Runs in the family draf in die spore van Almodóvar

  • 0

Runs in the family
’n Suid-Afrikaanse film, nou ook op Netflix
Regisseur: Ian Gabriel
Vervaardiger: Amina Thornton
Geskryf deur: Gabe Gabriel
Verfilm deur: Devin Toselli

Met:
Ace Bhatti (Varun Chetty)
Gabe Gabriel (River Storm)
Diaan Lawrenson (Monica Storm)
Rob van Vuuren (Stan Russo)
Loren Loubser (Shaunice)

Die Suid-Afrikaanse filmindustrie raak nou mooi groot. Ons lewer films van gehalte in talle genres. Runs in the family, wat nou ook op Netflix speel, is ’n produk wat kan saamgesels met skeppings van Pedro Almodóvar, daardie heerlike, aweregse Spaanse regisseur wat verantwoordelik is vir films soos Todo sobre mi madre (All about my mother), La mala educación (Bad education), Volver, La piel que habito (The skin I live in) en Dolor y gloria (Pain and glory). As jy een van hierdie films geniet het, dan sal Runs in the family beslis tot jou spreek.

Aan die ander kant, as jy een van Almodóvar se werke sou gesien het en g’n kop of stert daarvan kon uitmaak nie, dan moet jy dalk maar by Hollywood se nuutste hou.

Die struktuur

Runs in the family is ’n maklike film met veel humor. Dit sou in drie verdeel kon word.

  • Daar is ’n lang reis per motor (à la road trip!) waaroor ek iets sal vertel,
  • ’n drag show waaroor ek iets sal sê, maar wat jy gewoon moet ervaar, en
  • die nagevolge van bogenoemde twee waaroor ek bitter min wil sê. Kyk self.
’n Kombirit na Eswatini

Varun Chetty is ’n toenmalige kroek, nou ’n kleremaker wat uit sy kombi werk en na sy kliënte toe ry. Hy is ’n enkelpa van ’n seun wat hy alleen grootgemaak het.

In sy jong dae was hy betrokke by vervalsings en bedrog, maar die kind het gemaak dat hy daardie lewe agter hom gelaat het.

Die film begin waar Chetty (gespeel deur Ace Bhatti) ’n nuwe pak afrond vir Stan Russo (Rob van Vuuren), die eienaar van ’n klein casino in Kaapstad.

Russo gee hoog op oor Chetty se seun en prys Chetty se ouerskap.

Kort daarna word die rede vir hierdie gesprek duidelik – en teen die einde van die film in ’n ironiese lig geplaas.

Monica Storm, Chetty se eks-meisie en die ma van sy kind, maak ná twee dekades weer kontak. Sy sit in ’n rehabilitasiekliniek in Eswatini (voorheen Swaziland). Daar is sy ingeboek deur haar nuutste eks. Die enigste manier waarop sy daar kan uitkom, sou wees om ’n familielid te vra om te teken dat hulle na haar sal kyk.

Chetty is skynbaar nooit amptelik met haar getroud nie, so hy sal nie tel nie. River Storm, haar biologiese kind, is dus haar enigste hoop.

Chetty vra die kind of hy kans sien om sy ma te gaan haal.

River sê nee, om drie redes:

  • Vir twee dekades wou Monica niks van hóm weet nie, waarom nou?
  • Hy moet oor ’n aantal dae optree by ’n baie belangrike kompetisie.
  • Hy het nie ’n paspoort nie, want by geboorte is hy as ’n meisie geregistreer en hy het nog nie sy nuwe, korrekte identiteit, as man, by binnelandse sake geregistreer nie.

Vir die eerste kwessie het Chetty nie ’n oplossing nie, maar vir die derde kwessie wel: Hy ken die informele oorgange oor die grens uit sy jong dae as smokkelaar en aktivis. Die tweede is ook nie ’n probleem nie. Hulle sal terug wees voor die kompetisie.

Road trip! Ace Bhatti (as Varun Chetty) en Gabe Gabriel (as River Storm)

Storm sê dis goed en daar trek die twee in die ou kombi.

Aan Eswatini se kant van die grens kry hulle ’n geleentheid saam met ene Shaunice.

Die ontvangsdame by die kliniek wil nie aanvaar dat River se geboortesertifikaat aan hom behoort nie; daar staan dan hy is ’n meisie.

Dit is die bekkige Shaunice wat tot hulle redding kom. Kyk maar self.

Die fopdossers wat moet fop

Ná almal weer in die kombi is op pad terug, hoor River dat die persoon wat saam met hom sou optree, hulle voet seergemaak het. Hulle sal nie kan dans nie.

Earl Gregory as Her Vagesty the Queen

Vir River is dit ’n enorme slag, want hy het gehoop om die kompetisie, wat deur Her Vagesty the Queen uitgeloof is, te wen. Dié geld sal help betaal vir sy sjirurgie.

River dink Her Vagesty sou geïnteresseerd wees in die trans man wat as vrou optree. Maar nou kan hy nie meer nie.

Monica oortuig vir Chetty om hul seun by te staan. Sy bestuur groot dele van die pad terwyl die twee manne hulle vertoning uitsorteer.

Ek wil nie te veel hieroor sê nie, behalwe dat die twee wel optree. Kyk gerus self.

Die afloop

Deel drie se geheime gaan ek nie verklap nie. Net dít wel: Almodóvar sou trots gewees het op hierdie straight pa in ’n rooi rok en hoëhakskoene wat Kaapstad se strate invaar om sy transgender seun se lewe makliker te maak.

Ervaar dit self.

Ace Bhatti op stel saam met Ian Gabriel, die regisseur

Iets net oor Ace Bhatti, die akteur wat Chetty speel: Hy was al in groot films, soos Bohemian Rhapsody en Bend it like Beckham. Om hóm in die Kaap te sien optree, is lekker.

Pa-en-seunspan vir die pa-en-seunspan

Ian Gabriel, die regisseur, is ’n ou hand in die teaterwêreld, waar hy onder andere verbonde was aan Dorkay House in Johannesburg. Dorkay House was ’n legendariese bastion teen apartheid.

Gabriel se film Four corners, oor ’n seun wat wil skaak speel op die Kaapse Vlakte tussen die bendes, was baie suksesvol.

Ian Gabriel en sy seun, Gabe

In Runs in the family doen hy die regie vir die film wat sy seun Gabe geskryf het oor ’n pa-en-seunspan. Gabe speel ook die hoofrol.

’n Anker in die werklikheid

’n Ander stukkie skinder wat filmkykers mag interesseer, is dat Gabe Gabriel en Loren Loubser, wat Shaunice speel, al jare lank in ’n poliverhouding is.

Diegene wat haar op Instagram volg (@lekkerlollas), sal daar video’s sien wat die inspirasie was vir Her Vagesty se kompetisie.

  • Foto’s verskaf.

Lees ook:

Spinners is trots Suid-Afrikaans, ’n eerste by die Cannes-filmfees

Happy ending deur Joosje Duk: ’n resensie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top