SAL skarrel rond oor vlugte

  • 0

Passasiers wat van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gebruik maak, moes Dinsdag uit die bloute hoor dat talle van die sukkelende lugredery se internasionale sowel as plaaslike vlugte gekanselleer is.

Die reisagentskap Flight Centre het Dinsdag aangekondig dat 19 internasionale en plaaslike vlugte van SAL gekanselleer is sonder dat ’n rede verskaf is.

Enkele ure voor die aankondiging het SAL volgehou al sy vlugte funksioneer normaal na al die lugredery se bestemmings. Die lugdiens het Maandag in ’n verklaring gesê hy is bewus van mediaberigte wat beweer dat hy sy bedrywighede gaan staak, maar die versekering gegee sy vlugte sou soos normaalweg voortgaan.

“Die SAL wil sy kliënte en aandeelhouers verseker dat vlugte normaal voortgaan na hulle bestemmings. SAL is altyd daartoe verbind om deursigtig te kommunikeer met sy aandeelhouers en kliënte oor enige operasionele veranderings wat die vlugskedules mag beïnvloed,” lui die verklaring wat Maandag uitgereik is.

SAL sê in hulle verklaring enige veranderings aan die vlugskedules sal volgens die lugredery se normale prosedures aan al die belanghebbendes oorgedra word.

Kort daarna moes SAL ’n ander deuntjie sing en erken dat tientalle vlugte opgeskort is. SAL se verklaring Maandag dat sy vlugte normaalweg voortgaan, het groot verwarring by passasiers veroorsaak toe dit Dinsdag blyk dat verskeie vlugte wel gekanselleer is.

Sommige passasiers het gehoop dat die berigte dat van die vlugte gekanselleer is, fopnuus was, terwyl ander wou weet waarom hulle op ander platforms as SAL s’n daarvan moet hoor.

In ’n latere verklaring het SAL Dinsdag gesê hulle is in die proses om sekere van hulle binnelandse vlugte tussen Oliver Tambo en Kaapstad, asook tussen Johannesburg en Durban, te konsolideer. Hulle sê daar word nóú saamgewerk met hulle susterlugredery Mango om passasiers op alternatiewe roetes te vervoer ten einde so min as moontlik ontwrigting te veroorsaak en te sorg dat passasiers waar enigsins moontlik hulle bestemmings betyds bereik.

Ook verskeie internasionale vlugte is deur die kansellasies geraak. Passasiers tussen Johannesburg en München moes Dinsdag hoor die vlugte is gekanselleer. SAL moes ook ander reëlings tref vir passasiers tussen Johannesburg en Frankfurt, asook tussen Johannesburg en Londen. ’n Lys met die vlugte wat gekanselleer is, is Dinsdag op SAL se webwerf geplaas.

Die besluite om die vlugte te kanselleer is volgens SAL se verklaring in ooreenstemming met algemene beleid om sekere vlugte te hersien en ander met ’n lae aanvraag met ander vlugte te konsolideer.

Die lugdiens sê tydens die huidige proses van sakeredding is die jongste kansellasies ’n verantwoordelike strategie om geld te bespaar en die lugdiens se kapitaalposisie te verbeter.

Die konsolidering van die Kaapstadroete is glo ook nodig, omdat SAL besig is met opleidingsvlugte vir die nuwe Airbus 350-900 op die roete voordat die vliegtuie oorgeplaas word na internasionale roetes. Die indiensstelling van hierdie groter vliegtuie het volgens SAL gelei tot ’n tydelike surpluskapasiteit op die roete tussen Johannesburg en Kaapstad.

SAL sê hulle sal in die volgende dae verdere moontlike aanpassings aan hulle vlugroosters oorweeg. Enige operasionele veranderings sal sover moontlik aan hulle vennote in die reisbedryf en aan hulle kliënte gekommunikeer word, sê hulle in hulle verklaring.

Foto: Pixabay.com

SAL is in Desember in sakeredding geplaas. Regeringsamptenare het die afgelope paar dae soos afkophoenders rondgeskarrel om R2 miljard in die hande te kry om die vliegtuie in die lug te hou.

Die regering het vroeër onderneem om R2 miljard aan die lugdiens beskikbaar te stel, maar geen geld is nog oorbetaal nie. Dringende samesprekings is die afgelope naweek gevoer om die geld in die hande te probeer kry, maar daar kon skynbaar nie met ’n oplossing vorendag gekom word nie.

Die sakeredder wat aangestel is om die lugredery van finale ondergang te probeer red, Les Matuson, het die naweek gerugte ontken dat die lugdiens gelikwideer sal word indien die geld nie teen 19 Januarie ontvang word nie.

SAL is een van verskeie staatsondersteunde ondernemings (Eskom is ’n ander een) wat veg om oorlewing as gevolg van staatskaping, korrupsie en wanbestuur. Hierdie maatskappye se finansiële agteruitgang word gesien as een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika se ekonomie.

Lees ook 

Dis nou vlieg of val vir SAL

Bankrot SAL se dae is getel

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top