Wat het Cristiano Ronaldo, Bartolomeu Dias en Harry Potter in gemeen?
Al drie is Portugees! Of in Harry se geval het hy seker eerder Portugese wortels.
Hierdie land aan die mees westelike punt van Europa het egter veel meer te bied as sokkersterre, seevaartmuseums en Potter-shrines. Dit is die tuiste van fadomusiek, portwyn en die befaamde pastéis de nata (’n heerlike vla-tertjie in skilferdeeg wat baie aan melktert herinner). Die strate en stegies is in keisteenpatrone gepak en die geboue met bont teëltjies (azulejos) versier. Die mense is vriendelik, die kos lekker en die pryse billik.
Weens beperkte verlof en ’n veel meer beperkende begroting kon ons slegs ’n week in Portugal spandeer. Ons het dikwels eerder sakpas-opsies gekies of die lang toue by toeriste-aantreklikhede verruil vir ’n meer outentieke Portugese ervaring. Ons tyd is tussen Porto en Lisboa verdeel – die heuwelagtigheid van beide stede het gelukkig meer as genoeg geleentheid gebied om al die vla-tertjies af te stap.
Verteerbaarheidsonthalwe word die reis as ’n vervolgverhaal aangebied, met Porto as deel I en Lissabon deel II. Albei stede het veel meer om te doen as wat die tyd ons toegelaat het, dus moes ons maar kompromieë tref en aktiwiteite prioritiseer.
Porto is aan die oewers van die Dourorivier geleë, met Oporto aan die een kant en die Gaiadistrik, met die sogenaamde wine caves (portkelders/-huise), aan die ander kant.
Porto word as die kulturele hoofstad van Portugal beskou en het oor die eeue heen ’n tuiste aan kunstenaars, skrywers en filosowe gebied. Die berugte Camilo Castelo Branco het in Oudporto geskryf en gefuif (die tronk waarin hy gevangenisstraf vir owerspel uitgedien het, is vandag ’n fotografiesentrum), en uit die indrukwekkende interieur van die Livraria Lello-boekwinkel en die Majestic Café put JK Rowling inspirasie vir haar Harry Potter-reeks.
Die kunstenaarstreep is in die azulejos-versierde geboue in selfs die kleinste stegies sigbaar. Die São Bento-treinstasie en die Capela das Almas is imposant, maar ’n mens kan ook talle ander mooi geboue te siene kry indien jy die azulejos-stadskaart volg.
Ons het reeds die eerste oggend ’n gratis staptoer aangepak (ten sterkste aan te beveel) om ’n gevoel van die stad en sy geskiedenis te kry. Elke toergids, blog en local moedig toeriste aan om die stad te voet verken, in die stegies te verdwaal en sodoende die ware Porto te beleef. Dít het ons hierna daagliks gedoen, asprís ook, nie net omdat ek soms sukkel om ’n kaart te lees nie.
’n Tipiese Portugese straatjie lê smal en koel tussen die bontgeteëlde geboue. Die keistene is ongelyk van eeue se voeteverkeer; stoepplante versier die vensterbanke van die tweede verdieping en wasgoed wapper aan inkatroldrade op die derde vloer terwyl ’n tannie traag na buite loer en haar kop skud vir die onbekende Afrikaanse klanke wat uit die halfskemer stegie eggo. As ’n mens gelukkig is, vind jy dalk in die hoekies en draaitjies van die stad selfs ’n groepie studente in hul praxe-uitrustings (akademiese gewaad met onder meer ’n toga).
Deur só te verdwaal het ons ’n oulike winkeltjie vir geskenke ontdek en aanwysings gekry na ’n park buite die stadsgewoel, die Estuária do Douro in die Gaiadistrik waar kêrel kon voëls kyk en ek onder ’n boom kon lê en my Livreira Lello-boek lees.
Ons het moeite gedoen om laatmiddag ’n uitkykpunt vir die sonsondergang te soek en ons port (en port tonics – ’n briljante aanbeveling van ons staptoergids, Diogo) te geniet. Plekke soos die Jardim do Morro en die Mosteiro da Serra do Pilar in Gaia het nie net die mooiste uitsigte oor Porto nie – dit is met sonsondergang ’n gewilde bymekaarkomplek waar straatkunstenaars optree en almal gesellig saamkuier. Ek moet bieg: alhoewel dit in Portugal geensins snaaks of onwettig is om in die openbaar of op straat te drink nie, het ons tog soms skuldig oor ons skouers geloer.
Vir kulturele afwisseling is ons een aand na die Casa da Música vir ’n jazzuitvoering. Vertonings word ook in ander style aangebied – ons het bloot iets gekies wat by ons planne inpas en wat ons nie noodwendig tuis sou sien nie. Selfs al kom ’n mens nie by ’n konsert uit nie, is die gebou op sigself ’n besienswaardigheid.
Grille en giere
♥ Die hoogtepunt in Porto was beslis die sonsondergange – die foto’s laat nie reg geskied aan die skoonheid van die oomblik nie.
× Die francesinha-broodjies is ’n Portugese gier wat ons laat gril. As ses verskillende soorte geprosesseerde vleis in ’n toebroodjie gepak, met kaassous toegegooi én dan met ’n gebakte eier bo-op bedien word, is dit ’n cholesterolbom. Ons het een gedeel, maar weet nog steeds nie of dit lekker was nie.
Enkele wenke
» In Porto het ons in ’n Airbnb-woonstel tuisgegaan op die randjie van die ou stad. Ons kon binne oomblikke in die besige winkelstraat wees of vinnig huis toe gaan om ’n uiltjie te knip.
» Die woonstel het ons ook geleentheid gegee om wasgoed te was en self kos te kook. Ons het sommer vis by ’n mark gekoop en ’n resep met behulp van handgebare en gebroke Engels/Portugees by die verkoper gekry – heerlik!
» Ons het nie ’n vervoerpas in Porto gekoop nie, slegs metrokaartjies vir enkele reise. Porto is klein genoeg om betreklik gemaklik te voet oor die weg te kom as ’n mens bulte gewoond is.
- Foto’s: Frans-Hendrik Joubert