders dat ’n storm aan die broei is. Alhoewel die wind darem nog nie so sterk was soos ek dit in Gordonsbaai ken nie, het ons liewer nie te lank vertoef nie. Ons het die stiller agterpad terug na Sintra geneem – ’n feetjieagtige ervaring toe die mis en wolke oor die bewoude heuwels inrol.

Die uitsig en monument by Cabo da Roca, die mees westelike punt van Europa. Dit herinner nogals aan L’Agulhas. Regs: Die betowerende roete terug na Sintra.

Toe ons in Sintra aankom, is die hele dorp in ’n toestand en word ons toegang na die kastele geweier. Terwyl ons rondgerits het, is daar is blykbaar ’n nasionale weerwaarskuwing uitgereik: Orkaan Leslie is op pad! Alle toeriste word aanbeveel om so gou moontlik die dorp te verlaat. Hortjies word toegetrek, koffiewinkels sluit en ’n gespannenheid heers op straat. Binne oomblikke verander ons sprokiesuitstappie in ’n oorlewingstog. Die scooter word dadelik terugbesorg en ons pas ons treinroete aan om te verseker dat ons so gou moontlik in Lissabon kom, want ons is veronderstel om daardie nag nog terug te vlieg.

Kennisgewings soos hierdie is in Sintra opgesit en kafees se deure vroeg gesluit. Toeriste moes dadelik ontruim.

Toe ons twee ure later, onderweg na die lughawe, vir oulaas ons ratelende tasse oor die keistene sleep, begin die eerste druppels van Orkaan Leslie val.

Op die lughawe is die effek van die orkaan duidelik. Plaaslike vlugte is gekanselleer en reisigers is gestrand. Die aanhoudende reën en wind laat ons twyfel of ons vlug sal voortgaan, en indien wel, of ons veilig in die Kaap sal aankom. ’n Mens kan nie anders as om te dink aan die seevaarders van ouds en hoe hulle dalk dieselfde benoudheid ervaar het tydens hul reise na onbekende plekke nie. Gelukkig vertrek ons vlug net voor die ergste storm Lissabon tref en sodoende ontsnap ons ongedeerd uit die bek van ’n orkaan.

Ten spyte van die orkaan is Portugal vir ons die land van sonsondergange, ’n plek waar jy sommer uit jou rugsak kan drink en orals kan piekniek hou, soos die locals dit doen. Ons dink met saudade, met heimwee, terug na ’n wonderlike reis.

Grille en giere

♥ Die hoogtepunte in Lissabon was die Castelo de São Jorge en die middaguitstappie na Belém. ’n Mens sou eintlik die hele dag in Belém kon spandeer.

× Die rit op Trem 28 is ’n gier en glad nie so opwindend soos wat ander reisblogs voorgee nie. ’n Tremvenster leen hom bloot nie tot asemrowende uitsigte, soos wat ander reisigers beweer, nie. Toegegee, ’n mens kan by mooi plekke langs die pad afklim, maar Trem 12 loop ook daarlangs en daar is dus geen spesiale rede om ure lank vir 28 te wag nie.

Enkele wenke

» Portugal was ongelooflik besig, selfs al tel Oktober reeds as buiteseisoentyd – hou dus die lang toue in gedagte wanneer uitstappies na groot toeriste-aantreklikhede beplan word. In baie gevalle het ons vroegoggend gegaan of bloot net die plek vermy en ’n meer “plaaslike” alternatief gesoek.

» Ons kon die trein neem tussen Porto en Lissabon. Bespreek kaartjies meer as agt dae vooruit om teen halfprys te reis (ongelukkig is aanlyn besprekings wel effe ingewikkeld). Tweedeklas is meer as voldoende.

» Hostelle is nie net vir jongmense nie en daar word nie uitsluitlik stapelbeddens in slaapsale aangebied nie. Baie hostelle het ook enkel-, dubbel- of gesinskamers en ons het talle gryser koppe in ons hostel in Lisboa teëgekom.

» Ons sorg dat ons verblyf altyd naby aan ’n metrostasie is sodat ons met gemak na ander dele van die stad kan reis wanneer die voete te moeg word – of sodat ons nie te ver hoef te hardloop as ’n orkaan sou tref nie!

  • Foto’s: Frans-Hendrik Joubert
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top