Leona Conradie (Foto: verskaf)
Gedurende die week lange Nederlandse winterskool te Hartenbos is daar gevra hoekom ons dit so graag wou bywoon. “Want dis in Mosselbaai,” het my antwoord vinnig gekom. Eers agterna het ek besef dat dit eintlik in Hartenbos is. Die dag toe ek per e-pos uitgenooi is om die winterskool by te woon, het my hart begin bokspring. Toe ek sien dit word beplan deur die SAVN (Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek) in samewerking met die Nederlandse Taalunie, het my hart op volle galop gegaan, want my ondervinding van die SAVN is dat hulle dit geniet om studente te bederf – fisiek, maar ook intellektueel.
Die doel van hierdie week was om universiteitstudente wat Afrikaans en Nederlands as vak het, meer van die Nederlandse taal te leer. Ons het taalkunde gedoen (nie juis my sterk punt nie), asook letterkunde. Ek noem dat taalkunde nie my sterk punt is nie om uit te wys hoe interessant iemand moet wees om wel my aandag te behou. En laat ek vertel, my aandag was ten volle gehou. Die taalkundedosent, Josefien Voets (uit Nederland), het die kuns om aandagafleibare studente se aandag te behou, vervolmaak. Speel-speel het ons vinnig kort sinne in Nederlands begin praat en skryf. Hoewel ek baie ondervinding van die Nederlandse taal het, was my fokus hoofsaaklik op lees en analise. Ek het nie verwag dat ek dit sou skryf nie!
Josefien het dit egter reggekry om die onmoontlike, vir my, moontlik te maak. Vir geen oomblik het een van die Nederlandse dosente my minderwaardig of angstig laat voel wanneer ek Nederlands moes praat of skryf nie. Hetsy my antwoorde reg of verkeerd was, het dit gedurig gevoel asof ek vorder en die moeite werd is om te leer. Op ’n kinderlike manier het ons ook geleer om kort, en soms lang, sinne te praat. Vir iemand soos ek, wat gefassineerd is met die Nederlandse taal, was die praatgedeelte ’n groot mylpaal. Ná die winterskool het ek gespot dat ’n maand in hierdie dosente se klasse my sou help om die Nederlandse taal vlot te praat.
Die taalkunde was nie net interessant nie, maar ek het dit geniet en het goed geleer wat ek baie lank sal onthou. Ek is ’n letterkundemens, en is mal oor analise. Maar letterkunde kan ook soms vervelig wees, veral as ons die werke en geskiedenis van baie ou digters/skrywers doen. Sarah Posman (van België), wat die letterkundeklasse aangebied het, het dit duidelik reggekry om ons aandag te behou. Ek was vasgevang deur ou, sowel as nuwe digters/skrywers (Radna Fabias, Paul van Ostaijen, Guido Gezelle, Ramsey Nasr) se werke.
Sarah het nie net indrukwekkende lesings aangebied nie, maar sy het ons as studente ook op ander vlakke uitgedaag. Ek was nog besig om na te dink oor hoe interessant die skrywer se werk is, toe moes ek ’n gedig in dieselfde styl skryf! Daardie lesings sal baie van ons nog onthou, omdat ons aan die diep kant ingegooi is, maar almal geswem het. Geen van die gedigte wat voorgelees is, was minderwaardig nie. Ek glo ook sterk dat baie studente as gevolg van hierdie uitdaging hul talent vir skryf ontdek het! Dit is inderdaad so dat baie van ons net ’n interessante dosent nodig het om alles soos kinderspeletjies te laat lyk, of om verskuilde talente te ontdek.
As student was ek lanklaas so uitgedaag en gestimuleer. Die grendelstaat in Suid-Afrika het my geïsoleer, en ek het nie baie die geleentheid gehad om met ander studente of dosente in lewende lywe te kommunikeer nie. Die winterskool was ook die eerste keer sedert die begin van “lockdown” dat ek in ’n klas met ander studente was. Ek moet sê, ek het dit uit en uit geniet. Ek het elke minuut wat die SAVN aan my geskenk het, geniet. Die klasse was intens, die informasie was meer as wat ek normaalweg sou kon absorbeer, maar ek het gefokus en alles opwindend gevind. Die dosente het ons met nuwe leerwyses Nederlands geleer. Dis nie almal wat studente se aandag oor so ’n lang tydperk kan behou nie. My verstand is nog steeds wakker van opwinding!
Die gesprekke om die tafel het weer my kritiese denke aangewakker nadat dit vir ’n lang tydperk in ’n frustrerende slaap verval het. Ek het die uitdaging geniet om Nederlandse tekste te analiseer, maar ek het dit meer stimulerend gevind wanneer ander studente ander menings as ek gehad het. Ek was weer tussen mense wat soos ek dink, maar die beste van alles was dat ek tussen mense was wat op ’n kritiese wyse met my kon verskil. Dit is net nie dieselfde om hierdie gesprekke aanlyn te hê nie.
Ek is so dankbaar vir die SAVN en Gonneke Groenen se beplanning van hierdie winterskool. Hartenbos was in alle opsigte pragtig!
Lees ook:
Afrikaans en Nederlands: Waarom willen we zo graag elkaars taal leren?
Afrikaans-Nederlands: Waarom leer Afrikaanssprekendes so graag hul Europese susterstaal?